Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 4

Hou aan leer om ander intens lief te hê

Hou aan leer om ander intens lief te hê

“Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar.” – ROM. 12:10.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat wys dat baie families van vandag min liefde vir mekaar het?

DIE Bybel het voorspel dat mense in die laaste dae nie “natuurlike liefde” vir mekaar sou hê nie (2 Tim. 3:1, 3). Ons sien hoe daardie profesie vandag waar word. Daar is byvoorbeeld miljoene egskeidings wat plaasvind. Ná ’n egskeiding is ouers gewoonlik kwaad vir mekaar en voel die kinders asof niemand vir hulle lief is nie. En baie familielede voel soos vreemdelinge, al bly hulle onder dieselfde dak. Een gesinsraadgewer sê: “Ma, pa en die kinders spandeer meer tyd met hulle rekenaar, tablet, selfoon of videospeletjies as met mekaar. Al bly hulle onder dieselfde dak, ken hulle mekaar skaars.”

2-3. (a) Vir wie moet ons volgens Romeine 12:10 intense liefde hê? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons wil nie deur hierdie liefdelose wêreld gevorm word nie (Rom. 12:2). Ons moet eerder leer om intense liefde te hê, nie net vir ons familielede nie, maar ook vir ons broers en susters in die gemeente. (Lees Romeine 12:10.) Wat is intense liefde? Dit verwys na die sterk band van vriendskap tussen familielede. Ons moet leer om hierdie soort liefde vir ons broers en susters in die gemeente te hê. Wanneer ons intense liefde het, help ons om die eenheid in die gemeente te behou wat ’n belangrike deel is van aanbidding. – Miga 2:12.

3 Kom ons bespreek ’n paar Bybelvoorbeelde wat ons kan help om te leer hoe ons intense liefde vir mekaar kan hê.

JEHOVAH IS “BAIE LIEFDEVOL”

4. Wat sê Jakobus 5:11 vir ons oor Jehovah?

4 Die Bybel vertel ons van Jehovah se pragtige eienskappe. Dit sê byvoorbeeld: “God is liefde” (1 Joh. 4:8). Wanneer ons dit omtrent Jehovah leer, wil ons nader aan hom kom. Die Bybel sê ook vir ons dat Jehovah “baie liefdevol” is. (Lees Jakobus 5:11.) So die Bybel sê nie net dat Jehovah liefdevol is nie, maar dat hy baie liefdevol is. Wat ’n pragtige beskrywing van Jehovah se groot liefde vir ons!

5. Hoe wys Jehovah dat hy genadig is, en hoe kan ons hom navolg?

5 Let op dat Jakobus 5:11 Jehovah se liefde met nog ’n pragtige eienskap verbind – sy genade (Eks. 34:6). Een manier hoe Jehovah wys dat hy genadig is, is deur ons te vergewe wanneer ons foute maak (Ps. 51:1). In die Bybel beteken genade meer as om net te vergewe. Genade is ’n intense gevoel wat iemand in sy hart voel wanneer hy sien dat iemand anders deur ’n moeilike tyd gaan, en hierdie gevoel motiveer hom om daardie persoon te help. Jehovah sê dat sy begeerte om ons te help selfs sterker is as ’n ma se begeerte om haar kind te help (Jes. 49:15). Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, motiveer Jehovah se genade hom om ons te help (Ps. 37:39; 1 Kor. 10:13). Ons kan genadig wees teenoor ons broers en susters deur hulle te vergewe en nie hulle foute teen hulle te hou wanneer hulle ons teleurstel nie (Ef. 4:32). Maar die belangrikste manier om genadig te wees teenoor ons broers en susters, is deur hulle te help wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Wanneer liefde ons motiveer om genadig te wees teenoor ander, volg ons Jehovah na, die beste voorbeeld van intense liefde. – Ef. 5:1.

JONATAN EN DAWID SE “HEGTE VRIENDSKAP”

6. Hoe het Jonatan en Dawid gewys dat hulle intense liefde vir mekaar het?

6 Die Bybel vertel ons van onvolmaakte mense wat gewys het dat hulle intense liefde vir mekaar het. Kom ons bespreek die voorbeeld van Jonatan en Dawid. Die Bybel sê: “’n Hegte vriendskap het tussen hulle ontwikkel, en Jonatan het net so lief geword vir Dawid soos vir homself” (1 Sam. 18:1). Jehovah het Dawid gekies om koning te word ná Saul. Daarna het Saul baie jaloers op Dawid geword, en hy het hom probeer doodmaak. Maar Saul se seun Jonatan het nie sy pa ondersteun toe hy Dawid wou doodmaak nie. Jonatan en Dawid het belowe om vriende te bly en mekaar altyd te ondersteun. – 1 Sam. 20:42.

Dawid en Jonatan was goeie vriende, al was Jonatan baie ouer as Dawid (Sien paragraaf 6-9)

7. Wat kon Jonatan gekeer het om Dawid se vriend te word?

7 Wanneer ons dink aan die dinge wat kon gekeer het dat Jonatan en Dawid vriende word, is hulle liefde vir mekaar selfs meer verstommend. Byvoorbeeld, Jonatan was omtrent 30 jaar ouer as Dawid. Jonatan kon gedink het dat hy nie vriende kon word met iemand wat so jonk en onervare is nie. Maar Jonatan het nie so gedink nie. Hy het groot respek vir Dawid gehad.

8. Hoekom dink jy was Jonatan so ’n goeie vriend vir Dawid?

8 Jonatan kon jaloers op Dawid gewees het. Omdat Jonatan koning Saul se seun was, kon hy daarop aangedring het dat hy die volgende koning moet wees (1 Sam. 20:31). Maar Jonatan was nederig en hy was lojaal aan Jehovah. Daarom het hy Jehovah se besluit om Dawid die volgende koning te maak, heeltemal ondersteun. Hy was ook lojaal aan Dawid, selfs al het dit Saul baie kwaad gemaak. – 1 Sam. 20:32-34.

9. Hoe weet ons dat Jonatan nie jaloers op Dawid was nie?

9 Jonatan het intense liefde vir Dawid gehad, en daarom was hy nie jaloers op hom nie. Jonatan was ’n uitstekende boogskutter en ’n dapper vegter. Mense het gesê dat hy en sy pa, Saul, “vinniger as arende” en “sterker as leeus” was (2 Sam. 1:22, 23). Daarom kon Jonatan gespog het oor die dapper dinge wat hy gedoen het. Maar Jonatan het nie probeer om beter as Dawid te wees nie, en hy was ook nie jaloers op hom nie. Jonatan het Dawid eerder bewonder omdat hy so moedig was en op Jehovah vertrou het. Byvoorbeeld, nadat Dawid Goliat doodgemaak het, het Jonatan net so lief geword vir Dawid soos vir homself. Hoe kan ons wys dat ons sulke intense liefde vir ons broers en susters het?

HOE KAN ONS VANDAG WYS DAT ONS INTENSE LIEFDE HET?

10. Wat beteken dit om ‘mekaar intens lief te hê uit die hart’?

10 Die Bybel sê vir ons dat ons ‘mekaar intens moet liefhê uit die hart’ (1 Pet. 1:22). Jehovah stel die voorbeeld vir ons. Sy liefde is so intens dat niks daardie band kan breek solank ons lojaal bly aan hom nie (Rom. 8:38, 39). Die Griekse woord wat as “intens” vertaal word, dra die gedagte oor van ’n persoon wat hom inspan om iets te doen. Soms sal ons ons moet inspan om intense liefde vir ons broers en susters te hê. Wanneer ander ons kwaad maak, moet ons aanhou om “mekaar in liefde [te] verdra” en ons moet “hard [probeer] om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:1-3). Wanneer ons hard probeer om die “verenigende band van vrede” te bewaar, sal ons verby ons broers se foute kyk. Ons sal ons bes doen om ons broers te sien soos Jehovah hulle sien. – 1 Sam. 16:7; Ps. 130:3.

Paulus het vir Euodia en Sintige gesê dat hulle moet leer om oor die weg te kom. Dit is nie altyd maklik om met ons broers en susters oor die weg te kom nie (Sien paragraaf 11)

11. Hoekom is dit soms moeilik om intense liefde vir ander te hê?

11 Dit is nie altyd maklik om intense liefde vir ons broers en susters te hê nie, veral as ons bewus is van hulle foute. Dit was blykbaar ’n uitdaging vir party Christene in die eerste eeu. Byvoorbeeld, dit was nie vir Euodia en Sintige ’n probleem om ‘saam met Paulus vir die goeie nuus te werk nie’. Maar om die een of ander rede het hulle gesukkel om met mekaar oor die weg te kom. Daarom het Paulus hulle aangemoedig “om dieselfde denke te hê terwyl hulle die Here dien”. – Fil. 4:2, 3.

Jonger en ouer ouermanne kan goeie vriende word (Sien paragraaf 12)

12. Hoe kan ons leer om intense liefde vir ons broers en susters te hê?

12 Hoe kan ons leer om intense liefde vir ons broers en susters te hê vandag? Wanneer ons ons broers en susters beter leer ken, sal dit vir ons makliker wees om hulle te verstaan en om intense liefde vir hulle te hê. Hulle ouderdom en agtergrond moet ons nie keer om hulle vriende te word nie. Onthou, Jonatan was omtrent 30 jaar ouer as Dawid, maar hulle twee het goeie vriende geword. Is daar iemand in jou gemeente wat ouer of jonger as jy is met wie jy vriende kan word? As jy dit doen, wys jy dat jy “lief [is] vir die hele gemeenskap van broers”. – 1 Pet. 2:17.

Sien paragraaf 12 *

13. Hoekom voel ons dalk nader aan party as aan ander?

13 Gaan ons ’n sterk vriendskap met almal in die gemeente hê as ons intense liefde vir hulle het? Nee, dis nie realisties nie. Dit is normaal om nader aan sekere mense te voel omdat ons in dieselfde dinge as hulle belangstel. Alhoewel Jesus al sy apostels “vriende” genoem het, het hy ’n spesiale vriendskap met Johannes gehad (Joh. 13:23; 15:15; 20:2). Maar Jesus het Johannes nie beter as die ander behandel nie. Byvoorbeeld, toe Johannes en sy broer Jakobus vir belangrike posisies in God se Koninkryk gevra het, het Jesus vir hulle gesê: “Om aan my regterhand of aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie” (Mark. 10:35-40). Net soos Jesus, moet ons nie ons goeie vriende beter as ander behandel nie (Jak. 2:3, 4). As ons dit doen, kan ons verdeeldheid in die gemeente veroorsaak. – Jud. 17-19.

14. Hoe kan Filippense 2:3 ons help om nie beter as ander te probeer wees nie?

14 As ons intense liefde vir mekaar het, sal ons nie probeer om beter as ander te wees nie. Onthou dat Jonatan nie jaloers op Dawid was nie en nie probeer het om koning in Dawid se plek te word nie. Ons almal kan Jonatan se voorbeeld navolg. Moenie jaloers word op jou broers en susters nie, “maar wees nederig en beskou ander as hoër as jouself”. (Lees Filippense 2:3.) Onthou dat elkeen in die gemeente iets kan doen wat die gemeente kan help. As ons nederig bly, sal ons die goeie in ons broers en susters kan raaksien, en dan sal hulle getroue voorbeeld ons kan help. – 1 Kor. 12:21-25.

15. Wat het jy geleer uit die ondervinding van Tanya en haar gesin?

15 Wanneer iets slegs in ons lewe gebeur, vertroos Jehovah ons deur middel van die intense liefde en praktiese hulp wat ons broers en susters ons gee. Kyk na wat met een gesin gebeur het ná die Saterdagprogram van een van die Internasionale streekbyeenkomste vir 2019 in die Verenigde State. Tanya, ’n ma van drie kinders, vertel: “Ons was op pad terug na ons hotel toe, toe ’n ander bestuurder beheer verloor het van sy kar en in ons kar vasgery het. Niemand het seergekry nie, maar ons was in skok en het uit die kar geklim en daar langs die hoofweg gestaan. Iemand het langs die pad afgetrek en vir ons gesê dat ons na sy kar toe moet kom sodat ons veilig kan wees. Dit was een van ons broers wat ook by die byeenkoms was. En hy was nie die enigste een wat gestop het nie. Vyf Getuies van Swede wat ook by die byeenkoms was, het ook gestop. Die susters het my en my dogter stywe drukkies gegee, wat ons so nodig gehad het. Ek het hulle verseker dat ons oukei sou wees, maar hulle wou ons nie alleen los nie. Hulle het by ons gebly selfs nadat die ambulans daar aangekom het. En hulle het seker gemaak dat ons alles het wat ons nodig gehad het. In daardie moeilike tyd het ons Jehovah se liefde gevoel. Hierdie ondervinding het ons gehelp om ons liefde vir ons broers en susters te versterk, en dit het ons gehelp om Jehovah meer lief te hê en te waardeer.” Kan jy aan ’n tyd dink toe jy hulp nodig gehad het en ’n broer gewys het dat hy intense liefde vir jou het?

16. Watter redes het ons om te wys dat ons mekaar intens liefhet?

16 Dink aan die goeie dinge wat gebeur wanneer ons wys dat ons mekaar intens liefhet. Ons vertroos ons broers en susters wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Ons versterk die eenheid onder God se volk. Ons bewys dat ons Jesus se dissipels is, en dit trek opregte mense na ware aanbidding. En die belangrikste van alles is dat ons Jehovah, “die Vader van groot genade en die God van alle vertroosting,” verheerlik (2 Kor. 1:3). Laat ons aanhou leer om intense liefde vir mekaar te hê en om hierdie liefde aan mekaar te bewys!

LIED 130 Wees vergewensgesind

^ par. 5 Jesus het gesê dat sy dissipels herken sou word deur die liefde wat hulle vir mekaar het. Ons almal probeer om te wys dat ons vir mekaar lief is. Ons kan ons liefde vir ons broers versterk deur te leer om intense liefde vir hulle te hê – die soort liefde wat familielede vir mekaar het. Hierdie artikel sal ons help om te leer hoe om intense liefde vir ons broers te hê en hoe om hierdie liefde te behou.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jonger ouerman leer baie by ’n ouer ouerman. Die ouer broer nooi die jonger broer na sy huis toe en hulle en hulle vrouens betoon liefde en gasvryheid teenoor mekaar.