Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 29

“Wanneer ek swak is, dan is ek sterk”

“Wanneer ek swak is, dan is ek sterk”

“Ek [is] ter wille van Christus bly oor swakhede, oor beledigings, oor tye van nood, oor vervolging en moeilikhede.” – 2 KOR. 12:10.

LIED 38 Hy maak jou sterk.

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het die apostel Paulus oor homself erken?

 DIE apostel Paulus het erken dat hy soms swak gevoel het. Hy het erken dat sy liggaam besig was om “weg te teer,” dat hy gesukkel het om te doen wat reg is en dat Jehovah nie altyd sy gebede beantwoord het op die manier wat hy wou hê nie (2 Kor. 4:16; 12:7-9; Rom. 7:21-23). Paulus het ook erken dat sy teenstanders gedink het dat hy swak is. * Maar hy het nie toegelaat dat die slegte dinge wat ander van hom gesê het of dat sy eie swakhede, hom laat voel het asof hy niks werd is nie. – 2 Kor. 10:10-12, 17, 18.

2. Watter belangrike les het Paulus volgens 2 Korintiërs 12:9, 10 geleer?

2 Paulus het ’n belangrike les geleer – ’n mens kan sterk wees selfs wanneer hy swak voel. (Lees 2 Korintiërs 12:9, 10.) Jehovah het vir Paulus gesê dat Sy krag ‘in swakheid volmaak word’, dit beteken dat Jehovah vir Paulus die krag sou gee wat hy nodig gehad het. Kom ons kyk eers hoekom ons nie ontsteld moet wees wanneer ons teenstanders ons beledig nie.

WEES “BLY OOR . . . BELEDIGINGS”

3. Hoekom kan ons bly wees oor beledigings?

3 Niemand hou daarvan om beledig te word nie. Maar as ons vyande ons beledig en ons te bekommerd word oor wat hulle sê, kan dit ons mismoedig maak (Spr. 24:10). Hoe moet ons dan voel wanneer ons teenstanders ons beledig? Net soos Paulus kan ons “bly [wees] oor beledigings” (2 Kor. 12:10). Hoekom? Want beledigings en teenstand wys dat ons ware dissipels van Jesus is (1 Pet. 4:14). Jesus het gesê dat sy volgelinge vervolg sou word (Joh. 15:18-20). Dit het in die eerste eeu gebeur. In daardie tyd het persone wat deur die Griekse kultuur beïnvloed is, gedink dat Christene swak en nie intelligent is nie. En die Jode het gedink dat Christene “ongeleerde en gewone mense is,” soos die apostels Petrus en Johannes (Hand. 4:13). Dit het gelyk asof Christene swak is; hulle het geen politieke invloed of militêre mag gehad nie, en mense in die gemeenskap het hulle nie gerespekteer nie.

4. Wat het die vroeë Christene gedoen wanneer mense slegte dinge van hulle gesê het?

4 Het daardie vroeë Christene toegelaat dat die slegte dinge wat mense van hulle gesê het, hulle keer? Nee. Die apostels Petrus en Johannes het byvoorbeeld gedink dat dit ’n voorreg is om vervolg te word omdat hulle Jesus volg en sy leringe met ander deel (Hand. 4:18-21; 5:27-29, 40-42). Die dissipels het geen rede gehad om skaam te wees nie. Op die ou end het hierdie nederige eerste-eeuse Christene baie meer gedoen om ander te help as wat enige van hulle teenstanders gedoen het. Byvoorbeeld, die Bybelboeke wat deur party van hierdie Christene geskryf is, hou aan om miljoene mense te help en hoop te gee. En die Koninkryk waaroor hulle gepreek het, heers nou in die hemel en sal binnekort oor die hele mensdom regeer (Matt. 24:14). Maar die magtige regering van eertydse Rome wat die Christene vervolg het, bestaan al jare lank nie meer nie, terwyl daardie getroue Christene nou as konings in die hemel regeer. Maar hulle teenstanders is dood; en as hulle ooit opgewek sal word, sal die Koninkryk oor hulle regeer – die Koninkryk waaroor die Christene wat hulle gehaat het, gepreek het. – Op. 5:10.

5. Hoekom respekteer mense in die wêreld nie Jehovah se volk nie, volgens Johannes 15:19?

5 Vandag respekteer mense in die wêreld nie Jehovah se Getuies nie en hulle spot ons omdat hulle dink dat ons swak en nie intelligent is nie. Hoekom? Omdat ons nie soos die mense om ons is nie. Ons probeer om nederig, sagmoedig en gehoorsaam te wees. Maar die wêreld hou van trotse, arrogante en rebelse persone. Ons raak ook nie betrokke by die politiek nie en ons word nie deel van enige land se militêre magte nie. Volgens die wêreld pas ons nie in nie, en daarom dink hulle dat hulle beter as ons is. – Lees Johannes 15:19; Rom. 12:2.

6. Watter groot werk help Jehovah sy volk om te doen?

6 Al dink mense in die wêreld dat ons swak is, gebruik Jehovah ons om groot dinge te doen. Hy is in beheer van die grootste predikingswerk in die mensegeskiedenis. Sy knegte maak vandag die mees vertaalde en verspreide tydskrifte op aarde beskikbaar en gebruik die Bybel om miljoene mense te help om hulle lewe te verbeter. Jehovah maak dit moontlik. Hy gebruik ’n groep mense wat in die wêreld se oë swak lyk om hierdie kragtige werke te doen. Maar wat van elkeen van ons? Kan Jehovah ons help om kragtig te wees? Indien wel, wat moet ons doen om deur hom gehelp te word? Kom ons bespreek nou drie spesifieke dinge wat ons uit die apostel Paulus se voorbeeld kan leer.

MOENIE OP JOU EIE KRAG STAATMAAK NIE

7. Wat is een les wat ons uit Paulus se voorbeeld leer?

7 Een les wat ons uit Paulus se voorbeeld leer, is: Moenie op jou eie krag of vermoëns staatmaak wanneer jy Jehovah dien nie. Baie mense het Paulus bewonder as gevolg van sy omstandighede en vermoëns. Hy kon baie maklik ’n trotse persoon gewees het en op homself vertrou het. Hy het in Tarsus grootgeword, die hoofstad van ’n Romeinse provinsie. Tarsus was ’n ryk en suksesvolle stad en het ’n bekende universiteit gehad. Paulus het ’n goeie opvoeding gehad – hy was geleer deur een van die mees gerespekteerde Joodse leiers van sy dag, ’n man met die naam Gamaliël (Hand. 5:34; 22:3). En op die een of ander stadium was Paulus ’n belangrike persoon in die Joodse gemeenskap. Hy het gesê: “Ek het groter vooruitgang in die godsdiens van die Jode gemaak as baie ander van my ouderdom in my nasie” (Gal. 1:13, 14; Hand. 26:4). Maar Paulus het nie op homself vertrou nie.

Vir Paulus was die sogenaamde voordele van die wêreld “’n klomp vullis” in vergelyking met die voorreg om Christus te volg (Sien paragraaf 8) *

8. Hoe het Paulus volgens Filippense 3:8 gevoel oor die dinge wat hy agtergelaat het, en hoekom was hy “bly oor swakhede”?

8 Paulus was bly om die dinge agter te laat wat hom belangrik in ander se oë laat lyk het. Om die waarheid te sê, hy het besef dat hierdie dinge eintlik “’n klomp vullis” is. (Lees Filippense 3:8.) Paulus het ’n prys betaal om ’n volgeling van Christus te word. Sy eie nasie het hom gehaat (Hand. 23:12-14). En hy is geslaan en in die tronk gegooi deur sy medeburgers, die Romeine (Hand. 16:19-24, 37). Hy het ook besef dat hy onvolmaak is en dat dit baie moeilik is om te doen wat reg is (Rom. 7:21-25). Maar hy het nie toegelaat dat sy teenstanders of sy eie swakhede hom keer om Christus na te volg nie. Hy was eerder “bly oor swakhede”. Hoekom? Want wanneer hy swak was, het hy gesien hoe God hom help. – 2 Kor. 4:7; 12:10.

9. Hoe moet ons voel oor enige iets wat ons swak laat lyk?

9 As ons krag van Jehovah af wil hê, moet ons nie dink dat fisiese krag, opvoeding, kultuur of geld bepaal hoe waardevol ons is nie. Hierdie dinge bepaal nie of Jehovah ons sal gebruik nie. Om die waarheid te sê, nie baie van God se knegte is “wys in die oë van mense nie, nie baie [is] magtig nie, nie baie [is] uit ’n belangrike familie nie”. Jehovah het eerder gekies om “die swak dinge van die wêreld” te gebruik (1 Kor. 1:26, 27). So as jy nie die dinge het wat aan die begin van die paragraaf genoem is nie, kan jy Jehovah nog steeds dien. Dink eerder aan jou situasie as ’n geleentheid om te sien hoe Jehovah jou krag gee. Byvoorbeeld, as jy bang voel wanneer mense jou geloof aanval, bid tot Jehovah om jou die moed te gee om oor jou geloof te praat (Ef. 6:19, 20). As jy met ’n ernstige gesondheidsprobleem sukkel, vra Jehovah om jou die krag te gee wat jy nodig het om so besig as moontlik in sy diens te bly. Elke keer wanneer jy sien hoe Jehovah jou help, sal dit jou geloof versterk en sal jy sterker word.

LEER UIT BYBELVOORBEELDE

10. Hoekom moet ons mooi kyk na die voorbeelde wat deur getroue Bybelkarakters gestel is, soos dié wat genoem word in Hebreërs 11:32-34?

10 Paulus was ’n ywerige student van die Skrif. Hy het baie feite geleer, maar hy het ook geleer uit die voorbeelde van mense wie se ondervindinge in God se Woord opgeteken is. Toe Paulus aan die Hebreeuse Christene geskryf het, het hy hulle gevra om oor hierdie voorbeelde na te dink. (Lees Hebreërs 11:32-34.) Dink aan net een van hierdie voorbeelde, koning Dawid. Hy moes nie net teenstand van sy vyande hanteer nie, maar ook van persone wat voorheen sy vriende was. Terwyl ons na Dawid se voorbeeld kyk, sal ons sien hoe dit Paulus gehelp het om oor Dawid se lewe na te dink en hoe ons Paulus kan navolg.

Dawid was nie bang om teen Goliat te veg nie, al was hy jonk en het hy swak gelyk. Hy het op Jehovah vertrou, en Jehovah het hom die krag gegee om sy vyand dood te maak (Sien paragraaf 11)

11. Hoekom het dit gelyk asof Dawid swak is? (Sien prent op voorblad.)

11 In die oë van die sterk vegter Goliat, was Dawid swak. Toe Goliat vir Dawid gesien het, “het hy hom uitgelag”. Ons kan verstaan hoekom, want Goliat was groter, het beter wapens gehad en was beter opgelei vir oorlog. En Dawid was maar net ’n onervare seun wat gelyk het asof hy nie die regte wapens het nie. Maar wat vir ander soos ’n swak punt gelyk het, het Dawid in ’n sterk punt verander. Hy het op Jehovah vertrou, en Jehovah het hom die krag gegee om sy vyand dood te maak. – 1 Sam. 17:41-45, 50.

12. Watter ander probleem het Dawid gehad?

12 Dawid het nog ’n probleem gehad wat hom swak kon laat voel het. Dawid het vir Saul, wat Jehovah as koning van Israel aangestel het, getrou gedien. In die begin het koning Saul vir Dawid gerespekteer. Later het trots veroorsaak dat Saul jaloers raak op Dawid. Saul het Dawid sleg behandel en hy het hom selfs probeer doodmaak. – 1 Sam. 18:6-9, 29; 19:9-11.

13. Wat het Dawid gedoen toe koning Saul hom sleg behandel het?

13 Al het koning Saul Dawid sleg behandel, het Dawid nog steeds respek vir Jehovah se aangestelde koning gehad (1 Sam. 24:6). Dawid het nie Jehovah blameer vir die slegte dinge wat Saul gedoen het nie. Dawid het eerder op Jehovah vertrou om hom die krag te gee wat hy nodig gehad het om deur hierdie moeilike tyd te kom. – Ps. 18:1, opskrif.

14. Watter situasie het die apostel Paulus gehad wat soortgelyk was aan Dawid s’n?

14 Die apostel Paulus het ’n situasie gehad wat soortgelyk was aan Dawid s’n. Paulus se vyande was baie magtiger as wat hy was. Baie belangrike leiers van sy dag het hom gehaat. Hulle het hom baie keer laat slaan en in die tronk laat gooi. Net soos Dawid, was Paulus sleg behandel deur mense wat sy vriende moes gewees het. Party in die Christengemeente het hom selfs teëgestaan (2 Kor. 12:11; Fil. 3:18). Maar Paulus het nie toegelaat dat sy vyande hom onderkry nie. Hoe het hy dit reggekry? Hy het aanhou preek, al is hy teëgestaan. Hy het getrou gebly aan sy broers en susters, selfs wanneer hulle hom teleurgestel het. En die belangrikste is dat hy tot die einde van sy lewe getrou aan God was (2 Tim. 4:8). Hy kon al hierdie dinge doen, nie omdat hy op sy eie krag staatgemaak het nie, maar omdat hy op Jehovah vertrou het.

Bly respekvol en vriendelik wanneer jy jou geloof moet verdedig (Sien paragraaf 15) *

15. Wat is ons doelwit, en hoe kan ons dit bereik?

15 Word jy beledig deur jou klasmaats, werksmaats of familielede wat nie Getuies is nie? Het iemand in die gemeente jou al sleg behandel? Indien wel, onthou die voorbeelde van Dawid en Paulus. Jy kan aanhou “om die slegte met die goeie te oorwin” (Rom. 12:21). Jou doelwit is nie om ’n klip in iemand se voorkop te laat insink, soos Dawid gedoen het nie, maar om God se Woord in die verstande en harte van dié wat wil luister, te laat insink. Jy kan hierdie doelwit bereik deur die Bybel te gebruik om mense se vrae te beantwoord, deur respekvol en vriendelik te wees wanneer mense jou sleg behandel en deur goeie dinge aan almal te doen, selfs jou vyande. – Matt. 5:44; 1 Pet. 3:15-17.

AANVAAR ANDER SE HULP

16-17. Wat het Paulus nooit vergeet nie?

16 Voordat die apostel Paulus ’n dissipel van Christus geword het, was hy ’n trotse jong man wat Jesus se volgelinge vervolg het (Hand. 7:58; 1 Tim. 1:13). Jesus self het vir Paulus, wat toe Saulus genoem is, gekeer om die Christengemeente aan te val. Jesus het uit die hemel met Paulus gepraat, en Paulus het blind geword. Om weer te kon sien, moes Paulus dieselfde mense wat hy vervolg het, vir hulp vra. Paulus het nederig hulp aanvaar van ’n dissipel met die naam Ananias wat hom gehelp het om weer te sien. – Hand. 9:3-9, 17, 18.

17 Paulus het later ’n bekende lid van die Christengemeente geword, maar hy het nooit die les vergeet wat Jesus hom op die pad na Damaskus geleer het nie. Paulus het nederig gebly, en hy was bereid om hulp van sy broers en susters te aanvaar. Hy het erken dat hulle ’n bron van “versterking” vir hom was. – Kol. 4:10, 11, vtn.

18. Hoekom wil ons soms nie hulp van ander aanvaar nie?

18 Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer? Toe ons die eerste keer die waarheid geleer het, wou ons dalk graag hê dat ander ons moes help omdat ons besef het dat ons nog baie moes leer (1 Kor. 3:1, 2). Maar wat van nou? As ons Jehovah al jare lank gedien het en baie ondervinding het, is ons dalk nie so gewillig om hulp te aanvaar nie, veral as dit van iemand kom wat nie so lank in die waarheid is nie. Maar Jehovah gebruik dikwels ons broers en susters om ons te versterk (Rom. 1:11, 12). So as ons krag van Jehovah af wil kry, moet ons hulp van ons broers en susters aanvaar.

19. Hoekom kon Paulus al die wonderlike dinge doen wat hy gedoen het?

19 Paulus het baie wonderlike dinge gedoen nadat hy ’n Christen geword het. Hoekom kon hy dit doen? Omdat hy geleer het dat dit nie saak maak waar ’n persoon vandaan kom, of hoeveel krag, opvoeding of geld hy het nie. As hy nederig is en op Jehovah vertrou, kan hy baie goeie dinge doen. Mag ons almal Paulus se voorbeeld navolg deur (1) op Jehovah te vertrou, (2) uit Bybelvoorbeelde te leer en (3) hulp van ons broers en susters te aanvaar. Dan sal Jehovah ons sterk maak, maak nie saak hoe swak ons voel nie!

LIED 71 Ons is die Heer se leërmag!

^ par. 5 In hierdie artikel sal ons na die apostel Paulus se voorbeeld kyk. Ons sal sien dat as ons nederig is, Jehovah ons die krag sal gee wat ons nodig het wanneer mense ons spot en hy ons sterk sal maak wanneer ons swak voel.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Daar is dalk ’n paar dinge wat ons swak laat voel, byvoorbeeld ons is onvolmaak, ons is arm, ons is siek of ons het min skool opleiding. En ons vyande probeer ons swak laat voel deur slegte dinge van ons te sê of deur ons fisies aan te val.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Toe Paulus oor Christus begin preek het, het hy die dinge agtergelaat wat deel van sy vorige lewe as ’n Fariseër was. Hierdie dinge kon sekulêre boekrolle en ’n geskriftedosie ingesluit het.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer se werksmaats probeer hom kry om saam met hulle ’n verjaarsdagpartytjie te vier.