Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy ’n beter toekoms hê net omdat jy ’n goeie mens is?

Sal jy ’n beter toekoms hê net omdat jy ’n goeie mens is?

Baie mense voel al honderde jare lank dat iemand net ’n beter toekoms kan hê as hy ’n goeie mens is. Byvoorbeeld, mense in die Ooste het respek vir wat die filosoof en onderrigter Confucius (551-479 VHJ) gesê het: “Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.” *

’N WEG WAT BAIE MENSE VOLG

Baie mense glo dat hulle ’n beter toekoms sal hê as hulle die regte ding doen. Hulle probeer om respekvol te wees, om goeie maniere aan te leer, om hulle rol in die gemeenskap te erken en om ’n goeie gewete te behou. Lin, ’n vrou in Viëtnam, sê: “Ek het altyd geglo dat ek geseënd sou wees as ek eerlik en opreg is.”

Party probeer om goeie dinge te doen as gevolg van hulle godsdiensoortuigings. ’n Man wat in Taiwan woon, sê: “Ek was geleer dat ’n persoon wat goeie dinge doen, gelukkig sal wees nadat hy sterf. Maar as hy slegte dinge doen, sal hy swaarkry nadat hy sterf.”

WAT IS DIE GEVOLGE?

Dit is waar dat ons bevoordeel sal word as ons goeie dinge vir ander mense doen. Maar baie mense wat regtig probeer om goeie dinge vir ander te doen, vind dat dit nie altyd goeie resultate het nie. ’n Vrou met die naam Ping, wat in Hongkong woon, sê: “Ek het met my eie oë gesien dat diegene wat goeie dinge vir ander doen, nie altyd geseën word nie. Ek het my bes probeer om vir my gesin te sorg en om goeie dinge te doen. Maar my huwelik het misluk, en my man het my en my seun gelos.”

Baie mense het al gesien dat nie alle godsdienstige mense, goeie mense is nie. Etsuko, ’n vrou wat in Japan bly, sê: “Ek het by ’n godsdiensorganisasie betrokke geraak en ’n leier van jeugaktiwiteite geword. Ek was geskok om te sien hoe party mense in die godsdiens onsedelik was, gekompeteer het vir mag en die kerk se geld misbruik het.”

“Ek het my bes probeer om vir my gesin te sorg en om goeie dinge te doen. Maar my huwelik het misluk, en my man het my en my seun gelos.” – PING, HONGKONG

Party wat baie godsdienstig is en probeer het om goeie dinge te doen, is teleurgesteld wanneer slegte dinge in elk geval met hulle gebeur. Dit is hoe Wan, ’n vrou van Viëtnam, gevoel het. Sy sê: “Ek het elke dag vrugte, blomme en kos gebring en op die altare van my dooie voorouers geoffer. Ek het gehoop dat ek seëninge hiervoor in die toekoms sou kry. Al het ek al hierdie goeie dinge en godsdiensrituele jare lank gedoen, het my man baie siek geword. Toe het my dogter op ’n jong ouderdom gesterf terwyl sy in ’n ander land gestudeer het.”

So om ’n goeie mens te wees, waarborg nie dat jy ’n beter toekoms sal hê nie. Maar wat sal vir ons ’n beter toekoms waarborg? Om hierdie vraag te beantwoord, het ons ’n betroubare gids nodig – ’n bron van inligting wat ons vrae kan beantwoord en die weg na ’n beter toekoms kan wys. Waar kan ons so ’n gids vind?

^ par. 2 Vir meer inligting oor wat Confucius geleer het, sien hoofstuk 7, paragraaf 31-35 van die boek Die mensdom se soeke na God, uitgegee deur Jehovah se Getuies en aanlyn beskikbaar op www.pr418.com/af.