Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 32

Wandel nederig en beskeie met jou God

Wandel nederig en beskeie met jou God

‘Wandel beskeie met jou God!’ – MIGA 6:8.

LIED 31 O, wandel met Jehovah God!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Dawid oor Jehovah se nederigheid gesê?

 KAN ons regtig sê dat Jehovah nederig is? Ja, ons kan. Dawid het eenkeer gesê: “U gee my u skild van redding, en u nederigheid maak my groot” (2 Sam. 22:36; Ps. 18:35). Dalk het Dawid gedink aan die dag toe die profeet Samuel na die huis van Dawid se pa gekom het om die volgende koning van Israel te salf. Dawid was die jongste van agt seuns, maar tog het Jehovah hom gekies om koning Saul te vervang. – 1 Sam. 16:1, 10-13.

2. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 Dawid sou sekerlik saamstem met wat die psalmis oor Jehovah gesê het: “Hy buig neer om na die hemel en die aarde te kyk, en hy tel die hulpelose uit die stof uit op. Hy haal die een wat arm is, van die ashoop af om hom by die heersers te laat sit” (Ps. 113:6-8). In hierdie artikel gaan ons eers ’n paar belangrike lesse oor nederigheid bespreek deur te kyk na Jehovah se voorbeeld van nederigheid. Dan gaan ons kyk wat ons kan leer uit die voorbeeld van koning Saul, die profeet Daniël en Jesus oor die eienskap van beskeidenheid.

WAT KAN ONS UIT JEHOVAH SE VOORBEELD LEER?

3. Hoe behandel Jehovah ons, en wat bewys dit?

3 Jehovah wys dat hy nederig is deur hoe hy onvolmaakte mense behandel. Hy aanvaar nie net ons aanbidding nie, maar hy sien ons ook as sy vriende (Ps. 25:14). Om dit vir ons moontlik te maak om sy vriende te wees, het Jehovah die inisiatief geneem om sy Seun as ’n losprys vir ons sondes te gee. Jehovah is beslis baie genadig en het baie meegevoel met ons!

4. Wat het Jehovah vir ons gegee, en hoekom?

4 Kyk na nog ’n manier hoe Jehovah wys dat hy nederig is. As die Skepper kon Jehovah ons gemaak het sonder die vermoë om te besluit hoe ons ons lewe sal lei. Maar hy het dit nie gedoen nie. Hy het ons na sy beeld gemaak en ons die vryheid gegee om te besluit wat ons wil doen. Die besluite wat ons maak, is belangrik vir Jehovah, selfs al is ons baie klein en swak in vergelyking met hom. Hy wil hê dat ons hom uit die hart moet dien omdat ons hom liefhet en omdat ons besef dat dit goed is vir ons om hom te gehoorsaam (Deut. 10:12; Jes. 48:17, 18). Ons is baie dankbaar dat Jehovah so nederig is!

’n Prent van Jesus in die hemel. Langs hom staan party van sy mede-heersers. Saam kyk hulle na ’n ontsaglike hoeveelheid engele. Party engele gaan af aarde toe om hulle toewysing uit te voer. Jehovah het werk gegee aan almal wat ons in die prent sien (Sien paragraaf 5)

5. Hoe leer Jehovah ons om nederig te wees? (Sien prent op voorblad.)

5 Jehovah leer ons om nederig te wees deur die manier hoe hy ons behandel. Jehovah is die wysste Persoon in die heelal. Maar tog is hy bereid om voorstelle van ander te aanvaar. Byvoorbeeld, Jehovah het sy Seun toegelaat om hom te help om alles te maak (Spr. 8:27-30; Kol. 1:15, 16). En alhoewel Jehovah almagtig is, gee hy verantwoordelikhede aan ander. Byvoorbeeld, hy het Jesus aangestel om Koning van die Koninkryk te wees en hy sal ’n mate van gesag aan die 144 000 mense gee wat saam met Jesus gaan regeer (Luk. 12:32). Jehovah het Jesus natuurlik opgelei om Koning en Hoëpriester te wees (Heb. 5:8, 9). Hy lei ook dié op wat saam met Jesus gaan regeer, maar hy gee nie vir hulle hierdie toewysing en probeer dan om elke detail van hulle werk te beheer nie. Hy vertrou eerder dat hulle sy wil sal doen. – Op. 5:10.

Ons volg Jehovah na wanneer ons ander oplei en vir hulle werk gee om te doen (Sien paragraaf 6-7) *

6-7. Wat kan ons by Jehovah leer oor die feit dat hy gesag aan ander gee?

6 As ons hemelse Vader – wat nie hulp nodig het nie – verantwoordelikhede aan ander gee, hoeveel te meer moet ons nie dieselfde doen nie! Is jy byvoorbeeld ’n gesinshoof of ’n ouerman in die gemeente? Volg Jehovah se voorbeeld na deur verantwoordelikhede aan ander te gee en probeer dan om nie elke detail van hulle werk te beheer nie. Wanneer jy Jehovah navolg, sal jy nie net die werk gedoen kry nie, maar jy sal ook ander oplei en hulle selfvertroue ’n hupstootjie gee (Jes. 41:10). Wat kan persone met ’n mate van gesag nog by Jehovah leer?

7 Die Bybel wys dat Jehovah in die opinies van sy engeleseuns belangstel (1 Kon. 22:19-22). Ouers, hoe kan julle Jehovah se voorbeeld navolg? Wanneer dit gepas is, vra julle kinders vir hulle opinie oor hoe iets gedoen moet word. En as dit moontlik is, volg hulle voorstel.

8. Hoe het Jehovah gewys dat hy geduldig was met Abraham en Sara?

8 Nog ’n manier hoe Jehovah wys dat hy nederig is, is deur geduldig te wees. Byvoorbeeld, Jehovah is geduldig wanneer dié wat hom dien, op ’n respekvolle manier nie saamstem met sy besluite nie. Hy het geluister toe Abraham gesê het dat hy nie dink dat dit reg is dat Jehovah Sodom en Gomorra vernietig nie (Gen. 18:22-33). En onthou hoe Jehovah Abraham se vrou, Sara, behandel het. Hy het nie kwaad geword toe sy gelag het oor Sy belofte dat sy in haar oudag swanger sou word nie (Gen. 18:10-14). Hy het Sara eerder met respek behandel.

9. Wat kan ouers en ouermanne uit Jehovah se voorbeeld leer?

9 Ouers en ouermanne, wat kan julle uit Jehovah se voorbeeld leer? Dink aan hoe julle reageer wanneer persone wat onder julle gesag is, nie met julle besluite saamstem nie. Wil julle onmiddellik vir hulle sê dat hulle verkeerd is? Of probeer jy om te verstaan hoekom hulle nie saamstem nie? Dit help gesinne en gemeentes wanneer persone wat gesag het, Jehovah navolg. Sover het ons bespreek wat ons oor nederigheid uit Jehovah se voorbeeld kan leer. Kom ons kyk nou wat ons oor beskeidenheid kan leer uit die voorbeelde wat in God se Woord is.

WAT KAN ONS UIT DIE VOORBEELDE VAN ANDER LEER?

10. Hoe gebruik Jehovah die voorbeelde van ander om ons te leer?

10 As ons “Groot Onderrigter” gee Jehovah vir ons voorbeelde in sy Woord om ons te leer (Jes. 30:20, 21). Ons leer uit Bybelverhale oor mense wat eienskappe gehad het wat God gelukkig gemaak het, insluitende beskeidenheid. Ons leer ook uit die voorbeelde van dié wat nie hierdie goeie eienskappe gehad het nie. – Ps. 37:37; 1 Kor. 10:11.

11. Wat kan ons uit Saul se slegte voorbeeld leer?

11 Dink aan wat met koning Saul gebeur het. Toe hy jonk was, was hy beskeie. Hy was bewus van sy beperkings en was selfs bang om meer verantwoordelikhede te aanvaar (1 Sam. 9:21; 10:20-22). Maar later het hy arrogant geword en dinge gedoen wat hy nie die reg gehad het om te doen nie. Hy het so begin optree kort nadat hy koning geword het. Eenkeer het hy ongeduldig geword terwyl hy vir die profeet Samuel gewag het. In plaas daarvan om beskeie te wees en op Jehovah te vertrou om sy volk te help, het Saul ’n brandoffer geoffer alhoewel hy nie die reg gehad het om dit te doen nie. Daarom het Saul Jehovah se goedkeuring en uiteindelik die koningskap verloor (1 Sam. 13:8-14). Ons is wys as ons uit hierdie slegte voorbeeld leer en nie dinge doen wat ons nie die reg het om te doen nie.

12. Hoe het Daniël gewys dat hy beskeie is?

12 Anders as Saul het die profeet Daniël ’n goeie voorbeeld gestel. Regdeur sy lewe het Daniël ’n nederige en beskeie kneg van God gebly, wat altyd vir Jehovah gevra het vir sy leiding. Byvoorbeeld, toe Jehovah hom gebruik het om Nebukadnesar se droom te verduidelik, het Daniël nie die eer daarvoor geneem nie. Hy was eerder beskeie en het al die eer aan Jehovah gegee (Dan. 2:26-28). Wat is die les vir ons? As broers dit geniet om na ons toesprake te luister of as ons suksesvol in die bediening is, wil ons onthou om al die eer aan Jehovah te gee. Ons moet beskeie wees en erken dat ons nie hierdie dinge sonder Jehovah se hulp kan doen nie (Fil. 4:13). Wanneer ons dit doen, volg ons ook Jesus se goeie voorbeeld na. Hoe so?

13. Wat leer ons oor beskeidenheid uit Jesus se woorde in Johannes 5:19, 30?

13 Al was Jesus die volmaakte Seun van God, het hy op Jehovah staatgemaak. (Lees Johannes 5:19, 30.) Hy het nooit probeer om gesag van sy hemelse Vader af weg te vat nie. Filippense 2:6 sê vir ons dat Jesus “dit nooit oorweeg [het] om God se posisie te probeer neem deur homself aan God gelyk te stel nie”. As ’n onderdanige Seun het Jesus verstaan dat hy beperkings het en het hy sy Vader se gesag gerespekteer.

Jesus het geweet wat die beperkings van sy gesag is en hy het dit gerespekteer (Sien paragraaf 14)

14. Hoe het Jesus gereageer toe hy gevra was om iets te doen wat hy nie die reg gehad het om te doen nie?

14 Dink aan hoe Jesus gereageer het toe die dissipels Jakobus en Johannes saam met hulle ma na hom toe gegaan het en hom gevra het om iets te doen wat hy nie die reg gehad het om te doen nie. Sonder om twee keer te dink het Jesus gesê dat net sy hemelse Vader kon besluit wie aan Jesus se regterhand en aan sy linkerhand in die Koninkryk sou sit (Matt. 20:20-23). Jesus het gewys dat hy sy beperkings respekteer. Hy was beskeie. Hy het nooit enige iets gedoen wat Jehovah hom nie die gesag gegee het om te doen nie (Joh. 12:49). Hoe kan ons Jesus se goeie voorbeeld navolg?

Hoe kan ons Jesus se voorbeeld van beskeidenheid navolg? (Sien paragraaf 15-16) *

15-16. Hoe kan ons die Bybel se raad in 1 Korintiërs 4:6 toepas?

15 Ons volg Jesus se voorbeeld van beskeidenheid na deur die Bybel se raad in 1 Korintiërs 4:6 toe te pas. Daar sê dit vir ons: “Moenie verder gaan as die dinge wat geskryf is nie.” So wanneer iemand ons vir raad vra, wil ons nooit ons eie opinie gee of die eerste ding sê wat in ons gedagtes opkom nie. Ons wil eerder vir hulle die raad in die Bybel en in ons publikasies wys. Op hierdie manier wys ons dat ons besef dat ons nie alles weet nie. Wanneer ons dit doen, is ons beskeie, want ons wys dat ons besef dat Jehovah se raad altyd beter as ons eie is. – Op. 15:3, 4.

16 Behalwe vir die feit dat ons Jehovah eer, is daar ander goeie redes om beskeie te wees. Ons gaan nou kyk hoe nederigheid en beskeidenheid ons gelukkig kan maak en hoe dit ons kan help om met ander oor die weg te kom.

HOEKOM IS DIT GOED VIR ONS OM NEDERIG EN BESKEIE TE WEES?

17. Hoekom is mense wat nederig en beskeie is, gelukkig?

17 Wanneer ons nederig en beskeie is, is daar ’n groter kans dat ons gelukkig sal wees. Hoekom sê ons so? Wanneer ons bewus is van ons beperkings, sal ons dankbaar en bly wees vir enige hulp wat ons van ander ontvang. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Jesus tien melaatses gesond gemaak het. Net een van hulle het teruggegaan om vir Jesus dankie te sê dat hy sy verskriklike siekte weggeneem het en hom gesond gemaak het – iets wat die man nooit op sy eie sou kon doen nie. Hierdie nederige en beskeie man was dankbaar vir die hulp wat hy gekry het en het God daarvoor geëer. – Luk. 17:11-19.

18. Hoe help nederigheid en beskeidenheid ons om met ander oor die weg te kom? (Romeine 12:10)

18 Nederige en beskeie mense kom gewoonlik goed oor die weg met ander en die kans is groter dat hulle sterk vriendskappe sal hê. Hoekom? Hulle erken maklik dat ander goeie eienskappe het en wys dat hulle hulle vertrou. Nederige en beskeie persone is gelukkig wanneer ander suksesvol in hulle toewysings is en is gou om hulle te prys en hulle te eer. – Lees Romeine 12:10.

19. Wat is ’n paar redes hoekom ons nie trots moet wees nie?

19 Maar vir trotse mense is dit moeilik om ander te prys, hulle verkies eerder dat hulle geprys moet word. Hulle vergelyk gewoonlik hulleself met ander en probeer om beter as ander te wees. Eerder as om ander op te lei en hulle gesag te gee, is hulle geneig om te sê: “As jy iets reg gedoen wil hê,” – op die manier wat hulle wil hê – “moet jy dit self doen.” ’n Trotse persoon wil dikwels belangriker as ander wees en is jaloers wanneer ander beter as hy doen (Gal. 5:26). Sulke persone se vriendskappe hou gewoonlik nie lank nie. As ons sien dat ons ’n probleem met trots het, moet ons ernstig tot Jehovah bid om ons te help om ons ‘denkwyse te verander’ sodat hierdie slegte eienskap nie deel van ons persoonlikheid word nie. – Rom. 12:2.

20. Hoekom moet ons nederig en beskeie wees?

20 Ons is baie dankbaar vir Jehovah se voorbeeld! Ons kan sy nederigheid sien in die manier hoe hy sy knegte behandel en ons wil hom navolg. Ons wil ook die goeie voorbeelde navolg van beskeie mense in die Bybel wat die voorreg gehad het om met God te wandel. Mag ons Jehovah altyd die eer en die heerlikheid gee wat hy verdien (Op. 4:11). Dan sal ons ook met ons hemelse Vader, wat lief is vir nederige en beskeie mense, kan wandel.

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

^ par. 5 Iemand wat nederig is, het meegevoel met ander. Omdat Jehovah meegevoel met ander het, weet ons dat hy nederig is. Soos hierdie artikel sal wys, kan ons uit Jehovah se voorbeeld leer hoe om nederig te wees. Ons sal ook kyk wat ons kan leer uit die voorbeeld van koning Saul, die profeet Daniël en Jesus oor die eienskap van beskeidenheid.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman neem die tyd om ’n jonger broer op te lei om die gemeente se gebied te hanteer. Later probeer die ouerman nie om elke detail van die jonger broer se werk te beheer nie, maar hy laat hom toe om die toewysing op sy eie te doen.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster vra ’n ouerman of sy ’n uitnodiging kan aanvaar om ’n troue by te woon wat in ’n kerk gehou gaan word. Die ouerman gee nie sy eie opinie nie, maar wys vir haar ’n paar Bybelbeginsels.