Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 43

Jehovah lei sy organisasie

Jehovah lei sy organisasie

“‘Nie deur ’n leërmag of deur krag nie, maar deur my gees,’ sê Jehovah van die leërmagte.” – SAG. 4:6.

LIED 40 Aan wie wil ons behoort?

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moet gedoopte Christene aanhou doen?

 IS JY gedoop? Indien wel, het jy voor ander gewys dat jy geloof in Jehovah het en dat jy bereid is om hom saam met sy organisasie * te dien. Jy moet natuurlik aanhou om jou geloof in Jehovah te versterk. En jy moet aanhou om jou vertroue te versterk dat Jehovah vandag sy organisasie gebruik.

2-3. Op watter manier lei Jehovah sy organisasie vandag? Gee voorbeelde.

2 Jehovah lei sy organisasie vandag op ’n manier wat wys wat sy persoonlikheid, doel en standaarde is. Kom ons bespreek drie van Jehovah se eienskappe wat ons in sy organisasie kan sien.

3 Eerstens, ‘God is nie partydig nie’ (Hand. 10:34). Liefde het Jehovah gemotiveer om sy Seun as ’n “losprys vir almal” te gee (1 Tim. 2:6; Joh. 3:16). Jehovah gebruik sy volk om die goeie nuus te verkondig aan almal wat wil luister. Op hierdie manier help hy soveel mense as moontlik om by die losprys baat te vind. Tweedens, Jehovah is ’n God van orde en vrede (1 Kor. 14:33, 40). Daarom moet ons verwag dat sy aanbidders hom as ’n ordelike en vreedsame groep dien. Derdens, Jehovah is die “Groot Onderrigter” (Jes. 30:20, 21). Dit is hoekom sy organisasie so hard werk om ander oor sy Woord, die Bybel, in die gemeente en in die bediening te leer. Hoe het dié in die vroeë Christengemeente hierdie drie eienskappe van Jehovah nagevolg? Hoe volg Jehovah se volk vandag hierdie eienskappe na? En hoe kan heilige gees jou help terwyl jy vandag saam met Jehovah se organisasie dien?

GOD IS NIE PARTYDIG NIE

4. Wat het Jesus volgens Handelinge 1:8 vir sy volgelinge gesê om te doen, en hoe sou hulle gehelp word?

4 In die eerste eeu. Die boodskap wat Jesus verkondig het, het hoop aan alle mense gegee (Luk. 4:43). Hy het vir sy volgelinge gesê om aan te hou met die werk waarmee hy begin het, om “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te getuig. (Lees Handelinge 1:8.) Hulle sou natuurlik nie hierdie werk op hulle eie kon doen nie. Hulle sou heilige gees nodig hê – “die helper” wat Jesus hulle belowe het. – Joh. 14:26; Sag. 4:6.

5-6. Op watter maniere het heilige gees Jesus se volgelinge gehelp?

5 Jesus se volgelinge het op Pinkster 33 HJ die heilige gees ontvang. Met die hulp van die heilige gees het hulle onmiddellik begin preek, en in ’n kort tydjie het duisende mense die goeie nuus aanvaar (Hand. 2:41; 4:4). Toe die dissipels vervolg is, het hulle nie bang geword en ophou preek nie. Hulle het eerder vir God gevra om hulle te help. Hulle het gebid: “Help u slawe om u woord moedig te verkondig.” Hulle is toe met heilige gees gevul en het aangehou om “die woord van God moedig [te] verkondig”. – Hand. 4:18-20, 29, 31.

6 Jesus se dissipels het ook ander probleme gehad. Byvoorbeeld, daar was nie baie kopieë van die Skrif nie. Hulle het nie boeke gehad wat die Bybel verduidelik het soos wat ons vandag het nie. En die dissipels moes vir mense preek wat baie verskillende tale gepraat het. Al het hulle al hierdie probleme gehad, het daardie ywerige dissipels iets gedoen wat onmoontlik gelyk het. In omtrent 30 jaar het hulle die goeie nuus “in die hele skepping wat onder die hemel is”, verkondig. – Kol. 1:6, 23.

7. Hoe het Jehovah se knegte meer as 100 jaar gelede geweet wat God van hulle verwag het, en hoe het hulle gereageer?

7 In ons dag. Jehovah hou aan om sy volk te lei en om hulle die krag te gee om sy wil te doen. Hy lei sy volk meestal deur middel van sy Woord, die Bybel, wat deur sy heilige gees geïnspireer is. In die Bybel lees ons oor Jesus se bediening en die opdrag wat hy aan sy volgelinge gegee het om aan te hou met die werk waarmee hy begin het (Matt. 28:19, 20). In Julie 1881 kon hierdie tydskrif al sê: “Ons is nie geroep of gesalf om eer te ontvang en rykdom op te gaar nie, maar om al ons tyd en energie te gee en om die goeie nuus te verkondig. To Whom the Work Is Entrusted, ’n pamflet wat in 1919 uitgegee is, het gesê: “Dit lyk na ’n oorweldigende werk, maar dit is die Here se werk, en in sy krag sal ons dit verrig.” Ja, net soos die vroeë Christene, was hierdie broers moedig en het hulle baie hard gewerk omdat hulle vertrou het dat die heilige gees hulle sou help om vir alle soorte mense te preek. Ons vertrou ook dat die heilige gees ons sal help.

Jehovah se organisasie gebruik die beste gereedskap wat beskikbaar is om die goeie nuus te versprei (Sien paragraaf 8-9)

8-9. Watter metodes het Jehovah se organisasie gebruik om die goeie nuus te versprei?

8 Jehovah se organisasie het nog altyd die beste gereedskap wat beskikbaar is, gebruik om die goeie nuus te versprei. Hierdie gereedskap sluit gedrukte publikasies in, die “Fotodrama van die Skepping”, grammofone, klankmotors, radio-uitsendings en, meer onlangs, rekenaars en die Internet. God se organisasie vertaal ook inligting in meer tale as ooit tevore! Hoekom? Sodat alle soorte mense die goeie nuus in hulle eie taal kan hoor. Jehovah is onpartydig; hy het voorspel dat die goeie nuus “aan elke nasie en stam en taal en volk” verkondig sou word (Op. 14:6, 7). Hy wil hê dat almal die Koninkryksboodskap moet hoor.

9 Wat van mense wat ons nie kan bereik nie omdat hulle in woonstelblokke bly waar ons nie kan inkom nie? Om meer van hierdie mense te bereik, het Jehovah sy organisasie gehelp om verskillende vorme van openbare getuieniswerk te doen. Byvoorbeeld, in 2001 het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat ons broers en susters in Frankryk lektuurtrollies en ander maniere om ons lektuur uit te stal, begin gebruik. Later het broers in ander plekke ook op hierdie selfde manier begin preek. Hulle het goeie resultate gehad. In 2011 is ’n proefprogram begin in die Verenigde State in een van die besigste dele van die stad New York. Gedurende die eerste jaar is 102 129 boeke en 68 911 tydskrifte geplaas. En 4 701 mense het vir ’n Bybelstudie gevra! Dit is duidelik dat Jehovah sy heilige gees gebruik het om hierdie werk te ondersteun. Daarom het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat lektuurtrollies en ander maniere om ons lektuur uit te stal, regoor die wêreld gebruik word.

10. Wat kan ons doen om beter te word in ons bediening?

10 Wat jy kan doen. Gebruik die opleiding wat Jehovah deur middel van ons Christelike vergaderinge vir ons gee. Werk gereeld saam met jou velddiensgroep. Die broers en susters in jou groep kan jou help om beter te preek en te onderrig en kan jou aanmoedig deur middel van hulle goeie voorbeeld. Hou aan om te preek, al is daar uitdagings. Soos ons temateks ons herinner, kan ons God se wil doen, nie omdat ons sterk is nie, maar omdat ons krag van die heilige gees ontvang (Sag. 4:6). Ons kan seker wees dat God ons die krag sal gee wat ons nodig het omdat ons sy werk doen.

JEHOVAH IS ’N GOD VAN ORDE EN VREDE

11. Hoe het die eerste-eeuse bestuursliggaam saamgewerk om te verseker dat God se volk georganiseerd is?

11 In die eerste eeu. Die bestuursliggaam in Jerusalem het saamgewerk om te verseker dat daar orde en vrede onder God se volk is (Hand. 2:42). Byvoorbeeld, in omtrent 49 HJ het baie Christene verskillende opinies gehad oor die besnydenis, en daarom het die bestuursliggaam, onder die leiding van die heilige gees, hierdie saak bespreek. As die gemeentes nie hieroor saamgestem het nie, sou dit ’n negatiewe invloed op die predikingswerk gehad het. Al was die apostels en ouermanne Jode, was hulle nie deur Joodse tradisies of persone wat dit bevorder het, beïnvloed nie. Hulle het eerder in God se Woord gesoek vir leiding en het vir sy heilige gees gevra om hulle te help om hierdie besluit te maak (Hand. 15:1, 2, 5-20, 28). Wat was die resultaat? Jehovah het hulle besluit geseën, daar was vrede en orde in die gemeente en hulle het aangehou om die goeie nuus te verkondig. – Hand. 15:30, 31; 16:4, 5.

12. Wat wys dat daar vandag orde en vrede in Jehovah se organisasie is?

12 In ons dag. Jehovah se organisasie maak seker dat daar vrede en orde onder Jehovah se volk is. In 1895 in Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence van 15 November was daar ’n artikel met die titel “Welvoeglik en ordelik”, wat op 1 Korintiërs 14:40 gebaseer is. Die artikel het gesê: “Die apostels het baie vir die vroeë Kerk gesê oor orde . . . Dit is belangrik om aan te hou om gehoorsaam te wees aan ‘alles wat vroeër geskryf is, . . . sodat ons daaruit kan leer’” (Rom. 15:4). Net soos in die tyd van die vroeë Christene, werk Jehovah se organisasie hard om te verseker dat daar orde en vrede in die Christengemeentes is. As jy byvoorbeeld ’n Wagtoring-studie in ’n ander gemeente – selfs in ’n ander land – sou bywoon, sou jy weet hoe die studie gehou sou word en watter artikel bespreek sou word. Jy sal onmiddellik tuis voel! Dit is net God se gees wat sulke eenheid moontlik kan maak. – Sef. 3:9, vtn.

13. Met Jakobus 3:17 in gedagte, watter vrae moet ons ons afvra?

13 Wat jy kan doen. Jehovah wil hê dat sy volk “die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede [moet] bewaar” (Ef. 4:1-3). Vra jou af: ‘Bevorder ek eenheid en vrede in die gemeente? Is ek gehoorsaam aan dié wat die leiding neem? Kan ander op my staatmaak, veral as ek verantwoordelikhede in die gemeente het? Is ek op tyd, help ek graag en is ek gretig om te dien?’ (Lees Jakobus 3:17.) As jy sien dat jy beter kan doen, bid vir heilige gees. Hoe meer jy dit toelaat om jou persoonlikheid te vorm en ’n invloed op jou dade te hê, hoe liewer sal jou broers en susters vir jou word en hoe meer sal hulle jou waardeer.

JEHOVAH LEI ONS OP EN GEE ONS WAT ONS NODIG HET

14. Hoe het Jehovah sy volk in die eerste eeu opgelei, volgens Kolossense 1:9, 10?

14 In die eerste eeu. Jehovah geniet dit om sy volk te onderrig (Ps. 32:8). Hy wil hê dat hulle hom moet ken, hom moet liefhê en vir ewig moet lewe as sy geliefde kinders. Hierdie dinge sou onmoontlik wees as hy ons nie opgelei het nie (Joh. 17:3). Jehovah het die Christengemeente in die eerste eeu gebruik om sy volk op te lei. (Lees Kolossense 1:9, 10.) Heilige gees – die “helper” wat Jesus belowe het – het ’n groot rol hierin gespeel (Joh. 14:16). Heilige gees het die dissipels gehelp om God se Woord te verstaan en om al die dinge te onthou wat Jesus gesê en gedoen het, wat hulle later in die Evangelies kon lees. Hierdie kennis het die vroeë Christene se geloof versterk, sowel as hulle liefde vir God, sy Seun en mekaar.

15. Op watter maniere het jy gesien hoe Jehovah sy belofte in Jesaja 2:2, 3 vervul?

15 In ons dag. Jehovah het gesê dat mense van al die nasies “aan die einde van die dae” na sy figuurlike berg toe sou gaan om oor sy weë geleer te word. (Lees Jesaja 2:2, 3.) Ons sien hoe daardie profesie vandag vervul word. Ons kan sien dat ware aanbidding baie beter is as enige soort valse aanbidding. En wat ’n geestelike feesmaal gee Jehovah ons tog nie! (Jes. 25:6). Deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” gee hy ons nie net ’n oorvloed nie, maar ook ’n groot verskeidenheid om van te kies, van artikels en toesprake tot animasies en video’s (Matt. 24:45). Ons voel soos Job se vriend Elihu, wat gesê het: “Watter onderrigter is soos [God]?” – Job 36:22.

Wees oortuig van die waarheid en pas dit in jou lewe toe (Sien paragraaf 16) *

16. Wat kan jy doen om geestelik sterker te word?

16 Wat jy kan doen. God se gees sal jou help om dit wat jy in God se Woord lees en studeer, in jou lewe toe te pas. Bid soos die psalmis: “Leer my u weg, o Jehovah. Ek sal u weg van waarheid volg. Verenig my hart om u naam te vrees” (Ps. 86:11). So hou aan om die Bybel te lees en te studeer, sowel as ander publikasies wat deur Jehovah se organisasie voorsien word. Jy wil natuurlik meer doen as om net kennis in te neem. Jy wil oortuig wees van die waarheid en dit in jou lewe toepas. Jehovah se gees kan jou help om dit te doen. Jy wil ook jou broers en susters aanmoedig (Heb. 10:24, 25). Hoekom? Omdat hulle jou geestelike familie is. Bid vir God se gees om jou te help om by Christelike vergaderinge antwoorde uit die hart te gee en om jou bes te doen wanneer jy ’n deel op die program het. Op hierdie maniere wys jy vir Jehovah en sy Seun dat jy hulle kosbare “skapies” liefhet. – Joh. 21:15-17.

17. Op watter maniere kan jy wys dat jy Jehovah se organisasie getrou ondersteun?

17 Binnekort sal die enigste organisasie wat op die aarde oorbly, die een wees wat deur God se gees gelei word. So werk ywerig saam met Jehovah se organisasie. Wys dat jy net soos God lief is vir alle soorte mense deur die goeie nuus aan almal te verkondig wat jy ontmoet. Volg sy liefde vir orde en vrede na deur eenheid in die gemeente te bevorder. En luister na jou Groot Onderrigter deur ten volle gebruik te maak van die geestelike feesmaal wat hy voorsien. Dan, wanneer Satan se wêreld tot ’n einde kom, sal jy nie bang wees nie. Jy sal eerder moedig saam met dié staan wat getrou saam met Jehovah se organisasie dien.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

^ par. 5 Is jy oortuig dat Jehovah sy organisasie vandag lei? In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jehovah die vroeë Christengemeente gelei het en hoe hy aanhou om sy volk vandag te lei.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Jehovah se organisasie het ’n hemelse deel en ’n aardse deel. In hierdie artikel verwys die woord “organisasie” na die aardse deel.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: Nadat ’n pioniersuster na video’s gekyk het en gesien het hoe ander in lande dien waar daar hulp nodig is, is sy gemotiveerd om hulle voorbeeld na te volg. Uiteindelik bereik sy haar doelwit en dien sy in ’n gebied waar daar meer verkondigers nodig is.