Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onésime en Géraldine

Jehovah seën dié wat na hulle geboorteland teruggaan

Jehovah seën dié wat na hulle geboorteland teruggaan

HEELWAT broers en susters wat in die verlede van ontwikkelende lande na Westerse lande getrek het, het na hulle geboorteland teruggegaan. Omdat hulle lief is vir Jehovah en vir mense, het hulle na gebiede getrek waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is (Matt. 22:37-39). Watter opofferings het hulle gemaak, en hoe het Jehovah hulle geseën? Om uit te vind, kom ons fokus op Kameroen, ’n land in Wes-Afrika.

“OP DIE REGTE PLEK . . . ‘OM VIS TE VANG’”

In 1998 het ’n broer met die naam Onésime sy geboorteland, Kameroen, verlaat. Hy het 14 jaar lank oorsee gebly. Eendag, by ’n Christelike vergadering, het hy ’n illustrasie oor die predikingswerk gehoor. Die spreker het gesê: “As twee vriende op verskillende plekke visvang en die een meer visse as die ander een vang, sou die vriend wat minder visse vang, nie na die plek toe gaan waar daar meer visse gevang word nie?”

Hierdie illustrasie het Onésime daaraan laat dink om terug te gaan Kameroen toe, waar baie mense die Bybel wou studeer, om die plaaslike verkondigers daar te help. Maar daar was dinge waaroor hy bekommerd was. Sou hy nadat hy jare lank oorsee gebly het, daaraan gewoond kon raak om weer in Kameroen te bly? Om uit te vind, het Onésime ses maande lank in Kameroen gaan bly. Toe het hy in 2012 permanent teruggetrek.

Onésime vertel: “Ek moes by die warm weer en by die lewensomstandighede aanpas. In die Koninkryksaal moes ek daaraan gewoond raak om op harde banke te sit. Maar hoe meer ek op die program gekonsentreer het,” sê hy met ’n glimlag, “hoe minder het ek aan die gemaklike sitplekke in ander Koninkryksale gedink.”

In 2013 het Onésime met Géraldine getrou, wat na Kameroen teruggegaan het nadat sy nege jaar lank in Frankryk gebly het. Hoe het Jehovah hierdie paartjie geseën omdat hulle sy wil die belangrikste ding in hulle lewe gemaak het? Onésime sê: “As ’n paartjie het ons die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon en by Bethel gedien. In die laaste jaar is 20 Bybelstudente in ons gemeente gedoop. Ek voel dat ek nou op die regte plek is ‘om vis te vang’.” (Mark. 1:17, 18). Géraldine sê ook: “Jehovah het my meer geseën as wat ek ooit kon gedink het.”

DIE VREUGDE OM GEESTELIKE KINDERS TE VIND

Judith en Sam-Castel

Judith het na die Verenigde State toe getrek, maar sy wou baie graag meer in haar bediening doen. Sy vertel: “Elke keer nadat ek my familie in Kameroen besoek het, het ek gehuil omdat ek ’n hele paar mense agter moes laat met wie ek die Bybel begin studeer het.” Maar Judith het getwyfel of sy moes terugtrek Kameroen toe. Sy het ’n werk gehad wat haar goed betaal het en wat dit vir haar moontlik gemaak het om haar pa in Kameroen se mediese rekeninge te betaal. Maar Judith het op Jehovah vertrou en het teruggetrek Kameroen toe. Terwyl sy oorsee gebly het, was daar party dinge wat haar lewe makliker gemaak het en sy erken dat sy hierdie dinge gemis het. Sy het vir Jehovah in gebed gevra om haar te help om aan te pas en sy was gehelp deur die aanmoediging wat sy by ’n kringopsiener en sy vrou gekry het.

Judith onthou hoe dinge was toe hulle na Kameroen toe teruggegaan het. Sy sê: “Binne drie jaar het ek die vreugde gehad om vier geestelike kinders te vind.” Judith het as ’n spesiale pionier begin dien. Vandag dien sy saam met haar man, Sam-Castel, op die kring. Maar wat het met Judith se pa gebeur? Sy en haar familie het ’n hospitaal in ’n ander land gekry wat bereid was om vir haar pa se operasie te betaal. Die operasie was ’n sukses.

HULLE HET JEHOVAH SE ONDERSTEUNING ONDERVIND

Caroline en Victor

’n Broer met die naam Victor het na Kanada getrek. Nadat hy ’n Wagtoring-artikel oor hoër onderwys gelees het, het hy oor sy universiteitsopleiding gedink. Hy het opgehou om universiteit toe te gaan en het eerder ’n kort tegniese kursus gedoen. Hy sê: “Dit het my gehelp om gouer ’n werk te kry en om te doen wat ek vir ’n lang tyd wou doen – pionier.” Later het Victor met Caroline getrou, en die paartjie het Kameroen besoek. Daar, gedurende ’n besoek aan die takkantoor, is hulle aangemoedig om daaraan te dink om in Kameroen te dien. Victor sê: “Ons het geen rede gehad om te weier nie en omdat ons ons lewe eenvoudig gehou het, kon ons die uitnodiging aanvaar.” Alhoewel Caroline ’n paar gesondheidsprobleme gehad het, het hulle besluit om te trek.

Victor en Caroline het begin om as gewone pioniers te dien om al die mense te help wat in die Bybel belanggestel het. Hulle het genoeg geld gespaar sodat hulle aan die begin nie hoef te gewerk het nie. Daarna het hulle ’n paar maande lank in Kanada gewerk, wat hulle toegelaat het om terug te gaan Kameroen toe en om aan te hou pionier. Hoe het Jehovah hulle geseën? Hulle het die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon, as spesiale pioniers gedien en dien nou as konstruksieknegte. Victor sê: “Omdat ons ons gemaklike lewe agtergelaat het, moes ons op Jehovah vertrou, en het ons sy ondersteuning ondervind.”

DIE VREUGDE OM MENSE TE HELP OM HULLESELF AAN JEHOVAH TOE TE WY

Stéphanie en Alain

In 2002 het Alain, ’n universiteitstudent in Duitsland, die pamflet gelees Jongmense—Wat gaan julle met julle lewe doen? Dit het hom gehelp om nuwe doelwitte te stel. In 2006 het hy die Bedieningsopleidingskool bygewoon en is hy na sy geboorteland, Kameroen, gestuur.

In Kameroen het Alain deeltydse werk gekry. Later het hy werk gekry wat meer betaal, maar hy was bekommerd dat dit sou veroorsaak dat hy minder in die bediening doen. So toe hy gevra is om as ’n spesiale pionier te dien, het hy die toewysing dadelik aanvaar. Sy werkgewer het vir hom meer geld aangebied, maar Alain het nie sy besluit verander nie. Later het Alain met Stéphanie getrou, wat jare lank in Frankryk gebly het. Watter probleme het sy gehad nadat sy Kameroen toe getrek het?

Stéphanie sê: “Ek het gesondheidsprobleme en allergieë ontwikkel, maar ek het gereelde behandeling gekry wat my gehelp het.” Die paartjie is beloon vir hulle volharding. Alain vertel: “Toe ons in ’n afgesonderde dorpie met die naam Katé gaan preek het, het ons baie mense gevind wat die Bybel wou studeer. Later kon ons Bybelstudies met hulle oor die foon hou. Twee van hierdie Bybelstudente is gedoop, en ’n groep verkondigers is gevorm.” Stéphanie sê ook: “Daar is geen groter vreugde as om mense te help om hulleself aan Jehovah toe te wy nie. Deur hier te dien, het ons hierdie vreugde baie keer ondervind.” Vandag dien Alain en Stéphanie op die kring.

‘ONS HET PRESIES GEDOEN WAT ONS MOES DOEN’

Léonce en Gisèle

Gisèle is gedoop terwyl sy medies by ’n skool in Italië gestudeer het. Sy was beïndruk met die eenvoudige lewe van die pionierpaartjie wat met haar die Bybel gestudeer het en sy wou meer in haar bediening doen. So Gisèle het as ’n gewone pionier begin dien terwyl sy haar studies klaargemaak het.

Gisèle wou baie graag teruggaan Kameroen toe om meer in Jehovah se diens te doen, maar sy was ’n bietjie bekommerd. Sy sê: “Ek sou my wetlike reg om in Italië te bly moes opgee en ek sou weg wees van my vriende en familie, wat in Italië bly.” Maar in 2016 het Gisèle nog steeds teruggetrek Kameroen toe. Later het sy met Léonce getrou, en die takkantoor in Kameroen het voorgestel dat die paartjie na Ayos toe trek, ’n dorpie waar daar baie Koninkrykspredikers nodig is.

Hoe was die lewe in Ayos? Gisèle vertel: “Daar was dikwels weke lank geen elektrisiteit nie, en ons kon nie ons selfone se batterye laai nie. Die meeste van die tyd het ons selfone nie gewerk nie. Ek het geleer om op ’n houtvuur te kook, en ons het in die nag met kruiwaens en flitsligte water gaan haal wanneer daar nie so baie mense by die fontein was nie.” Wat het die paartjie deur hierdie moeilike tye gehelp? Gisèle sê: “Jehovah se gees het ons gehelp om te volhard. Ek en my man het mekaar ook ondersteun, en familie en vriende het ons aangemoedig en ons soms finansieel gehelp.”

Is Gisèle bly dat sy teruggegaan het na haar geboorteland? Sy sê: “Ja! Sonder twyfel. Aan die begin het ons probleme gehad en het ons mismoedig gevoel, maar toe ons dit oorkom het, het ek en my man gevoel dat ons presies gedoen het wat ons moes doen. Ons vertrou op Jehovah en voel nader aan hom.” Léonce en Gisèle het die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon en hulle dien nou as tydelike spesiale pioniers.

Net soos vissermanne wat volhard ten spyte van moeilike omstandighede om meer vis te vang, maak dié wat na hulle geboorteland teruggaan, opofferings om dié te help wat opreg in die Koninkryksboodskap belangstel. Jehovah sal beslis hierdie hardwerkende verkondigers onthou vir die liefde wat hulle vir sy naam getoon het (Neh. 5:19; Heb. 6:10). As jy oorsee bly en daar meer Koninkryksverkondigers in jou geboorteland nodig is, sal jy na jou geboorteland toe kan teruggaan? As jy dit doen, sal Jehovah jou seën. – Spr. 10:22.