Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 31

Sien jy uit na “die stad wat ware fondamente het”?

Sien jy uit na “die stad wat ware fondamente het”?

“Hy het uitgesien na die stad wat ware fondamente het, wat deur God ontwerp en gebou is.” – HEB. 11:10.

LIED 22 Die Koninkryk regeer – Laat dit kom!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter opofferings het baie gemaak, en hoekom het hulle hierdie opofferings gemaak?

 MILJOENE van God se knegte vandag het opofferings gemaak. Baie broers en susters het besluit om nie te trou nie. Getroude paartjies het besluit om nie nou kinders te hê nie. Gesinne hou hulle lewe eenvoudig. Almal het hierdie besluite vir een belangrike rede gemaak – hulle wil soveel as moontlik in Jehovah se diens doen. Hulle is tevrede en vertrou dat Jehovah hulle alles sal gee wat hulle regtig nodig het. Sal hulle teleurgesteld wees? Nee! Hoekom kan ons hiervan seker wees? Want in die verlede het Jehovah sy knegte alles gegee wat hulle nodig gehad het. Byvoorbeeld, Jehovah het Abraham, “die vader . . . van almal wat geloof het,” geseën. – Rom. 4:11.

2. (a) Hoekom was Abraham bereid om uit die stad Ur te trek, volgens Hebreërs 11:8-10, 16? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Abraham was bereid om die gemaklike lewe wat hy in die stad Ur gehad het, agter te laat. Hoekom? Omdat hy uitgesien het na “die stad wat ware fondamente het”. (Lees Hebreërs 11:8-10, 16.) Wat is hierdie “stad”? Watter probleme het Abraham gehad terwyl hy gewag het vir hierdie stad om gebou te word? En hoe kan ons soos Abraham en soos persone in ons dag wees wat sy voorbeeld nagevolg het?

WAT IS “DIE STAD WAT WARE FONDAMENTE HET”?

3. Wat is die stad waarna Abraham uitgesien het?

3 Die stad waarna Abraham uitgesien het, is God se Koninkryk. Die Koninkryk bestaan uit Jesus Christus en 144 000 gesalfde Christene. Paulus noem die Koninkryk “’n stad van die lewende God, hemelse Jerusalem” (Heb. 12:22; Op. 5:8-10; 14:1). Jesus het sy dissipels geleer om vir hierdie selfde Koninkryk te bid en om te vra dat dit sal kom sodat God se wil op die aarde kan plaasvind, net soos in die hemel. – Matt. 6:10.

4. Hoeveel het Abraham oor die stad, of Koninkryk, wat God belowe het, geweet, volgens Genesis 17:1, 2, 6?

4 Het Abraham die details geweet oor hoe God se Koninkryk georganiseerd sou wees? Nee. Hierdie details was honderde jare lank ’n “heilige geheim” (Ef. 1:8-10; Kol. 1:26, 27). Maar Abraham het geweet dat party van sy nageslag konings sou wees, want Jehovah het hierdie belofte aan hom gemaak. (Lees Genesis 17:1, 2, 6.) Abraham het sulke sterk geloof in God se beloftes gehad dat dit was asof hy die Gesalfde Een, of Messias, wat die Koning van God se Koninkryk sou wees, kon sien. Daarom kon Jesus vir die Jode in sy dag sê: “Abraham, julle vader, het uitgesien na die dag wanneer ek sou kom, en hy het dit gesien en was baie bly” (Joh. 8:56). Dit is duidelik dat Abraham geweet het dat sy nakomelinge ’n Koninkryk sou vorm wat Jehovah se ondersteuning het, en hy was bereid om vir Jehovah te wag om hierdie belofte te vervul.

Hoe het Abraham gewys dat hy geloof het in Jehovah se beloftes? (Sien paragraaf 5)

5. Hoe weet ons dat Abraham uitgesien het na die stad wat deur God ontwerp is?

5 Hoe het Abraham gewys dat hy uitgesien het na die stad, of Koninkryk, wat deur God ontwerp is? Eerstens, Abraham het nie by enige aardse koninkryk aangesluit nie. Hy het van die een plek na die ander getrek, hy het nie ’n permanente huis gehad nie en hy het nie ’n mensekoning ondersteun nie. Abraham het ook nie probeer om sy eie koninkryk te vorm nie. Hy het eerder aangehou om Jehovah te gehoorsaam en gewag vir Hom om Sy belofte te vervul. Deur dit te doen, het Abraham gewys dat hy baie sterk geloof in Jehovah gehad het. Kom ons bespreek party van die probleme wat hy gehad het en wat ons uit sy voorbeeld kan leer.

WATTER PROBLEME HET ABRAHAM GEHAD?

6. Watter soort stad was Ur?

6 Die stad wat Abraham verlaat het, was veilig en gemaklik. En die mense daar was geleerd en ryk. Dit was beskerm deur ’n dik muur en ’n diep waterkanaal aan drie kante. Die mense in Ur kon baie goed skryf en was baie goed in wiskunde. Dit lyk asof baie mense besigheid in die stad gedoen het omdat baie besigheidsdokumente gevind is op die plek waar die stad was. Private huise is met bakstene gebou; die mure is gepleister en wit geverf. Party van hierdie huise het 13 of 14 kamers en ’n binnehof met ’n klipvloer gehad.

7. Hoekom moes Abraham vertrou dat Jehovah hom en sy familie sou beskerm?

7 Abraham moes vertrou dat Jehovah hom en sy familie sou beskerm. Hoekom? Onthou dat Abraham en Sara hulle veilige en gemaklike huis in die stad Ur verlaat het om in tente in die oop velde van Kanaän te woon. Hy en sy familie was nie meer beskerm deur dik mure en diep waterkanale nie. Hulle kon nou maklik deur vyande aangeval word.

8. Wat het eenkeer met Abraham gebeur?

8 Abraham het God se wil gedoen, maar eenkeer het hy gesukkel om vir sy familie kos te gee. Daar was ’n groot hongersnood in die land waarheen Jehovah vir hom gesê het om na te gaan. Die hongersnood was so erg dat Abraham besluit het dat hy en sy familie tydelik na Egipte toe moes trek. Maar terwyl hy in Egipte was, het Farao, die heerser van die land, sy vrou gevat. Dink net hoe bekommerd Abraham moes gewees het totdat Jehovah Farao oorreed het om Sara aan Abraham terug te gee. – Gen. 12:10-19.

9. Watter familieprobleme het Abraham gehad?

9 Daar was ook groot probleme in Abraham se familie. Sy geliefde vrou, Sara, kon nie kinders kry nie. Hulle was jare lank hartseer oor hierdie situasie. Uiteindelik het Sara haar diensmeisie, Hagar, vir Abraham gegee sodat sy vir Abraham en Sara kinders kon gee. Maar toe Hagar swanger geword het met Ismael, het sy begin neersien op Sara. Hierdie situasie het so erg geword dat Sara vir Hagar van die huis af weggejaag het. – Gen. 16:1-6.

10. Watter situasies kon dit vir Abraham moeilik gemaak het om op Jehovah te vertrou?

10 Sara het uiteindelik swanger geword en vir Abraham ’n seun gegee wat hy Isak genoem het. Abraham was lief vir albei sy seuns, Ismael en Isak. Maar omdat Ismael vir Isak so sleg behandel het, moes Abraham vir Ismael en Hagar wegstuur (Gen. 21:9-14). Later het Jehovah Abraham gevra om Isak op te offer (Gen. 22:1, 2; Heb. 11:17-19). In albei gevalle moes Abraham vertrou dat Jehovah dinge goed sal laat uitwerk vir sy seuns.

11. Hoekom moes Abraham geduldig op Jehovah wag?

11 Deur al hierdie dinge moes Abraham leer om geduldig op Jehovah te wag. Hy was waarskynlik meer as 70 jaar oud toe hy en sy familie Ur verlaat het (Gen. 11:31–12:4). En vir omtrent 100 jaar het hy in tente gebly en deur die land Kanaän getrek. Abraham het gesterf toe hy 175 jaar oud was (Gen. 25:7). Maar hy het nie gesien hoe Jehovah Sy belofte vervul om die land waarop hy geloop het, vir sy nageslag te gee nie. En hy het nie lank genoeg gelewe om die stad, God se Koninkryk, te sien nie. Maar Abraham word nog steeds beskryf as iemand wat “oud en tevrede” gesterf het (Gen. 25:8). Al het Abraham baie probleme gehad, het sy geloof sterk gebly en was hy bereid om op Jehovah te wag. Wat het hom gehelp om deur hierdie moeilike tye te kom? Jehovah het Abraham regdeur sy lewe beskerm en hom as ’n vriend behandel. – Gen. 15:1; Jes. 41:8; Jak. 2:22, 23.

Hoe wys God se knegte dat hulle, net soos Abraham en Sara, geloof het en geduldig is? (Sien paragraaf 12) *

12. Waarvoor wag ons, en wat sal ons bespreek?

12 Net soos Abraham sien ons ook uit na die stad wat ware fondamente het. Maar ons wag nie vir die stad om gebou te word nie. God se Koninkryk het in 1914 begin regeer en het alreeds volle beheer oor die hemel geneem (Op. 12:7-10). Maar ons wag vir dit om volle beheer oor die aarde te neem. Terwyl ons wag vir dit om te gebeur, sal ons dalk baie probleme hê wat soortgelyk is aan wat Abraham en Sara gehad het. Kon Jehovah se knegte vandag Abraham se voorbeeld navolg? Die lewensverhale in Die Wagtoring wys dat baie vandag, net soos Abraham en Sara, geloof gehad het en geduldig was. Kom ons bespreek net ’n paar van hierdie verhale en kyk wat ons daaruit kan leer.

PARTY WAT ABRAHAM SE VOORBEELD NAGEVOLG HET

Bill Walden was bereid om opofferings te maak, en Jehovah het hom geseën

13. Wat leer jy uit die ondervinding van broer Walden?

13 Wees bereid om opofferings te maak. As ons God se stad, die Koninkryk, eerste in ons lewe wil stel, moet ons soos Abraham wees wat bereid was om opofferings te maak om God se hart bly te maak (Matt. 6:33; Mark. 10:28-30). Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Bill Walden. * In 1942 het Bill op die punt gestaan om ’n graad in boukundige ingenieurswese te ontvang by ’n Amerikaanse universiteit toe hy met Jehovah se Getuies begin studeer het. Bill se professor het gereël dat Bill ná sy graduering ’n werk sou hê, maar Bill het nee gesê. Hy het verduidelik dat hy besluit het om meer in God se diens te doen eerder as om ’n werk te aanvaar wat baie geld betaal. Kort daarna het die regering Bill beveel om by die weermag aan te sluit. Hy het respekvol geweier en as gevolg daarvan is hy ’n boete van $10 000 gegee en is hy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Ná drie jaar is hy vrygelaat. Later is hy genooi om die Gileadskool by te woon en het hy as ’n sendeling in Afrika gedien. Toe het Bill met Eva getrou, en hulle het saam in Afrika gedien, wat beteken het dat hulle opofferings moes maak. Na ’n paar jaar het hulle teruggegaan na die Verenigde State om vir Bill se ma te sorg. Bill som sy hele lewe op deur te sê: “Ek kry trane in my oë wanneer ek dink aan die ontsagwekkende voorreg om meer as 70 jaar lank deur Jehovah in sy diens gebruik te word. Ek dank hom dikwels omdat hy my gehelp het om sy diens my loopbaan te maak.” Kan jy die voltydse diens jou loopbaan maak?

Eleni en Aristotelis Apostolidis het gevoel hoe Jehovah hulle krag gee

14-15. Wat leer jy uit die ondervinding van broer en suster Apostolidis?

14 Moenie verwag dat jy nie probleme sal hê nie. Ons leer uit Abraham se voorbeeld dat selfs persone wat hulle hele lewe gebruik om Jehovah te dien, nog steeds probleme sal hê (Jak. 1:2; 1 Pet. 5:9). Kyk hoe die ondervinding van Aristotelis Apostolidis wys dat dit waar is. * Hy is in 1946 in Griekeland gedoop, en in 1952 het hy verloof geraak aan ’n suster met die naam Eleni, wat dieselfde doelwitte as hy gehad het. Maar Eleni het siek geword en was gediagnoseer met ’n gewas op haar brein. Die gewas is verwyder, maar net ’n paar jaar nadat die paartjie getrou het, het die gewas teruggekom. Die dokters het weer geopereer, maar Eleni was gedeeltelik verlam en sy kon nie normaal praat nie. Sy het ’n ywerige verkondiger gebly, al was sy siek en al het die regering hulle daardie tyd teëgestaan.

15 Aristotelis het 30 jaar lank vir sy vrou gesorg. Gedurende hierdie tyd het hy as ’n ouerman gedien, op Byeenkomskomitees gewerk en gehelp om ’n Byeenkomssaal te bou. Toe, in 1987, het Eleni in ’n ongeluk seergekry terwyl sy besig was om te preek. Sy was drie jaar lank in ’n koma en toe het sy gesterf. Aristotelis som sy ondervinding op deur te sê: “Oor die jare het ek baie probleme gehad, en party van hulle was skielik en onverwags. So ek moes vasbeslote wees om te volhard en om nie toe te laat dat enige iets my mismoedig maak nie. Maar Jehovah het my altyd die krag gegee wat ek nodig gehad het om hierdie probleme te hanteer” (Ps. 94:18, 19). Jehovah is baie lief vir sy knegte wat alles doen wat hulle kan om hom te dien, al het hulle probleme!

Audrey Hyde het positief gebly deur op haar hoop vir die toekoms te fokus

16. Watter goeie raad het broer Knorr vir sy vrou gegee?

16 Fokus op die toekoms. Abraham het gefokus op die seëninge wat Jehovah hom in die toekoms sou gee, en dit het hom gehelp om sy probleme te hanteer. Suster Audrey Hyde het positief probeer bly deur aan te hou dink aan haar hoop vir die toekoms, al is haar eerste man, Nathan H. Knorr, dood aan kanker en al het haar tweede man, Glenn Hyde, siek geword met Alzheimer se siekte. * Sy sê dat iets wat broer Knorr ’n paar weke voor sy dood vir haar gesê het, haar baie gehelp het. Sy sê: “Nathan het my herinner: ‘Ná die dood is ons hoop seker en ons hoef nooit weer pyn deur te maak nie.’ Toe het hy my aangespoor: ‘Kyk vorentoe, want dit is waar jou beloning is.’ . . . Hy het bygevoeg: ‘Bly besig – probeer jou lewe gebruik om iets vir ander te doen. Dit sal jou help om vreugde uit die lewe te put.’” Dit is beslis praktiese raad om besig te bly deur goeie dinge vir ander te doen en om ‘bly te wees oor die hoop’! – Rom. 12:12.

17. (a) Hoekom het ons goeie rede om op die toekoms te fokus? (b) Hoe sal dit ons help om die seëninge in die toekoms te geniet as ons die voorbeeld in Miga 7:7 navolg?

17 Vandag het ons meer rede as ooit tevore om op die toekoms te fokus. Die dinge wat in die wêreld gebeur, wys duidelik dat ons in die laaste deel van die laaste dae van hierdie wêreld lewe. Binnekort sal ons nie meer hoef te wag vir die stad wat ware fondamente het om volle beheer oor die aarde te neem nie. Een van die baie dinge wat ons gelukkig sal maak, is dat ons geliefdes uit die dood opgewek sal word. Gedurende daardie tyd sal Jehovah Abraham beloon vir sy geloof en geduld deur hom en sy familie op te wek om weer lewe op die aarde te geniet. Sal jy daar wees om hulle te verwelkom? Jy kan daar wees as jy net soos Abraham bereid is om opofferings te maak vir God se Koninkryk, as jy jou geloof behou al het jy probleme en as jy leer om geduldig op Jehovah te wag. – Lees Miga 7:7.

LIED 74 Kom sing die Koninkrykslied!

^ par. 5 Terwyl ons wag vir God se beloftes om vervul te word, kan ons ongeduldig word of selfs ons geloof verloor. Watter lesse kan ons uit Abraham se voorbeeld leer wat ons sal help om geduldig te wag vir Jehovah se beloftes om vervul te word? En watter goeie voorbeeld het party van Jehovah se knegte vandag gestel?

^ par. 13 Broer Walden se lewensverhaal is in Die Wagtoring van 1 Desember 2013, bl. 8-10.

^ par. 14 Broer Apostolidis se lewensverhaal is in die Engelse Wagtoring van 1 Februarie 2002, bl. 24-28.

^ par. 16 Suster Hyde se lewensverhaal is in Die Wagtoring van 1 Julie 2004, bl. 23-29.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Bejaarde paartjie hou aan om Jehovah getrou te dien, al het hulle probleme. Hulle hou hulle geloof sterk deur te fokus op Jehovah se beloftes vir die toekoms.