Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 30

Hou aan om die weg van die waarheid te volg

Hou aan om die weg van die waarheid te volg

“Niks gee my groter vreugde as wanneer ek hoor dat my kinders voortgaan om die weg van die waarheid te volg nie.” – 3 JOH. 4.

LIED 54 “Dit is die weg”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat maak ons gelukkig, volgens 3 Johannes 3, 4?

 DINK net hoe gelukkig die apostel Johannes moes gewees het toe hy hoor dat dié wat hy gehelp het om die waarheid te leer, aanhou om Jehovah getrou te dien. Hulle het baie probleme gehad, en Johannes het hard gewerk om hierdie getroue Christene, wat soos sy eie kinders was, se geloof te versterk. Net so maak dit ons gelukkig wanneer ons eie kinders of ons Bybelstudente hulle aan Jehovah toewy en hom aanhou dien. – Lees 3 Johannes 3, 4.

2. Wat was die doel van die briewe wat Johannes geskryf het?

2 In 98 HJ het Johannes heel moontlik in of naby Efese gebly. Hy het dalk daarheen getrek nadat hy vrygelaat is uit die tronk op die eiland Patmos. Omtrent daardie tyd het Jehovah se heilige gees hom beweeg om drie briewe te skryf. Die doel van hierdie briewe was om getroue Christene te motiveer om hulle geloof in Jesus sterk te hou en om aan te hou om die weg van die waarheid te volg.

3. Watter vrae gaan ons beantwoord?

3 Johannes was die laaste apostel wat nog gelewe het, en hy was bekommerd oor die slegte invloed wat valse onderrigters op die gemeentes gehad het (1 Joh. 2:18, 19, 26). * Hierdie afvalliges het gesê dat hulle God ken, maar hulle was nie gehoorsaam aan Jehovah nie. Kom ons kyk na die geïnspireerde raad wat Johannes gegee het. Terwyl ons dit doen, gaan ons drie vrae beantwoord: Wat beteken dit om die weg van die waarheid te volg? Wat kan ons keer om dit te doen? En hoe kan ons mekaar help om in die waarheid te bly?

WAT BETEKEN DIT OM DIE WEG VAN DIE WAARHEID TE VOLG?

4. Wat moet ons doen om die weg van die waarheid te volg, volgens 1 Johannes 2:3-6 en 2 Johannes 4, 6?

4 Om die weg van die waarheid te volg, moet ons weet wat die waarheid in God se Woord, die Bybel, is. En ons moet Jehovah se “gebooie gehoorsaam”. (Lees 1 Johannes 2:3-6; 2 Johannes 4, 6.) Jesus het die perfekte voorbeeld gestel van iemand wat Jehovah gehoorsaam. So een belangrike manier hoe ons Jehovah gehoorsaam, is deur Jesus se voorbeeld so na as moontlik na te volg. – Joh. 8:29; 1 Pet. 2:21.

5. Waarvan moet ons oortuig wees?

5 Om aan te hou om die weg van die waarheid te volg, moet ons oortuig wees dat Jehovah die God van waarheid is. So alles wat hy vir ons sê in sy Woord, die Bybel, is die waarheid. En ons moet ook oortuig wees dat Jesus die beloofde Messias is. Baie mense vandag twyfel dat Jesus as Koning van God se Koninkryk gesalf is. Johannes het gewaarsku dat daar “baie bedrieërs” is wat dié kon mislei wat nie gereed was om die waarheid oor Jehovah en Jesus te verdedig nie (2 Joh. 7-11). Johannes het geskryf: “Wie is die leuenaar? Dit is die een wat ontken dat Jesus die Christus is” (1 Joh. 2:22). Die enigste manier hoe ons nie mislei sal word nie, is deur God se Woord te studeer. Net as ons dit doen, sal ons Jehovah en Jesus leer ken (Joh. 17:3). En slegs dan sal ons oortuig wees dat ons die waarheid het.

WAT KAN ONS KEER OM DIE WEG VAN DIE WAARHEID TE VOLG?

6. Wat kan jong Getuies keer om die weg van die waarheid te volg?

6 Alle Christene moet versigtig wees om nie mislei te word deur die idees van mense nie (1 Joh. 2:26). Veral jong Getuies moet hiervoor versigtig wees. Alexia, * ’n Franse suster wat 25 jaar oud is, sê: “Toe ek op skool was, is ons die evolusieteorie en die idees van mense geleer, en hierdie idees het my gepla. Soms het hierdie dinge logies geklink. Maar ek het gevoel dat ek nie net kon luister na wat ek by die skool leer sonder om Jehovah ’n kans te gee om te praat nie.” Alexia het die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? studeer. Binne ’n paar weke het sy nie meer getwyfel nie. Alexia sê: “Ek het aan myself bewys dat die Bybel die waarheid het. En ek het besef dat ek gelukkig sou wees en vrede sou hê as ek volgens die Bybel se standaarde lewe.”

7. Wat moet ons versigtig wees om nie te doen nie, en hoekom?

7 Alle Christene, jonk en oud, moet versigtig wees om nie ’n dubbele lewe te lei nie. Johannes het gesê dat ons nie die weg van die waarheid kan volg en ook ’n onsedelike lewe kan lei nie (1 Joh. 1:6). As ons Jehovah se hart bly wil maak, moet ons altyd in gedagte hou dat Jehovah alles sien wat ons doen. Selfs as mense nie sien wat ons in die geheim doen nie, kan Jehovah sien wat ons doen. – Heb. 4:13.

8. Wat moet ons nie aanvaar nie?

8 Ons moenie aanvaar wat die wêreld oor sonde sê nie. Die apostel Johannes het geskryf: “As ons sê: ‘Ons het geen sonde nie,’ mislei ons onsself” (1 Joh. 1:8). In Johannes se dag het afvalliges gesê dat ’n persoon aspris kan sondig en nog steeds ’n verhouding met God kan hê. Vandag lewe ons tussen mense wat ook so dink. Baie mense sê dat hulle in God glo, maar hulle stem nie saam met wat Jehovah oor sonde sê nie, veral wanneer dit by seks kom. Daar is sekere tipe seksuele gedrag wat Jehovah sê verkeerd is, maar hierdie persone sê dat dit nie verkeerd is vir ’n persoon om hierdie dinge te doen as hy dit wil doen nie.

Jongmense, vind uit hoekom Jehovah sê dat iets reg of verkeerd is. Dan sal julle kan verduidelik hoekom julle besluit om nie verkeerde dinge te doen nie (Sien paragraaf 9) *

9. Hoe help dit jongmense wanneer hulle doen wat die Bybel sê reg is?

9 Veral jong Christene voel dalk onder druk om soos hulle klasmaats of werksmaats oor seks te voel. Dit is wat met Aleksandar gebeur het. Hy sê: “Party meisies by die skool het my probeer kry om seks met hulle te hê. Hulle het gesê dat omdat ek nie ’n meisie het nie, moet ek seker homoseksueel wees.” As jy deur iets soortgelyks gaan, moet jy onthou dat wanneer jy doen wat die Bybel sê reg is, beskerm jy jou selfrespek, jou gesondheid, jou verhouding met Jehovah en spaar jy jouself baie hartseer. En elke keer wanneer jy nie doen wat verkeerd is nie, sal dit makliker word om te doen wat reg is. En onthou dat hierdie wêreld se verkeerde idees oor seks by Satan begin het. So wanneer jy weier om soos die mense in die wêreld te dink, ‘oorwin jy die Duiwel’. – 1 Joh. 2:14.

10. Hoe help 1 Johannes 1:9 ons om Jehovah met ’n skoon gewete te dien?

10 Ons erken dat Jehovah die reg het om te sê wat ’n sonde is. En ons doen ons bes om nie te sondig nie. Maar wanneer ons wel gesondig het, sê ons vir Jehovah in gebed wat ons verkeerd gedoen het. (Lees 1 Johannes 1:9.) En as ons ernstig gesondig het, vra ons die ouermanne, wat deur Jehovah aangestel is om vir ons te sorg, om ons te help (Jak. 5:14-16). Maar ons moenie aanhou om skuldig te voel oor verkeerde dinge wat ons in die verlede gedoen het nie. Hoekom nie? Omdat ons liefdevolle Vader die losprysoffer van sy Seun gegee het sodat ons sondes vergewe kan word. Wanneer Jehovah sê dat hy ons sal vergewe as ons regtig jammer is oor wat ons gedoen het, bedoel hy dit. So daar is niks wat ons keer om Jehovah met ’n skoon gewete te dien nie. – 1 Joh. 2:1, 2, 12; 3:19, 20.

11. Hoe kan ons onsself beskerm teen leerstellings wat ons geloof kan verswak?

11 Ons moenie glo wat afvalliges sê nie. Die Duiwel het nog altyd probeer om die geloof van getroue Christene te verswak. Daarom moet ons weet hoe om die verskil tussen feite en leuens te kan sien. * Ons vyande sal dalk die Internet of sosiale media gebruik om ons geloof in Jehovah en ons liefde vir ons broers te probeer verswak. Moenie hierdie leuens glo nie, dit kom van Satan af! – 1 Joh. 4:1, 6; Op. 12:9.

12. Hoekom moet ons ons geloof in die waarhede wat ons geleer het, versterk?

12 As ons ons teen Satan se aanvalle wil beskerm, moet ons ons geloof in Jesus en in die rol wat hy in God se voorneme speel, versterk. Ons moet ook vertroue hê in die enigste kanaal wat Jehovah vandag gebruik (Matt. 24:45-47). Ons versterk ons geloof deur gereeld God se Woord te studeer. Dan sal ons geloof soos ’n boom met diep wortels wees. Paulus het iets soortgelyks gesê toe hy aan die gemeente in Kolossense geskryf het. Hy het gesê: “Aangesien julle Christus Jesus, die Here, aanvaar het, moet julle aanhou om in eenheid dieselfde weg as hy te volg. Soos julle geleer het, moet julle in hom gewortel en opgebou word en stewig in die geloof gemaak word” (Kol. 2:6, 7). As ons hard werk om ons geloof te versterk, sal dit onmoontlik vir Satan en sy ondersteuners wees om ons te keer om die weg van die waarheid te volg. – 2 Joh. 8, 9.

13. Wat moet ons verwag, en hoekom?

13 Ons moet verwag om deur die wêreld gehaat te word (1 Joh. 3:13). Johannes herinner ons dat “die hele wêreld . . . in die mag van die Duiwel [is]” (1 Joh. 5:19). Die einde van hierdie wêreld kom al hoe nader, en Satan word al hoe kwater (Op. 12:12). Hy gebruik nie net indirekte aanvalle soos onsedelikheid of leuens van afvalliges nie, maar hy gebruik ook direkte aanvalle soos wrede vervolging. Satan weet dat hy net ’n kort tydjie oor het om te probeer om ons predikingswerk stop te sit of om ons geloof af te breek. Daarom verbaas dit ons nie dat ons werk verbied of beperk is in ’n hele paar lande nie. Maar ons broers en susters in hierdie lande hou aan om Jehovah te dien. Hulle wys dat dit nie saak maak wat die Duiwel aan ons doen nie, ons kan getrou bly!

HELP MEKAAR OM IN DIE WAARHEID TE BLY

14. Wat is een manier hoe ons ons broers en susters kan help om in die waarheid te bly?

14 Om ons broers en susters te help om in die waarheid te bly, moet ons wys dat ons meegevoel het (1 Joh. 3:10, 11, 16-18). Ons moet lief wees vir mekaar, nie net wanneer dinge goed gaan nie, maar ook wanneer daar probleme is. Byvoorbeeld, ken jy iemand wat ’n geliefde in die dood verloor het en vertroosting of praktiese hulp nodig het? Of het jy gehoor van broers en susters wat hulle besittings in ’n natuurramp verloor het en wat hulp nodig het om hulle Koninkryksale of huise te herbou? Ons wys hoeveel liefde en meegevoel ons vir ons broers en susters het, nie net deur wat ons sê nie, maar nog belangriker, deur wat ons doen.

15. Wat moet ons volgens 1 Johannes 4:7, 8 doen?

15 Ons volg ons liefdevolle hemelse Vader na wanneer ons wys dat ons mekaar liefhet. (Lees 1 Johannes 4:7, 8.) ’n Belangrike manier hoe ons liefde wys, is deur mekaar te vergewe. Byvoorbeeld, iemand maak ons dalk seer, maar vra later dat ons hom moet vergewe. Ons wys dat ons hom liefhet deur hom te vergewe en te vergeet wat hy gedoen het (Kol. 3:13). ’n Broer met die naam Aldo was ontsteld toe ’n broer wat hy gerespekteer het, iets leliks oor mense van sy kultuur gesê het. Aldo sê: “Ek het gereeld tot Jehovah gebid om my te help om nie sleg van hierdie broer te dink nie.” Maar Aldo het ook iets anders gedoen. Hy het besluit om die broer te vra om saam met hom velddiens te doen. Terwyl hulle saam gewerk het, het Aldo vir die broer gesê hoe ontsteld hy was oor wat hy gesê het. Aldo sê: “Toe die broer gehoor het hoe seer sy woorde my gemaak het, het hy jammer gesê. Ek kon aan sy stemtoon hoor hoe jammer hy was oor wat hy gesê het. Ná dit was ons weer goeie vriende.”

16-17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

16 Die apostel Johannes het sy broers baie liefgehad en hy wou hê dat hulle sterk geloof moes hê. Sy liefde en besorgdheid kan duidelik gesien word in die raad wat hy in sy drie briewe gegee het. Dit is aanmoedigend om te weet dat die manne en vroue wat saam met Jesus in die hemel sal regeer, net so liefdevol soos Johannes is en vir hulle broers en susters omgee. – 1 Joh. 2:27.

17 Kom ons pas die raad toe wat ons bespreek het. Laat ons vasbeslote wees om die weg van die waarheid te volg. Dit beteken dat ons Jehovah gehoorsaam in alles wat ons doen. Studeer sy Woord en vertrou daarop. Bou sterk geloof in Jesus op. Moenie die idees van mense en afvallige leerstellings glo nie. Wees versigtig om nie ’n dubbele lewe te lei nie, en moenie na mense luister wat jou probeer kry om iets verkeerds te doen nie. Lewe volgens Jehovah se hoë standaarde. En laat ons ons broers help om sterk te bly deur persone te vergewe wat ons seergemaak het en deur dié te help wat hulp nodig het. Dan sal ons aanhou om die weg van die waarheid te volg, maak nie saak watter uitdagings ons het nie.

LIED 49 Maak Jehovah se hart bly

^ par. 5 Ons lewe in ’n wêreld wat deur die vader van die leuen, Satan, regeer word. So dit kan vir ons baie moeilik wees om die weg van die waarheid te volg. Christene wat aan die einde van die eerste eeu HJ gelewe het, het dieselfde uitdaging gehad. Jehovah het die apostel Johannes geïnspireer om drie briewe te skryf om hulle sowel as ons te help. In hierdie briewe gaan ons sien watter dinge ons kan keer om die weg van die waarheid te volg en wat ons daaroor kan doen.

^ par. 6 Party name is verander.

^ par. 11 Sien die studieartikel “Het jy al die feite?” in Die Wagtoring van Augustus 2018.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong suster op skool hoor en sien heeltyd dinge wat homoseksualiteit aanvaarbaar laat lyk. (In party kulture word reënboogkleure gebruik as ’n teken van homoseksualiteit.) Later neem sy tyd om navorsing te doen om haar geloof te versterk in wat sy weet reg is. Dit help haar om ’n moeilike situasie te hanteer.