Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wanneer het Jesus Hoëpriester geword, en is daar ’n verskil tussen wanneer die nuwe verbond bekragtig is en wanneer dit in werking getree het?

Die bewyse wys dat Jesus Hoëpriester geword het toe hy in 29 HJ gedoop is. Wat is hierdie bewyse? Toe Jesus gedoop is, het hy gewys dat hy bereid is om sy lewe op te offer op die simboliese altaar wat God se “wil” verteenwoordig (Gal. 1:4; Heb. 10:5-10). Aangesien ’n altaar ’n belangrike deel van ’n tempel is, het die geestelike tempel waarskynlik ook begin bestaan toe Jesus gedoop is. Jehovah se groot geestelike tempel verteenwoordig alles wat dit vir ons moontlik maak om hom op die regte manier te aanbid op grond van Jesus se losprysoffer. – Matt. 3:16, 17; Heb. 5:4-6.

Die groot geestelike tempel het ’n hoëpriester nodig gehad. Om hierdie rol te vervul, het Jehovah Jesus “met heilige gees en krag gesalf” (Hand. 10:37, 38; Mark. 1:9-11). Maar hoe kan ons seker wees dat Jesus as Hoëpriester aangestel is voordat hy gesterf het en opgewek is? Die voorbeeld van Aäron en die hoëpriesters wat ná hom gekom het, sal ons help om hierdie vraag te beantwoord.

Die Wet wat Jehovah aan Moses gegee het, het gesê dat net die hoëpriester in die Allerheiligste van die tabernakel en later in die Allerheiligste van die tempel kon ingaan. ’n Gordyn het die Allerheiligste van die Heilige geskei. Die hoëpriester het net op die Versoendag deur die gordyn in die Allerheiligste ingegaan (Heb. 9:1-3, 6, 7). Net soos Aäron en sy opvolgers as hoëpriesters gesalf is voordat hulle “deur die [letterlike] gordyn” van die tabernakel ingegaan het, moes Jesus as die Hoëpriester van Jehovah se geestelike tempel aangestel gewees het voordat hy gesterf het en daarna “deur die gordyn, naamlik sy liggaam,” tot lewe in die hemel ingegaan het (Heb. 10:20). Daarom het die apostel Paulus gesê dat Jesus “as ’n hoëpriester” gekom het en toe “deur die groter en volmaakter tent . . . wat nie met hande gemaak is nie” en in “die hemel self” gegaan het. – Heb. 9:11, 24.

Daar is nie ’n verskil tussen wanneer die nuwe verbond bekragtig is en wanneer dit in werking getree het nie. Hoekom nie? Toe Jesus hemel toe gegaan het en sy volmaakte menselewe vir ons opgeoffer het, het hy ’n hele paar stappe geneem om die nuwe verbond te bekragtig, of wettig te maak. Hierdie selfde stappe het ook die nuwe verbond in werking laat tree. Wat was hierdie stappe?

Eerstens het Jesus voor Jehovah verskyn; toe het Jesus die waarde van sy losprysoffer aan Jehovah gegee en laastens het Jehovah die waarde van Jesus se bloed wat uitgestort is, aanvaar. Totdat hierdie stappe geneem was, het die nuwe verbond nog nie in werking getree nie.

Die Bybel sê nie presies wanneer Jehovah die waarde van Jesus se losprysoffer aanvaar het nie. Net so kan ons nie presies sê wanneer die nuwe verbond bekragtig is en ook in werking getree het nie. Maar ons weet dat Jesus tien dae voor Pinkster hemel toe gegaan het (Hand. 1:3). Die een of ander tyd gedurende daardie kort tydjie het hy die waarde van sy losprysoffer aan Jehovah gegee, en Jehovah het dit aanvaar (Heb. 9:12). Die dinge wat op Pinkster 33 HJ gebeur het, het bewys dat die nuwe verbond alreeds teen daardie tyd in werking getree het. – Hand. 2:1-4, 32, 33.

Om op te som: Die nuwe verbond is bekragtig en het in werking getree nadat Jehovah die waarde van Jesus se bloed wat hy uitgestort het, aanvaar het. Die verbond het toe in werking getree met die Hoëpriester, Jesus, wat as Middelaar dien. – Heb. 7:25; 8:1-3, 6; 9:13-15.