Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan nou al voorberei vir ’n beter wêreld wat binnekort kom

Die nuwe wêreld wat naby is!

Die nuwe wêreld wat naby is!

God het die aarde geskep sodat regverdige mense vir ewig daarop kon lewe (Psalm 37:29). Hy het die eerste mensepaartjie, Adam en Eva, in die pragtige tuin van Eden gesit, en hy het vir hulle en hulle nakomelinge die verantwoordelikheid gegee om die aarde te bewerk en daarvoor te sorg. – Genesis 1:28; 2:15.

Die wêreld is vandag definitief nie die Paradys wat God wou hê dit moes wees nie. Maar God het nie van besluit verander nie. Hoe sal God die aarde ’n paradys maak? Soos die vorige artikels gewys het, sal God nie die aarde vernietig nie. Hy sal eerder toelaat dat getroue mense daarop woon. Hoe sal toestande op die aarde wees wanneer God sy beloftes vervul?

’n Wêreldwye regering

Binnekort, wanneer God se nuwe hemelse regering oor die mensdom regeer, sal die aarde ’n gelukkige plek word waar mense saam in eenheid kan lewe en goeie en bevredigende werk kan doen. God het Jesus Christus aangestel om oor die aarde te regeer. Vandag gee baie heersers nie regtig om vir mense nie. Jesus is anders omdat hy altyd wil doen wat die beste vir mense is. Hy sal met liefde regeer, en hy sal ’n goedhartige, genadige en regverdige Koning wees. – Jesaja 11:4.

Internasionale eenheid

Die aarde se nuwe mensegemeenskap sal nie verdeel word deur nasionaliteit of ras nie. Alle mense sal in eenheid lewe (Openbaring 7:9, 10). Alle mense wat op die aarde lewe, sal lief wees vir God en hulle naaste. Hulle sal in vrede saamwerk om God se oorspronklike doel te vervul om vir hulle tuiste, die aarde, te sorg. – Psalm 115:16.

In vrede met die natuur

Wanneer God se Koninkryk oor die aarde regeer, sal God die klimaat ten volle beheer en dit in volmaakte balans hou (Psalm 24:1, 2). Toe Jesus ’n groot storm gekalmeer het, het hy gewys wat hy kan doen met God se krag (Markus 4:39, 41). Wanneer Jesus Christus regeer, sal daar geen rede wees om bang te wees vir natuurrampe nie. Onder God se Koninkryk sal daar vrede tussen die mens en die natuur wees. – Hosea 2:18.

Volmaakte gesondheid en oorgenoeg kos

Almal sal volmaakte gesondheid geniet. Niemand sal siek word, oud word of sterf nie (Jesaja 35:5, 6). Mense sal ’n pragtige en skoon omgewing geniet soos wat die eerste mensepaartjie in die tuin van Eden geniet het. Net soos in Eden, sal die grond in die nuwe wêreld ’n oorvloed kos voortbring en al die inwoners van die aarde sal oorgenoeg hê (Genesis 2:9). Soos God se eertydse nasie Israel, sal almal in die Paradys “genoeg brood hê om te eet”. – Levitikus 26:4, 5.

Regte vrede en veiligheid

Onder God se wêreldwye regering sal alle mense vrede geniet en mekaar liefdevol en regverdig behandel. Daar sal nie oorloë en misbruik van mag wees nie, en almal sal hê wat hulle nodig het. Die Bybel belowe: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en niemand sal hulle bang maak nie.” – Miga 4:3, 4

Oorgenoeg behuising en bevredigende werk

Elke gesin sal ’n huis hê sonder die vrees dat hulle dit moet verlaat. Ons sal ook al die werk wat ons doen, geniet. Die Bybel sê dat almal wat in God se nuwe wêreld lewe, “nie verniet hard [sal] werk nie”. – Jesaja 65:21-23.

Die beste opvoeding

Die Bybel belowe: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah” (Jesaja 11:9). Mense wat onder God se Koninkryk lewe, sal leer uit die oneindige wysheid van hulle Skepper, Jehovah. Hulle sal ook leer oor die pragtige dinge wat hy geskep het. Hulle sal nie hulle kennis gebruik om wapens te bou of om ander mense seer te maak nie (Jesaja 2:4). Hulle sal eerder leer hoe om in vrede met mekaar te lewe en hoe om vir die aarde te sorg. – Psalm 37:11.

Ewige lewe

God het hard gewerk om die aarde voor te berei sodat ons elke dag die lewe ten volle kan geniet. Hy wil hê dat die mens vir ewig op die aarde moet lewe (Psalm 37:29; Jesaja 45:18). Om dit moontlik te maak, sal God “die dood vir ewig wegneem” (Jesaja 25:8). Die Bybel belowe: “Die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie” (Openbaring 21:4). God sal alle mense die geleentheid gee om vir ewig te lewe. Hy sal hierdie geleentheid gee aan die mense wat hy sal red wanneer hy hierdie goddelose wêreld vernietig. Hy sal dit ook gee aan die ontelbare dooies wat hy ’n opstanding sal gee in die komende nuwe wêreld. – Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

Miljoene mense wêreldwyd is nou al besig om vir die mensdom se nuwe begin voor te berei wat so naby is. Al is hulle onvolmaak, probeer hulle al klaar om die soort mense te wees wat God in sy nuwe wêreld wil hê. Hoe? Deur oor Jehovah God en die een wat hy gestuur het, Jesus Christus, te leer. – Johannes 17:3.

Vind uit hoe jy die einde van hierdie wêreld kan oorleef en binnekort in ’n beter wêreld kan lewe. Aanvaar ’n gratis interaktiewe Bybelkursus by een van Jehovah se Getuies met die boek Geniet die lewe vir ewig!