Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

Lesse wat ons kan leer by “die dissipel vir wie Jesus lief was”

Lesse wat ons kan leer by “die dissipel vir wie Jesus lief was”

“Laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want die liefde kom van God.” – 1 JOH. 4:7.

LIED 105 “God is liefde”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe laat God se liefde jou voel?

“GOD is liefde” het die apostel Johannes geskryf (1 Joh. 4:8). Hierdie eenvoudige stelling herinner ons aan ’n belangrike waarheid: God, die Bron van lewe, is ook die Bron van liefde. Jehovah is lief vir ons! Sy liefde laat ons veilig en gelukkig voel.

2. Wat is die twee grootste gebooie volgens Matteus 22:37-40, en hoekom is dit dalk moeilik om gehoorsaam te wees aan die tweede een?

2 Christene kan nie kies of hulle ander wil liefhê of nie. Dit is ’n gebod. (Lees Matteus 22:37-40.) Wanneer ons Jehovah goed leer ken, vind ons dit dalk maklik om gehoorsaam te wees aan die eerste gebod. Dit is omdat Jehovah volmaak is. Hy gee om vir ons en hy behandel ons op ’n liefdevolle manier. Maar ons vind dit dalk moeilik om gehoorsaam te wees aan die tweede gebod. Hoekom? Omdat ons almal – insluitende ons broers en susters – onvolmaak is. Soms sal hulle dalk dinge sê of doen wat ons dink nie liefdevol is nie. Jehovah het geweet dat dit moeilik sou wees vir ons om gehoorsaam te wees aan hierdie gebod. Daarom het hy party van die Bybelskrywers gebruik om ons te leer hoekom ons moet wys dat ons mekaar liefhet en hoe om dit te doen. Een van hierdie skrywers was Johannes. – 1 Joh. 3:11, 12.

3. Waaroor het Johannes herhaaldelik geskryf?

3 Johannes het herhaaldelik geskryf dat Christene ander moet liefhê. In Johannes se verslae oor Jesus se lewe, praat hy meer oor liefde as die ander drie Evangelieskrywers saam. Johannes was omtrent 100 jaar oud toe hy sy Evangelieverslag en sy drie briewe geskryf het. Hierdie Bybelboeke leer ons dat alles wat ons doen deur liefde gemotiveer moet word (1 Joh. 4:10, 11). Maar dit het vir Johannes ’n tydjie gevat om hierdie les te leer.

4. Het Johannes ander altyd liefdevol behandel?

4 Toe Johannes jonk was, het hy ander nie altyd liefdevol behandel nie. Byvoorbeeld, eenkeer het Jesus saam met sy dissipels deur Samaria na Jerusalem gereis. ’n Sekere Samaritaanse dorp het geweier om gasvry teenoor hulle te wees. Hoe het Johannes gereageer? Hy en sy broer Jakobus het Jesus gevra of hulle vuur vanuit die hemel moet laat kom om almal in die dorpie te vernietig! (Luk. 9:52-56). Op ’n ander keer was Johannes nie liefdevol teenoor die ander apostels nie. Hy en sy broer het blykbaar hulle ma gevra om vir Jesus te vra om vir hulle belangrike posisies in die Koninkryk te gee. Toe die ander apostels uitvind wat Jakobus en Johannes gedoen het, was hulle baie kwaad! (Matt. 20:20, 21, 24). Maar al het Johannes foute gemaak, was Jesus nog steeds lief vir hom. – Joh. 21:7.

5. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

5 In hierdie artikel sal ons Johannes se voorbeeld bespreek, asook party van die dinge wat hy oor liefde geskryf het. Terwyl ons dit doen, sal ons leer hoe ons kan wys dat ons ons broers en susters liefhet. Ons sal ook leer hoe ’n gesinshoof kan wys dat hy sy gesin liefhet.

LIEFDE WORD DEUR DADE BEWYS

Jehovah het gewys dat hy ons liefhet deur sy Seun aarde toe te stuur om vir ons te sterf (Sien paragraaf 6-7)

6. Wat het Jehovah gedoen om te wys dat hy ons liefhet?

6 Baiekeer dink ons dat liefde ’n warm gevoel is wat deur liefdevolle woorde uitgedruk word. Maar as ons regtig lief is vir mense, moet ons wys dat ons hulle liefhet deur liefdevolle dinge te doen. (Vergelyk Jakobus 2:17, 26.) Dink byvoorbeeld aan Jehovah. Hy is lief vir ons (1 Joh. 4:19). En hy wys dat hy ons liefhet deur middel van die pragtige woorde wat in die Bybel is (Ps. 25:10; Rom. 8:38, 39). Maar ons is oortuig dat God ons liefhet, nie net as gevolg van wat hy sê nie, maar ook as gevolg van wat hy doen. Johannes skryf: “Dit is hoe die liefde van God in ons geval geopenbaar is: God het sy eniggebore Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Joh. 4:9). Jehovah het toegelaat dat sy geliefde seun vir ons ly en sterf (Joh. 3:16). Kan ons enigsins twyfel dat Jehovah ons regtig liefhet?

7. Wat het Jesus gedoen om te wys dat hy ons liefhet?

7 Jesus het sy dissipels verseker dat hy hulle liefhet (Joh. 13:1; 15:15). Hy het gewys hoe lief hy vir hulle en vir ons is, nie net deur wat hy gesê het nie, maar ook deur wat hy gedoen het. Jesus het gesê: “Niemand het groter liefde as iemand wat sy lewe vir sy vriende gee nie” (Joh. 15:13). Wat sal ons beweeg word om te doen wanneer ons dink aan wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het?

8. Wat sê 1 Johannes 3:18 moet ons doen?

8 Ons wys dat ons Jehovah en Jesus liefhet deur gehoorsaam aan hulle te wees (Joh. 14:15; 1 Joh. 5:3). En Jesus het ons die opdrag gegee om mekaar lief te hê (Joh. 13:34, 35). Ons moenie net vir ons broers en susters sê dat ons hulle liefhet nie, maar ons moet ook vir hulle wys dat ons hulle liefhet. (Lees 1 Johannes 3:18.) Wat kan ons doen om vir hulle te wys dat ons hulle liefhet?

WEES LIEF VIR JOU BROERS EN SUSTERS

9. Wat het liefde Johannes beweeg om te doen?

9 Johannes kon by sy pa gebly het en geld gemaak het in sy gesin se besigheid in die visbedryf. Maar hy het eerder die res van sy lewe gebruik om ander die waarheid oor Jehovah en Jesus te leer. Die lewe wat Johannes gekies het, was nie maklik nie. Hy was vervolg, en teen die einde van die eerste eeu, toe hy al ’n ou man was, was hy gevange geneem (Hand. 3:1; 4:1-3; 5:18; Op. 1:9). Selfs terwyl hy ’n gevangene was omdat hy oor Jesus gepreek het, het Johannes aan ander gedink. Byvoorbeeld, terwyl hy op die eiland Patmos was, het hy die boek Openbaring geskryf en dit aan die gemeentes gestuur sodat hulle kon weet “wat binnekort moet plaasvind” (Op. 1:1). Toe, moontlik nadat Johannes van Patmos vrygelaat is, het hy die Evangelieverslag van Jesus se lewe en bediening geskryf. Hy het ook drie briewe geskryf om sy broers en susters aan te moedig en te versterk. Hoe kan jy Johannes navolg en ’n selfopofferende lewe lei?

10. Hoe kan jy wys dat jy lief is vir mense?

10 Jy kan wys dat jy lief is vir mense deur wat jy besluit om met jou lewe te doen. Satan se stelsel wil hê dat jy al jou tyd en energie op jouself moet spandeer deur geld te probeer maak of deur ’n naam vir jouself te probeer maak. Maar selfopofferende Christene regoor die wêreld spandeer soveel tyd as wat hulle kan om die goeie nuus te verkondig en om mense te help om nader aan Jehovah te kom. Dit is selfs vir party van hulle moontlik om voltyds te preek en ander te onderrig.

Ons wys dat ons ons broers en susters en ons gesin liefhet deur wat ons vir hulle doen (Sien paragraaf 11, 17) *

11. Hoe wys baie verkondigers dat hulle Jehovah en hulle broers en susters liefhet?

11 Baie Christene moet voltyds werk om vir hulleself en vir hulle gesin te sorg. Maar hierdie getroue verkondigers ondersteun God se organisasie op enige manier wat hulle kan. Party kan byvoorbeeld noodlenigingswerk doen, ander kan op konstruksieprojekte werk en almal kan donasies maak vir die wêreldwye werk. Hulle doen hierdie dinge omdat hulle God en ander liefhet. Elke week wys ons dat ons ons broers en susters liefhet deur gemeentelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem. Alhoewel ons moeg is, woon ons nog steeds vergaderinge by. Alhoewel ons senuweeagtig is, gee ons nog steeds kommentare. En alhoewel ons almal ons eie probleme het, moedig ons ander voor of ná die vergaderinge aan (Heb. 10:24, 25). Ons is so dankbaar vir die werk wat ons dierbare broers en susters doen!

12. Wat is nog ’n manier hoe Johannes gewys het dat hy sy broers en susters liefhet?

12 Johannes het gewys dat hy sy broers en susters liefhet, nie net deur hulle te prys nie, maar ook deur vir hulle raad te gee. Byvoorbeeld, in Johannes se briewe het hy sy broers en susters vir hulle geloof en goeie werke geprys, maar hy het ook vir hulle reguit raad oor sonde gegee (1 Joh. 1:8–2:1, 13, 14). Net so moet ons ons broers en susters prys vir die goeie dinge wat hulle doen. Maar as iemand ’n slegte gesindheid of gewoonte ontwikkel, kan ons vir hom wys dat ons hom liefhet deur vir hom taktvolle raad te gee. Ons sal moed nodig hê om vir ’n vriend raad te gee, maar die Bybel sê dat ware vriende mekaar reghelp net soos yster deur yster geslyp word. – Spr. 27:17.

13. Wat moet ons nie doen nie?

13 Soms wys ons vir ons broers en susters dat ons hulle liefhet deur wat ons nie doen nie. Ons sal byvoorbeeld nie maklik kwaad word oor wat hulle sê nie. Dink byvoorbeeld aan iets wat teen die einde van Jesus se lewe op aarde gebeur het. Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle sy vlees moet eet en sy bloed moet drink as hulle die ewige lewe wil kry (Joh. 6:53-57). Wat Jesus gesê het, het baie van sy dissipels so geskok dat hulle hom verlaat het. Maar sy ware vriende, insluitende Johannes, het hom nie verlaat nie. Hulle was lojaal en het by hom gebly. Hulle het nie verstaan wat Jesus gesê het nie, en sy woorde het hulle heel moontlik verbaas. Maar Jesus se lojale vriende het nie kwaad geword en aangeneem dat wat hy gesê het, verkeerd was nie. Hulle het hom eerder vertrou omdat hulle geweet het dat hy die waarheid praat (Joh. 6:60, 66-69). Dit is so belangrik dat ons nie maklik kwaad word oor wat ons vriende sê nie! Ons laat hulle eerder toe om te verduidelik wat hulle bedoel het. – Spr. 18:13; Pred. 7:9.

14. Hoekom moet ons nie toelaat dat haat in ons hart ontwikkel nie?

14 Johannes het ons ook gewaarsku dat ons nie ons broers of susters moet haat nie. As ons nie gehoorsaam is aan hierdie waarskuwing nie, gee ons vir Satan ’n kans om ons te beïnvloed (1 Joh. 2:11; 3:15). Dit is wat met party teen die einde van die eerste eeu HJ gebeur het. Satan het alles probeer wat hy kon om God se knegte te kry om mekaar te haat en om hulle te verdeel. Teen die tyd dat Johannes sy briewe geskryf het, het manne wat dieselfde gesindheid as Satan gehad het, in die gemeente ingeglip. Byvoorbeeld, Diotrefes het in een gemeente verdeeldheid veroorsaak (3 Joh. 9, 10). Hy het geen respek gehad vir die broers wat deur die bestuursliggaam gestuur is nie. Hy het selfs probeer om persone uit die gemeente te gooi wat gasvry was teenoor mense van wie hy nie gehou het nie. Hoe arrogant! Satan probeer nog steeds baie hard om God se volk te verdeel. Ons moet nooit toelaat dat haat ons verdeel nie.

WEES LIEF VIR JOU GESIN

Jesus het vir Johannes gevra om vir sy ma te sorg en om haar te help om aan te hou om Jehovah te dien. Vandag moet gesinshoofde dieselfde vir hulle gesin doen (Sien paragraaf 15-16)

15. Wat moet ’n gesinshoof onthou?

15 Een manier hoe ’n gesinshoof kan wys dat hy sy gesin liefhet, is deur vir sy gesin te sorg (1 Tim. 5:8). Maar hy moet onthou dat dit baie belangriker is om sy gesin te help om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê (Matt. 5:3). Kyk na die goeie voorbeeld wat Jesus vir gesinshoofde gestel het. Die boek Johannes sê vir ons dat Jesus aan sy gesin gedink het selfs toe hy aan die folterpaal gehang het en besig was om te sterf. Johannes was saam met Jesus se ma, Maria, by die plek waar Jesus aan die paal gehang het. Alhoewel Jesus in verskriklike pyn was, het hy vir Johannes gevra om vir Maria te sorg (Joh. 19:26, 27). Jesus het broers en susters gehad wat seker sou maak dat Maria die dinge sou kry wat sy nodig het, maar dit lyk nie asof enige een van hulle Jesus op daardie stadium gevolg het nie. So Jesus wou seker maak dat daar iemand was wat vir Maria sou sorg en wat haar ook sou aanmoedig om Jehovah te bly dien.

16. Watter verantwoordelikhede het Johannes gehad?

16 Johannes het baie verantwoordelikhede gehad. As een van die apostels het hy die leiding geneem in die predikingswerk. Hy was dalk ook getroud. So hy moes vir sy gesin sorg en hulle ook help om ’n goeie verhouding met God te hê (1 Kor. 9:5). Wat is die les vir gesinshoofde vandag?

17. Hoekom is dit vir ’n gesinshoof belangrik om sy gesin te help om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê?

17 ’n Broer wat ’n gesinshoof is, het dalk ’n hele paar belangrike verantwoordelikhede. Byvoorbeeld, hy moet hard werk wanneer hy by die werk is sodat sy gedrag eer op Jehovah se naam kan bring (Ef. 6:5, 6; Tit. 2:9, 10). En hy het dalk verantwoordelikhede in die gemeente, soos om ’n herder te wees en om die leiding in die predikingswerk te neem. En dan is dit ook belangrik dat hy gereeld die Bybel saam met sy vrou en kinders studeer. Hulle sal baie dankbaar wees vir alles wat hy doen om hulle gesond en gelukkig te hou en om hulle te help om aan te hou om Jehovah te dien. – Ef. 5:28, 29; 6:4.

‘BLY IN MY LIEFDE’

18. Waarvan was Johannes seker?

18 Johannes het ’n lang en opwindende lewe gehad. Hy het ook baie probleme ondervind wat sy geloof kon verswak het. Maar hy het altyd sy bes probeer om Jesus se gebooie te gehoorsaam, insluitende die gebod om sy broers en susters lief te hê. As gevolg hiervan was Johannes seker dat Jehovah en Jesus hom liefhet en dat hulle hom die krag sou gee om enige probleem te oorkom (Joh. 14:15-17; 15:10; 1 Joh. 4:16). Satan en sy wêreld kon Johannes nie keer om sy broers en susters lief te hê en om daardie liefde vir hulle te wys deur wat hy gesê en gedoen het nie.

19. Wat moedig 1 Johannes 4:7 ons aan om te doen, en hoekom?

19 Net soos Johannes, lewe ons in ’n wêreld wat beheer word deur Satan, ’n god vol haat (1 Joh. 3:1, 10). Satan wil ons keer om ons broers en susters lief te hê, maar hy kan dit nie regkry tensy ons hom toelaat om dit te doen nie. Mag ons vasbeslote wees om lief te bly vir ons broers en susters en om daardie liefde te bewys deur wat ons doen en sê. Dan sal ons die vreugde hê om deel te wees van Jehovah se familie, en sal ons regtig gelukkig wees. – Lees 1 Johannes 4:7.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

^ par. 5 Die apostel Johannes was blykbaar “die dissipel vir wie Jesus lief was” (Joh. 21:7). So selfs as ’n jong man moes hy seker ’n hele paar pragtige eienskappe gehad het. Jare later het Jehovah hom gebruik om baie oor liefde te skryf. In hierdie artikel gaan ons kyk na party van die dinge waaroor Johannes geskryf het en ons sal bespreek wat ons uit sy voorbeeld kan leer.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Besige gesinshoof doen noodlenigingswerk, ondersteun die wêreldwye werk deur middel van sy donasies en nooi ander om saam met hom en sy vrou en kinders gesinsaanbidding te doen.