Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer sal die einde kom? Wat Jesus gesê het

Wanneer sal die einde kom? Wat Jesus gesê het

Soos die vorige artikel gewys het, beteken dit nie die einde van die aarde of die mensdom wanneer die Bybel oor die einde van die wêreld praat nie. Dit beteken eerder die einde van die huidige korrupte stelsel van dinge en almal wat dit ondersteun. Maar sê die Bybel wanneer die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge sal gebeur?

KYK NA TWEE STELLINGS WAT JESUS OOR DIE EINDE GEMAAK HET:

“Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer daardie dag en uur sal kom nie.” – MATTEUS 25:13.

“Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie.” – MARKUS 13:33.

So niemand op aarde weet presies wanneer hierdie stelsel van dinge tot ’n einde sal kom nie. Maar God het ’n “vasgestelde tyd” – ’n spesifieke “dag en uur” – gekies vir die einde om te kom (Matteus 24:36). Beteken dit dat daar geen manier is om te weet wanneer die einde naby is nie? Nee. Jesus het vir sy dissipels gesê om op die uitkyk te wees vir ’n paar gebeure wat sou wys dat die einde naby is.

DIE TEKEN

Hierdie gebeure sou die teken van “die einde van die wêreldstelsel” wees. Jesus het gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek ná die ander wees” (Matteus 24:3, 7). Hy het ook gesê dat daar “vreeslike siektes” – epidemies – sou wees (Lukas 21:11). Sien jy die gebeure wat Jesus voorspel het?

Vandag kry mense swaar as gevolg van oorloë, hongersnood en aardbewings, sowel as die een siekte ná die ander. Byvoorbeeld, in 2004 het ’n groot aardbewing in die Indiese Oseaan ’n tsoenami veroorsaak wat omtrent 225 000 mense doodgemaak het. In drie jaar het die COVID-19-pandemie sowat 6,9 miljoen mense se dood regoor die wêreld veroorsaak. Jesus het gesê dat hierdie soort gebeure sou wys dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is.

“DIE LAASTE DAE”

Die Bybel beskryf die tyd net voor die einde as “die laaste dae” (2 Petrus 3:3, 4). Volgens 2 Timoteus 3:1-5 sal mense in die laaste dae goeie standaarde verwerp. (Sien die venster “ Net voor die einde van die wêreld”.) Sien jy mense wat vandag selfsugtig, gierig, wreed en sonder liefde is? Dit is ook ’n bewys dat ons na aan die einde van die wêreld lewe.

Hoe lank sal die laaste dae wees? Volgens die Bybel sal dit net ʼn kort tydjie wees. Dan sal God “die vernietigers van die aarde” vernietig. – Openbaring 11:15-18; 12:12.

DIE PARADYSAARDE IS NABY!

God het al klaar die dag en uur vasgestel wanneer hy ’n einde sal maak aan hierdie huidige goddelose stelsel van dinge (Matteus 24:36). Maar daar is nog goeie nuus – God “wil [nie] hê dat enigiemand vernietig moet word nie” (2 Petrus 3:9). Hy gee die mens die geleentheid om oor sy wil te leer en om hom te gehoorsaam. Hoekom? Omdat hy wil hê dat ons die einde van hierdie wêreld moet oorleef en in sy nuwe wêreld moet lewe, wanneer die aarde ’n paradys sal wees.

God het ’n wêreldwye onderrigtingsprogram gereël om mense te help sodat hulle kan leer hoe om deel te word van die nuwe wêreld onder sy Koninkryk. Jesus het gesê dat die goeie nuus oor God se Koninkryk “oor die hele bewoonde aarde” verkondig sou word (Matteus 24:14). Jehovah se Getuies het wêreldwyd miljarde ure spandeer om mense oor die Bybel se boodskap van hoop te leer. Jesus het gesê dat hierdie predikingskampanje regoor die aarde gedoen sou word voor die einde sou kom.

Die tyd van menseregerings is amper verby. Maar die goeie nuus is dat jy die einde van die wêreld kan oorleef en deel kan wees van die Paradysaarde wat God belowe het. Die volgende artikel sal bespreek hoe jy in daardie nuwe wêreld kan lewe.

Jesus se profesie oor “die laaste dae” gee ons ’n rede om hoop te hê