Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Spreuke 24:16 sê: “Die regverdige kan sewe keer val, en hy sal weer opstaan.” Praat hierdie vers van iemand wat herhaaldelik in sonde val, maar dan deur God vergewe word?

Eintlik is dit nie die punt van hierdie vers nie. Dit praat eerder van iemand wat val in die sin dat hy herhaaldelik probleme het of moeilike tye ervaar en weer opstaan in die sin dat hy herstel.

Kyk na die konteks van die vers: “Moenie goddeloos wees en die regverdige naby sy huis gaan voorlê nie. Moenie sy rusplek verwoes nie. Want die regverdige kan sewe keer val, en hy sal weer opstaan, maar die goddelose sal weens rampspoed val en bly lê. Wanneer jou vyand val, moet jy nie bly wees nie, en wanneer hy struikel, moet jou hart nie vreugdevol wees nie.” – Spr. 24:15-17.

Party mense dink dat vers 16 van ’n persoon praat wat sondig, maar jammer daaroor is en weer ’n goeie verhouding met God het. Byvoorbeeld, twee godsdiensleiers van Engeland het geskryf dat predikers in die verlede en vandag hierdie vers op hierdie manier verduidelik het. Hulle het ook gesê dat hierdie verduideliking sou beteken dat “dit moontlik is vir ’n goeie man om ernstig te sondig, maar om aan te hou om God lief te hê en om God se goedkeuring te hê omdat hy jammer is oor wat hy gedoen het”. ’n Persoon wat nie teen sy sondige neigings wil veg nie, sal dalk van hierdie verduideliking hou. Hy dink dalk dat God hom altyd sal vergewe, al sondig hy herhaaldelik.

Maar dit is nie wat vers 16 beteken nie.

Die Hebreeuse woord wat in vers 16 en 17 met “val” vertaal word, kan op verskillende maniere gebruik word. Dit kan ’n letterlike val beteken – ’n bul val op die pad, iemand val van ’n dak af of ’n klippie val op die grond (Deut. 22:4, 8; Amos 9:9). Die woord kan ook figuurlik gebruik word soos in die volgende vers: “Jehovah rig die voetstappe van ’n man wanneer Hy tevrede is met die weg wat hy volg. Al val hy, sal hy nie neergegooi word nie, want Jehovah hou sy hand vas.” – Ps. 37:23, 24; Spr. 11:5; 13:17; 17:20.

Maar kyk wat professor Edward H. Plumptre gesê het: “Die Hebreeuse woord [“val”] word nooit gebruik om sonde te beskryf nie.” Nog ’n geleerde som vers 16 op hierdie manier op: “Dit sou verniet en tot jou nadeel wees om God se volk te mishandel, want hulle oorleef – die goddeloses oorleef nie!”

So dit beteken dat Spreuke 24:16 nie na sonde verwys nie, maar dit verwys eerder daarna om probleme te hê of moeilike tye te ervaar, selfs herhaaldelik. In vandag se goddelose wêreld het ’n regverdige persoon dalk gesondheidsprobleme of ander probleme. Hy word dalk selfs deur die regering vervolg as gevolg van sy geloof. Maar hy kan vertrou dat God hom sal ondersteun en hom sal help om hierdie dinge te hanteer en om suksesvol te wees. Vra jou af: ‘Het ek nog nie gesien dat dinge gewoonlik goed uitwerk vir God se knegte nie?’ Hoekom is dit die geval? Ons het die versekering dat ‘Jehovah almal ondersteun wat val en almal ophelp wat gebuk gaan onder probleme’. – Ps. 41:1-3; 145:14-19.

“Die regverdige een” is nie bly omdat ander probleme het nie. Hy is eerder aangemoedig omdat hy weet dat “dit goed sal gaan met dié wat die ware God vrees, omdat hulle hom vrees”. – Pred. 8:11-13; Job 31:3-6; Ps. 27:5, 6.