Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 40

“Beskerm wat aan jou toevertrou is”

“Beskerm wat aan jou toevertrou is”

“Timoteus, beskerm wat aan jou toevertrou is.” – 1 TIM. 6:20.

LIED 29 Mag ons ons naam waardig bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter is aan Timoteus gegee, volgens 1 Timoteus 6:20?

 ONS gee dikwels ons kosbare dinge vir ander om dit veilig te hou. Ons sit byvoorbeeld ons geld in ’n bank. Wanneer ons dit doen, verwag ons dat ons geld veilig gehou sal word en dat dit nie verloor of gesteel sal word nie. So ons verstaan wat dit beteken om iets wat vir ons kosbaar is, aan iemand anders te gee.

2 Lees 1 Timoteus 6:20. Die apostel Paulus het Timoteus daaraan herinner dat hy iets kosbaars ontvang het – akkurate kennis van God se doel vir die mens. Timoteus is ook die voorreg gegee om ‘die woord te verkondig’ en om “die werk van ’n evangelieprediker [te] doen” (2 Tim. 4:2, 5). Paulus het Timoteus aangemoedig om dit wat aan hom gegee is, te beskerm. Net soos Timoteus is daar ook kosbare dinge aan ons gegee. Wat is dit? En hoekom moet ons die kosbare dinge wat Jehovah ons gegee het, beskerm?

KOSBARE WAARHEDE WAT AAN ONS GEGEE IS

3-4. Wat is ’n paar redes hoekom Bybelwaarhede kosbaar is?

3 Jehovah het liefdevol vir ons akkurate kennis van die kosbare waarhede in sy Woord, die Bybel, gegee. Hierdie waarhede is kosbaar omdat dit ons leer hoe om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê en dit verduidelik wat ons regtig gelukkig sal maak. Wanneer ons hierdie waarhede aanvaar en daarvolgens lewe, sal ons vry wees van valse leerstellings en kan ons ’n rein lewe lei. – 1 Kor. 6:9-11.

4 Nog ’n rede hoekom die waarhede in God se Woord kosbaar is, is omdat Jehovah net nederige mense wat “die regte gesindheid” het, help om dit te verstaan (Hand. 13:48). Sulke persone aanvaar dat Jehovah vandag die getroue en verstandige slaaf gebruik om hierdie waarhede aan ons te leer (Matt. 11:25; 24:45). Ons kan nie hierdie waarhede op ons eie leer nie, en niks is kosbaarder as om dit te verstaan nie. – Spr. 3:13, 15.

5. Wat het Jehovah nog aan ons gegee?

5 Jehovah het ons ook die voorreg gegee om ander die waarheid oor hom en sy doel vir die mens te leer (Matt. 24:14). Die boodskap wat ons verkondig, is baie kosbaar omdat dit mense help om deel van Jehovah se familie te word en dit gee hulle die geleentheid om vir ewig te lewe (1 Tim. 4:16). Of ons nou baie of min in die bediening kan doen, ons ondersteun die belangrikste werk wat vandag gedoen word (1 Tim. 2:3, 4). Dit is ’n groot eer om God se medewerkers te wees! – 1 Kor. 3:9.

HOU STYF VAS AAN DIT WAT AAN JOU GEGEE IS!

Timoteus moes Jehovah aanhou dien in ’n tyd toe ander besluit het om Jehovah nie meer te dien nie (Sien paragraaf 6)

6. Wat het met party gebeur wat nie hulle voorreg waardeer het om medewerkers van God te wees nie?

6 In Timoteus se dag het party Christene nie die voorreg waardeer om medewerkers van God te wees nie. Omdat Demas lief was vir hierdie wêreld, het hy die voorreg opgegee om saam met Paulus te dien (2 Tim. 4:10). Figelus en Hermogenes het blykbaar opgehou om te preek omdat hulle bang was dat hulle net soos Paulus vervolg sou word (2 Tim. 1:15). Himeneus, Aleksander en Filetus het afvallig geword en het opgehou om Jehovah te dien (1 Tim. 1:19, 20; 2 Tim. 2:16-18). Blykbaar was al hierdie mense geestelik sterk, maar hulle het nie meer gedink dat die dinge wat Jehovah hulle gegee het, kosbaar is nie.

7. Wat gebruik Satan om ons te kry om te doen wat hy wil hê?

7 Wat gebruik Satan om ons te kry om die kosbare dinge op te gee wat Jehovah aan ons gegee het? Kyk na ’n paar van die dinge wat hy gebruik. Hy gebruik vermaak en die media om ons te kry om op ’n manier te dink en op te tree wat sal veroorsaak dat ons geleidelik ophou om Jehovah lief te hê of om sy wette te gehoorsaam. Hy gebruik groepsdruk of vervolging om ons bang te maak sodat ons sal ophou preek. En hy probeer ons kry om na “valse kennis” van afvalliges te luister sodat ons die waarheid sal verlaat. – 1 Tim. 6:20, 21.

8. Wat leer ons uit die ondervinding van ’n broer met die naam Daniel?

8 As ons nie versigtig is nie, kan ons geleidelik die waarheid verlaat. Kyk na die voorbeeld van Daniel, * wat lief was vir videospeletjies. Hy verduidelik: “Ek het videospeletjies begin speel toe ek omtrent 10 jaar oud was. In die begin was daar niks verkeerd met die videospeletjies wat ek gespeel het nie. Maar geleidelik het ek videospeletjies begin speel wat gewelddadig en demonies was.” Uiteindelik het hy omtrent 15 ure ’n dag videospeletjies gespeel. Daniel sê: “Ek het diep binne my geweet dat die tipe videospeletjies wat ek gespeel het en die hoeveelheid tyd wat ek gebruik het om dit te speel, my verhouding met Jehovah beskadig het. Maar my hart het so hard geword dat ek nie meer geglo het dat Bybelbeginsels op my van toepassing is nie.” As ons nie versigtig is nie, kan vermaak maklik veroorsaak dat ons nie meer so styf aan die waarheid vashou nie. As dit gebeur, kan ons dalk die kosbare dinge wat Jehovah ons gegee het, verloor.

HOE KAN ONS STYF VASHOU AAN DIE WAARHEID?

9. Waarmee het Paulus Timoteus vergelyk, volgens 1 Timoteus 1:18, 19?

9 Lees 1 Timoteus 1:18, 19. Paulus het Timoteus met ’n soldaat vergelyk en het hom aangemoedig ‘om aan te hou om die goeie oorlog te voer’. Dit was nie ’n letterlike oorlog nie, maar ’n geestelike een. Op watter maniere is Christene soos soldate wat in ’n oorlog is? Watter eienskappe moet ons aanleer as soldate van Christus? Kom ons kyk na vyf lesse wat ons uit Paulus se illustrasie kan leer. Hierdie lesse kan ons help om styf vas te hou aan die waarheid.

10. Wat is toegewydheid aan God, en hoekom het ons dit nodig?

10 Leer om toegewyd aan God te wees. ’n Goeie soldaat is lojaal. Hy sal veg om iemand vir wie hy lief is of iets wat vir hom kosbaar is, te beskerm. Paulus het Timoteus aangemoedig om toegewydheid aan God aan te leer – dit wil sê om lojaal aan God te wees en ’n hegte verhouding met hom te hê (1 Tim. 4:7). Hoe sterker ons liefde vir God is, hoe sterker sal ons begeerte wees om styf vas te hou aan die waarheid. – 1 Tim. 4:8-10; 6:6.

Ná ’n lang dag by die werk moet ons onsself dalk forseer om ’n vergadering by te woon. Maar ons sal geseën word wanneer ons dit doen! (Sien paragraaf 11)

11. Hoekom het ons selfdissipline nodig?

11 Leer om selfdissipline te hê. ’n Soldaat moet homself dissiplineer sodat hy altyd gereed sal wees om te veg. Timoteus het geestelik sterk gebly omdat hy Paulus se raad gevolg het om vir verkeerde begeertes te vlug, om goeie eienskappe aan te leer en om tyd saam met sy Christenbroers en -susters te spandeer (2 Tim. 2:22). Om dit te kon doen, het hy selfdissipline nodig gehad. Ons het selfdissipline nodig as ons die oorlog teen ons verkeerde begeertes wil wen (Rom. 7:21-25). Ons het ook selfdissipline nodig om ons persoonlikheid te verander en om goeie eienskappe aan te leer (Ef. 4:22, 24). En wanneer ons aan die einde van ’n lang dag moeg is, moet ons onsself dalk forseer om ’n vergadering by te woon. – Heb. 10:24, 25.

12. Hoe kan ons leer om die Bybel beter te gebruik?

12 ’n Soldaat moet oefen om sy wapens te gebruik. As hy sy wapens goed wil gebruik, moet hy gereeld oefen. Net so moet ons goed daarin word om God se Woord te gebruik (2 Tim. 2:15). Ons kan by die vergaderinge leer hoe om die Bybel beter te gebruik. Maar as ons ander wil oortuig dat Bybelwaarhede regtig kosbaar is, moet ons gereeld persoonlike Bybelstudie doen. Ons moet God se Woord gebruik om ons geloof te versterk. Dit beteken dat ons meer moet doen as om net die Bybel te lees. Ons moet nadink oor wat ons lees en navorsing doen in ons publikasies sodat ons die Bybel reg kan verstaan en dit kan verduidelik (1 Tim. 4:13-15). Dan sal ons God se Woord kan gebruik om ander te leer. Dit beteken dat ons meer moet doen as om net ’n Bybelteks vir hulle te lees. Ons wil hulle help om die verse te verstaan en om te sien hoe dit op hulle van toepassing is. As ons gereeld persoonlike Bybelstudie doen, kan ons beter daarin word om God se geïnspireerde Woord te gebruik om ander te leer. – 2 Tim. 3:16, 17.

13. Hoekom moet ons volgens Hebreërs 5:14 kan onderskei wat reg en verkeerd is?

13 Onderskei wat reg en verkeerd is. ’n Soldaat moet voor die tyd ’n gevaarlike situasie kan raaksien en dit vermy. Ons moet ook leer om gevaarlike situasies raak te sien en dan iets doen om dit te vermy. (Spr. 22:3; lees Hebreërs 5:14.) Byvoorbeeld, ons moet ons ontspanning en vermaak wyslik kies. Daar is gewoonlik onsedelike gedrag in televisieprogramme en films. Ons vermy sulke vermaak omdat dit ons liefde vir Jehovah stadig maar seker kan verswak. Ons weet dat Jehovah onsedelike gedrag haat en dat mense wat onsedelike dinge doen hulleself en ander seermaak. – Ef. 5:5, 6.

14. Hoe het onderskeidingsvermoë Daniel gehelp?

14 Daniel, wat vroeër genoem is, het begin besef dat dit ’n probleem was om gewelddadige en demoniese videospeletjies te speel. Hy het navorsing in Watchtower Library gedoen om inligting te kry om hom met hierdie probleem te help. Watter uitwerking het dit op hom gehad? Hy het opgehou om verkeerde videospeletjies te speel. Hy het sy aanlyn rekeninge om videospeletjies te speel, gekanselleer en hy het nie meer videospeletjies met ander spelers aanlyn gespeel nie. Daniel sê: “In plaas daarvan om videospeletjies te speel, het ek my tyd begin gebruik om dinge buite te doen of om dinge saam met broers en susters in die gemeente te doen.” Daniel is nou ’n pionier en ’n ouerman.

15. Hoekom is valse stories gevaarlik?

15 Net soos Timoteus moet ons ook die gevaar kan raaksien van valse inligting wat deur afvalliges versprei word (1 Tim. 4:1, 7; 2 Tim. 2:16). Byvoorbeeld, hulle probeer dalk om valse stories oor ons broers te versprei of om ons oor Jehovah se organisasie te laat twyfel. Sulke verkeerde inligting kan ons geloof verswak. Ons moenie hierdie leuens glo nie. Hoekom nie? Omdat hierdie tipe stories versprei word “deur mense wie se verstande onrein is en wat die waarheid nie meer verstaan nie”. Hulle doel is om “argumente en debatte” te begin (1 Tim. 6:4, 5). Hulle wil hê dat ons hulle leuens moet glo en nie meer ons broers moet vertrou nie.

16. Watter afleidings moet ons vermy?

16 Vermy afleidings. As “’n goeie soldaat van Christus Jesus” moes Timoteus op sy bediening gefokus gebly het in plaas daarvan om te veel aandag te gee aan materiële dinge of ander doelwitte in sy lewe (2 Tim. 2:3, 4). Net soos Timoteus kan ons nie bekostig om afgelei te word deur ’n begeerte na meer materiële dinge nie. “Die bedrieglike krag van rykdom” kan veroorsaak dat ons ons liefde vir Jehovah, ons waardering vir God se Woord en ons begeerte om dit met ander te deel, verloor (Matt. 13:22). Ons moet ons lewe eenvoudig hou en ons tyd en energie gebruik om “eers die Koninkryk . . . te soek”. – Matt. 6:22-25, 33.

17-18. Hoe kan ons ons verhouding met Jehovah beskerm?

17 Wees voorbereid om gou op te tree. ’n Soldaat moet vooruit beplan hoe hy homself sal beskerm. As ons die dinge wil beskerm wat Jehovah ons gegee het, moet ons ook gou optree wanneer ons gevaar raaksien. Wat kan ons help om vinnig op te tree? Ons moet voor die tyd beplan hoe ons sal optree wanneer daar gevaar is.

18 Wanneer persone byvoorbeeld ’n geleentheid bywoon, word die gehoor gewoonlik gevra om te kyk waar die naaste uitgang is voordat die program begin. Hoekom? Sodat hulle die plek vinnig kan verlaat wanneer daar ’n noodgeval is. Net so kan ons voor die tyd beplan watter “uitgang” ons sal gebruik wanneer ons ewe skielik ’n onsedelike toneel, geweld of afvallige inligting sien terwyl ons die Internet gebruik of terwyl ons ’n film of TV-program kyk. As ons voorberei vir wat dalk kan gebeur, kan ons gou optree om ons verhouding met Jehovah te beskerm en kan ons rein bly in sy oë. – Ps. 101:3; 1 Tim. 4:12.

19. Watter seëninge sal ons kry as ons die kosbare dinge beskerm wat Jehovah ons gegee het?

19 Ons moet die kosbare dinge beskerm wat Jehovah ons gegee het – kosbare Bybelwaarhede en die voorreg om dit aan ander te leer. Wanneer ons dit doen, sal ons ’n skoon gewete en ’n betekenisvolle lewe hê en ons sal gelukkig wees omdat ons ander help om Jehovah te leer ken. Met sy hulp sal ons die kosbare dinge wat aan ons gegee is, kan beskerm. – 1 Tim. 6:12, 19.

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

^ par. 5 Ons het die groot voorreg om die waarheid te ken en dit aan ander te leer. Hierdie artikel sal ons help om styf vas te hou aan hierdie voorreg en om dit nooit te laat gaan nie.

^ par. 8 Naam is verander.