Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 45

Hoe om ander te help om gehoorsaam te wees aan Christus se bevele

Hoe om ander te help om gehoorsaam te wees aan Christus se bevele

“Gaan dus en maak dissipels . . . en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het.” – MATT. 28:19, 20.

LIED 89 Luister en doen wat God sê

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Jesus volgens Matteus 28:18-20 sy dissipels beveel om te doen?

 NADAT Jesus uit die dood opgewek is, het hy aan sy dissipels verskyn wat in Galilea bymekaargekom het. Hy het iets belangriks gehad om vir hulle te sê. Wat was dit? Sy woorde kan in Matteus 28:18-20 gevind word. – Lees.

2. Watter vrae gaan ons bespreek?

2 Elkeen van God se knegte vandag moet ook gehoorsaam wees aan Jesus se opdrag om dissipels te maak. So kom ons bespreek drie vrae wat verband hou met die toewysing wat Jesus ons gegee het. Eerstens, wat moet ons nog doen behalwe om nuwe dissipels te leer wat God van hulle verwag? Tweedens, hoe kan alle verkondigers in die gemeente Bybelstudente help om geestelike vordering te maak? Derdens, hoe kan ons broers en susters wat onbedrywig geword het, help om weer dissipels te maak?

LEER HULLE OM GEHOORSAAM TE WEES AAN CHRISTUS SE BEVELE

3. Watter spesifieke instruksies het Jesus in sy opdrag ingesluit?

3 Jesus se instruksies is duidelik. Ons moet mense die dinge leer wat hy beveel het. Maar daar is ’n belangrike detail wat ons nie moet vergeet nie. Jesus het nie gesê: ‘Leer hulle alles wat ek julle beveel het’ nie. Hy het eerder vir hulle gesê: Leer hulle “om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het”. Om gehoorsaam te wees aan hierdie spesifieke instruksie, moet ons nie net ons Bybelstudente leer wat om te doen nie, ons moet ook vir hulle wys hoe om dit te doen (Hand. 8:31). Hoekom moet ons dit doen?

4. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe ons ’n Bybelstudent kan leer om gehoorsaam te wees aan wat Christus beveel het.

4 Hoe kan ons iemand leer om “gehoorsaam” te wees aan die dinge wat Christus beveel het? Die volgende voorbeeld kan ons help om te verstaan wat ons moet doen. Hoe help ’n instrukteur ’n leerlingbestuurder om gehoorsaam te wees aan die verkeerswette? Eerstens sal die instrukteur sy student die padreëls leer wat hy moet gehoorsaam. Maar om vir sy student te leer hoe om die reëls te gehoorsaam, moet hy iets anders doen. Hy moet saam met sy student gaan en vir hom sê wat om te doen terwyl die student besig is om te ry en probeer toepas wat hy geleer het. Wat kan ons uit hierdie voorbeeld leer?

5. (a) Wat moet ons ons studente leer om te doen, volgens Johannes 14:15 en 1 Johannes 2:3? (b) Gee voorbeelde van hoe ons ons studente kan help.

5 Wanneer ons die Bybel met ander studeer, leer ons hulle wat God wil hê ons moet doen. Maar ons moet meer as dit doen. Ons moet ons Bybelstudente help om die dinge wat hulle leer, in hulle lewe toe te pas. (Lees Johannes 14:15; 1 Johannes 2:3.) Deur ons voorbeeld kan ons vir ons studente wys hoe hulle basiese Bybelbeginsels by die skool, by die werk of in hulle vrye tyd kan toepas. Ons kan hulle van iets vertel wat in ons lewe gebeur het om te wys hoe die raad in die Bybel ons beskerm het of gehelp het om ’n wyse besluit te maak. Wanneer ons saam met ons studente is, kan ons tot Jehovah bid en hom vra dat hy hulle deur middel van sy heilige gees lei. – Joh. 16:13.

6. Wat moet ons nog doen wanneer ons ander leer om gehoorsaam te wees aan Jesus se bevele?

6 Wat moet ons nog doen wanneer ons ander leer om gehoorsaam te wees aan Jesus se bevele? Ons moet ons Bybelstudente help om ’n begeerte te hê om dissipels te maak. Party studente is dalk bang om deel te neem aan die predikingswerk. So ons moet geduldig wees terwyl ons hulle help om Bybelwaarhede beter te verstaan sodat hulle sterker geloof sal hê. Dit sal hulle hart raak en motiveer om te preek. Wat kan ons doen om studente te help om die begeerte te hê om die goeie nuus aan ander te verkondig?

7. Hoe kan ons ’n student help om die begeerte te hê om die goeie nuus aan ander te verkondig?

7 Ons kan dalk vir ons student vrae vra soos: “Hoe het dit jou lewe verbeter toe jy die Koninkryksboodskap aanvaar het? Dink jy dat ander hierdie boodskap moet hoor? Wat kan jy doen om hulle te help?” (Spr. 3:27; Matt. 9:37, 38). Wys vir die student die pamflette wat deel is van ons Gereedskapskissie vir Onderrigting en laat hom een kies wat hy dink sy familie, vriende of werksmaats sal van hou. Gee vir die student ’n hele paar van hierdie pamflette. Hou ’n oefensessie met hom en wys hom hoe hy die pamflette op ’n vriendelike manier kan aanbied. Wanneer ons student ’n ongedoopte verkondiger word, wil ons natuurlik saam met hom velddiens doen om hom te help. – Pred. 4:9, 10; Luk. 6:40.

HOE DIE GEMEENTE BYBELSTUDENTE KAN HELP OM VORDERING TE MAAK

8. Hoekom is dit belangrik dat ons studente ’n liefde vir God en hulle naaste opbou? (Sien ook die venster “ Hoe ons ons Bybelstudente kan help om hulle liefde vir God te versterk”.)

8 Hou in gedagte dat Jesus vir ons gesê het om ander te leer “om alles te gehoorsaam” wat hy beveel het. Dit sluit beslis die twee grootste gebooie in – om God lief te hê en om ons naaste lief te hê – albei hou verband met die predikings- en dissipelmaakwerk (Matt. 22:37-39). Wat is die verband? Ons hoofrede hoekom ons aan die predikingswerk deelneem is liefde – ons liefde vir God en ons liefde vir ons naaste. Dit is verstaanbaar dat party Bybelstudente dalk bang sal wees om aan die predikingswerk deel te neem. Maar ons kan sulke studente verseker dat hulle met Jehovah se hulp hulle vrees vir mense geleidelik sal oorkom (Ps. 18:1-3; Spr. 29:25). Die venster in hierdie artikel bespreek watter stappe ons kan neem om ons student te help om sy liefde vir God te versterk. Maar wat kan die gemeente doen om nuwe dissipels te help om hulle liefde vir ander te versterk?

9. In die voorbeeld van die leerlingbestuurder, op watter maniere leer die student belangrike lesse?

9 Dink weer aan die voorbeeld van die leerlingbestuurder. Op watter maniere leer die student terwyl hy op die pad ry met sy instrukteur langs hom? Deur na sy instrukteur te luister en deur te kyk wat ander versigtige bestuurders doen. Byvoorbeeld, die instrukteur wys dalk vir die student hoe ’n bestuurder vriendelik toelaat dat ’n ander kar voor hom inry. Of hy wys dalk hoe ’n bestuurder sy kar se kopligte demp sodat hy nie ander bestuurders verblind nie. Sulke voorbeelde leer die student belangrike lesse wat hy kan toepas wanneer hy bestuur.

10. Wat sal ’n Bybelstudent help om ’n dissipel te word?

10 Net so sal ’n Bybelstudent wat begin om Jehovah te dien, nie net by sy onderrigter leer nie, maar ook uit die goeie voorbeelde van ander knegte van Jehovah. So wat sal Bybelstudente help om dissipels te word? Hulle moet ons Christelike vergaderinge bywoon. Hoekom? Want wat hulle by die vergaderinge leer, sal hulle help om meer kennis op te doen, om hulle geloof te versterk en om hulle liefde vir God te versterk (Hand. 15:30-32). By die vergaderinge kan die Bybelonderrigter ook die student voorstel aan broers en susters wat dalk op baie maniere dieselfde is as hy. In die gemeente sal die student goeie voorbeelde sien van broers en susters wat wys dat hulle mekaar liefhet. Dink aan die volgende voorbeelde.

11. Watter voorbeelde sien ’n student dalk in die gemeente, en watter uitwerking kan dit dalk op die student hê?

11 ’n Bybelstudent wat ’n enkelouer is, sien ’n Christensuster wat in ’n soortgelyke situasie as sy is. Dit raak die student se hart om te sien hoe baie moeite die suster doen om met haar klein kindertjies na die Koninkryksaal te kom. ’n Student wat sukkel om op te hou rook, leer ken ’n verkondiger wat dit reggekry het om op te hou. Die verkondiger vertel vir die student hoe sy liefde vir Jehovah hom gehelp het om God se bevele te gehoorsaam (2 Kor. 7:1; Fil. 4:13). Nadat die student na die verkondiger se persoonlike storie geluister het, voel hy vol vertroue wanneer die broer hom verseker: “Jy kan ook ophou.” ’n Jong meisie wat ’n Bybelstudent is, sien ’n jong suster wat haar lewe as ’n Getuie geniet. Wanneer die Bybelstudent sien hoe gelukkig die jong suster is, wil sy meer leer oor hoekom die suster altyd gelukkig is.

12. Hoekom kan ons sê dat elkeen in die gemeente iets kan doen om Bybelstudente te help?

12 Wanneer Bybelstudente verskillende getroue verkondigers leer ken, leer die studente uit hulle voorbeelde wat dit beteken om gehoorsaam te wees aan Christus se opdrag om lief te wees vir God en hulle naaste (Joh. 13:35; 1 Tim. 4:12). En soos ons alreeds gesê het, ’n student kan by verkondigers leer wat soortgelyke uitdagings as hy het. Die student leer uit sulke voorbeelde dat dit moontlik is om die nodige veranderinge te maak om ’n dissipel van Christus te word (Deut. 30:11). Elkeen in die gemeente kan op verskillende maniere ’n Bybelstudent help om ’n dissipel te word (Matt. 5:16). Wat doen jy persoonlik om Bybelstudente wat na die vergaderinge toe kom, aan te moedig?

HELP DIÉ WAT ONBEDRYWIG GEWORD HET OM WEER TE PREEK

13-14. Hoe het Jesus sy apostels behandel toe hulle mismoedig was?

13 Ons wil ons broers en susters wat onbedrywig geword het, help om weer gehoorsaam te wees aan Christus se opdrag om dissipels te maak. Die manier hoe Jesus sy apostels behandel het toe hulle mismoedig was, wys wat ons dalk vandag kan doen.

14 Aan die einde van Jesus se bediening op aarde, net voor sy dood, het die apostels “hom verlaat en gevlug” (Mark. 14:50; Joh. 16:32). Hoe het Jesus sy apostels behandel toe hulle mismoedig was? Kort ná Jesus se opstanding het hy vir party van sy volgelinge gesê: “Moenie bang wees nie! Gaan vertel my broers [dat ek opgewek is]” (Matt. 28:10a). Jesus het nie sy apostels verlaat nie. Alhoewel hulle hom verlaat het, het hy hulle nog steeds “my broers” genoem. Net soos Jehovah, was Jesus genadig en het hy hulle vergewe. – 2 Kon. 13:23.

15. Hoe voel ons oor persone wat opgehou het om te preek?

15 Net so gee ons baie om vir persone wat opgehou het om te preek. Hulle is ons broers en susters, en ons is lief vir hulle! Ons onthou al die harde werk wat hierdie broers en susters vir Jehovah gedoen het. Party wat nou onbedrywig is, het jare lank hard gewerk in Jehovah se diens (Heb. 6:10). Ons mis hulle! (Luk. 15:4-7). Hoe kan ons soos Jesus wys dat ons vir hulle omgee?

16. Hoe kan ons wys dat ons vir ons broers en susters wat onbedrywig geword het, omgee?

16 Nooi hulle liefdevol na die vergaderinge. Een manier hoe Jesus sy apostels aangemoedig het toe hulle mismoedig was, was deur hulle na ’n vergadering te nooi (Matt. 28:10b; 1 Kor. 15:6). Net so kan ons vandag onbedrywiges aanmoedig om die gemeentelike vergaderinge by te woon as hulle dit nie alreeds doen nie. Ons besef dat ons hulle dalk ’n hele paar keer sal moet nooi voordat hulle sal kom. Jesus was beslis baie bly dat sy dissipels sy uitnodiging aanvaar het. – Vergelyk Matteus 28:16 en Lukas 15:6.

17. Hoe moet ons reageer wanneer ’n onbedrywige verkondiger ’n vergadering bywoon?

17 Verwelkom hulle met ope arms. Jesus het sy dissipels welkom laat voel toe hulle hom ontmoet het. Hy het nie vir hulle gewag om na hom toe te kom nie, maar hy het eerder na hulle toe gegaan en met hulle gepraat (Matt. 28:18). Hoe sal ons reageer wanneer ’n onbedrywige verkondiger by die Koninkryksaal aankom? Ons moet hom met ope arms verwelkom. Ons sal dalk aan die begin bekommerd wees dat ons nie sal weet wat om te sê nie. Maar sonder om hom ongemaklik te laat voel, kan ons net sê dat ons bly is om hom te sien.

18. Hoe kan ons onbedrywige verkondigers aanmoedig?

18 Moedig hulle aan. Jesus se dissipels het moontlik oorweldig gevoel deur die opdrag om oor die hele aarde te preek. Jesus het sy volgelinge aangemoedig deur te sê: “Ek is met julle al die dae” (Matt. 28:20). Het dit sy dissipels gehelp? Ja. Nie lank daarna nie was hulle besig om mense “te leer en die goeie nuus” bekend te maak (Hand. 5:42). Onbedrywige verkondigers het ook aanmoediging nodig. Hulle voel dalk oorweldig wanneer hulle daaraan dink om weer te preek. Ons kan hulle verseker dat hulle nie alleen hoef te preek nie. Wanneer hulle gereed is, kan ons saam met hulle velddiens doen. Hulle sal beslis ons ondersteuning waardeer wanneer hulle weer begin om die goeie nuus te verkondig. Wanneer ons onbedrywige persone as ons broers en susters sien en behandel, kan ons hulle help om weer bedrywig te word en sal dit almal in die gemeente baie bly maak.

ONS WIL DIE WERK VOLTOOI WAT JESUS AAN ONS GEGEE HET

19. Wat wil ons baie graag doen, en hoekom?

19 Hoe lank sal ons aanhou om te preek en dissipels te maak? Tot die voleinding van die stelsel van dinge. (Matt. 28:20; sien Woordelys, “Voleinding van die stelsel van dinge”.) Sal ons kan preek en dissipels kan maak tot daardie tyd? Ons is vasbeslote om dit te doen! Ons gee graag van ons tyd, energie en geld om persone te vind “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Hand. 13:48). Wanneer ons dit doen, volg ons Jesus se voorbeeld. Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te voltooi” (Joh. 4:34; 17:4). Ons wil dit ook baie graag doen. Ons wil die werk voltooi wat Jesus aan ons gegee het (Joh. 20:21). En ons wil hê dat ander, insluitende onbedrywige persone, saam met ons hierdie werk moet doen. – Matt. 24:13.

20. Hoekom kan ons volgens Filippense 4:13 die werk doen wat Jesus ons beveel het om te doen?

20 Dit is nie maklik om te doen wat Jesus ons beveel het om te doen nie. Maar ons doen nie hierdie werk alleen nie. Jesus het belowe dat hy met ons sal wees. Wanneer ons dissipels maak, is ons “God se medewerkers” en ons doen hierdie werk “saam met Christus”. So Jehovah en Jesus help ons om hierdie werk te doen (1 Kor. 3:9; 2 Kor. 2:17). Daarom kan ons dit doen. Dit is ’n groot voorreg en dit maak ons baie bly om hierdie werk te doen en om ander te help om dit ook te doen! – Lees Filippense 4:13.

LIED 79 Leer hulle om standvastig te bly

^ par. 5 Jesus het vir sy volgelinge gesê om dissipels te maak en om hulle te leer om gehoorsaam te wees aan alles wat hy hulle beveel het. Hierdie artikel bespreek hoe ons kan doen wat Jesus gesê het. Die inligting is gedeeltelik gebaseer op ’n artikel in Die Wagtoring van 1 Julie 2004, bladsy 14-19.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Die suster wat die Bybelstudie hou, verduidelik watter stappe die student moet neem om haar liefde vir God te versterk. Later pas die student die drie voorstelle toe wat sy van haar Bybelonderrigter ontvang het.