Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 47

Sal jy aanhou om veranderinge te maak?

Sal jy aanhou om veranderinge te maak?

“Laastens, broers, hou aan om vreugdevol te wees, om julle te laat reghelp.” – 2 KOR. 13:11.

LIED 54 “Dit is die weg”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom kan ons sê dat ons op ’n reis is, volgens Matteus 7:13, 14?

 ONS almal is op ’n reis. Ons bestemming of, doelwit, is om in die nuwe wêreld onder Jehovah se liefdevolle heerskappy te lewe. Elke dag probeer ons om op die pad wat na die lewe lei, te bly. Maar soos Jesus gesê het, is daardie pad smal en soms moeilik om op te bly. (Lees Matteus 7:13, 14.) Ons is onvolmaak en dit is vir ons maklik om van hierdie pad af te dwaal. – Gal. 6:1.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Sien ook die venster “ Nederigheid help ons om veranderinge te maak”.)

2 As ons op die smal pad wil bly wat na die lewe lei, moet ons bereid wees om ons denke, gesindheid en dade te verander. Die apostel Paulus het Christene wat in Korinte gebly het, aangemoedig om aan te hou om hulle “te laat reghelp” (2 Kor. 13:11). Hierdie raad is ook op ons van toepassing. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe die Bybel ons kan help om veranderinge te maak en hoe vriende wat sterk in die waarheid is, ons kan help om op die pad na die lewe te bly. Ons sal ook bespreek wanneer dit dalk moeilik kan wees om die riglyne van Jehovah se organisasie te volg. Ons sal sien hoe nederigheid ons kan help om veranderinge te maak sonder om ons vreugde in Jehovah se diens te verloor.

LAAT GOD SE WOORD TOE OM JOU REG TE HELP

3. Hoe kan God se Woord jou help?

3 Dit is nie maklik om ons eie gedagtes en gevoelens te ondersoek nie. Hoekom nie? Ons hart is bedrieglik, en daarom kan dit vir ons moeilik wees om te weet wat dit ons sal motiveer om te doen (Jer. 17:9). Dit is maklik om onsself te bedrieg met “valse redenasies” (Jak. 1:22). So ons moet God se Woord gebruik om onsself te ondersoek. God se Woord wys watter soort persoon ons regtig is; dit wys wat die diepste “gedagtes en bedoelings” van ons hart is (Heb. 4:12, 13). In ’n sekere sin is God se Woord soos ’n X-straalmasjien, wat ons help om te sien wat binne in ons aangaan. Maar ons moet nederig wees sodat ons die raad kan toepas wat ons uit die Bybel of van God se verteenwoordigers kry.

4. Wat wys dat koning Saul ’n trotse man geword het?

4 Die voorbeeld van koning Saul wys wat kan gebeur wanneer ons nie nederig is nie. Saul het so trots geword dat hy nie wou erken dat hy sy denke en dade moes verander nie, nie eers aan homself nie (Ps. 36:1, 2; Hab. 2:4). Dit het duidelik geword toe Jehovah vir Saul spesifieke instruksies gegee het oor wat hy moes doen nadat hy die Amalekiete verslaan het. Maar Saul was nie gehoorsaam aan Jehovah nie. En toe die profeet Samuel met hom oor die saak gepraat het, het Saul nie sy fout erken nie. Hy het eerder gesê dat dit nie ’n ernstige saak was nie en dat die volk hom geforseer het om dit te doen (1 Sam. 15:13-24). Saul het vroeër iets soortgelyks gedoen (1 Sam. 13:10-14). Ongelukkig het hy toegelaat dat sy hart trots word. Hy het nie sy denke verander nie, so Jehovah het hom tereggewys en verwerp.

5. Wat kan ons uit Saul se voorbeeld leer?

5 As ons uit Saul se voorbeeld wil leer, sal dit goed wees as ons ons die volgende vrae afvra: ‘Wanneer ek raad in God se Woord lees, soek ek na verskonings om dit nie toe te pas nie? Dink ek dat wat ek doen, nie so erg is nie? Blameer ek ander vir dit wat ek doen?’ As ons antwoord op enige van hierdie vrae ja is, moet ons ons denke en gesindheid verander. Anders kan ons hart so trots word dat Jehovah ons nie meer as sy vriende wil hê nie. – Jak. 4:6.

6. Beskryf die verskil tussen koning Saul en koning Dawid.

6 Kyk na die verskil tussen koning Saul en sy opvolger, koning Dawid, ’n man wat lief was vir “die wet van Jehovah” (Ps. 1:1-3). Dawid het geweet dat Jehovah nederige persone red, maar dat hy trotse persone teëstaan (2 Sam. 22:28). So Dawid het toegelaat dat God se wet sy denke verander. Hy het geskryf: “Ek sal Jehovah loof, wat vir my raad gegee het. Selfs in die nag wys my diepste gedagtes my tereg.” – Ps. 16:7.

GOD SE WOORD

God se Woord waarsku ons wanneer ons van die pad afdwaal. As ons nederig is, sal ons God se Woord toelaat om ons denke reg te stel (Sien paragraaf 7)

7. Wat sal ons doen as ons nederig is?

7 As ons nederig is, sal ons toelaat dat God se Woord ons verkeerde denke regstel voordat dit ons verkeerde dinge laat doen. God se Woord sal soos ’n stem wees wat vir ons sê: “Dit is die weg. Volg dit.” Dit sal ons waarsku wanneer ons van die pad afdwaal – as ons links of regs gaan (Jes. 30:21). As ons na Jehovah luister, sal dit ons op verskillende maniere help (Jes. 48:17). Byvoorbeeld, ons sal nie in die verleentheid gebring word omdat iemand anders ons raad moes gee nie. En ons sal nader aan Jehovah kom omdat ons besef dat hy ons soos ’n geliefde kind behandel. – Heb. 12:7.

8. Hoe kan ons God se Woord volgens Jakobus 1:22-25 as ’n spieël gebruik?

8 God se Woord kan soos ’n spieël vir ons wees. (Lees Jakobus 1:22-25.) Die meeste van ons kyk elke oggend in die spieël voordat ons die huis verlaat. Op hierdie manier kan ons sien of ons veranderinge moet maak voordat ander ons sien. Net so, wanneer ons die Bybel elke dag lees, sal ons maniere sien hoe ons ons denke en gesindheid kan verander. Baie mense het gesien dat dit hulle help as hulle die dagteks elke oggend lees voordat hulle uit die huis uit gaan. Hulle laat toe dat wat hulle lees, hulle denke beïnvloed. Hulle soek dan vir maniere hoe hulle die raad uit God se Woord gedurende die dag kan toepas. Ons moet ook ’n studieroetine hê wat insluit dat ons God se Woord elke dag lees en daaroor nadink. Dit klink dalk eenvoudig, maar dit is een van die belangrikste dinge wat ons kan doen wat ons sal help om op die smal pad te bly wat na die lewe lei.

LUISTER NA VRIENDE WAT STERK IN DIE WAARHEID IS

VRIENDE WAT STERK IN DIE WAARHEID IS

’n Broer of suster wat sterk in die waarheid is, gee ons dalk ’n liefdevolle waarskuwing. Is ons bly dat ons vriend die moed gehad het om iets te sê? (Sien paragraaf 9)

9. Wanneer moet ’n vriend jou dalk reghelp?

9 Het jy al ooit op ’n pad begin loop wat besig was om jou van Jehovah af weg te lei? (Ps. 73:2, 3). As ’n vriend wat sterk in die waarheid is die moed gehad het om jou reg te help, het jy na hom geluister en sy raad toegepas? As jy dit gedoen het, het jy die regte ding gedoen en jy is seker baie bly dat jou vriend jou gewaarsku het. – Spr. 1:5.

10. Hoe moet jy reageer as ’n vriend jou reghelp?

10 God se Woord herinner ons: “Al maak ’n vriend se teregwysing seer, bewys dit sy getrouheid” (Spr. 27:6). Hoe is hierdie woorde waar? Dink aan hierdie illustrasie: Stel jou voor dat jy besig is om te wag om oor ’n besige straat te loop en jou aandag word afgetrek deur jou selfoon. Jy begin loop sonder om te kyk. Dadelik gryp ’n vriend jou arm en trek jou terug op die sypaadjie. Sy hand is so styf om jou arm dat dit jou arm seermaak, maar omdat hy so vinnig opgetree het, keer hy dat ’n kar jou stamp. Selfs al is jou arm nog ’n paar dae daarna seer, sal jy kwaad wees dat jou vriend jou gegryp het? Beslis nie! Jy sal baie bly wees omdat hy jou gehelp het. Net so, as ’n vriend jou dalk waarsku dat wat jy sê of doen nie met God se regverdige standaarde ooreenstem nie, voel jy dalk aan die begin seergemaak. Maar moenie kwaad wees omdat hy jou raad gegee het nie. Dit sal dwaas wees (Pred. 7:9). Wees eerder bly dat jou vriend die moed gehad het om iets te sê.

11. Wat kan veroorsaak dat iemand nie na ’n vriend se goeie raad luister nie?

11 Wat kan veroorsaak dat iemand nie na goeie raad van ’n liefdevolle vriend luister nie? Trots. Trotse mense hou daarvan om dinge te hoor “wat hulle graag wil hoor”. Hulle luister nie “na die waarheid . . . nie” (2 Tim. 4:3, 4). Hulle dink dat hulle nie raad nodig het nie omdat hulle dink dat hulle wyser of belangriker as ander is. Maar die apostel Paulus het geskryf: “As iemand dink dat hy iets is terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself” (Gal. 6:3). Koning Salomo het dit op hierdie manier verduidelik. Hy het geskryf: “’n Arm maar wyse kind is beter as ’n ou maar dwase koning, wat nie meer genoeg verstand het om na ’n waarskuwing te luister nie.” – Pred. 4:13.

12. Wat leer ons uit die voorbeeld wat die apostel Petrus gestel het, soos dit in Galasiërs 2:11-14 opgeteken is?

12 Kyk na die voorbeeld wat die apostel Petrus gestel het toe Paulus hom voor ander reggehelp het. (Lees Galasiërs 2:11-14.) Petrus kon kwaad gewees het oor wat Paulus gesê het. Hy kon gefokus het op hoe hy dit gesê het en waar hy dit gesê het. Maar Petrus was wys. Hy het die raad aanvaar en hy het nie kwaad geword of bly dink aan wat Paulus gedoen het nie. Hy het eerder later na Paulus verwys as ’n “geliefde broer”. – 2 Pet. 3:15.

13. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons iemand raad gee?

13 Wat moet jy in gedagte hou as jy ooit voel dat jy ’n vriend moet raad gee? Voordat jy na jou vriend toe gaan, vra jou af: ‘Is ek “alte regverdig”?’ (Pred. 7:16). ’n Persoon wat alte regverdig is, oordeel ander, nie volgens Jehovah se standaarde nie, maar volgens sy eie en hy is heel moontlik nie baie genadig nie. As jy voel dat jy nog steeds met jou vriend moet praat nadat jy mooi daaroor gedink het, sê vir hom wat die probleem is en gebruik vrae om hom te help om te verstaan wat hy verkeerd gedoen het. Maak seker dat wat jy sê, op die Bybel gebaseer is en onthou dat dit nie jou verantwoordelikheid is om jou vriend te oordeel nie, maar om hom te help om te verstaan hoe Jehovah voel oor wat hy doen (Rom. 14:10). Vertrou op die wysheid wat in God se Woord is en volg Jesus se meegevoel na wanneer jy iemand raad gee (Spr. 3:5; Matt. 12:20). Hoekom? Omdat Jehovah ons op dieselfde manier sal behandel as wat ons ander behandel. – Jak. 2:13.

VOLG DIE RIGLYNE WAT DEUR GOD SE ORGANISASIE GEGEE WORD

GOD SE ORGANISASIE

God se organisasie gee vir ons publikasies, video’s en vergaderinge wat ons help om die raad in God se Woord toe te pas. Soms maak die Bestuursliggaam veranderinge in hoe die werk georganiseer word (Sien paragraaf 14)

14. Wat gee God se organisasie ons?

14 Jehovah help ons om op die pad te bly wat na die lewe lei deur middel van die aardse deel van sy organisasie, wat vir ons video’s, publikasies en vergaderinge gee wat ons almal help om die raad in God se Woord toe te pas. Hierdie inligting is betroubaar omdat dit op die Bybel gebaseer is. Wanneer die Bestuursliggaam besluite maak oor wat die beste manier is om die predikingswerk te doen, vertrou hulle op die heilige gees om hulle te help. Maar die Bestuursliggaam hersien nog steeds gereeld die besluite wat hulle gemaak het oor hoe die werk georganiseer word. Hoekom? Omdat “die toneel van hierdie wêreld . . . besig [is] om te verander”, en God se organisasie moet aanpas by nuwe omstandighede. – 1 Kor. 7:31.

15. Watter uitdaging het party verkondigers gehad?

15 Wanneer God se organisasie ons nuwe verduidelikings oor Bybelleringe of riglyne oor sedelike standaarde gee, aanvaar ons dit en pas ons dit toe. Maar hoe reageer ons wanneer God se organisasie ’n verandering maak wat ander dele van ons lewe affekteer? Byvoorbeeld, in onlangse jare het dit baie duur geword om plekke van aanbidding te bou en in stand te hou. So die Bestuursliggaam het besluit dat soveel gemeentes as moontlik dieselfde Koninkryksaal moet gebruik. As gevolg van hierdie verandering het gemeentes saamgesmelt en is party Koninkryksale verkoop. Die geld word gebruik om Koninkryksale te bou in gebiede wat dit die meeste nodig het. As jy in ’n gebied bly waar Koninkryksale verkoop word en gemeentes saamsmelt, vind jy dit dalk moeilik om aan te pas by die nuwe omstandighede. Party verkondigers moet nou verder gaan om ’n vergadering by te woon. Ander wat hard gewerk het om ’n Koninkryksaal te bou of in stand te hou, wonder dalk hoekom dit nou verkoop moet word. Hulle voel dalk dat hulle hulle tyd en energie gemors het. Maar hulle werk nog steeds saam met hierdie nuwe reëling en hulle moet geprys word.

16. Hoe sal dit ons help om vreugdevol te bly as ons die raad in Kolossense 3:23, 24 toepas?

16 Ons sal vreugdevol bly as ons onthou dat ons vir Jehovah werk en dat hy sy organisasie lei. (Lees Kolossense 3:23, 24.) Koning Dawid het ’n goeie voorbeeld gestel toe hy geld gegee het om die tempel te bou. Hy het gesê: “Wie is ek en wie is my volk, dat ons die voorreg kan hê om sulke vrywillige bydraes te gee? Want alles kom van u, en ons het aan u teruggegee wat ons uit u hand ontvang het” (1 Kron. 29:14). Wanneer ons geld bydra, gee ons ook aan Jehovah wat ons uit sy hand ontvang het. Maar Jehovah waardeer nog steeds die tyd, energie en middele wat ons bydra om die werk te ondersteun wat hy gedoen wil hê. – 2 Kor. 9:7.

BLY OP DIE SMAL PAD

17. Hoekom moet ons nie mismoedig wees as ons veranderinge moet maak nie?

17 Om op die smal pad te bly wat na die lewe lei, moet ons almal Jesus se voorbeeld navolg (1 Pet. 2:21). As jy sien dat jy veranderinge moet maak, moet jy nie mismoedig wees nie. Dit kan dalk ’n goeie teken wees. As jy besef dat jy veranderinge moet maak, wys dit dat jy Jehovah se riglyne wil volg. Onthou dat Jehovah nie verwag dat ons – so onvolmaak soos ons is – Jesus se voorbeeld volmaak moet navolg nie.

18. Wat moet ons doen om ons doelwit te bereik?

18 Mag ons almal op die toekoms fokus en bereid wees om ons denke, gesindheid en dade te verander (Spr. 4:25; Luk. 9:62). Laat ons nederig bly en ‘aanhou om vreugdevol te wees en ons te laat reghelp’ (2 Kor. 13:11). As ons dit doen, “sal die God van liefde en vrede met [ons] wees”. En ons sal nie net ons bestemming bereik nie, maar ons sal ook die reis geniet.

LIED 34 Ek sal lojaal bly

^ par. 5 Dit is dalk vir party van ons moeilik om veranderinge in ons denke, gesindheid en dade te maak. Hierdie artikel sal verduidelik hoekom ons almal veranderinge moet maak en hoe ons gelukkig kan bly terwyl ons dit doen.

^ par. 76 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl die jonger broer vertel wat met hom gebeur het nadat hy ’n slegte besluit gemaak het, luister die ouer broer (regs) geduldig om te kyk of hy hom raad moet gee.