Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 46

Wees moedig – Jehovah is jou Helper

Wees moedig – Jehovah is jou Helper

“Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” – HEB. 13:5.

LIED 55 Vrees hul nie!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat sal ons vertroos wanneer ons alleen voel of wanneer ons voel dat ons probleme te veel word? (Psalm 118:5-7)

 HET jy al ooit gevoel dat jy alleen is of dat niemand jou kan help met ’n probleem nie? Baie het al so gevoel, insluitende getroue knegte van Jehovah (1 Kon. 19:14). As dit ooit met jou gebeur, onthou Jehovah se belofte: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” So ons kan met vertroue sê: “Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie” (Heb. 13:5, 6). Die apostel Paulus het hierdie woorde in omtrent 61 HJ aan sy broers en susters in Judea geskryf. Sy woorde laat ons dink aan die woorde in Psalm 118:5-7. – Lees.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom?

2 Net soos die psalmis, het Paulus uit persoonlike ondervinding geweet dat Jehovah sy Helper is. Byvoorbeeld, meer as twee jaar voordat Paulus sy brief aan die Hebreërs geskryf het, het hy ’n gevaarlike storm op see oorleef (Hand. 27:4, 15, 20). Gedurende daardie reis en die jare voor dit, het Jehovah bewys dat hy Paulus se Helper op verskillende maniere is. Ons gaan drie van hierdie maniere bespreek. Jehovah het hom gehelp deur middel van Jesus en die engele, persone wat gesag het en sy broers en susters. Deur na hierdie gebeure in Paulus se lewe te kyk, sal dit ons vertroue in God se belofte versterk dat Hy ook ons gebede sal beantwoord wanneer ons hom vra om ons te help.

HULP VAN JESUS EN DIE ENGELE

3. Waaroor het Paulus dalk gewonder, en hoekom?

3 Paulus het hulp nodig gehad. In omtrent 56 HJ, het ’n groot groep mense hom uit die tempel in Jerusalem gesleep en hom probeer doodmaak. Die volgende dag toe hulle Paulus voor die Sanhedrin gebring het, was hy amper deur sy vyande verskeur (Hand. 21:30-32; 22:30; 23:6-10). Op daardie stadium het Paulus dalk gewonder: ‘Hoe lank kan ek nog hierdie mishandeling hanteer?’

4. Hoe het Jehovah Paulus deur middel van Jesus gehelp?

4 Hoe is Paulus gehelp? Die aand nadat Paulus gearresteer is, het “die Here”, Jesus, by hom gestaan en gesê: “Moenie moed verloor nie! Want net soos jy in Jerusalem deeglik oor my getuig het, so moet jy ook in Rome getuig” (Hand. 23:11). Hierdie aanmoediging was net op die regte tyd! Jesus het Paulus geprys vir die getuienis wat hy in Jerusalem gegee het. En hy het belowe dat Paulus veilig in Rome sou aankom, waar hy verder sou getuig. Nadat Paulus hierdie versekering gekry het, moes hy sekerlik so veilig soos ’n kind in sy pa se arms gevoel het.

Gedurende ’n gevaarlike storm op see verseker ’n engel Paulus dat almal wat op die boot is, die gevaarlike reis sal oorleef (Sien paragraaf 5)

5. Hoe het Jehovah Paulus deur middel van ’n engel gehelp? (Sien prent op voorblad.)

5 Watter ander probleme het Paulus gehad? Omtrent twee jaar ná hierdie gebeure in Jerusalem was Paulus op ’n boot wat op pad was na Italië, toe daar ’n groot storm was. Die storm was so erg dat almal op die boot gedink het dat hulle sou sterf. Maar Paulus was nie bang nie. Hoekom nie? Hy het vir dié op die boot gesê: “Gisteraand het ’n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek heilige diens doen, by my gestaan en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet voor die keiser staan, en kyk! ter wille van jou spaar God almal wat saam met jou seil.’” Jehovah het ’n engel gebruik om Paulus weer die versekering te gee wat hy hom vroeër deur middel van Jesus gegee het. En Paulus het beslis in Rome aangekom. – Hand. 27:20-25; 28:16.

6. Watter belofte van Jesus kan ons versterk, en hoekom?

6 Watter hulp kry ons? Jesus sal ons ondersteun, net soos hy Paulus ondersteun het. Byvoorbeeld, Jesus het vir almal belowe wat hom volg: “Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” (Matt. 28:20). Hierdie woorde van Jesus kan ons versterk. Hoekom? Omdat party dae vir ons moeilik is om deur te kom. Byvoorbeeld, wanneer iemand vir wie ons lief is, sterf, voel ons nie net daardie pyn vir ’n paar dae nie, maar waarskynlik vir baie jare. Ander sukkel dalk met die moeilike dae wat saam met die ouderdom kom. En ander het dalk baie moeilike dae omdat hulle depressief is. Maar ons het nog steeds die krag om aan te gaan omdat ons weet dat Jesus “al die dae” met ons is, insluitende die moeilikste dae van ons lewe. – Matt. 11:28-30.

Engele ondersteun en help ons wanneer ons preek (Sien paragraaf 7)

7. Hoe help Jehovah ons vandag, volgens Openbaring 14:6?

7 God se Woord verseker ons dat Jehovah ons deur middel van sy engele help (Heb. 1:7, 14). Byvoorbeeld, die engele ondersteun ons en gee vir ons leiding wanneer ons die “goeie nuus van die Koninkryk” aan mense van “elke nasie en stam en taal” verkondig. – Matt. 24:13, 14; lees Openbaring 14:6.

HULP VAN PERSONE WAT GESAG HET

8. Hoe het Jehovah Paulus deur middel van ’n militêre bevelvoerder gehelp?

8 Hoe is Paulus gehelp? In 56 HJ het Jesus Paulus verseker dat hy in Rome sou aankom. Maar party Jode in Jerusalem het beplan om Paulus aan te val en dood te maak. Toe die Romeinse militêre bevelvoerder Claudius Lisias hiervan hoor, het hy Paulus gered. Claudius het vinnig ’n groot groep soldate beveel om Paulus te beskerm en hom na Sesarea te vat, langs ’n roete wat omtrent 105 km van Jerusalem was. In Sesarea het goewerneur Feliks beveel dat Paulus “in Herodes se paleis bewaak word”. Paulus was ver weg van die Jode wat hom wou doodmaak. – Hand. 23:12-35.

9. Hoe het goewerneur Festus Paulus gehelp?

9 Twee jaar later was Paulus nog steeds in die tronk in Sesarea. Festus het Feliks vervang en hy was nou die nuwe goewerneur. Die Jode het Festus gesmeek dat Paulus na Jerusalem moet kom om daar verhoor te word. Maar Festus het geweier. Dalk het die goewerneur geweet dat die Jode “beplan om Paulus langs die pad voor te lê en hom dood te maak”. – Hand. 24:27–25:5.

10. Wat het goewerneur Festus gedoen toe Paulus gevra het om deur die keiser verhoor te word?

10 Later is Paulus se verhoor in Sesarea gehou. Omdat Festus “die Jode se goedkeuring wou hê”, het hy Paulus gevra: “Wil jy Jerusalem toe gaan en daar voor my oor hierdie dinge geoordeel word?” Paulus het geweet dat hy heel moontlik doodgemaak sou word in Jerusalem. En hy het ook geweet wat hy kon doen om sy lewe te red, om by Rome uit te kom en om aan te hou met sy bediening. Hy het gesê: “Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!” Nadat Festus met sy raadgewers gepraat het, het hy vir Paulus gesê: “Jy wil hê dat die keiser jou saak moet verhoor – na die keiser sal jy gaan.” Festus se besluit het Paulus van sy vyande gered. Paulus sou binnekort in Rome wees – ver weg van die Jode wat hom wou doodmaak. – Hand. 25:6-12.

11. Aan watter gerusstellende woorde wat deur Jesaja geskryf is, het Paulus dalk gedink?

11 Terwyl Paulus gewag het om na Italië te gaan, het hy dalk gedink aan ’n waarskuwing wat die profeet Jesaja aan mense gegee het wat Jehovah teëgestaan het. Jehovah het vir Jesaja gesê om te skryf: “Beraam ’n plan, maar dit sal misluk! Sê wat julle wil, maar dit sal nie suksesvol wees nie, want God is met ons!” (Jes. 8:10). Paulus het geweet dat God hom sou help, en dit moes hom die krag gegee het om die probleme wat hy in die toekoms sou hê, te hanteer.

In die verlede het Jehovah mense met gesag gebruik om sy knegte te beskerm. Vandag kan hy dieselfde doen (Sien paragraaf 12)

12. Hoe het Julius Paulus behandel, en wat het Paulus dalk besef?

12 In 58 HJ het Paulus sy reis na Italië begin. Omdat Paulus ’n gevangene was, was hy onder die gesag van ’n Romeinse militêre offisier met die naam Julius. Van daardie oomblik af het Julius die mag gehad om Paulus se lewe moeilik te maak of om dit ’n bietjie makliker te maak. Hoe sou hy sy gesag gebruik? Die volgende dag toe hulle by hulle eerste stop aangekom het, het “Julius . . . Paulus goed behandel en hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan”. Later het Julius selfs Paulus se lewe gered. Hoe? Die soldate wou al die gevangenes wat op die boot was, doodmaak, maar Julius het hulle gekeer. Hoekom? Hy “was vasbeslote om Paulus veilig oor te bring”. Paulus het heel moontlik besef dat Jehovah hierdie goeie offisier gebruik het om hom te help en te beskerm. – Hand. 27:1-3, 42-44.

Sien paragraaf 13

13. Hoe gebruik Jehovah dalk mense wat gesag het?

13 Watter hulp kry ons? As dit ooreenstem met Jehovah se voorneme kan hy sy kragtige heilige gees gebruik om mense wat gesag het, te laat doen wat hy wil hê hulle moet doen. Koning Salomo het geskryf: “’n Koning se hart is soos waterstrome in Jehovah se hand. Hy lei dit waarheen Hy wil” (Spr. 21:1). Wat beteken hierdie spreuke? Mense kan ’n kanaal grawe om die water in ’n stroom in ’n rigting te laat vloei waarheen hulle wil hê dit moet vloei. Net so kan Jehovah sy gees gebruik om die gedagtes van heersers te beïnvloed sodat hulle dinge kan doen wat ooreenstem met sy wil. Wanneer dit gebeur, voel mense wat gesag het gemotiveerd om besluite te maak wat tot voordeel is van God se volk. – Vergelyk Esra 7:21, 25, 26.

14. Vir wie kan ons bid, volgens Handelinge 12:5?

14 Wat kan ons doen? Ons kan “vir konings en almal wat ’n hoë posisie het,” bid wanneer hierdie persone besluite moet maak wat ons Christelike lewe en bediening beïnvloed (1 Tim. 2:1, 2, vtn.; Neh. 1:11). Net soos die eerste-eeuse Christene gebid het, kan ons ook intens tot God bid vir ons broers en susters wat in die tronk is. (Lees Handelinge 12:5; Heb. 13:3.) Ons kan ook vir tronkbewaarders bid wat in beheer is van ons broers en susters. Ons kan Jehovah smeek om die gedagtes van hierdie persone te beïnvloed sodat hulle beweeg kan word om soos Julius op te tree en ons broers en susters wat in die tronk is “met mensliewendheid” te behandel. – Hand. 27:3, vtn.

HULP VAN BROERS EN SUSTERS

15-16. Hoe het Jehovah Aristargus en Lukas gebruik om Paulus te help?

15 Hoe is Paulus gehelp? Toe Paulus na Rome gegaan het, het Jehovah dikwels broers en susters gebruik om hom te help. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

16 Twee getroue vriende van Paulus, Aristargus en Lukas, het besluit om saam met hom na Rome toe te gaan. * Hulle het hulle lewens in gevaar gestel om saam met Paulus te wees, alhoewel dit nie lyk of hulle ’n persoonlike versekering van Jesus gekry het dat hulle in Rome sou aankom nie. Dit is eers later, gedurende die gevaarlike seestorm, dat hulle uitgevind het dat hulle lewens gered sou word. Daarom, toe Aristargus en Lukas op die boot in Sesarea geklim het, moes Paulus sekerlik tot Jehovah gebid het om vir hom dankie te sê vir die hulp wat hy hom gegee het deur middel van hierdie twee moedige broers. – Hand. 27:1, 2, 20-25.

17. Hoe het Jehovah broers en susters gebruik om Paulus te help?

17 Paulus was baie keer gedurende sy reis deur broers en susters gehelp. Byvoorbeeld, in die hawestad Sidon het Julius Paulus toegelaat “om na sy vriende toe te gaan sodat hulle vir hom kan sorg”. En later in Puteoli het Paulus en sy vriende “broers gevind, wat aangedring het dat [hulle] sewe dae by hulle bly”. Terwyl die Christene in hierdie plekke vir Paulus en sy vriende gesorg het, het Paulus hulle harte sekerlik baie bly gemaak deur opbouende ondervindinge te vertel. (Vergelyk Handelinge 15:2, 3.) Ná daardie opbouende besoek het Paulus en sy vriende hulle reis voortgesit. – Hand. 27:3; 28:13, 14.

Net soos Paulus, ontvang ons Jehovah se hulp deur middel van ons broers en susters (Sien paragraaf 18)

18. Hoekom het Paulus God gedank en nuwe moed gekry?

18 Terwyl Paulus na Rome gestap het, het hy seker gedink aan wat hy drie jaar vroeër aan die gemeente in daardie stad geskryf het: “Ek wil al baie jare lank na julle toe kom” (Rom. 15:23). Maar hy het nie gedink dat hy as ’n gevangene daar sou aankom nie. Hoe aanmoedigend moes dit tog gewees het toe hy sien dat broers van Rome langs die pad wag om hom te groet! “Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en nuwe moed gekry” (Hand. 28:15). Let op dat Paulus God gedank het dat sy broers daar was. Hoekom? Want Paulus het weer gesien hoe Jehovah sy broers en susters gebruik het om hom te help.

Sien paragraaf 19

19. Hoe kan Jehovah volgens 1 Petrus 4:10 ons gebruik om dié te help wat hulp nodig het?

19 Wat kan ons doen? Weet jy van broers of susters in jou gemeente wat deur moeilike tye gaan omdat hulle siek is of ander probleme het? Of miskien het iemand vir wie hulle lief is, gesterf. As ons bewus word van iemand wat hulp nodig het, kan ons Jehovah vra om ons te help om liefdevolle woorde te gebruik of om iets goeds te doen. Dit wat ons sê en doen, is dalk net die aanmoediging wat ons broer of suster nodig het. (Lees 1 Petrus 4:10.) * As ons hulle help, sal hulle dalk weer Jehovah se belofte glo: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” Sal dit jou nie baie bly maak nie?

20. Hoekom kan ons met vertroue sê: “Jehovah is my helper”?

20 Net soos Paulus en sy vriende gaan ons ook deur gevaarlike storms in ons reis deur die lewe. Maar terselfdertyd weet ons dat ons ook moedig kan wees omdat Jehovah met ons is. Hy gebruik Jesus en die engele om ons te help. En Jehovah kan ook mense wat gesag het, gebruik om ons te help, as dit ooreenstem met sy wil. En soos baie van ons al persoonlik ondervind het, gebruik Jehovah sy heilige gees om die harte van sy knegte te beweeg om hulle broers en susters te help. Daarom het ons, net soos Paulus, goeie rede om met vertroue te sê: “Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?” – Heb. 13:6.

LIED 38 Hy maak jou sterk

^ par. 5 Hierdie artikel gaan drie maniere bespreek hoe Jehovah die apostel Paulus gehelp het om moeilike probleme te hanteer. Ons gaan kyk hoe Jehovah sy knegte in die verlede gehelp het. Dit sal ons vertroue versterk dat Jehovah ons vandag ook sal help terwyl ons deur die storms van die lewe gaan.

^ par. 16 Aristargus en Lukas het voorheen saam met Paulus gereis. Hierdie getroue manne het ook saam met Paulus gebly toe hy in Rome in die tronk was. – Hand. 16:10-12; 20:4; Kol. 4:10, 14.