Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

‘Die hoof van elke man is die Christus’

‘Die hoof van elke man is die Christus’

‘Die hoof van elke man is die Christus.’ – 1 KOR. 11:3.

LIED 12 Groot God, Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat kan ’n invloed hê op hoe ’n man hoofskap beskou?

WAT beteken die woord “hoofskap” vir jou? Party mans laat toe dat hulle tradisie, kultuur of agtergrond ’n invloed het op hoe hulle hulle vrou en kinders behandel. Let op wat Yanita, ’n suster wat in Europa bly, sê: “Waar ek bly, glo baie mense vas dat mans belangriker as vrouens is en dat vrouens as bediendes gesien moet word.” En ’n broer met die naam Luke, wat in die Verenigde State bly, sê: “Party pa’s leer hulle seuns dat vrouens gesien en nie gehoor moet word nie en dat hulle opinie nie belangrik is nie.” Maar Jehovah wil nie hê dat mans hulle vrouens so moet beskou nie. (Vergelyk Markus 7:13.) Hoe kan ’n man dan leer hoe om ’n goeie gesinshoof te wees?

2. Wat moet ’n gesinshoof weet, en hoekom?

2 As ’n man ’n goeie gesinshoof wil wees, moet hy eers verstaan wat Jehovah van hom verwag. Hy moet ook weet hoekom Jehovah die hoofskapreëling ingestel het en hoe hy Jehovah en Jesus se voorbeeld kan navolg. Hoekom is dit belangrik dat ’n man dit moet weet? Want Jehovah het gesinshoofde ’n mate van gesag gegee en hy verwag dat hulle dit goed moet gebruik. – Luk. 12:48b.

WAT IS HOOFSKAP?

3. Wat leer 1 Korintiërs 11:3 ons oor hoofskap?

3 Lees 1 Korintiërs 11:3. Hierdie vers beskryf hoe Jehovah sy familie in die hemel en op aarde georganiseer het. Hoofskap sluit twee elemente in – gesag en aanspreeklikheid. Met ander woorde, as iemand gesag kry, sal hy verantwoordelik gehou word vir hoe hy daardie gesag gebruik. Jehovah is “die hoof”, of die hoogste gesag, en hy sal al sy kinders, in die hemel en op die aarde, verantwoordelik hou vir hoe hulle hulle gesag gebruik (Rom. 14:10; Ef. 3:14, 15). Jehovah het Jesus gesag oor die gemeente gegee, maar Jehovah sal Jesus verantwoordelik hou vir hoe hy ons behandel (1 Kor. 15:27). En Jehovah het die man gesag oor sy vrou en kinders gegee, maar Jehovah en Jesus sal die man verantwoordelik hou vir hoe hy sy familie behandel. – 1 Pet. 3:7.

4. Wat het Jehovah en Jesus die reg om te doen?

4 Omdat Jehovah die Hoof is van al sy kinders in die hemel en op die aarde, het hy die reg om vir hulle te sê hoe hulle hulle moet gedra, en hy het die reg om seker te maak dat hulle daardie reëls gehoorsaam (Jes. 33:22). En omdat Jesus die hoof van die Christengemeente is, het hy ook die reg om reëls te maak en om seker te maak dat ons daardie reëls gehoorsaam. – Gal. 6:2; Kol. 1:18-20.

5. Watter gesag het ’n gesinshoof, maar wat is die perke van sy gesag?

5 Net soos Jehovah en Jesus, het ’n gesinshoof die reg om besluite vir sy gesin te maak (Rom. 7:2; Ef. 6:4). Maar sy gesag het perke. Byvoorbeeld, sy reëls moet gebaseer wees op die beginsels in God se Woord (Spr. 3:5, 6). ’n Gesinshoof het ook nie die reg om reëls te maak vir dié wat nie deel van sy gesin is nie (Rom. 14:4). En wanneer sy seuns en dogters die huis verlaat, sal hulle aanhou om hom te respekteer, maar hy sal nie meer hulle hoof wees nie. – Matt. 19:5.

HOEKOM HET JEHOVAH DIE HOOFSKAPREËLING INGESTEL?

6. Hoekom het Jehovah die hoofskapreëling ingestel?

6 Jehovah het die hoofskapreëling ingestel omdat hy lief is vir sy familie. Dit is ’n geskenk van hom. Die hoofskapreëling maak dit vir Jehovah se familie moontlik om vrede te kan hê en om ordelik te kan wees (1 Kor. 14:33, 40). Sonder die hoofskapreëling sou Jehovah se familie ongelukkig en ongeorganiseerd wees. Byvoorbeeld, niemand sou weet wie die finale besluit moet maak en wie die leiding moet neem om daardie besluit uit te voer nie.

7. Volgens Efesiërs 5:25 en 28, hoe wil Jehovah hê moet mans hulle vrouens behandel?

7 As God se hoofskapreëling so ’n goeie ding is, hoekom voel baie vrouens dan dat hulle man hulle onderdruk en domineer? Dit is omdat baie mans Jehovah se standaarde vir die gesin ignoreer en eerder besluit om plaaslike tradisies te volg. Of miskien behandel hulle hulle vrouens sleg om hulleself goed te laat voel. Byvoorbeeld, ’n man sal sy vrou dalk onderdruk om sy selfrespek ’n hupstoot te gee of om aan ander te bewys dat hy ’n “regte man” is. Hy dink miskien dat hy nie sy vrou kan dwing om hom lief te hê nie, maar dat hy haar wel kan dwing om hom te vrees. En hy gebruik dalk daardie vrees om haar te probeer beheer. * Maar mans wat so dink en optree gee hulle vrouens nie die respek wat hulle verdien nie, en hulle doen die teenoorgestelde van wat Jehovah wil hê hulle moet doen. – Lees Efesiërs 5:25, 28.

HOE KAN ’N MAN LEER OM ’N GOEIE GESINSHOOF TE WEES?

8. Hoe kan ’n man leer om ’n goeie gesinshoof te wees?

8 ’n Man kan leer om ’n goeie gesinshoof te wees deur te leer hoe Jehovah en Jesus hulle gesag gebruik en hulle dan te probeer navolg. Ons gaan nou fokus op twee van Jehovah en Jesus se eienskappe en dan gaan ons kyk na hoe ’n gesinshoof daardie eienskappe kan navolg.

9. Hoe weet ons dat Jehovah nederig is?

9 Nederigheid. Jehovah is die wysste persoon in die heelal en tog luister hy na die opinies van sy knegte (Gen. 18:23, 24, 32). Hy het dié wat onder sy gesag is al toegelaat om voorstelle te maak (1 Kon. 22:19-22). Jehovah is volmaak, maar hy verwag nie dat ons nou al volmaak moet wees nie. Hy help sy onvolmaakte knegte eerder om suksesvol te wees (Ps. 113:6, 7). Die Bybel beskryf Jehovah selfs as ’n “helper” (Ps. 27:9; Heb. 13:6). Koning Dawid het erken dat hy sy toewysing net kon uitvoer omdat Jehovah nederig was en hom gehelp het. – 2 Sam. 22:36.

10. Hoe het Jesus gewys dat hy nederig is?

10 Kom ons kyk na Jesus se voorbeeld. Alhoewel hy sy dissipels se Here en Meester was, het hy hulle voete gewas. Wat is een van die redes hoekom Jehovah hierdie verslag in die Bybel laat neerskryf het? Om gesinshoofde, en ander, ’n duidelike voorbeeld te gee wat hulle moet navolg. Jesus het self gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel sodat julle ook moet doen wat ek vir julle gedoen het” (Joh. 13:12-17). Al het hy baie gesag gehad, het Jesus nie verwag dat ander hom moet dien nie. Hy het eerder ander gedien. – Matt. 20:28.

’n Gesinshoof wys dat hy nederig is en sy gesin liefhet deur takies by die huis te doen en deur geestelik vir sy gesin te sorg (Sien paragraaf 11, 13)

11. Wat kan ’n gesinshoof by Jehovah en Jesus oor nederigheid leer?

11 Lesse vir ons. ’n Gesinshoof kan op baie maniere wys dat hy nederig is. Byvoorbeeld, hy verwag nie dat sy vrou en kinders volmaak moet wees nie. Hy luister na hulle opinies, al is dit anders as syne. Marley, wat in die Verenigde State bly, sê: “Ek en my man stem nie altyd saam nie. Maar ek weet dat hy my waardeer en respekteer omdat hy my opinie vra en goed daaroor nadink voordat hy ’n besluit neem.” En ’n nederige man is bereid om takies by die huis te doen, selfs al dink mense in sy gemeenskap dat dit ’n vrou se werk is. Dit kan dalk ’n uitdaging wees. Hoekom? ’n Suster met die naam Rachel sê: “As ’n man sy vrou help om die skottelgoed te was en om die huis skoon te maak, sal die mense waar ek vandaan kom wonder of hy ’n ‘regte man’ is. Hulle sal dink dat hy nie sy vrou kan beheer nie.” As baie mense waar jy bly, so voel, onthou dat Jesus die voete van sy dissipels gewas het, al het mense gedink dat dit ’n slaaf se werk is. ’n Goeie gesinshoof wil nie homself goed laat lyk nie, maar wil eerder sy vrou en kinders goed laat voel. Maar behalwe nederigheid, watter ander eienskap het ’n gesinshoof nodig?

12. Wat beweeg Jehovah en Jesus se liefde hulle om te doen?

12 Liefde. Alles wat Jehovah doen, word gemotiveer deur liefde (1 Joh. 4:7, 8). Deur middel van die Bybel en sy organisasie gee hy vir ons alles wat ons nodig het om geestelik sterk te bly. Hy sorg vir ons emosioneel deur ons te verseker dat hy ons liefhet. En wat van ons materiële behoeftes? Jehovah is die een “wat alles ryklik aan ons gee om te geniet” (1 Tim. 6:17). Wanneer ons foute maak, dissiplineer hy ons, maar hy hou nooit op om ons lief te hê nie. Omdat Jehovah ons liefhet, het hy vir ons die losprys gegee. En Jesus is so lief vir ons dat hy sy lewe vir ons gegee het (Joh. 3:16; 15:13). Niks kan die band van liefde breek wat Jehovah en Jesus vir hulle knegte voel wat lojaal aan hulle bly nie. – Joh. 13:1; Rom. 8:35, 38, 39.

13. Hoekom is dit belangrik dat ’n gesinshoof wys dat hy vir sy gesin lief is? (Sien ook die venster “ Hoe kan ’n pasgetroude man die respek van sy vrou wen?”)

13 Lesse vir ons. Alles wat ’n gesinshoof doen, moet deur liefde gemotiveer word. Hoekom is dit so belangrik? Die apostel Johannes antwoord: “As iemand nie lief is vir sy broer [of gesin], wat hy gesien het nie, kan hy nie lief wees vir God, wat hy nie gesien het nie” (1 Joh. 4:11, 20). ’n Man wat vir sy gesin lief is en wat Jehovah wil navolg, sal geestelik, emosioneel en materieel vir sy gesin sorg (1 Tim. 5:8). Hy sal sy kinders oplei en dissiplineer. Hy sal ook aanhou leer hoe om besluite te maak wat vir sy gesin die beste sal wees en wat Jehovah sal eer. Kom ons kyk hoe ’n gesinshoof hierdie dinge kan doen en hoe hy Jehovah en Jesus kan navolg.

WAT ’N GESINSHOOF MOET DOEN

14. Hoe kan ’n gesinshoof geestelik vir sy gesin sorg?

14 Hy moet geestelik vir sy gesin sorg. Net soos sy Vader, wou Jesus seker maak dat sy volgelinge geestelik sterk bly (Matt. 5:3, 6; Mark. 6:34). Net so is ’n gesinshoof se belangrikste verantwoordelikheid om geestelik vir sy gesin te sorg (Deut. 6:6-9). Hy doen dit deur seker te maak dat hy en sy gesin God se Woord lees en studeer, vergaderinge bywoon, velddiens doen en hulle vriendskap met Jehovah opbou en sterk hou.

15. Wat is een manier hoe ’n gesinshoof emosioneel vir sy gesin kan sorg?

15 Hy moet emosioneel vir sy gesin sorg. Jehovah het voor ander gesê dat hy vir Jesus lief is (Matt. 3:17). Jesus het deur sy woorde en dade gereeld vir sy volgelinge gewys dat hy hulle liefhet. En sy volgelinge het ook vir hom gesê dat hulle hom liefhet (Joh. 15:9, 12, 13; 21:16). ’n Gesinshoof kan vir sy vrou en kinders wys dat hy hulle liefhet deur wat hy doen, soos om die Bybel met hulle te studeer. Hy moet ook vir hulle sê dat hy hulle liefhet en waardeer, en wanneer dit gepas is, moet hy hulle voor ander prys. – Spr. 31:28, 29.

As ’n gesinshoof Jehovah gelukkig wil maak, moet hy materieel vir sy gesin sorg (Sien paragraaf 16)

16. Wat moet ’n gesinshoof nog doen, maar waarvoor moet hy versigtig wees?

16 Hy moet materieel vir sy gesin sorg. Jehovah het materieel gesorg vir die Israeliete, selfs toe hy hulle gestraf het omdat hulle ongehoorsaam was (Deut. 2:7; 29:5). Vandag maak hy ook seker dat ons alles het wat ons nodig het (Matt. 6:31-33; 7:11). En Jesus het vir sy volgelinge kos gegee (Matt. 14:17-20). Hy het ook gesorg dat hulle fisies gesond is (Matt. 4:24). As ’n gesinshoof Jehovah gelukkig wil maak, moet hy materieel vir sy gesin sorg. Maar hy moet versigtig wees dat hy nie so betrokke by sy werk raak dat hy sy gesin se geestelike en emosionele behoeftes afskeep nie.

17. Watter voorbeeld stel Jehovah en Jesus wanneer hulle ons oplei en dissiplineer?

17 Hy moet opleiding gee. Jehovah lei ons op en dissiplineer ons omdat hy ons wil help (Heb. 12:7-9). Net soos sy Vader, lei Jesus dié wat onder sy gesag is op ’n liefdevolle manier op (Joh. 15:14, 15). Hy is ferm maar liefdevol (Matt. 20:24-28). Hy weet dat ons onvolmaak is en dat ons foute sal maak. – Matt. 26:41.

18. Wat sal ’n goeie gesinshoof in gedagte hou?

18 ’n Gesinshoof wat Jehovah en Jesus navolg hou in gedagte dat almal in die gesin onvolmaak is. Hy word nie “bitter kwaad” vir sy vrou en kinders nie (Kol. 3:19). Hy probeer hulle eerder reghelp “op ’n sagmoedige manier”, net soos Galasiërs 6:1 sê, en hy hou in gedagte dat hy ook onvolmaak is. Net soos Jesus, besef hy dat die beste manier om hulle te leer, is deur ’n goeie voorbeeld vir hulle te stel. – 1 Pet. 2:21.

19-20. Hoe kan ’n gesinshoof Jehovah en Jesus navolg wanneer hy besluite maak?

19 Hy maak onselfsugtige besluite. Jehovah maak besluite wat die beste vir ander sal wees. Byvoorbeeld, Jehovah het lewe geskep, nie om homself te bevoordeel nie, maar sodat ons die lewe kan geniet. En niemand kon hom gedwing het om sy seun te gee om vir ons sondes te sterf nie. Hy het dit uit sy eie gedoen omdat hy ons wou help. Jesus het ook besluite gemaak wat vir ander die beste sou wees (Rom. 15:3). Byvoorbeeld, eenkeer toe Jesus baie moeg was, het hy besluit om ’n groot groep mense te leer eerder as om te rus. – Mark. 6:31-34.

20 ’n Goeie gesinshoof weet dat een van die moeilikste dinge wat hy moet doen, is om goeie besluite vir sy gesin te maak, en hy neem daardie verantwoordelikheid ernstig op. Hy sal nie besluite maak sonder goeie rede nie en hy sal ook nie besluite maak wat gebaseer is op hoe hy op daardie oomblik voel nie. Hy laat Jehovah eerder toe om hom op te lei (Spr. 2:6, 7). * Dan sal hy besluite maak wat vir ander die beste sal wees. – Fil. 2:4.

21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Jehovah het gesinshoofde ’n moeilike toewysing gegee, en hy hou hulle verantwoordelik vir hoe hulle daardie toewysing uitvoer. Maar as ’n man hard probeer om Jehovah en Jesus se voorbeeld na te volg, sal hy ’n goeie gesinshoof wees. En as sy vrou haar verantwoordelikhede in die gesin nakom, sal hulle ’n gelukkige huwelik hê. Hoe moet ’n getroude vrou oor die hoofskapreëling voel, en watter uitdagings het sy? Die volgende artikel sal daardie vrae beantwoord.

LIED 16 Loof Jah vir sy Seun, die Gesalfde

^ par. 5 Wanneer ’n man trou, word hy die hoof van ’n gesin. In hierdie artikel sal ons bespreek wat hoofskap is, hoekom Jehovah dit ingestel het en wat mans uit Jehovah en Jesus se voorbeeld kan leer. In die volgende artikel sal ons bespreek wat ’n man en vrou by Jesus en ander Bybelkarakters kan leer. En in die derde artikel sal ons kyk na hoofskap in die gemeente.

^ par. 7 Films, opvoerings en selfs strokiesprente het mense al die idee gegee dat dit aanvaarbaar is vir ’n man om sy vrou sleg te behandel of selfs fisies te mishandel. Daarom dink baie mense dat dit nie verkeerd is vir ’n man om sy vrou te onderdruk nie.

^ par. 20 Vir meer inligting oor hoe om goeie besluite te maak, sien die artikel “Neem besluite wat God eer” in Die Wagtoring van 15 April 2011, bl. 13-17.