Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 44

Sal jou kinders God dien wanneer hulle groot is?

Sal jou kinders God dien wanneer hulle groot is?

“Jesus het al hoe wyser en groter geword, en hy was geliefd by God en mense.” – LUK. 2:52.

LIED 134 Kinders is ’n erfdeel van God

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat is die beste besluit wat enige een kan maak?

 DIKWELS affekteer die keuses wat ouers maak hulle kinders vir ’n lang tyd. As ouers slegte keuses maak, kan hulle probleme vir hulle kinders veroorsaak. Maar as ouers wyse keuses maak, help hulle hulle kinders om ’n gelukkige lewe te hê. Kinders moet natuurlik ook goeie besluite maak. Die beste besluit wat enige een kan maak, is om ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, te dien. – Ps. 73:28.

2. Watter goeie keuses het Jesus en sy ouers gemaak?

2 Jesus se ouers was vasbeslote om hulle kinders te help om Jehovah te dien, en die keuses wat hulle gemaak het, het gewys dat dit hulle hoofdoel in die lewe is (Luk. 2:40, 41, 52). Net so het Jesus ook goeie keuses gemaak wat hom gehelp het om te doen wat Jehovah wou hê hy moes doen (Matt. 4:1-10). Jesus het ’n liefdevolle, getroue en moedige man geword. Alle ouers wat lief is vir Jehovah, sou trots en gelukkig gewees het om so ’n seun te hê.

3. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: Watter goeie keuses het Jehovah gemaak wanneer dit by Jesus gekom het? Wat kan Christenouers leer uit die keuses wat Jesus se menseouers gemaak het? En wat kan jong Christene leer uit die keuses wat Jesus gemaak het?

LEER BY JEHOVAH

4. Watter belangrike keuse het Jehovah gemaak wanneer dit by sy Seun gekom het?

4 Jehovah het die beste ouers vir Jesus gekies (Matt. 1:18-23; Luk. 1:26-38). Maria se opregte woorde in die Bybel wys haar diep liefde vir Jehovah en sy Woord (Luk. 1:46-55). En hoe Josef op Jehovah se leiding gereageer het, het gewys dat hy God gevrees het en hom gelukkig wou maak. – Matt. 1:24.

5-6. Wat het Jehovah sy Seun toegelaat om te ondervind?

5 Let op dat Jehovah nie ryk ouers vir Jesus gekies het nie. Die offerande wat Josef en Maria ná Jesus se geboorte geoffer het, het gewys dat hulle arm was (Luk. 2:24). Josef het dalk ’n klein werkswinkel langs sy huis in Nasaret gehad waar hy as ’n timmerman gewerk het. Hulle moes seker ’n eenvoudige lewe gehad het, veral omdat hulle gesin groter geword het en ten minste sewe kinders ingesluit het. – Matt. 13:55, 56.

6 Jehovah het Jesus teen sekere gevare beskerm, maar Hy het nie Sy Seun teen alle probleme beskerm nie (Matt. 2:13-15). Byvoorbeeld, Jesus het familielede gehad wat nie in hom geglo het nie. Dink net hoe teleurgesteld Jesus moes gewees het toe lede van sy eie gesin aan die begin nie geglo het dat hy die Messias is nie (Mark. 3:21; Joh. 7:5). Jesus moes moontlik ook die dood van sy pa, Josef, hanteer het. Josef se dood het dalk beteken dat Jesus, as die oudste seun, die familiebesigheid moes oorneem (Mark. 6:3). Terwyl Jesus grootgeword het, het hy geleer hoe om vir sy gesin te sorg. Hy moes waarskynlik baie hard gewerk het om vir sy gesin te sorg. So hy het geweet hoe dit voel om aan die einde van ’n lang dag moeg te wees.

Ouers, berei julle kinders voor vir die probleme in die lewe deur hulle te leer hoe om op God se Woord te vertrou vir raad (Sien paragraaf 7) *

7. (a) Watter vrae sal getroude paartjies help om hulle kinders groot te maak? (b) Hoe kan Spreuke 2:1-6 ouers help om hulle kinders op te lei?

7 As julle ’n getroude paartjie is wat graag kinders wil hê, vra julle af: ‘Is ons nederige mense wat lief is vir Jehovah en sy Woord? Sou Jehovah ons kies om vir ’n kosbare babatjie te sorg?’ (Ps. 127:3, 4). As jy alreeds ’n ouer is, vra jou af: ‘Leer ek my kinders dat dit goed is om hard te werk?’ (Pred. 3:12, 13). ‘Doen ek my bes om my kinders teen die gevare in Satan se wêreld te beskerm?’ (Spr. 22:3). Jy kan nie jou kinders beskerm teen al die probleme wat hulle dalk sal hê nie. Dit is onmoontlik om dit te doen. Maar jy kan hulle voorberei vir die probleme in die lewe deur aan te hou om hulle op ’n liefdevolle manier te leer hoe om op die Bybel te vertrou vir raad. (Lees Spreuke 2:1-6.) Byvoorbeeld, as ’n familielid besluit om op te hou om Jehovah te dien, help jou kinders om uit God se Woord te leer hoekom dit belangrik is om getrou aan Jehovah te bly (Ps. 31:23). Of as iemand vir wie julle lief is, sterf, wys vir jou kinders Bybelverse wat hulle kan help om die hartseer te hanteer en om weer vrede in hulle harte te hê. – 2 Kor. 1:3, 4; 2 Tim. 3:16.

LEER BY JOSEF EN MARIA

8. Wat moes Josef en Maria volgens Deuteronomium 6:6, 7 doen?

8 Jesus se ouers het hom gehelp om ’n volwassene te word wat God se goedkeuring gehad het; hulle het Jehovah se leiding vir ouers gevolg. (Lees Deuteronomium 6:6, 7.) Josef en Maria het ’n diep liefde vir Jehovah gehad en dit was vir hulle baie belangrik om hulle kinders te help om daardie selfde soort liefde vir Jehovah te hê.

9. Watter belangrike keuses het Josef en Maria gemaak?

9 Josef en Maria het gekies om ’n goeie geestelike roetine as ’n gesin te hê. Hulle het ongetwyfeld elke week die vergaderinge by die sinagoge in Nasaret, asook die jaarlikse Pasga in Jerusalem bygewoon (Luk. 2:41; 4:16). Hulle het dalk hierdie reise na Jerusalem gebruik om Jesus en sy broers en susters oor die geskiedenis van Jehovah se volk te leer. Op pad het hulle dalk plekke besoek wat in die Skrif genoem is. Terwyl hulle gesin groter geword het, was dit dalk nie vir Josef en Maria maklik om by hulle goeie geestelike roetine te bly nie. Maar kyk na die voordele wat hulle geniet het! Omdat hulle hulle aanbidding van Jehovah eerste gestel het, het hulle gesin na aan Jehovah gebly.

10. Watter lesse kan Christenouers by Josef en Maria leer?

10 Wat kan ouers wat God vrees, by Josef en Maria leer? Die belangrikste ding is dat jy vir jou kinders moet wys deur wat jy doen en sê dat jy Jehovah baie liefhet. Besef dat die beste geskenk wat jy jou kinders kan gee, is om hulle te help om Jehovah lief te hê. Een van die waardevolste lesse wat jy hulle kan leer, is hoe om ’n goeie geestelike roetine van Bybelstudie, gebed, vergaderingbywoning en velddiens te hê (1 Tim. 6:6). Jy moet natuurlik ook vir jou kinders die materiële dinge gee wat hulle nodig het (1 Tim. 5:8). Maar onthou dat dit jou kinders se goeie verhouding met Jehovah sal wees wat hulle sal help om die einde van hierdie wêreld te oorleef en om in God se nuwe wêreld in te gaan, en nie hulle materiële besittings nie. * – Eseg. 7:19; 1 Tim. 4:8.

Dit maak ons hart baie bly om te sien dat Christenouers goeie geestelike keuses vir hulle gesinne maak! (Sien paragraaf 11) *

11. (a) Hoe sal die raad in 1 Timoteus 6:17-19 ouers help om goeie keuses te maak wanneer hulle hulle kinders grootmaak? (b) Watter doelwitte kan julle gesin dalk stel, en hoe sal julle geseën word? (Sien die venster “ Watter doelwitte wil julle bereik?”)

11 Dit maak ons hart so bly om te sien dat so baie Christenouers goeie geestelike keuses vir hulle gesin maak! Hulle aanbid God gereeld saam. Hulle woon gemeentelike vergaderinge en byeenkomste by. En hulle verkondig die goeie nuus. Party gesinne kan selfs in gebiede preek wat nie gereeld gewerk word nie. Ander besoek Bethel of werk op geboue wat deur Jehovah se organisasie gebruik word. Gesinne wat kies om hierdie aktiwiteite te doen, moet geld spandeer en dit kan dalk vir hulle moeilik wees. Maar Jehovah sal hulle baie hiervoor seën. (Lees 1 Timoteus 6:17-19.) Kinders wat in sulke gesinne grootword, hou gewoonlik aan met hierdie goeie gewoontes wat hulle geleer het, en hulle is nie spyt nie! * – Spr. 10:22.

LEER BY JESUS

12. Wat moes Jesus doen terwyl hy grootgeword het?

12 Jesus se hemelse Vader maak altyd goeie keuses en sy aardse ouers het ook wyse besluite gemaak. Maar terwyl Jesus grootgeword het, moes hy sy eie keuses maak (Gal. 6:5). Net soos ons het hy vrye wil gehad. Hy kon gekies het om selfsugtig te wees en nie God se wil te doen nie. Maar hy het gekies om ’n goeie verhouding met Jehovah te behou (Joh. 8:29). Hoe kan sy voorbeeld jongmense vandag help?

Jongmense, wees altyd gehoorsaam aan julle ouers (Sien paragraaf 13) *

13. Watter belangrike keuse het Jesus gemaak terwyl hy nog jonk was?

13 Toe Jesus jonk was, het hy gekies om aan sy ouers gehoorsaam te wees. Hy was nooit ongehoorsaam aan sy ouers omdat hy gedink het dat hy meer as hulle weet nie. Hy het eerder “aan hulle onderdanig gebly” (Luk. 2:51). Jesus het ongetwyfeld sy verantwoordelikheid as die oudste seun ernstig opgeneem. Hy het sekerlik hard gewerk om by Josef te leer hoe om ’n timmerman te wees sodat hy geld kon verdien om sy gesin te ondersteun.

14. Hoe weet ons dat Jesus ’n goeie student van God se Woord was?

14 Jesus se ouers het heel moontlik vir hom gesê dat sy geboorte ’n wonderwerk was en hom vertel wat God se boodskappers oor hom gesê het (Luk. 2:8-19, 25-38). Jesus was nie net tevrede met wat hulle vir hom gesê het nie; hy het ook self die Skrif gestudeer. Hoe weet ons dat Jesus ’n goeie student van God se Woord was? Want terwyl hy nog ’n seun was, was die leermeesters in Jerusalem “die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde” (Luk. 2:46, 47). En toe Jesus net 12 jaar oud was, het hy alreeds aan homself bewys dat Jehovah sy Vader is. – Luk. 2:42, 43, 49.

15. Hoe het Jesus gewys dat hy gekies het om Jehovah se wil te doen?

15 Toe Jesus geleer het wat Jehovah wou hê hy moes doen, het hy gekies om sy toewysing te aanvaar (Joh. 6:38). Hy het geweet dat baie mense hom sou haat, maar hy het nog steeds gekies om Jehovah se wil te doen. Toe Jesus in 29 HJ gedoop is, was sy hoofdoel in die lewe om te doen wat Jehovah van hom wou hê (Heb. 10:5-7). Selfs terwyl Jesus aan die folterpaal gesterf het, was hy nog steeds vasbeslote om sy Vader se wil te doen. – Joh. 19:30.

16. Wat is een les wat kinders by Jesus kan leer?

16 Wees gehoorsaam aan jou ouers. Net soos Josef en Maria, is jou ouers nie perfek nie. Maar Jehovah het hulle die verantwoordelikheid gegee om jou te beskerm en op te lei. As jy hulle raad waardeer en hulle gesag respekteer, sal dit “met jou goed . . . gaan”. – Ef. 6:1-4.

17. Watter besluit moet jongmense volgens Josua 24:15 self maak?

17 Besluit wie jy sal dien. Jy moet aan jouself bewys wie Jehovah is, wat sy wil is en hoe jy sy wil kan doen (Rom. 12:2). Dan sal jy die belangrikste besluit van jou lewe kan maak, die besluit om Jehovah te dien. (Lees Josua 24:15; Pred. 12:1.) As jy die Bybel gereeld lees en studeer, sal jou liefde vir Jehovah aanhou groei en jou geloof in hom sal sterker word.

18. Watter keuse moet jongmense maak, en wat sal die resultaat wees?

18 Kies om Jehovah se wil eerste in jou lewe te stel. Satan se wêreld belowe dat jy gelukkig sal wees as jy jou talente gebruik om jouself te bevoordeel. Maar die waarheid is, dié wat op materiële dinge fokus, veroorsaak “baie pyn vir hulleself” (1 Tim. 6:9, 10). Maar as jy na Jehovah luister en kies om sy wil eerste in jou lewe te stel, sal jy suksesvol wees en “sal jy wys optree”. – Jos. 1:8.

WAT SAL JY KIES OM TE DOEN?

19. Wat moet ouers onthou?

19 Ouers, doen julle bes om julle gesin te help om Jehovah te dien. Vertrou op hom, en hy sal julle help om wyse keuses te maak (Spr. 3:5, 6). Onthou dat wat julle doen ’n groter uitwerking op julle kinders sal hê as wat julle sê. So maak besluite wat hulle sal help om Jehovah se goedkeuring te kry.

20. Watter seëninge sal jongmense ontvang as hulle kies om Jehovah te dien?

20 Jongmense, julle ouers kan julle help om wyse keuses in die lewe te maak. Maar julle moet self goeie keuses maak om God se hart bly te maak. So volg Jesus na en kies om julle liefdevolle hemelse Vader te dien. As julle dit doen, sal julle ’n besige en betekenisvolle lewe nou hê (1 Tim. 4:16). En in die toekoms sal julle die gelukkigste lewe ooit hê!

LIED 133 Aanbid Jehovah in jou jeug

^ par. 5 Christenouers wil hê dat hulle kinders gelukkig moet wees en Jehovah moet dien wanneer hulle groot is. Watter keuses kan ouers maak om hulle kinders te help om hierdie doelwit te bereik? Watter keuses moet jong Christene maak om ’n suksesvolle lewe te hê? Hierdie artikel sal hierdie vrae beantwoord.

^ par. 11 Sien die venster “Ek kon nie vir beter ouers gevra het nie” in die Ontwaak! van Oktober 2011, bl. 20, en die artikel “’n Spesiale brief aan hulle ouers” in die Ontwaak! van 8 Maart 1999, bl. 25.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl Jesus nog jonk was, moes Maria hom geleer het om ’n diep liefde vir Jehovah te hê. Net so kan ma’s vandag hulle kinders leer om Jehovah lief te hê.

^ par. 68 BESKRYWING VAN PRENT: Josef moes dit waardeer het om saam met sy gesin na die sinagoge te gaan. Pa’s vandag waardeer dit om saam met hulle gesin gemeentelike vergaderinge by te woon.

^ par. 70 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus het praktiese vaardighede by sy pa geleer. Jongmense vandag kan vaardighede by hulle pa leer.