Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Joseph F. Rutherford en ander broers gedurende ’n besoek aan Europa

1920 – Honderd jaar gelede

1920 – Honderd jaar gelede

VANAF die begin van die 1920’s het Jehovah se volk nuwe krag gekry vir die werk wat vir hulle voorgelê het. Hulle het die volgende as hulle jaarteks vir 1920 gekies: “Die HERE is my sterkte en psalm.” – Ps. 118:14, King James Version.

Jehovah het hierdie ywerige predikers nuwe krag gegee. Gedurende daardie jaar het die hoeveelheid kolporteurs, of pioniers, vermeerder van 225 tot 350. En vir die eerste keer het meer as 8 000 klaswerkers, of verkondigers, hulle velddiens aan hoofkwartier gerapporteer. Jehovah het hulle geseën met baie mense wat belangstel.

HULLE WAS BAIE YWERIG

Op 21 Maart 1920 het Joseph F. Rutherford, wat die leiding gedurende daardie tyd onder die Bybelstudente geneem het, oor die onderwerp gepraat: “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.” Die Bybelstudente het alles gedoen wat hulle kon om belangstellendes na hierdie geleentheid te nooi. Hulle het een van die grootste teaters in die stad New York gehuur en omtrent 320 000 uitnodigings versprei.

’n Advertensie in die koerant vir die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”

Daar het meer mense gekom as wat die Bybelstudente verwag het. ’n Gehoor van omtrent 5 000 het die teater vol gemaak, en omtrent 7 000 mense moes weggewys word. The Watch Tower het gesê dat dit “een van die suksesvolste vergaderinge was wat nog ooit deur die Internasionale Bybelstudente gehou is”.

Die Bybelstudente het daarvoor bekend geword dat hulle verkondig dat ‘miljoene wat vandag leef nooit sal sterf nie’. Gedurende daardie tyd het hulle nie besef dat die Koninkryksboodskap op ’n groter skaal verkondig moet word nie. Maar hulle was nog steeds baie ywerig. Ida Olmstead, wat die vergaderinge in 1902 begin bywoon het, onthou: “Ons het geweet dat daar groot seëninge vir die hele mensdom voorlê en ons het nooit opgehou om hierdie goeie nuus te verkondig aan persone wat ons in die bediening ontmoet het nie.”

ONS DRUK ONS EIE LEKTUUR

Om seker te maak dat daar genoeg geestelike voedsel is, het die broers by Bethel begin om self van die lektuur te druk. Hulle het toerusting gekoop en dit geïnstalleer in ’n gehuurde gebou by Myrtlelaan 35, Brooklyn, New York, ’n paar blokke van die Bethelhuis af.

Leo Pelle en Walter Kessler het in Januarie 1920 hulle Betheldiens begin. Walter vertel wat gebeur het: “Toe ons daar aangekom het, het die opsiener van die drukkery na ons gekyk en gesê: ‘Julle het ’n uur en ’n half totdat dit middagete is.’ Hy het ons aan die werk gesit en gevra dat ons bokse vol boeke uit die ondergrondse verdieping gaan haal.”

Leo vertel wat die volgende dag gebeur het: “Dit was ons werk om die mure op die eerste vloer van die gebou te was. Dit was die vuilste werk wat ek nog ooit gedoen het. Maar dit was die Here se werk, en daarom was dit die moeite werd.”

Die platformpers wat gebruik was om The Watch Tower te druk

Binne net ’n paar weke is The Watch Tower deur ywerige vrywillige bedienaars gedruk. Sestigduisend kopieë van The Watch Tower van 1 Februarie 1920 is op die platformpers op die tweede vloer gedruk. Intussen het die broers op die ondergrondse verdieping ’n pers opgestel wat hulle die Battleship genoem het. Die broers het ook The Golden Age begin druk en hulle het begin met die nommer van 14 April 1920. Dit was duidelik dat Jehovah die werk van hierdie vrywillige werkers geseën het.

“Dit was die Here se werk, en daarom was dit die moeite werd”

“LAAT ONS IN VREDE WOON”

Jehovah se lojale volk het weer hard begin werk en mekaar se assosiasie geniet. Maar party Bybelstudente het die organisasie gedurende die moeilike tyd vanaf 1917 tot 1919 verlaat. Wat kon gedoen word om hulle te help?

Daar was ’n artikel in The Watch Tower van 1 April 1920 met die titel “Laat ons in vrede woon”. Dit het liefdevol gesê: “Ons voel seker . . . dat elkeen wat die gees van die Here het . . . bereid is om die dinge van die verlede te vergeet, . . . om in eenheid saam te woon en voort te gaan as een liggaam.”

Baie het op hierdie liefdevolle woorde gereageer. Een getroude paartjie het geskryf: “Ons besef dat ons die afgelope jaar of meer ’n fout gemaak het deur eenkant te staan en niks te doen nie terwyl ander die [predikingswerk] doen. . . . Ons hoop dat ons nooit weer weggelei sal word nie.” Hierdie werkers wat weer bedrywig geword het, het baie werk gehad om te doen.

DIE VERSPREIDING VAN DIE “ZG”

Op 21 Junie 1920 het die Bybelstudente ’n intense kampanje begin om die “ZG” te versprei, ’n sagteband-uitgawe van The Finished Mystery. * ’n Groot hoeveelheid van hierdie boeke was veilig weggebêre toe hierdie boek in 1918 verban was.

Alle klaswerkers, nie net kolporteurs nie, was genooi om aan die verspreidingswerk deel te neem. “Elke toegewyde [gedoopte] persoon in elke klas wat kan deelneem, moet bereid wees om dit te doen. Laat die volgende van nou af elkeen se motto wees: ‘Hierdie een ding doen ek’ – ek versprei die ZG.” Edmund Hooper het gesê dat hierdie kampanje vir baie die eerste keer was wat hulle van deur tot deur gewerk het. Hy het ook gesê: “Ons het werklik begin verstaan wat alles by hierdie werk betrokke is en ons sou nooit kon raai hoe hierdie werk sou uitbrei nie.”

DIE WERK IN EUROPA WORD HERORGANISEER

Omdat dit gedurende die Eerste Wêreldoorlog moeilik was om met Bybelstudente in ander lande te kommunikeer, wou broer Rutherford die broers aanmoedig en die predikingswerk herorganiseer. So op 12 Augustus 1920 het hy en vier ander broers vertrek op ’n lang reis na Brittanje, die Europese Vasteland en die Midde-Ooste.

Broer Rutherford in Egipte

Toe Rutherford Brittanje besoek het, het die Bybelstudente drie byeenkomste en 12 openbare vergaderinge gehou. Altesaam was daar omtrent 50 000 mense by hierdie geleenthede. The Watch Tower het hierdie besoek so opgesom: “Die broers en susters was aangemoedig en opgebou. Dit het hulle meer verenig in hulle liefde en in hulle diens en dit het hulle gelukkig gemaak.” In Parys het broer Rutherford weer oor die onderwerp gepraat: “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.” Toe die lesing begin het, was die saal propvol. Driehonderd mense het vir meer inligting gevra.

’n Plakkaat wat die lesing adverteer wat in Londen se Royal Albert Hall gegee is

In die weke daarna het party broers Atene, Kaïro en Jerusalem besoek. Om die belangstelling in hierdie gebiede op te volg, het broer Rutherford ’n lektuurdepot in die stad Ramallah, naby Jerusalem, opgestel. Hy het toe teruggegaan na Europa en ’n Sentraal-Europese Kantoor opgestel en gereël dat lektuur daar gedruk word.

ONGEREGTIGHEID WORD BEKENDGEMAAK

In die herfs van 1920 het die Bybelstudente nr. 27 van The Golden Age vrygestel. Hierdie spesiale uitgawe het aan almal bekendgemaak hoe die Bybelstudente gedurende 1918 vervolg is. Die Battleship, wat vroeër genoem is, het dag en nag geloop om meer as vier miljoen kopieë van hierdie tydskrif te druk.

’n Polisiefoto van Emma Martin

Lesers van hierdie tydskrif het uitgevind van die buitengewone geval van Emma Martin. Suster Martin was ’n kolporteur in San Bernardino, Kalifornië. Op 17 Maart 1918 het sy en drie broers, E. Hamm, E.J. Sonnenburg en E.A. Stevens, ’n klein vergadering van die Bybelstudente bygewoon.

Een man wat daar was, was nie daar om oor die Bybel te leer nie. Hy het later gesê: “Ek is deur die Staatsaanklaer se kantoor na hierdie vergadering gestuur. Ek was daar om bewyse te kry.” Hy het die “bewyse” gekry waarvoor hy gesoek het – ’n kopie van The Finished Mystery. ’n Paar dae later is suster Martin en die drie broers gearresteer. Hulle is daarvan aangekla dat hulle die Wet op Spioenasie oortree het deur kopieë van hierdie boek, wat verbied was, te versprei.

Emma en haar vriende is skuldig bevind en tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Nadat hulle ’n hele paar keer appèl aangeteken het en hulle nie meer kon appelleer nie, het hulle op 17 Mei 1920 hulle tronkstraf begin uitdien. Maar kort daarna het dinge beter geword.

Op 20 Junie 1920 het broer Rutherford hulle ondervinding by ’n byeenkoms in San Francisco vertel. Die gehoor was baie ongelukkig oor hoe hierdie Christene behandel is, en daarom het hulle ’n telegram na die president van die Verenigde State gestuur. Hulle het geskryf: “Ons beskou die skuldigbevinding . . . van mev. Martin . . . onder die Wet op Spioenasie as onregverdig . . . Die feit dat Federale amptenare hulle mag misbruik het om [mev. Martin] te betrap . . . en dan ’n saak teen haar te maak om haar tronk toe te stuur, beskou ons as . . . skandelik.”

Die volgende dag het president Woodrow Wilson suster Martin en broers Hamm, Sonnenburg en Stevens onmiddellik vrygespreek. Hulle onregverdige tronkstraf was verby.

Terwyl 1920 tot ’n einde gekom het, het die Bybelstudente baie gehad om oor bly te wees. Die werk by hoofkwartier het aangehou om uit te brei en ware Christene het meer as ooit tevore aktief verkondig dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mensdom se probleme is (Matt. 24:14). Die volgende jaar, 1921, sou selfs ’n beter jaar wees om Koninkrykswaarheid te adverteer.

^ par. 18 The Finished Mystery was die sewende deel van Studies in the Scriptures. “ZG” was die sagteband-uitgawe, wat as The Watch Tower van 1 Maart 1918 gedruk is. “Z” het verwys na Zion’s Watch Tower en “G”, die sewende letter van die alfabet, het verwys na die sewende deel.