Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 36

Is jy reg om ’n visser van mense te word?

Is jy reg om ’n visser van mense te word?

“Hou op om bang te wees. Van nou af sal jy mense lewend vang.” – LUK. 5:10.

LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter uitnodiging het Jesus aan vier vissermanne gegee, en hoe het hulle gereageer?

 DIE dissipels Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes was vissermanne. Dink net hoe verbaas hulle was toe hulle Jesus se uitnodiging hoor: “Kom volg my, en ek sal julle vissers van mense maak.” * Hoe het hulle gereageer? Die Bybel sê: “Hulle het dadelik hulle nette gelos en hom gevolg” (Matt. 4:18-22). Hierdie besluit sou hulle lewe vir ewig verander. In plaas daarvan om letterlike vis te vang, sou hulle “mense lewend vang” (Luk. 5:10). Vandag gee Jesus dieselfde uitnodiging aan opregte mense wat lief is vir die waarheid (Matt. 28:19, 20). Het jy Jesus se uitnodiging aanvaar om ’n visser van mense te word?

2. Hoekom moet ons die besluit om vissers van mense te word, ernstig opneem, en wat sal ons help om hierdie besluit te maak?

2 Dalk studeer jy al die Bybel ’n tyd lank en het jy veranderinge in jou lewe gemaak. Nou moet jy besluit of jy ’n verkondiger van die goeie nuus wil word. As jy huiwer om Jesus se uitnodiging te aanvaar, moet jy nie mismoedig word nie. Die feit dat jy huiwer beteken waarskynlik dat jy besef hoe belangrik hierdie besluit is. Dit is waar dat die Bybel sê dat Petrus en sy vriende hulle letterlike nette “dadelik” gelos het. Maar Petrus en sy broer het nie hierdie besluit gemaak sonder om eers daaroor te dink nie. Hulle het meer as ses maande vroeër Jesus as die Messias leer ken en aanvaar (Joh. 1:35-42). Net so het jy dalk alreeds baie oor Jehovah en Jesus geleer en wil jy aanhou om nader aan Jehovah te kom. Maar jy moet eers mooi dink voordat jy hierdie besluit maak. Wat het Petrus, Andreas en ander gehelp om hierdie besluit te maak?

3. Watter eienskappe sal jou help om jou begeerte te versterk om Jesus se uitnodiging te aanvaar?

3 Jesus se eerste dissipels was gemotiveerd, hulle het geweet hoe om hulle werk te doen, hulle was moedig en hulle het selfdissipline gehad. Hierdie eienskappe het hulle gehelp om goeie verkondigers van die goeie nuus te wees. Hierdie artikel sal bespreek hoe jy hierdie eienskappe kan aanleer sodat jy goed daarin kan word om die goeie nuus te verkondig en ander te leer.

VERSTERK JOU BEGEERTE OM TE PREEK

Petrus en ander het vissers van mense geword. Vandag is ons nog steeds besig met hierdie belangrike werk (Sien paragraaf 4-5)

4. Wat het Petrus gemotiveer om ’n visserman te wees?

4 Petrus het visgevang om vir sy familie te sorg, maar dit was meer as net ’n werk vir hom. Petrus was blykbaar lief daarvoor om vis te vang (Joh. 21:3, 9-15). Hy het ook geleer om lief te wees daarvoor om ’n visser van mense te wees. En met Jehovah se ondersteuning, het Petrus baie goed in hierdie werk geword. – Hand. 2:14, 41.

5. Hoekom was Petrus volgens Lukas 5:8-11 bang, en wat kan ons help om soortgelyke gevoelens te oorkom?

5 Ons preek omdat ons Jehovah liefhet; dit is die belangrikste rede hoekom ons hierdie werk doen. Ons liefde vir Jehovah kan ons help om ander van hom te vertel, selfs al voel ons dat ons nie goed genoeg is nie. Toe Jesus vir Petrus genooi het om ’n visser van mense te word, het hy vir hom gesê: “Hou op om bang te wees.” (Lees Lukas 5:8-11.) Petrus was nie bang oor wat dalk sou gebeur as hy ’n dissipel word nie. Hy was eerder verbaas oor die hoeveelheid vis wat Jesus hulle gehelp het om te vang. Petrus het geweet dat dit ’n wonderwerk was en hy het gevoel dat hy nie goed genoeg is om gevra te word om saam met Jesus te werk nie. Net soos Petrus voel jy dalk oorweldig wanneer jy besef wat dit beteken om ’n dissipel van Christus te wees. As jy so voel, moet jy jou liefde vir Jehovah, Jesus en jou naaste versterk. Dit sal jou motiveer om Jesus se uitnodiging te aanvaar om ’n visser van mense te word. – Matt. 22:37, 39; Joh. 14:15.

6. Wat anders motiveer ons om te preek?

6 Dink aan ’n paar ander redes hoekom ons gemotiveerd is om te preek. Ons wil gehoorsaam wees aan Jesus se opdrag: “Gaan . . . en maak dissipels” (Matt. 28:19, 20). Ons preek ook omdat mense “verwaarloos en sleg behandel” word en dit vir hulle regtig nodig is om die waarheid oor die Koninkryk te leer (Matt. 9:36). Jehovah wil hê dat alle soorte mense akkurate kennis oor die waarheid moet kry en gered moet word. – 1 Tim. 2:4.

7. Hoe wys Romeine 10:13-15 dat die predikingswerk belangrik is?

7 Ons sal die begeerte hê om hierdie lewensreddende werk te doen wanneer ons dink aan die uitwerking wat ons predikingswerk kan hê. Anders as ’n visserman wat die vis verkoop of eet wat hy vang, “vang” ons mense sodat ons hulle lewe kan red. – Lees Romeine 10:13-15; 1 Tim. 4:16.

VERKRY MEER KENNIS

8-9. Wat moet ’n visserman weet, en hoekom?

8 In Jesus se dag moes ’n Israelitiese visserman weet watter soort seediere hy kon vang (Lev. 11:9-12). Hy moes ook weet waar hy die vis kon kry. Visse bly gewoonlik in waters waarvan hulle hou en waar daar baie kos is. Maak dit saak watter tyd ’n visserman visvang? ’n Getuie wat op ’n eiland in die Stille Oseaan bly, het hierdie vraag beantwoord toe hy ’n sendeling genooi het om saam met hom vis te gaan vang. Die sendeling het gesê: “Ek sal jou môreoggend nege-uur kry.” Die broer het geantwoord: “Jy verstaan nie. Ons gaan wanneer dit die regte tyd vir die vis is, nie wanneer dit die regte tyd vir ons is nie.”

9 Net so het vissers van mense in die eerste eeu na plekke gegaan waar die “vis” sou wees en op ’n tyd wanneer hulle heel moontlik daar sou wees. Byvoorbeeld, Jesus se volgelinge het by die tempel en in die sinagoges, van huis tot huis en in die markpleine gepreek (Hand. 5:42; 17:17; 18:4). Ons moet ook weet wat die gewoontes is van die mense in die gebied waar ons preek. Ons moet aanpasbaar wees en preek waar en wanneer ons heel moontlik die mense sal vind. – 1 Kor. 9:19-23.

VAARDIGE VISSERMANNE . . . 1. werk wanneer en waar hulle heel waarskynlik visse sal kry (Sien paragraaf 8-9)

10. Watter gereedskap gee Jehovah se organisasie ons?

10 ’n Visserman het die regte gereedskap nodig en hy moet weet hoe om dit te gebruik. Ons het ook die regte gereedskap nodig om ons werk te doen en ons moet weet hoe om dit te gebruik. Jesus het vir sy dissipels duidelike instruksies gegee oor hoe om vissers van mense te wees. Hy het vir hulle gesê wat om saam te vat, waar hulle moet preek en wat om te sê (Matt. 10:5-7; Luk. 10:1-11). Vandag gee Jehovah se organisasie vir ons ’n Gereedskapskissie vir Onderrigting met gereedskap in wat baie goed werk. * En ons word geleer hoe om hierdie gereedskap te gebruik. Hierdie opleiding help ons om die selfvertroue en vaardighede te hê wat ons nodig het om goed in ons werk te wees. – 2 Tim. 2:15.

VAARDIGE VISSERMANNE . . . 2. is opgelei om die regte gereedskap te gebruik (Sien paragraaf 10)

LEER OM MOEDIG TE WEES

11. Hoekom moet vissers van mense moedig wees?

11 Vissermanne moet moedig wees. Daar is soms onvoorspelbare toestande op die see. Hulle moet dikwels in die aand werk en op waters waar daar dalk skielike storms kan wees. Vissers van mense moet ook moedig wees. Wanneer ons begin preek en onsself as Jehovah se Getuies identifiseer, sal daar dalk “storms” wees soos familie wat ons teëstaan, vriende wat ons spot en mense wat nie na ons boodskap wil luister nie. Maar dit verbaas ons nie, want Jesus het gesê dat hy sy volgelinge sal uitstuur in ’n omgewing waar mense hulle sal haat. – Matt. 10:16.

12. Wat kan ons help om moedig te wees, volgens Josua 1:7-9?

12 Hoe kan jy leer om moedig te wees? Eerstens moet jy oortuig wees dat Jesus aanhou om hierdie werk vanuit die hemel te rig (Joh. 16:33; Op. 14:14-16). Dan moet jy jou geloof versterk in Jehovah se belofte om vir jou te sorg (Matt. 6:32-34). Hoe sterker jou geloof word, hoe moediger sal jy wees. Petrus en sy vriende het gewys dat hulle sterk geloof het toe hulle hulle werk gelos het om Jesus te volg. Net so het jy gewys dat jy sterk geloof het toe jy vir jou vriende en familie gesê het dat jy die Bybel met Jehovah se Getuies studeer en dat jy hulle vergaderinge bywoon! Jy het sekerlik ook veranderinge in jou gedrag en lewenstyl gemaak om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe. Jy moes ook geloof en moed gehad het om dit te doen. Terwyl jy aanhou om jou moed op te bou, kan jy die vertroue hê dat “Jehovah jou God . . . met jou [is] waar jy ook al gaan”. – Lees Josua 1:7-9.

VAARDIGE VISSERMANNE . . . 3. werk moedig, al verander toestande (Sien paragraaf 11-12)

13. Hoe kan bepeinsing en gebed ons help om moedig te wees?

13 Watter ander dinge kan jou help om moedig te wees? Jy kan tot Jehovah bid om jou te help om moedig en dapper te wees (Hand. 4:29, 31). Jehovah sal jou gebede beantwoord en jou nooit verlaat nie. Hy is ook altyd daar om jou te ondersteun. Jy kan ook nadink oor hoe Jehovah ander in die verlede gered het. Dink ook aan hoe hy jou gehelp het om probleme te oorkom en jou die krag gegee het om veranderinge in jou lewe te maak. Ons kan seker wees dat die Een wat sy volk deur die Rooisee gehelp het, jou ook kan help om ’n dissipel van Christus te wees (Eks. 14:13). Wees net so oortuig soos die psalmis wat gesê het: “Jehovah is aan my kant. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?” – Ps. 118:6.

14. Wat leer jy uit die ondervindinge van Masae en Tomoyo?

14 Nog ’n manier om moedig te wees, is deur te leer hoe Jehovah mense gehelp het wat van nature skaam is, maar wat geleer het om dapper te wees. Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Masae. Sy was skaam en sy het gedink dat sy nooit in die openbaar oor haar geloof sou kon praat nie. Die gedagte om met vreemdelinge te praat, het soos ’n groot berg voor haar gestaan en sy het geglo dat sy nooit daaroor sou kon kom nie. Daarom het sy ekstra moeite gedoen om haar liefde vir God en haar naaste te versterk. Sy het gedink aan hoe dringend die tyd is waarin ons lewe en sy het Jehovah gevra om haar te help om haar begeerte om te preek, te versterk. Sy het geleer om nie meer bang te wees nie en het selfs as ’n gewone pionier gedien. Jehovah kan ook nuwe verkondigers help ‘om moedig te wees’. Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Tomoyo. Toe sy van huis tot huis begin preek het, het die eerste huisbewoner vir haar geskree: “Ek wil niks met Jehovah se Getuies te doen hê nie!” en het die deur toegeklap. Tomoyo het moedig vir haar vriend gesê: “Het jy gehoor? Sy het besef dat ek een van Jehovah se Getuies is sonder dat ek iets hoef te gesê het. Ek is so bly!” Tomoyo dien nou as ’n gewone pionier.

LEER OM SELFDISSIPLINE TE HÊ

15. Wat is selfdissipline, en hoekom is dit vir Christene belangrik?

15 Suksesvolle vissermanne het selfdissipline. Selfdissipline is al beskryf as “die vermoë om jouself te kry om dinge te doen wat gedoen moet word”. Vissermanne moet hulleself dissiplineer om vroeg op te staan, om te bly totdat die werk klaar is en om aan te hou visvang, al is dit slegte weer. Ons moet ook selfdissipline hê as ons wil volhard en die werk wil klaarmaak. – Matt. 10:22.

16. Hoe kan ons leer om selfdissipline te hê?

16 Ons word nie met selfdissipline gebore nie. Maar van nature kies ons eerder die maklikste uitweg. Ons het selfbeheersing nodig om selfdissipline te hê. Daarom het ons hulp nodig om onsself op te lei om die dinge te doen wat dalk vir ons moeilik is om te doen. Jehovah gee vir ons hierdie hulp deur middel van sy heilige gees. – Gal. 5:22, 23.

17. Hoe beskryf die apostel Paulus die moeite wat hy gedoen het om selfbeheersing aan te leer, volgens 1 Korintiërs 9:25-27?

17 Die apostel Paulus het selfdissipline gehad. Maar hy het erken dat hy sy liggaam moes “straf” sodat hy kon doen wat reg is. (Lees 1 Korintiërs 9:25-27.) Hy het ander aangemoedig om hulleself te dissiplineer en om alles “reg en ordelik” te doen (1 Kor. 14:40). Ons het selfdissipline nodig as ons ’n goeie geestelike roetine wil behou, wat insluit dat ons gereeld deelneem aan die simboliese visvangwerk. – Hand. 2:46.

MOENIE WAG NIE

18. Hoe kan ons suksesvol in Jehovah se oë wees?

18 ’n Visserman se sukses hang af van hoeveel vis hy gevang het. Maar ons sukses hang nie af van hoeveel mense ons in God se organisasie bring nie (Luk. 8:11-15). As ons aanhou om die goeie nuus te verkondig en ander te leer, sal ons suksesvol in Jehovah se oë wees. Hoekom? Omdat ons gehoorsaam is aan hom en sy Seun. – Mark. 13:10; Hand. 5:28, 29.

19-20. Watter spesiale rede het ons om nou te preek?

19 In party lande mag jy net gedurende sekere maande visvang. In sulke lande besef vissermanne dat dit al hoe dringender word om vis te vang terwyl daardie seisoen tot ’n einde kom. As vissers van mense het ons nog ’n rede om nou te preek: Die einde van hierdie wêreld kom vinnig nader! Daar is nie meer baie tyd oor om deel te neem aan hierdie lewensreddende werk nie. So moenie uitstel of voel dat jy moet wag vir die perfekte omstandighede om deel te neem aan hierdie belangrike werk nie. – Pred. 11:4.

20 Doen nou iets om jou begeerte te versterk om te preek, om meer kennis van die Bybel te verkry, om moedig te wees en om selfdissipline aan te leer. Wees deel van die meer as agtmiljoen vissers van mense en dan sal jy die vreugde van Jehovah ondervind (Neh. 8:10). Wees vasbeslote om ’n volle aandeel aan hierdie werk te hê en om dit te doen totdat dit klaar is. Die volgende artikel sal drie maniere bespreek hoe ons meer vasbeslote kan wees om aan te hou met die Koninkrykspredikingswerk as vissers van mense.

LIED 66 Verkondig die goeie nuus

^ par. 5 Jesus het nederige, hardwerkende vissermanne genooi om sy dissipels te word. Vandag nooi Jesus nog steeds mense met hierdie eienskappe om vissers van mense te wees. In hierdie artikel gaan ons bespreek wat Bybelstudente wat huiwer om Jesus se uitnodiging te aanvaar, moet doen.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Die uitdrukking “vissers van mense” verwys na almal wat die goeie nuus verkondig en ander leer om dissipels van Christus te word.

^ par. 10 Sien die artikel “Leer die waarheid aan ander” in Die Wagtoring van Oktober 2018, bl. 11-16.