Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 48

“Kyk reguit vorentoe” na die toekoms

“Kyk reguit vorentoe” na die toekoms

“Kyk reguit vorentoe. Ja, hou jou oë gefokus op wat voor jou is.” – SPR. 4:25.

LIED 77 Lig in ’n donker wêreld

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe kan ons die raad in Spreuke 4:25 volg? Gee ’n voorbeeld.

 DINK aan die volgende scenario’s. ’n Ouer Christensuster dink aan die goeie tye wat sy in die verlede gehad het. Selfs al is haar lewe nou moeiliker, hou sy aan om alles te doen wat sy kan vir Jehovah (1 Kor. 15:58). Elke dag dink sy aan hoe sy en haar geliefdes saam in die beloofde nuwe wêreld gaan bly. Nog ’n suster onthou dat iemand in die gemeente haar seergemaak het, maar sy kies om nie kwaad te bly nie (Kol. 3:13). ’n Broer is bewus van die foute wat hy in die verlede gemaak het, maar hy fokus daarop om van nou af getrou te bly. – Ps. 51:10.

2 Wat omtrent hierdie drie Christene is dieselfde? Hulle almal onthou wat in hulle verlede gebeur het, maar hulle lewe nie in die verlede nie. Hulle kyk eerder “reguit vorentoe” na die toekoms. – Lees Spreuke 4:25.

3. Hoekom moet ons ‘reguit vorentoe kyk’ na die toekoms?

3 Hoekom is dit belangrik om ‘reguit vorentoe te kyk’ na die toekoms? Net soos ’n persoon nie in ’n reguit lyn kan loop as hy heeltyd terugkyk nie, kan ons nie vorentoe beweeg in ons diens aan Jehovah as ons heeltyd terugkyk in ons verlede nie. – Luk. 9:62.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel sal ons drie dinge bespreek wat kan veroorsaak dat ons in die verlede lewe. * Dit is: (1) om te wens dat ons lewe nou moet wees soos dit in die verlede was, (2) om kwaad te bly en (3) om vas te hou aan skuldgevoelens. In elke geval gaan ons sien hoe Bybelbeginsels ons kan help om nie te fokus op “die dinge wat agter is” nie, maar om te fokus op “die dinge wat voor is”. – Fil. 3:13.

MOENIE IN DIE VERLEDE LEWE NIE

Wat kan keer dat ons reguit vorentoe na die toekoms kyk? (Sien paragraaf 5, 9, 13) *

5. Waarteen waarsku Prediker 7:10 ons?

5 Lees Prediker 7:10. Let op dat die vers nie sê dat dit verkeerd is om te vra: “Hoekom was die vroeëre dae goed?” nie. Goeie herinneringe is ’n geskenk van Jehovah. Die vers sê eerder: “Moenie vra: ‘Hoekom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie.” Met ander woorde, die probleem is om ons vroeëre omstandighede te vergelyk met ons omstandighede nou en dan te dink dat alles nou slegter is. Nog ’n Bybelvertaling vertaal hierdie vers so: “Moet nooit vra: ‘O, hoekom was dinge in die verlede soveel beter?’ nie. Dit is nie ’n wyse vraag nie.”

Watter fout het die Israeliete gemaak nadat hulle Egipte verlaat het? (Sien paragraaf 6)

6. Hoekom is dit onwys om aan te hou dink dat ons lewe in die verlede beter was? Gee ’n voorbeeld.

6 Hoekom is dit onwys om aan te hou dink dat ons lewe in die verlede beter was? As ons wens dat ons lewe nou moet wees soos dit in die verlede was, onthou ons gewoonlik net die goeie dinge van die verlede en vergeet ons die slegte dinge wat gebeur het. Dink aan die voorbeeld van die Israeliete. Nadat hulle Egipte verlaat het, het hulle vinnig vergeet hoe moeilik die lewe daar was. Hulle het eerder gefokus op die lekker kos wat hulle geniet het. Hulle het gesê: “Ons verlang so na die vis wat ons verniet in Egipte geëet het, en na die komkommers, die waatlemoene, die preie, die uie en die knoffel!” (Num. 11:5). Maar het hulle hierdie kos regtig “verniet” geëet? Nee. Die Israeliete het ’n duur prys betaal; gedurende daardie tyd was hulle erg onderdruk as slawe in Egipte (Eks. 1:13, 14; 3:6-9). Maar hulle het later vergeet van hierdie moeilike tye en het terugverlang na die verlede. Hulle het gekies om te fokus op “die goeie ou dae” in plaas daarvan om te fokus op die positiewe dinge wat Jehovah nou net vir hulle gedoen het. Jehovah was nie gelukkig met hulle gesindheid nie. – Num. 11:10.

7. Wat het ’n suster gehelp om nie aan te hou dink dat haar lewe beter in die verlede was nie?

7 Wat kan ons help om nie aan te hou dink dat ons lewe in die verlede beter was nie? Dink aan die voorbeeld van ’n suster wat in 1945 by die Brooklynse Bethel begin dien het. ’n Paar jaar later het sy met ’n broer by Bethel getrou, en saam het hulle daar vir baie jare gedien. Maar in 1976 het haar man siek geword. Sy sê dat toe hy besef het dat sy dood naby is, het hy vir haar goeie raad gegee wat haar sou help ná sy dood. Hy het vir haar gesê: “Ons het ’n gelukkige huwelik gehad. Daar is baie mense wat dit nooit ervaar nie.” Maar hy het haar ook aangemoedig: “Moenie in die verlede lewe nie—hoewel jy altyd jou herinneringe sal hê. Tyd sal help om jou smart te heel. Moenie verbitterd raak en jouself bejammer nie. Wees bly dat jy hierdie vreugdes en seëninge gehad het. . . . Herinneringe is God se gawe aan ons.” Stem jy nie saam dat dit goeie raad was nie?

8. Hoe het dit ons suster gehelp om nie in die verlede te lewe nie?

8 Ons suster het haar man se raad gevolg. Sy het Jehovah getrou gedien totdat sy op die ouderdom van 92 gesterf het. ’n Paar jaar vroeër het sy gesê: “Wanneer ek terugkyk oor 63 jaar in die voltydse diens van Jehovah, kan ek sê dat ek waarlik ’n bevredigende lewe gehad het.” Hoekom? Sy het verduidelik: “Wat die lewe werklik bevredigend maak, is ons wonderlike broederskap en die hoop om saam met ons broers en susters op ’n paradysaarde te woon, terwyl ons ons Grootse Skepper, die enigste ware God, Jehovah, tot in alle ewigheid dien.” * Wat ’n wonderlike voorbeeld van iemand wat reguit vorentoe gekyk het na die toekoms!

MOENIE VIR IEMAND KWAAD BLY NIE

9. Wanneer is dit dalk veral moeilik om iemand te vergewe wat ons kwaad gemaak het, volgens Levitikus 19:18?

9 Lees Levitikus 19:18. Dit is dikwels moeilik om iemand wat ons kwaad gemaak het, te vergewe as daardie persoon ’n broer of ’n suster, ’n goeie vriend of ’n familielid is. Byvoorbeeld, ’n suster het ’n ander suster in die gemeente daarvan beskuldig dat sy haar geld gesteel het, maar het later besef dat sy verkeerd was en het jammer gesê. Maar die suster wat sy beskuldig het, was baie kwaad en kon nie ophou dink aan wat gebeur het nie. Het jy al ooit so gevoel? Selfs al was ons nog nie in so ’n situasie nie, was die meeste van ons waarskynlik al kwaad en het ons gevoel dat ons die persoon wat ons kwaad gemaak het, nooit kan vergewe nie.

10. Wat kan ons help om iemand te vergewe wat ons kwaad gemaak het?

10 Wat kan ons help om iemand te vergewe wat ons kwaad gemaak het? Ons moet onthou dat Jehovah alles sien. Hy is bewus van alles waardeur ons gaan, insluitende wanneer ons onregverdig behandel word (Heb. 4:13). Hy voel sleg wanneer ons swaarkry (Jes. 63:9). En hy belowe dat hy enige pyn sal wegneem wat deur onregverdigheid veroorsaak is. – Op. 21:3, 4.

11. Hoe help dit ons wanneer ons ander vergewe?

11 Ons wil ook onthou dat wanneer ons ander vergewe, help ons onsself. Dit is wat die suster besef het wat verkeerdelik beskuldig was. Ná ’n tydjie kon sy die suster vergewe wat haar beskuldig het. Sy het besef dat wanneer ons ander vergewe, vergewe Jehovah ons (Matt. 6:14). Sy het geweet dat wat die ander suster gedoen het, verkeerd was, maar sy het gekies om nie kwaad te bly nie en om haar te vergewe. As gevolg hiervan was ons suster gelukkiger en kon sy fokus op haar diens aan Jehovah.

MOENIE VASHOU AAN SKULDGEVOELENS NIE

12. Wat leer ons uit 1 Johannes 3:19, 20?

12 Lees 1 Johannes 3:19, 20. Ons almal voel soms skuldig. Byvoorbeeld, party voel skuldig as gevolg van dinge wat hulle gedoen het voordat hulle die waarheid geleer het. Ander voel skuldig as gevolg van foute wat hulle gemaak het nadat hulle gedoop is. Sulke gevoelens is normaal (Rom. 3:23). Ons wil natuurlik doen wat reg is. Maar “ons almal struikel dikwels” (Jak. 3:2; Rom. 7:21-23). Alhoewel ons nie daarvan hou om skuldig te voel nie, kan dit soms goed wees. Hoekom? Omdat skuldgevoelens ons kan motiveer om veranderinge in ons lewe te maak en om vasbeslote te wees om nie weer dieselfde foute te maak nie. – Heb. 12:12, 13.

13. Hoekom moet ons nie vashou aan skuldgevoelens nie?

13 Aan die ander kant kan ons dalk vashou aan skuldgevoelens – met ander woorde ons kan aanhou om skuldig te voel selfs al het ons gewys dat ons jammer is en al het Jehovah gewys dat hy ons vergewe het. Daardie tipe skuldgevoelens kan sleg wees vir ons (Ps. 31:10; 38:3, 4). Hoe so? Dink aan die voorbeeld van ’n suster wat aangehou het om skuldig te voel oor haar sondes van die verlede. Sy het gesê: “Ek het gemeen dat dit nie sou help om my in Jehovah se diens in te span nie, aangesien dit vir my seker in elk geval te laat was.” Baie van ons voel dalk ook so. So ons moet versigtig wees om nie vas te hou aan skuldgevoelens nie. Hoekom? Want dink net hoe bly Satan sal wees as ons ophou om Jehovah te dien – selfs al het Jehovah ons vergewe. – Vergelyk 2 Korintiërs 2:5-7, 11.

14. Hoe kan ons seker wees dat Jehovah ons wil vergewe?

14 Maar ons wonder miskien nog steeds: ‘Hoe kan ek seker wees dat Jehovah my wil vergewe?’ As jy hierdie vraag vra, wys dit dat Jehovah jou kan vergewe. Baie jare gelede het Die Wagtoring gesê: “Ons vind dalk dat ons dikwels struikel en val oor die een of ander slegte gewoonte wat dieper in ons vorige lewenspatroon ingewortel is as wat ons besef het. . . . Moenie moed opgee nie. Moenie die gevolgtrekking maak dat u die onvergeeflike sonde gepleeg het nie. Dit is net soos Satan graag wil hê dat u moet redeneer. Die feit dat u gegrief en vir uself kwaad is, is op sigself bewys dat u nie te ver gegaan het nie. Moet nooit moeg word om u nederig en ernstig tot God te wend en sy vergifnis en reiniging en hulp te soek nie. Gaan na hom toe soos ’n kind na sy vader toe gaan as hy in die moeilikheid is, dit maak nie saak hoe dikwels oor dieselfde swakheid nie, en Jehovah sal genadiglik aan u die hulp gee weens sy onverdiende goedheid.” *

15-16. Hoe het party gevoel toe hulle besef het dat Jehovah hulle vergewe het?

15 Baie van Jehovah se knegte is vertroos toe hulle besef het dat Jehovah hulle vergewe het. Byvoorbeeld, ’n paar jaar gelede is een broer aangemoedig deur ’n ondervinding in die reeks “Die Bybel verander lewens”. In die artikel het ’n suster erken dat as gevolg van die slegte dinge wat in haar lewe gebeur het, dit vir haar moeilik was om te glo dat Jehovah vir haar kon lief wees. Sy het met hierdie gevoelens gesukkel selfs baie jare nadat sy gedoop is. Maar toe sy diep nagedink het oor die losprys, het sy dinge anders begin sien. *

16 Hoe het haar ondervinding die broer gehelp? Hy het geskryf: “Toe ek jonger was, was ek verslaaf aan pornografie. Ek het onlangs ’n terugslag gehad. Ek het Christenouermanne om hulp gevra, en ek het vordering gemaak om my probleem te oorkom. Die ouermanne het my van God se liefde en barmhartigheid verseker. En tog voel ek soms nog waardeloos, asof dit vir Jehovah onmoontlik is om my lief te hê. [Hierdie suster] se ondervinding het my werklik gehelp. Ek besef nou dat wanneer ek dink dat dit vir God onmoontlik is om my te vergewe, ek in werklikheid sê dat sy Seun se offerande nie voldoende is om my sonde te bedek nie. Ek het hierdie artikel uitgeknip sodat ek dit kan lees en daaroor kan peins wanneer gevoelens van waardeloosheid ook al by my opkom.”

17. Wat het die apostel Paulus gehelp om nie vas te hou aan skuldgevoelens nie?

17 Ondervindinge soos hierdie herinner ons aan die apostel Paulus. Voordat hy ’n Christen geword het, het hy ’n hele paar ernstige sondes gepleeg. Paulus het onthou wat hy gedoen het, maar hy het nie heeltyd daaraan gedink nie (1 Tim. 1:12-15). Hy het die losprys gesien as ’n persoonlike geskenk aan hom (Gal. 2:20). Dit het Paulus gehelp om nie aan skuldgevoelens vas te hou nie, maar om eerder daarop te fokus om Jehovah sy bes te gee.

LEWE VIR DIE TOEKOMS!

Laat ons vasbeslote wees om vir die toekoms te lewe (Sien paragraaf 18-19) *

18. Wat het ons in hierdie artikel geleer?

18 Wat het ons in hierdie artikel geleer? (1) Goeie herinneringe is ’n seën van Jehovah; maar dit maak nie saak hoe goed ons lewe in die verlede was nie, ons toekoms in die nuwe wêreld sal beter wees. (2) Ander sal ons dalk seermaak, maar wanneer ons kies om hulle te vergewe, kan ons aanbeweeg. (3) Om aan skuldgevoelens vas te hou, kan keer dat ons Jehovah met vreugde dien. So net soos Paulus moet ons glo dat Jehovah ons vergewe het.

19. Hoe weet ons dat ons in die nuwe wêreld nie die dinge sal onthou wat ons in die verlede hartseer gemaak het nie?

19 Ons het die hoop om vir ewig te lewe. En in God se nuwe wêreld sal ons nie die dinge onthou wat ons in die verlede hartseer gemaak het nie. Die Bybel sê oor daardie tyd: “Daar sal nie aan die vorige dinge gedink word nie” (Jes. 65:17). Dink net: Party van ons het oud geword in Jehovah se diens, maar in die nuwe wêreld sal ons weer jonk wees (Job 33:25). Laat ons dan vasbeslote wees om nie in die verlede te lewe nie. Laat ons eerder fokus op die nuwe wêreld en nou alles doen wat ons kan om daar uit te kom!

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

^ par. 5 Dit kan ’n goeie ding wees om ons verlede te onthou. Maar ons wil nie so gefokus word op ons verlede dat ons nie nou ons beste gee of vergeet wat in die toekoms sal gebeur nie. Hierdie artikel sal drie dinge bespreek wat kan veroorsaak dat ons in die verlede lewe. Ons sal Bybelbeginsels en voorbeelde in ons dag bespreek wat ons kan help om hierdie dinge te vermy.

^ par. 4 WAT DIT BETEKEN: In hierdie artikel beteken “om in die verlede te lewe” dat ons aanhou dink aan ons verlede. Ons praat heeltyd daaroor, ons herleef dit of ons dink dat ons lewe in die verlede beter was as wat dit nou is.

^ par. 8 Sien Die Wagtoring van 1 Julie 2004, bl. 23-29.

^ par. 14 Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1995, bl.11, par. 10.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: Om terug te verlang na die verlede, om kwaad te bly en om aan skuldgevoelens vas te hou, is soos swaar laste wat ons saam met ons trek en wat ons keer om vorentoe op die pad na die lewe te loop.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Nadat ons van hierdie laste ontslae geraak het, voel ons verlig en gelukkig en het ons weer nuwe krag. Dan kan ons weer vorentoe kyk.