Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 35

Respekteer die plek van ander in Jehovah se gemeente

Respekteer die plek van ander in Jehovah se gemeente

“Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek het jou nie nodig nie,’ en die kop kan ook nie vir die voete sê: ‘Ek het julle nie nodig nie.’” – 1 KOR. 12:21.

LIED 124 Bly lojaal

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Jehovah vir elkeen van sy getroue knegte gegee?

 JEHOVAH het liefdevol vir elkeen van sy getroue knegte ’n plek in sy gemeente gegee. Alhoewel ons verskillende rolle het, is ons almal waardevol en het ons almal mekaar nodig. Die apostel Paulus help ons om hierdie belangrik les te verstaan. Hoe?

2. Hoekom moet ons volgens Efesiërs 4:16 mekaar waardeer en saamwerk?

2 Soos ons in die temateks van hierdie artikel kan sien, beklemtoon Paulus dat nie een van ons na ’n ander kneg van Jehovah kan kyk en sê: “Ek het jou nie nodig nie” (1 Kor. 12:21). As ons vrede in die gemeente wil hê, moet ons mekaar waardeer en saamwerk. (Lees Efesiërs 4:16.) Wanneer ons in eenheid saamwerk, sal almal in liefde opgebou word, en die gemeente sal sterk wees.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Wat is ’n paar maniere hoe ons kan wys dat ons respek vir ander Christene in die gemeente het? In hierdie artikel sal ons kyk hoe ouermanne kan wys dat hulle ander ouermanne respekteer. Dan sal ons kyk hoe ons almal kan wys dat ons ons broers en susters wat nie getroud is nie, waardeer. En laastens sal ons kyk hoe ons kan wys dat ons persone waardeer wat ons taal nie so goed kan praat nie.

RESPEKTEER ANDER OUERMANNE

4. Watter raad wat Paulus in Romeine 12:10 gegee het, moet ouermanne volg?

4 Alle ouermanne in die gemeente word deur Jehovah se heilige gees aangestel. Maar elkeen het verskillende vermoëns (1 Kor. 12:17, 18). Party het dalk onlangs ouermanne geword en het nie so baie ondervinding nie. Ander kan dalk nie so baie doen as gevolg van hulle ouderdom of gesondheidsprobleme nie. Maar geen ouerman moet na ’n ander ouerman kyk en sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Elke ouerman moet eerder Paulus se raad in Romeine 12:10 volg. – Lees.

Ouermanne wys dat hulle ander ouermanne respekteer deur mooi na hulle te luister (Sien paragraaf 5-6)

5. Hoe wys ouermanne dat hulle mekaar respekteer, en hoekom is dit belangrik dat hulle dit doen?

5 Ouermanne wys dat hulle mekaar respekteer deur mooi na mekaar te luister. Dit is veral belangrik wanneer ouermanne bymekaarkom om belangrike sake te bespreek. Hoekom? Kyk na wat die Engelse uitgawe van Die Wagtoring van 1 Oktober 1988 gesê het: “Ouermanne sal erken dat Jesus die heilige gees kan gebruik om enige ouerman in die gemeente te help om aan ’n Bybelbeginsel te dink wat die ouermanne sal help om te weet wat om in ’n situasie te doen of om enige belangrike besluit te maak (Hand. 15:6-15). Heilige gees help al die ouermanne in die gemeente, nie net een nie.”

6. Hoe kan ouermanne in eenheid saamwerk, en hoe help dit die gemeente wanneer hulle dit doen?

6 ’n Ouerman wat ander ouermanne respekteer, probeer nie om altyd eerste by ouermanvergaderinge te praat nie. Hy doen nie die meeste van die praatwerk nie en hy glo nie dat sy opinie altyd reg is nie. Hy sê eerder wat hy dink op ’n nederige en beskeie manier. Hy luister mooi na wat ander sê. Maar nog belangriker, hy kyk graag na wat die Bybel sê en hy volg die riglyne van “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45-47). As ouermanne sake op ’n liefdevolle en ’n respekvolle manier bespreek, sal God se gees saam met hulle wees, en dit sal hulle help om besluite te maak wat die gemeente sal versterk. – Jak. 3:17, 18.

RESPEKTEER CHRISTENE WAT NIE GETROUD IS NIE

7. Wat het Jesus gedink van mense wat nie getroud is nie?

7 In die gemeente vandag is daar getroude paartjies en families. Maar daar is ook baie broers en susters wat nie getroud is nie. Wat moet ons dink van persone wat nie getroud is nie? Kom ons kyk wat Jesus van hulle gedink het. Toe Jesus besig was met sy predikingswerk het hy nie getrou nie. Hy het eerder sy tyd gebruik om op sy toewysing te fokus. Jesus het nooit gesê dat Christene moet trou of nie moet trou nie. Maar hy het gesê dat party Christene sou besluit om nie te trou nie (Matt. 19:11, 12). Jesus het persone gerespekteer wat nie getroud was nie. Hy het nie gedink dat ongetroude persone minder belangrik is of dat hulle op iets uitmis nie.

8. Wat het Paulus Christene aangemoedig om te doen, volgens 1 Korintiërs 7:7-9?

8 Net soos Jesus was die apostel Paulus ook nie getroud toe hy besig was met die predikingswerk nie. Paulus het nooit gesê dat dit verkeerd is vir ’n Christen om te trou nie. Hy het besef dat dit ’n persoonlike saak is. Maar Paulus het Christene aangemoedig om daaraan te dink of hulle Jehovah as ongetroude persone kan dien. (Lees 1 Korintiërs 7:7-9.) Paulus het beslis nie neergesien op ongetroude Christene nie. Om die waarheid te sê, hy het jong Timoteus, ’n ongetroude broer, gekies om belangrike werk in Jehovah se diens te doen (Fil. 2:19-22). * So dit is duidelik dat dit verkeerd sou wees om te dink dat ’n broer meer of minder gekwalifiseerd is net omdat hy getroud of nie getroud is nie. – 1 Kor. 7:32-35, 38.

9. Wat kan ons oor die getroude en ongetroude lewe sê?

9 Nie Jesus of Paulus het gesê dat ’n Christen moet trou of nie moet trou nie. So wat kan ons dan oor die getroude en ongetroude lewe sê? Die Wagtoring van 1 Oktober 2012 het dit mooi verduidelik: “Albei [die getroude en ongetroude lewe] kan in werklikheid as ’n gawe van God beskryf word. . . . Jehovah beskou [die ongetroude lewe] nie as ’n oorsaak van skande of droefheid nie.” Dit help ons om te sien dat ons die plek van ongetroude broers en susters in die gemeente moet respekteer.

Wat moet ons vermy omdat ons die gevoelens van ongetroude persone respekteer? (Sien paragraaf 10)

10. Hoe kan ons wys dat ons ons ongetroude broers en susters respekteer?

10 Hoe kan ons wys dat ons die gevoelens en omstandighede van ons ongetroude broers en susters respekteer? Dit sal goed wees as ons onthou dat party ongetroude Christene dit ’n doelwit gemaak het om nie te trou nie. Ander ongetroude Christene sal graag wil trou, maar hulle het nog nie die regte persoon gekry nie. En party het dalk hulle huweliksmaat in die dood verloor. Maar wat ook al die geval is, moet persone in die gemeente vir ongetroude Christene vra hoekom hulle nie getroud is nie of hulle help om iemand te kry? Party ongetroude Christene vra jou dalk om hulle te help om ’n huweliksmaat te soek. Maar as hulle jou nie gevra het nie, hoe sal hulle dalk voel as jy aanbied om hulle te help? (1 Tess. 4:11; 1 Tim. 5:13). Kom ons kyk na wat party getroue ongetroude broers en susters gesê het.

11-12. Hoe kan ons dalk ongetroude persone mismoedig maak?

11 Een ongetroude kringopsiener wat baie goed is in sy toewysing, voel dat daar baie voordele daarin is om ongetroud te wees. Maar hy het opgelet dat dit hom mismoedig maak wanneer broers en susters wat goed bedoel, hom vra: “Hoekom is jy nie getroud nie?” ’n Ongetroude broer wat by ’n takkantoor dien, het opgelet: “Soms dink party broers en susters dat hulle jammer moet voel vir persone wat nie getroud is nie. Dit kan dit laat lyk asof die ongetroude lewe ’n probleem is eerder as ’n gawe.”

12 ’n Ongetroude suster wat by Bethel dien, sê: “Party verkondigers neem aan dat alle ongetroude persone ’n huweliksmaat soek of dat wanneer hulle in ’n groep saam kuier, hulle dit as ’n geleentheid sien om ’n huweliksmaat te kry. Eenkeer toe ek na ’n ander deel van die land toe gegaan het vir ’n toewysing, het ek op ’n vergaderingaand daar aangekom. Die suster by wie ek gebly het, het vir my gesê dat daar twee broers in die gemeente is wat my ouderdom is. Sy het vir my gesê dat sy my nie probeer help om ’n huweliksmaat te kry nie. Maar onmiddellik toe ons in die Koninkryksaal instap, het sy my na die twee broers toe gevat om hulle te ontmoet. Natuurlik was dit baie ongemaklik vir al drie van ons.”

13. Watter voorbeelde het ’n ongetroude suster aangemoedig?

13 ’n Ander ongetroude suster wat by Bethel dien, het die volgende opgelet: “Ek ken ouer ongetroude pioniers wat gebalanseerd, gefokus, selfopofferend en tevrede in hulle diens is. Hulle help die gemeente waarin hulle is baie. Hulle het die regte gesindheid oor die ongetroude lewe. Hulle dink nie dat hulle beter as ander is omdat hulle enkel gebly het nie en hulle dink nie dat hulle nie gelukkig kan wees omdat hulle nie ’n huweliksmaat of kinders het nie.” Dit is wat so lekker is van ’n gemeente waar almal mekaar respekteer en waardeer. Jy voel nie dat hulle vir jou jammer kry of jaloers is op jou nie en jy voel ook nie dat hulle jou ignoreer of dink dat jy beter as hulle is nie. Jy weet dat jy daar behoort.

14. Hoe kan ons wys dat ons ongetroude persone respekteer?

14 Ons ongetroude broers en susters sal baie bly wees as ons hulle waardeer vir hulle goeie eienskappe en nie omdat hulle getroud of ongetroud is nie. In plaas daarvan om jammer vir hulle te voel, wil ons hulle waardeer vir hulle getrouheid. As ons dit doen, sal ons ongetroude broers en susters nooit voel dat ons vir hulle sê: “Ek het jou nie nodig nie” (1 Kor. 12:21). Hulle sal eerder weet dat ons hulle respekteer en hulle plek in die gemeente waardeer.

RESPEKTEER PERSONE WAT NIE JOU TAAL GOED KAN PRAAT NIE

15. Watter veranderinge het party gemaak om meer in die bediening te doen?

15 In onlangse jare het baie verkondigers dit hulle doelwit gemaak om ’n ander taal te leer sodat hulle meer in die bediening kan doen. Dit beteken dat hulle veranderinge moes maak. Hierdie broers en susters het ’n gemeente verlaat wat hulle moedertaal praat sodat hulle in ’n gemeente kan dien wat ’n ander taal praat en waar daar meer verkondigers nodig is (Hand. 16:9). Dit is ’n persoonlike besluit wat hierdie Christene gemaak het om meer vir Jehovah te doen. Alhoewel dit vir hulle jare kan vat om die nuwe taal goed te kan praat, doen hulle baie om die gemeente te help. Hulle goeie eienskappe en ondervinding versterk die gemeente. Ons waardeer hierdie selfopofferende broers en susters!

16. Wat gebruik ouermanne om te kyk of ’n broer kwalifiseer om as ’n ouerman of ’n bedieningskneg te dien?

16 Ouermanne sal nie besluit dat ’n broer nie as ’n ouerman of bedieningskneg kan dien net omdat hy nie die taal van die gemeente goed kan praat nie. Ouermanne sal die Bybel gebruik om te kyk of ’n broer kwalifiseer om as ’n ouerman of ’n bedieningskneg te dien, in plaas daarvan om te kyk hoe goed hy die taal van die gemeente kan praat. – 1 Tim. 3:1-10, 12, 13; Tit. 1:5-9.

17. Watter besluit moet ouers maak wanneer hulle gesin na ’n ander land trek?

17 Party Christengesinne het na ’n ander land getrek omdat hulle moes vlug of omdat hulle werk soek. In sulke gevalle moet hulle kinders dalk skoolgaan in die hooftaal van hulle nuwe land. Die ouers moet dalk ook die hooftaal leer om werk te kry. Wat as daar ’n gemeente of ’n groep in hulle moedertaal is? Watter gemeente moet die gesin bywoon? Moet hulle na ’n gemeente gaan wat die hooftaal van die land praat of na ’n gemeente wat hulle moedertaal praat?

18. Met Galasiërs 6:5 in gedagte, hoe kan ons wys dat ons die gesinshoof respekteer?

18 Die gesinshoof moet besluit na watter gemeente die gesin moet gaan. Omdat dit ’n persoonlike besluit is, moet hy kyk wat die beste vir sy gesin sal wees. (Lees Galasiërs 6:5.) Ons moet die besluit van die gesinshoof respekteer. Wat hy ook al besluit, kom ons aanvaar sy besluit deur die gesin in die gemeente te verwelkom en te wys dat ons hulle liefhet. – Rom. 15:7.

19. Waaroor moet gesinshoofde mooi dink en bid?

19 In ander gevalle dien gesinne dalk in ’n gemeente wat die ouers se moedertaal gebruik, maar die kinders is dalk nie goed in die taal nie. As daardie gemeente in ’n gebied is waar die hooftaal van die land gepraat word, sal dit dalk vir die kinders moeilik wees om te verstaan wat by die vergaderinge gesê word en sal hulle dalk nie nader aan Jehovah kom nie. Hoekom nie? Want die kinders gaan dalk na ’n skool wat die hooftaal van die land gebruik en nie die ouers se moedertaal nie. In sulke gevalle moet die gesinshoof bid en mooi dink oor wat hulle moet doen om die kinders te help om nader aan Jehovah en Sy volk te kom. Hulle moet of hulle kinders help om hulle moedertaal beter te verstaan of hulle moet daaraan dink om na ’n gemeente te gaan wat die taal gebruik wat hulle kinders goed verstaan. Wat die gesinshoof ook al besluit, die gemeente waarheen hulle gaan, moet wys dat hulle hom en sy gesin respekteer en waardeer.

Hoe kan ons wys dat ons persone wat ’n nuwe taal leer, waardeer? (Sien paragraaf 20)

20. Hoe kan ons wys dat ons ons broers en susters wat ’n nuwe taal leer, respekteer?

20 Vir al die redes wat ons bespreek het, sal daar in baie gemeentes broers en susters wees wat sukkel om ’n nuwe taal te leer. Dit kan dalk vir hulle moeilik wees om te sê wat hulle dink. Maar as ons nie net fokus op hoe goed hulle die nuwe taal kan praat nie, sal ons hulle liefde vir Jehovah sien en hulle begeerte om hom te dien. As ons hierdie pragtige eienskappe sien, sal ons hierdie broers en susters baie waardeer en respekteer. Ons sal nie sê “ek het jou nie nodig nie” net omdat hulle nie ons taal goed kan praat nie.

ONS IS KOSBAAR VIR JEHOVAH

21-22. Watter wonderlike voorreg het ons?

21 Jehovah het ons die wonderlike voorreg gegee om ’n plek in sy gemeente te hê. Dit maak nie saak of ons ’n man of ’n vrou, getroud of ongetroud, jonk of oud is nie en of ons ’n sekere taal goed kan praat of nie so goed kan praat nie, ons is kosbaar vir Jehovah en vir mekaar. – Rom. 12:4, 5; Kol. 3:10, 11.

22 Mag ons aanhou om die wonderlike lesse toe te pas wat ons uit Paulus se illustrasie van die menseliggaam geleer het. Op hierdie manier sal ons na selfs meer maniere soek om te wys dat ons ons plek en ander se plek in Jehovah se gemeente waardeer.

LIED 90 Bemoedig mekaar

^ par. 5 Jehovah se knegte kom uit verskillende agtergronde en het verskillende rolle in die gemeente. Hierdie artikel sal ons help om te sien hoekom dit belangrik is om elkeen te respekteer wat deel is van Jehovah se familie.

^ par. 8 Ons kan nie met sekerheid sê dat Timoteus nooit getrou het nie.