Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 50

“Hoe gaan die dooies opgewek word?”

“Hoe gaan die dooies opgewek word?”

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” – 1 KOR. 15:55.

LIED 141 Die lewenswonderwerk

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoekom moet alle Christene belangstel in die hemelse opstanding?

DIE meeste mense wat Jehovah nou dien, het die hoop om vir ewig op die aarde te lewe. Maar ’n paar gesalfde Christene het die hoop om ’n hemelse opstanding te kry. Hierdie gesalfde persone wil baie graag weet hoe hulle lewe in die hemel sal wees. Maar hoekom moet persone wat die hoop het om op die aarde te lewe ook hierin belangstel? Soos ons sal sien, sal die hemelse opstanding ook seëninge bring aan dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. So dit maak nie saak of ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het nie, ons moet in die hemelse opstanding belangstel.

2 God het party van Jesus se dissipels in die eerste eeu geïnspireer om oor die hemelse hoop te skryf. Die apostel Johannes het verduidelik: “Ons is nou kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Ons weet wel dat ons soos hy sal wees wanneer hy geopenbaar word” (1 Joh. 3:2). So gesalfde Christene weet nie hoe hulle lewe in die hemel sal wees nadat hulle opgewek is nie. Maar hulle sal Jehovah sien wanneer hulle hulle beloning kry. Die Bybel gee nie elke detail oor die hemelse opstanding nie, maar die apostel Paulus het ’n paar dinge hieroor gesê. Die gesalfdes sal saam met Christus wees “wanneer hy alle regering en alle gesag en mag tot ’n einde [bring]”. Dit sluit in “die laaste vyand, die dood”. Uiteindelik sal Jesus – saam met dié wat saam met hom regeer – homself en alle ander dinge aan Jehovah onderwerp (1 Kor. 15:24-28). Dit sal ’n wonderlike tyd wees! *  

3. Die feit dat Paulus in die opstanding geglo het, het hom gehelp om wat te doen, volgens 1 Korintiërs 15:30-32?

3 Die feit dat Paulus in die opstanding geglo het, het hom gehelp om verskillende probleme te hanteer. (Lees 1 Korintiërs 15:30-32.) Hy het vir die Korintiërs gesê: “Ek kom elke dag voor die dood te staan.” Paulus het ook geskryf dat hy ‘met wilde diere in Efese geveg het’. Dalk het hy gepraat van regte diere waarmee hy in ’n arena in Efese geveg het (2 Kor. 1:8; 4:10; 11:23). Of dalk het hy gepraat van teenstanders, soos die Jode en ander wat soos “wilde diere” was (Hand. 19:26-34; 1 Kor. 16:9). Wat ook al die geval was, Paulus het gevaarlike situasies deurgemaak. Maar hy het nog steeds geglo dat hy ’n gelukkige toekoms sou hê. – 2 Kor. 4:16-18.

’n Gesin wat in ’n gebied bly waar ons Christenwerk verbied is, hou aan om God te aanbid met die vertroue dat hy goeie dinge vir hulle in gedagte het (Sien paragraaf 4)

4. Hoe versterk die hoop van die opstanding Christene vandag? (Sien prent op voorblad.)

4 Ons lewe in gevaarlike tye. Party van ons broers was al slagoffers van misdaad. Ander bly in gebiede waar daar oorlog is en voel nie veilig nie. En in party lande kan Jehovah se knegte nie vryelik preek nie en dien hulle hom alhoewel hulle in die tronk gegooi kan word of doodgemaak kan word. Maar al hierdie broers en susters hou aan om Jehovah te aanbid en is uitstekende voorbeelde vir ons. Hulle is nie bang nie, want hulle weet dat al verloor hulle hulle lewe nou, belowe Jehovah dat hy hulle iets baie beters in die toekoms sal gee.

5. Watter gevaarlike gesindheid kan ons geloof in die opstanding verswak?

5 Paulus het sy broers gewaarsku oor ’n gevaarlike gesindheid wat party gehad het: “As die dooies nie opgewek gaan word nie, ‘laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.’” Party mense het daardie gesindheid selfs voor Paulus se dag gehad. Hy het dalk Jesaja 22:13 aangehaal, wat na die gesindheid van die Israeliete verwys. In plaas daarvan om nader aan God te kom, het hulle meer daarin belanggestel om die lewe te geniet. Die gesindheid van hierdie Israeliete was basies “hier vandag, môre weg”, ’n gesindheid wat selfs vandag baie algemeen is. Maar die slegte gevolge van die Israeliete se verkeerde denke is in die Bybel opgeteken. – 2 Kron. 36:15-20.

6. Hoe behoort die opstandingshoop ’n invloed te hê op wie ons as vriende kies?

6 Die feit dat Jehovah die dooies kan opwek, behoort ’n invloed op ons keuse van vriende te hê. Die broers in Korinte moes versigtig wees om nie met persone te assosieer wat nie in die opstanding geglo het nie. Daar is ’n les vir ons vandag: As ons baie tyd spandeer met vriende wat nie omgee oor wat in die toekoms gaan gebeur nie en wat net die lewe wil geniet, sal hulle ’n slegte invloed op ons hê. Om tyd saam met sulke persone te spandeer, kan ’n slegte invloed hê op ’n ware Christen se gesindheid en gewoontes. Hierdie mense kan selfs veroorsaak dat hy dinge doen wat God haat. Daarom het Paulus gewaarsku: “Kom tot julle sinne en doen wat reg is. Moenie sondig nie.” – 1 Kor. 15:33, 34.

WATTER SOORT LIGGAAM?

7. Watter vraag oor die opstanding het party dalk gevra, volgens 1 Korintiërs 15:35-38?

7 Lees 1 Korintiërs 15:35-38. ’n Persoon wat wou hê dat ander oor die opstanding moes twyfel, het dalk gevra: “Hoe gaan die dooies opgewek word?” Dit is goed om oor Paulus se antwoord te dink omdat baie mense vandag hulle eie opinie het oor lewe ná die dood. Maar wat leer die Bybel?

Paulus het verduidelik dat God persone wat opgewek is, die soort liggaam kan gee wat hulle nodig het (Sien paragraaf 8)

8. Watter illustrasie kan ons help om die hemelse opstanding te verstaan?

8 Wanneer iemand doodgaan, ontbind sy liggaam. Maar die Een wat die heelal gemaak het, kan daardie persoon opwek en vir hom die liggaam gee wat hy nodig sal hê (Gen. 1:1; 2:7). Paulus het ’n illustrasie gebruik wat wys dat dit nie vir God nodig is om dieselfde liggaam terug te bring nie. Dink aan “’n korrel,” of ’n “saad”. ’n Saadjie wat in die grond geplant word, ontkiem en word ’n nuwe plant. Die nuwe plant is anders as die klein saadjie. Paulus het hierdie vergelyking gebruik om te wys dat ons Skepper “’n liggaam volgens sy wil” kan gee.

9. Watter verskillende liggame is daar, volgens 1 Korintiërs 15:39-41?

9 Lees 1 Korintiërs 15:39-41. Paulus het gesê dat God nie alle liggame dieselfde gemaak het nie. Byvoorbeeld, daar is verskillende vleeslike liggame, soos vee, voëls en visse. Hy het gesê dat ons verskille kan sien tussen die son en die maan. En hy het gesien dat “die prag van een ster . . . anders as dié van ’n ander ster [is]”. Ja, al kan ons nie die verskil met ons oë sien nie, is daar sterre wat wetenskaplikes rooireuse, witdwerge en geelsterre, soos ons son, noem. Paulus het ook gesê dat daar “hemelse liggame en aardse liggame” is. Hoe so? Wel op die aarde het ons vleeslike liggame, maar in die hemel is daar geestelike liggame, soos die liggame wat engele het.

10. Watter soort liggaam sal persone hê wat tot hemelse lewe opgewek word?

10 Let op wat Paulus volgende gesê het: “So is dit ook met die opstanding van die dooies. Die liggaam wat gesaai word, vergaan, maar die liggaam wat opgewek word, vergaan nie.” Die menseliggaam ontbind natuurlik wanneer ’n persoon sterf en word weer stof (Gen. 3:19). So hoe kan ’n liggaam “wat opgewek word, [nie] vergaan nie”? Paulus het nie gepraat van ’n persoon wat tot lewe op die aarde opgewek word nie, soos persone wat deur Elia, Elisa en Jesus opgewek was nie. Paulus het verwys na ’n persoon wat met ’n hemelse liggaam opgewek word, dit wil sê “’n geestelike liggaam”. – 1 Kor. 15:42-44.

11-12. Watter verandering het Jesus ondervind toe hy opgewek is, en hoe ondervind die gesalfdes iets soortgelyks?

11 Toe Jesus op die aarde was, het hy ’n vleeslike liggaam gehad. Maar toe hy opgewek is, het hy “’n lewegewende gees geword” en hemel toe gegaan. Net so sal gesalfde Christene tot geeslewe opgewek word. Paulus het verduidelik: “Ons het geword soos die een wat van stof gemaak is, en net so sal ons ook word soos die een wat uit die hemel is.” – 1 Kor. 15:45-49.

12 Paulus het nou by die hoogtepunt van sy bespreking oor die opstanding gekom. Dit is belangrik om te weet dat Jesus nie met ’n vleeslike liggaam opgewek is nie. Paulus het duidelik gesê: “Vlees en bloed [kan nie] God se Koninkryk [in die hemel] erf nie” (1 Kor. 15:50). Die apostels en ander gesalfde persone sal nie tot lewe in die hemel opgewek word met liggame wat vergaan nie. Wanneer sal hulle opgewek word? Paulus het beklemtoon dat hierdie opstanding iets is wat nog moes gebeur; dit was nie iets wat hulle onmiddellik net ná hulle dood sou ondervind nie. Toe Paulus 1 Korintiërs geskryf het, het party dissipels, soos die apostel Jakobus, alreeds “gesterf” (Hand. 12:1, 2). Ander apostels en gesalfde persone moes nog sterf. – 1 Kor. 15:6.

OORWINNING OOR DIE DOOD

13. Wat sou gedurende Jesus se teenwoordigheid gebeur?

13 Jesus en Paulus het gepraat van ’n belangrike tyd wat sou kom – Christus se teenwoordigheid. Gedurende Christus se teenwoordigheid sou daar oorloë, aardbewings, siektes en ander slegte dinge regoor die wêreld gebeur. Ons het gesien hoe hierdie Bybelprofesie vanaf 1914 vervul word. Daar sou nog ’n belangrike deel van hierdie teken wees. Jesus het gesê dat die goeie nuus dat God se Koninkryk regeer “oor die hele bewoonde aarde verkondig [sou] word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan [sou] die einde kom” (Matt. 24:3, 7-14). Paulus het gesê dat gesalfdes wat “gesterf” het gedurende “die teenwoordigheid van die Here” tot lewe in die hemel opgewek sal word. – 1 Tess. 4:14-16; 1 Kor. 15:23.

14. Wat gebeur met gesalfde persone wat gedurende Christus se teenwoordigheid sterf?

14 Gesalfde persone wat nou sterf, word onmiddellik tot lewe in die hemel opgewek. Dit word bevestig deur Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:51, 52: “Ons sal nie almal sterf nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, wanneer daar op die laaste trompet geblaas word.” Hierdie woorde van Paulus word nou vervul! Wanneer hierdie broers van Christus opgewek word, sal hulle baie bly wees omdat hulle “altyd by die Here [sal] wees”. – 1 Tess. 4:17.  

Dié wat “in ’n oogwink” verander word, sal saam met Jesus teen alle goddelose mense op die aarde veg (Sien paragraaf 15)

15. Watter werk sal dié doen wat “in ’n oogwink” verander sal word?

15 Die Bybel sê vir ons watter werk dié wat “in ’n oogwink” verander word in die hemel sal doen. Jesus sê vir hulle: “Aan die een wat oorwin en my dade tot die einde toe navolg, sal ek gesag oor die nasies gee, net soos ek gesag van my Vader ontvang het. Hierdie persoon sal met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree en hulle soos kleivoorwerpe in stukke breek” (Op. 2:26, 27). Hulle sal Jesus volg en as herders met ’n ysterstaf teenoor die nasies optree. – Op. 19:11-15.

16. Hoe sal baie mense die dood oorwin?

16 Dit is duidelik dat die gesalfdes die dood sal oorwin (1 Kor. 15:54-57). Hulle opstanding sal dit vir hulle moontlik maak om gedurende Armageddon te help om alle goddeloosheid van die aarde af weg te vat. Miljoene ander Christenmans en -vrouens sal “uit die groot verdrukking kom” en in die nuwe wêreld ingaan (Op. 7:14). Hierdie persone wat oorleef het, sal ooggetuies wees van nog ’n oorwinning oor die dood – die opstanding van miljarde mense wat in die verlede gesterf het. Dink net hoe gelukkig ons sal wees wanneer dit gebeur! (Hand. 24:15). En almal wat heeltemal getrou aan Jehovah bly, sal ook die dood oorwin wat van Adam geërf is. Hulle sal vir ewig kan lewe.

17. Met 1 Korintiërs 15:58 in gedagte, wat moet ons nou doen?

17 Elke Christen wat nou lewe, moet dankbaar wees vir die vertroostende woorde oor die opstanding wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het. Ons het goeie redes om gehoorsaam te wees aan Paulus se raad om so veel as moontlik “in die werk van die Here” te doen. (Lees 1 Korintiërs 15:58.) As ons getrou besig bly in hierdie werk, kan ons uitsien na ’n baie gelukkige lewe in die toekoms. Daardie toekoms sal wonderliker wees as enige iets wat ons ons kan voorstel. Dit sal sekerlik bewys dat ons werk vir die Here nie verniet was nie.

LIED 140 Eindelik kan ons vir ewig leef!

^ par. 5 Die tweede helfte van 1 Korintiërs hoofstuk 15 het details oor die opstanding, veral die opstanding van gesalfde Christene. Maar wat Paulus hier gesê het, is ook belangrik vir die ander skape. Hierdie artikel sal wys hoe die hoop van die opstanding ons lewe nou moet affekteer en hoe dit ons help om uit te sien na die toekoms.

^ par. 2Vrae van lesers” in hierdie nommer verduidelik Paulus se woorde wat in 1 Korintiërs 15:29 is.