Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sit jou hart en siel in jou toewysing!

Sit jou hart en siel in jou toewysing!

HOE voel jy wanneer jy ’n liefdevolle brief van ’n goeie vriend kry? Die Christendissipel Timoteus het so ’n brief van die apostel Paulus gekry, ’n brief wat ons nou as die Bybelboek 2 Timoteus ken. Timoteus kon seker nie gewag het om ’n stil plekkie te kry sodat hy kon lees wat sy dierbare vriend vir hom geskryf het nie. Dalk het Timoteus gedink: ‘Hoe gaan dit met Paulus? Het hy enige raad wat my kan help met my toewysings? Kan sy raad my help om beter te preek en te onderrig en om ander te help?’ Soos ons sal sien, het Timoteus antwoorde op hierdie vrae en baie meer in hierdie kosbare brief gekry. Maar kom ons fokus eers op ’n paar belangrike punte in hierdie brief wat ons kan help.

“EK [GAAN] VOORT OM ALLES . . . TE VERDUUR”

Toe Timoteus die eerste woorde van hierdie brief begin lees, kon hy onmiddellik sien dat Paulus regtig baie vir hom omgegee het. Paulus noem hom liefdevol “’n geliefde kind” (2 Tim. 1:2). Alhoewel Timoteus alreeds in sy 30’s was toe hy hierdie brief in omtrent 65 HJ gekry het, was hy alreeds ’n ervare Christenouerman. Hy het al vir meer as 10 jaar saam met Paulus gewerk en het baie geleer.

Timoteus was sekerlik aangemoedig om uit te vind dat Paulus getrou bly terwyl hy deur moeilike tye gaan. Paulus was ’n gevangene in Rome en hy sou binnekort doodgemaak word (2 Tim. 1:15, 16; 4:6-8). Timoteus kon sien hoe moedig Paulus was, want Paulus het gesê: “Ek [gaan] voort om alles . . . te verduur” (2 Tim. 2:8-13). Net soos Timoteus kan ons ook versterk word deur Paulus se uitstekende voorbeeld van volharding.

‘HOU DIE GAWE VAN GOD SOOS ’N VUUR AAN DIE GANG’

Paulus het Timoteus aangemoedig om sy toewysing in God se diens as baie kosbaar te sien. Paulus wou hê dat Timoteus “die gawe van God wat [hy] ontvang het . . . soos ’n vuur aan die gang [moes] hou” (2 Tim. 1:6). Paulus het die woord khaʹri·sma vir “gawe” gebruik. Hierdie Griekse woord verwys basies na ’n geskenk wat verniet is en wat ’n mens nie kan verdien nie. Timoteus het hierdie gawe gekry toe hy gekies is om die gemeente op ’n spesiale manier te dien. – 1 Tim. 4:14.

Wat moes Timoteus met hierdie gawe doen? Terwyl hy die uitdrukking “soos ’n vuur aan die gang . . . hou” gelees het, het hy dalk gedink aan vure wat mense by hulle huise het wat soms net gloeiende kole geword het. Hierdie kole moes aan die gang gehou word sodat daar vlamme en meer hitte kon wees. Een woordeboek sê dat die Griekse werkwoord (a·na·zo·py·reʹo) wat Paulus gebruik het, beteken om “aan te wakker, nuwe krag te kry, vlamme aan te blaas”. So dit het beteken om opgewonde en ywerig te wees vir die een of ander werk. So Paulus het eintlik vir Timoteus gesê: ‘Sit jou hart en siel in jou toewysing!’ Vandag moet ons dieselfde doen – ons moet ywerig wees in ons diens.

“BEWAAR HIERDIE SKAT”

Terwyl Timoteus die brief wat hy van sy goeie vriend gekry het, verder lees, sien hy nog ’n uitdrukking wat hom sou help om suksesvol in sy bediening te wees. Paulus het geskryf: “Bewaar hierdie skat met behulp van die heilige gees, wat in ons woon” (2 Tim. 1:14). Wat was hierdie skat? Watter kosbare skat is aan Timoteus gegee? In die vorige vers het Paulus verwys na die “gesonde woorde”, die waarheid wat in die Skrif gevind is (2 Tim. 1:13). As ’n Christenbedienaar moes Timoteus die waarheid binne en buite die gemeente verkondig (2 Tim. 4:1-5). Timoteus was ook as ’n ouerman aangestel om ’n herder vir God se kudde te wees (1 Pet. 5:2). Timoteus kon hierdie skat – die waarheid wat hy aan ander moes leer – bewaar deur op Jehovah se heilige gees en Sy Woord te vertrou. – 2 Tim. 3:14-17.

Vandag is ons ook die waarheid gegee wat ons aan ander moet leer (Matt. 28:19, 20). Ons moet nooit vergeet hoe kosbaar hierdie waarheid is wat ons aan ander leer nie. So daarom moet ons aanhou bid en gereeld God se Woord studeer (Rom. 12:11, 12; 1 Tim. 4:13, 15, 16). Ons het dalk ook die toewysing om as ’n ouerman te dien of om in die voltydse diens te wees. ’n Kosbare toewysing soos hierdie moet ons nederig maak en moet ons laat besef dat ons op God moet vertrou vir sy hulp. So ons kan ons skat bewaar, of beskerm, deur dit as kosbaar te beskou en deur op Jehovah te vertrou om ons te help om daarvoor te sorg.

‘LEER HIERDIE DINGE AAN GETROUE MENSE’

Deel van Timoteus se toewysing was om ander op te lei om die werk te doen wat hy gedoen het. Dit is hoekom Paulus Timoteus aangemoedig het: “Jy moet die dinge wat jy by my gehoor het . . . aan getroue mense leer, wat dan weer bekwaam sal wees om ander te onderrig” (2 Tim. 2:2). Paulus het Timoteus herinner om al die dinge wat hy geleer het, aan ander te leer. Dit is belangrik dat elke opsiener in die Christengemeente vandag hard werk om dieselfde te doen. ’n Goeie opsiener hou nie die kennis wat hy van sy toewysing het vir homself nie. Hy leer eerder ander sodat hulle die werk sal kan doen. Hy is nie bang dat hulle beter as hy sal lyk omdat hulle meer weet of omdat hulle die werk beter kan doen nie. So die opsiener sal nie net die basiese dinge van die werk aan ander leer nie. Hy wil dié help wat hy oplei om goeie oordeel en insig te ontwikkel – om ’n geestelik sterk Christen te word. Op hierdie manier sal die “getroue mense” wat hy geleer het, die gemeente selfs meer kan help.

Die liefdevolle brief wat Timoteus van Paulus af gekry het, was vir hom sekerlik baie kosbaar. Ons kan ons indink hoe hy herhaaldelik die kosbare raad gelees het en nagedink het oor hoe hy dit in sy toewysings kon toepas.

Ons wil ook hierdie raad toepas. Hoe? Ons kan hard daaraan werk om die gawe wat ons ontvang het, soos ’n vuur aan die gang te hou, om ons skat te bewaar en om ander alles te leer wat ons weet. Op hierdie manier kan ons, net soos Paulus vir Timoteus gesê het, ons “bediening ten volle uitvoer”. – 2 Tim. 4:5.