Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 39

Ondersteun susters in jou gemeente

Ondersteun susters in jou gemeente

“Die vrouens wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leërmag.” – PS. 68:11.

LIED 137 Getroue vroue, Christensusters

IN HIERDIE ARTIKEL *

Ons besige en ywerige susters gee kommentare by die vergaderinge, neem deel aan die bediening, help om die Koninkryksaal in stand te hou en wys dat hulle in hulle broers en susters belangstel (Sien paragraaf 1)

1. Hoe ondersteun susters die organisasie, maar watter uitdagings het baie van hulle? (Sien prent op voorblad.)

 ONS is baie dankbaar dat ons so baie susters het wat hard in die gemeente werk! Byvoorbeeld, hulle neem deel aan die vergaderinge en aan die bediening. Party help om die Koninkryksaal in stand te hou en hulle wys dat hulle in hulle broers en susters belangstel. Maar hulle het natuurlik uitdagings. Party sorg vir hulle bejaarde ouers. Ander word deur hulle familielede teëgestaan. En party wat enkelouers is, werk hard om vir hulle kinders te sorg.

2. Hoekom moet ons die moeite doen om ons susters te ondersteun?

2 Hoekom moet ons ons susters ondersteun? Want die wêreld behandel vrouens nie altyd met die respek wat hulle verdien nie. En die Bybel moedig ons aan om hulle te ondersteun. Byvoorbeeld, die apostel Paulus het vir die gemeente in Rome gesê om Febe te verwelkom en om “haar [te help] met enigiets wat sy nodig het” (Rom. 16:1, 2). Toe Paulus ’n Fariseër was, was hy deel van ’n groep mense wat geglo het dat vrouens minderwaardig is en wat vrouens op hierdie manier behandel het. Maar nadat hy ’n Christen geword het, het hy Jesus nagevolg en vrouens met liefde en respek behandel. – 1 Kor. 11:1.

3. Hoe het Jesus vrouens behandel, en hoe het hy gevoel oor vrouens wat God se wil doen?

3 Jesus het alle vrouens met respek behandel (Joh. 4:27). Hy het nie dieselfde beskouing van vrouens gehad as wat die Joodse godsdiensleiers in sy dag gehad het nie. Om die waarheid te sê, een Bybelnaslaanwerk sê dat Jesus nooit enige iets gesê het wat disrespekvol was teenoor vrouens nie. Maar Jesus het selfs meer respek gehad vir vrouens wat sy Vader se wil gedoen het. Hulle was vir hom soos susters, en hy het hulle genoem saam met die manne wat hy as deel van sy geestelike familie beskou het. – Matt. 12:50.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Jesus was altyd gereed om sy geestelike susters te help. Hy het hulle waardeer en verdedig. Kom ons bespreek nou hoe ons Jesus kan navolg deur ons susters in gedagte te hou.

HOU ONS KOSBARE SUSTERS IN GEDAGTE

5. Hoekom is dit dalk vir party susters moeilik om die goeie assosiasie te kry wat hulle nodig het?

5 Ons almal, broers en susters, het goeie assosiasie nodig. Maar soms is dit vir susters dalk moeilik om die goeie assosiasie te kry wat hulle nodig het. Hoekom? Kyk na wat die volgende susters gesê het. ’n Suster met die naam Jordan * sê: “Omdat ek enkel is, voel ek dikwels dat ek nie my plek in die gemeente kan vind nie en dat ek nie regtig inpas nie.” Kristen, ’n pionier wat getrek het om meer in die bediening te doen, sê: “Wanneer jy nuut in ’n gemeente is, voel jy dalk eensaam.” Party broers voel dalk dieselfde. Dié wat saam met familie bly wat nie Jehovah se Getuies is nie, vind dit dalk moeilik om na aan hulle familie te wees en hulle voel dalk ook nie na aan hulle broers en susters in die gemeente nie. Dié wat nie die huis kan verlaat nie en dié wat vir siek familielede moet sorg, voel dalk ook eensaam. Annette sê: “Ek kon nie uitnodigings aanvaar om tyd saam met my broers en susters te spandeer nie, want ek moes vir my ma sorg.”

Net soos Jesus kan ons wys dat ons ons getroue susters liefhet en vir hulle omgee (Sien paragraaf 6-9) *

6. Wat kan ons leer uit Lukas 10:38-42 oor hoe Jesus Marta en Maria gehelp het?

6 Jesus het tyd saam met sy geestelike susters spandeer en hy was ’n ware vriend vir hulle. Dink aan sy vriendskap met Maria en Marta, wat blykbaar albei ongetroud was. (Lees Lukas 10:38-42.) Dit is duidelik dat Jesus hulle gemaklik laat voel het deur wat hy gesê en gedoen het. Maria het gemaklik gevoel om as ’n dissipel by sy voete te sit. * En toe Marta ontsteld was omdat Maria nie gehelp het om die kos te maak nie, was sy nie skaam om vir Jesus te sê hoe sy voel nie. By hierdie geleentheid het Jesus albei vrouens gehelp om waardevolle lesse te leer. En hy het gewys dat hy vir hierdie vrouens en hulle broer, Lasarus, omgee deur hulle weer op ander geleenthede te besoek (Joh. 12:1-3). Dit verbaas ons nie dat Maria en Marta geweet het dat hulle na Jesus toe kon gaan om hulle te help toe Lasarus ernstig siek geword het nie. – Joh. 11:3, 5.

7. Wat is een manier hoe ons susters kan aanmoedig?

7 Vir party susters is die vergaderinge een van die min geleenthede wat hulle het om saam met hulle broers en susters te wees. So ons wil van hierdie geleenthede gebruik maak om hulle te verwelkom, om met hulle te praat en om vir hulle te wys dat ons vir hulle omgee. Jordan, wat vroeër genoem is, sê: “Dit beteken so baie vir my wanneer ander my antwoorde oplet, reël om saam met my velddiens te doen of op die een of ander manier wys dat hulle vir my omgee.” Ons moet vir ons susters wys dat hulle vir ons belangrik is. Kia sê: “As ek ’n vergadering mis, weet ek dat ek ’n teksboodskap sal kry om uit te vind of ek oukei is. Dit wys vir my dat die broers en susters vir my omgee.”

8. Op watter ander maniere kan ons Jesus navolg?

8 Net soos Jesus kan ons tyd maak om saam met ons susters te kuier. Miskien kan ons hulle nooi om by ons te kom eet of om ’n bietjie ontspanning te geniet. Wanneer ons dit doen, wil ons seker maak dat ons gesprekke aanmoedigend is (Rom. 1:11, 12). Ouermanne moet dieselfde gesindheid hê as wat Jesus gehad het. Hy het geweet dat dit vir party moeilik sou wees om enkel te wees, maar hy het dit duidelik gemaak dat die getroude lewe of om kinders te hê ’n mens nie permanent gelukkig sal maak nie (Luk. 11:27, 28). Maar as ons Jehovah se diens eerste stel, sal ons permanent gelukkig wees. – Matt. 19:12.

9. Wat kan ouermanne doen om susters te help?

9 Ouermanne moet veral Christenvroue soos hulle geestelike susters en ma’s behandel (1 Tim. 5:1, 2). Dit sal goed wees as ouermanne voor of ná die vergaderinge tyd maak om met die susters te praat. Kristen sê: “Een ouerman het opgelet dat ek baie besig is en hy wou weet hoe my skedule lyk. Ek het sy belangstelling baie waardeer.” Wanneer ouermanne gereeld tyd maak om met hulle geestelike susters te praat, wys hulle dat hulle vir hulle omgee. * Annette, wat vroeër genoem is, verduidelik hoekom dit goed is om gereeld met die ouermanne te praat. Sy sê: “Ek leer ken hulle beter en hulle leer ken my. Dan, wanneer ek deur ’n moeilike tyd gaan, is dit vir my makliker om hulle te vra om my te help.”

WAARDEER ONS SUSTERS

10. Wat kan ons susters help om gelukkig te wees?

10 Dit maak ons almal, mans en vrouens, gelukkig wanneer ander ons vermoëns erken en vir ons sê dat hulle die werk wat ons doen, waardeer. Aan die ander kant, as mense nie wys dat hulle ons talente en die werk wat ons doen, waardeer nie, maak dit ons mismoedig. Abigail, ’n enkelsuster wat pionier, erken dat sy soms voel dat ander van haar vergeet het: “Ek word net gesien as die vleeslike suster van so-en-so of die dogter van so-en-so. Soms voel dit asof ander my nie raaksien nie.” Maar kyk wat ’n suster met die naam Pam gesê het. As ’n enkelsuster het sy jare lank as ’n sendeling gedien. Uiteindelik het sy terug huis toe gegaan om vir haar ouers te sorg. Sy is nou in haar 70’s en sy pionier nog steeds. Pam sê: “Wat my die meeste gehelp het, is wanneer ander sê dat hulle my waardeer.”

11. Hoe het Jesus gewys dat hy die vrouens wat saam met hom in sy bediening was, waardeer het?

11 Getroue vrouens het “hulle besittings gebruik” om Jesus te bedien, en hy het hulle hulp baie waardeer (Luk. 8:1-3). Hy het hulle nie net toegelaat om hierdie voorreg te hê nie, maar hy het hulle ook belangrike waarhede oor God se wil geleer. Hy het byvoorbeeld vir hulle gesê dat hy sou sterf en opgewek sou word (Luk. 24:5-8). Hy het hierdie vrouens voorberei, net soos hy die apostels voorberei het, vir die moeilike tye wat hulle sou deurmaak (Mark. 9:30-32; 10:32-34). En selfs al het die apostels weggehardloop toe Jesus gearresteer is, was party van die vrouens wat hom ondersteun het, by hom terwyl hy aan die folterpaal gesterf het. – Matt. 26:56; Mark. 15:40, 41.

12. Watter werk het Jesus aan vrouens gegee?

12 Jesus het belangrike werk aan vrouens gegee. Byvoorbeeld, getroue vrouens was die eerste persone wat geweet het dat hy uit die dood opgestaan het. Hy het hierdie vrouens gevra om vir die apostels te sê dat hy uit die dood opgewek is (Matt. 28:5, 9, 10). En op Pinkster 33 HJ was daar dalk vrouens teenwoordig toe die heilige gees uitgestort is. As dit die geval was, het hulle dalk ook die wonderlike vermoë ontvang om in ander tale te praat en om ander oor “die wonderlike dinge van God” te vertel. – Hand. 1:14; 2:2-4, 11.

13. Wat doen Christensusters vandag, en hoe kan ons wys dat ons waardeer wat hulle doen?

13 Ons susters verdien om geprys te word vir die werk wat hulle in Jehovah se diens doen. Hulle help met die bou en instandhouding van geboue, preek saam met anderstalige groepe en werk by Bethelfasiliteite. Hulle help met noodlenigingswerk, hulle help om ons publikasies te vertaal en hulle dien as pioniers en sendelinge. Net soos broers woon susters die pionierskool, die Skool vir Koninkrykspredikers en Gileadskool by. En vrouens help hulle mans om hulle verantwoordelikhede in die gemeente en in die organisasie na te kom. Hierdie broers is “gawes in die vorm van mense” en hulle doen baie dinge om ander te help, maar dit sou vir hulle moeilik wees om hierdie dinge te doen as hulle vrouens hulle nie ondersteun het nie (Ef. 4:8). Kan jy aan maniere dink om hierdie susters te ondersteun in die werk wat hulle doen?

14. Wat doen wyse ouermanne as gevolg van wat Psalm 68:11 sê?

14 Wyse ouermanne besef dat susters “’n groot leërmag” gewillige werkers is en dat hulle dikwels baie goed in die predikingswerk is. (Lees Psalm 68:11.) So ouermanne probeer om uit hulle ondervinding te leer. Abigail, wat vroeër genoem is, waardeer dit wanneer broers haar vra watter aanbieding sy gesien het goed in die bediening werk. Sy sê: “Dit help my om te sien dat Jehovah ’n plek vir my in sy organisasie het.” En ouermanne erken dat getroue ouer susters baie goed daarin is om jonger susters te help wanneer hulle deur moeilike tye gaan (Tit. 2:3-5). Ons susters verdien beslis ons liefde en waardering!

VERDEDIG EN HELP ONS SUSTERS

15. Wanneer het susters dalk iemand nodig om hulle te help?

15 Soms het ons susters iemand nodig om hulle te help wanneer hulle ’n spesifieke probleem het (Jes. 1:17). Byvoorbeeld, ’n weduwee of ’n geskeide suster het dalk iemand nodig om namens haar te praat en om haar te help om party dinge te doen wat haar man gewoonlik gedoen het. ’n Ouer suster het dalk iemand nodig om haar te help om met dokters te praat. Of ’n pioniersuster wat ander werk in Jehovah se organisasie doen, het dalk iemand nodig om haar te verdedig wanneer sy gekritiseer word omdat sy nie so gereeld in die bediening is soos ander pioniers nie. Hoe kan ons nog ons susters help? Kom ons kyk weer na Jesus se voorbeeld.

16. Hoe het Jesus Maria verdedig, volgens Markus 14:3-9?

16 Jesus was gou om sy geestelike susters te verdedig wanneer ander hulle verkeerd verstaan het. Byvoorbeeld, hy het Maria verdedig toe Marta haar gekritiseer het (Luk. 10:38-42). En hy het Maria ’n tweede keer verdedig toe ander vir haar kwaad geword het omdat hulle gedink het dat sy ’n slegte besluit gemaak het. (Lees Markus 14:3-9.) Jesus het verstaan hoekom Maria hierdie besluit gemaak het en het haar geprys deur te sê: “Sy het iets goeds vir my gedoen. . . . Sy het gedoen wat sy kon.” Hy het selfs voorspel dat haar liefdevolle daad “oral waar die goeie nuus in die wêreld verkondig word,” vertel sal word, net soos hierdie artikel nou doen. Dit is interessant dat Jesus gesê het dat die goeie nuus in die hele wêreld verkondig sal word toe hy Maria vir haar onselfsugtige daad geprys het! Sy woorde moes Maria beslis gerusgestel het nadat sy verkeerd geoordeel is!

17. Gee ’n voorbeeld van wanneer ons dalk ’n suster moet verdedig.

17 Verdedig jy jou geestelike susters wanneer hulle dit nodig het? Byvoorbeeld, kyk na die volgende scenario: Party verkondigers sien dat ’n suster, wie se man nie ’n Getuie is nie, dikwels laat by die vergaderinge aankom en onmiddellik ná die vergadering huis toe gaan. Hulle sien ook dat sy haar kinders baie min saambring. So hulle kritiseer haar omdat hulle dink dat sy daarop moet aandring dat haar man haar moet toelaat om haar kinders na die vergaderinge saam te bring. Maar eintlik doen die suster haar bes. Sy het nie volle beheer oor haar skedule nie en sy het ook nie die laaste sê wanneer dit by haar kinders kom nie. Wat kan jy doen? As jy die suster prys en vir ander die goeie dinge noem wat sy doen, kan jy dalk keer dat ander negatiewe dinge oor haar sê.

18. Op watter ander maniere kan ons ons susters help?

18 Ons kan vir ons susters wys hoeveel ons vir hulle omgee deur hulle op praktiese maniere te help (1 Joh. 3:18). Annette, die suster wat vir haar siek ma gesorg het, sê: “Party broers en susters sou na my huis toe kom om vir my ma te sorg sodat ek iets anders kon doen, of hulle sou vir ons kos bring. Dit het vir my gewys dat hulle my liefhet en ek het gevoel dat ek deel van die gemeente is.” Jordan het ook hulp ontvang. ’n Broer het vir haar geleer hoe om na haar kar te kyk. Sy sê: “Dit laat my goed voel om te weet dat my broers en susters vir my omgee en dat hulle wil hê dat ek veilig moet wees.”

19. Op watter ander maniere kan ouermanne susters help?

19 Ouermanne probeer ook om susters te help wanneer hulle dit nodig het. Hulle weet dat Jehovah wil hê dat susters goed behandel moet word (Jak. 1:27). So ouermanne volg Jesus na deur redelik te wees. Hulle maak nie reëls as dit eerder beter sal wees om liefdevol te wees en om die situasie te probeer verstaan nie (Matt. 15:22-28). Wanneer ouermanne die moeite doen om te help, voel die susters dat Jehovah en sy organisasie vir hulle omgee. Toe Kia se groepopsiener uitvind dat sy na ’n ander huis toe trek, het hy onmiddellik gereël om haar te help. Kia sê: “Dit het so baie van my stres weggevat. Omdat die ouermanne my aangemoedig het en my die hulp gegee het wat ek nodig gehad het, het hulle gewys dat ek ’n belangrike deel van die gemeente is en dat ek nie alleen is wanneer ek ’n moeilike situasie het nie.”

AL ONS GEESTELIKE SUSTERS HET ONS ONDERSTEUNING NODIG

20-21. Hoe kan ons wys dat ons al ons Christensusters waardeer?

20 In ons gemeentes vandag, is daar baie voorbeelde van hardwerkende Christensusters wat ons ondersteuning verdien. Soos ons uit Jesus se voorbeeld geleer het, kan ons hulle help deur tyd saam met hulle te spandeer en hulle te leer ken. Ons kan vir hulle wys dat ons waardeer wat hulle in God se diens doen. En ons kan hulle verdedig wanneer dit nodig is.

21 Aan die einde van die apostel Paulus se brief aan die Romeine, het hy die name van nege Christensusters genoem (Rom. 16:1, 3, 6, 12, 13, 15). Dit moes hierdie susters baie aangemoedig het om te hoor hoe hy hulle groet en hulle prys. Net so moet ons al die susters in ons gemeente ondersteun. As ons dit doen, wys ons dat ons hulle as deel van ons geestelike familie waardeer.

LIED 136 “’n Volmaakte beloning” van Jehovah

^ par. 5 Susters in die gemeente het baie uitdagings. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons ons geestelike susters kan ondersteun deur Jesus se voorbeeld na te volg. Ons kan leer uit hoe Jesus tyd saam met vrouens spandeer het, hulle waardeer het en hulle verdedig het.

^ par. 5 Party name is verander.

^ par. 6 Een Bybelnaslaanwerk sê dat dissipels by die voete van hulle onderrigters gesit het wanneer hulle voorberei het om onderrigters te word. Maar vrouens was nie toegelaat om onderrigters te wees nie. So die meeste Joodse manne sou geskok gewees het om te sien hoe Maria by Jesus se voete sit en gretig is om by Jesus te leer.

^ par. 9 Ouermanne moet natuurlik versigtig wees wanneer hulle susters help. Hulle sal ’n suster byvoorbeeld nie alleen besoek nie.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus het belanggestel in getroue vrouens. ’n Broer volg sy voorbeeld na deur twee susters te help om hulle kar se wiel te vervang. ’n Ander broer doen dit deur ’n siek suster te besoek. En ’n derde broer doen dit deur saam met sy vrou na ’n suster en haar dogter te gaan om gesinsaanbidding te hou.