Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 10

Hoe die gemeente Bybelstudente kan help om tot doop te vorder

Hoe die gemeente Bybelstudente kan help om tot doop te vorder

‘Elke deel dra by tot die groei van die liggaam.’ – EF. 4:16.

LIED 85 Verwelkom mekaar

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wie kan ’n Bybelstudent help om tot doop te vorder?

AMY, wat in Fidji bly, sê: “Ek het baie gehou van wat ek in my Bybelstudie geleer het. Ek het geweet dat dit die waarheid is. Maar eers toe ek met die broers en susters begin assosieer, het ek die nodige veranderinge gemaak en tot doop gevorder.” Amy se ondervinding leer ons hierdie belangrike waarheid: As ander in die gemeente ’n Bybelstudent help, is die kanse groter dat hy vordering sal maak.

2 Elke verkondiger kan nuwe persone help om deel van die gemeente te word (Ef. 4:16). ’n Pioniersuster met die naam Leilani, wat in Vanuatu bly, sê: “Daar is al gesê dat dit ’n dorpie vat om ’n kind groot te maak. Ek dink dit is dieselfde wanneer ons dissipels maak. Dit vat gewoonlik ’n gemeente om iemand in die waarheid te bring.” Familielede, vriende en onderwysers help almal om ’n kind groot te maak. Hulle doen dit deur die kind aan te moedig en hom belangrike lesse te leer. Net so kan verkondigers Bybelstudente help om tot doop te vorder deur hulle raad te gee, deur hulle aan te moedig en deur ’n goeie voorbeeld te stel. – Spr. 15:22.

3. Wat leer jy uit die kommentare wat Ana, Dorin en Leilani gemaak het?

3 Hoekom moet die verkondiger wat die Bybelstudie hou, bly wees wanneer ander in die gemeente die student wil help? Kyk wat Ana, ’n spesiale pionier in Moldowa, gesê het: “’n Bybelstudent het baie hulp nodig en dit is moeilik vir een persoon om al hierdie hulp vir die student te gee.” Dorin, ’n spesiale pionier wat in dieselfde land dien, sê: “Baie keer sê ander verkondigers iets wat die student se hart raak, iets waaraan ek nooit sou gedink het nie.” Leilani noem nog ’n rede: “Wanneer ’n student sien dat die broers en susters hom liefhet en vir hom omgee, help dit hom om te besef dat ons regtig Jehovah se volk is.” – Joh. 13:35.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Maar jy wonder dalk: ‘Hoe kan ek ’n Bybelstudent help as ek nie die een is wat die Bybelstudie hou nie?’ Kom ons kyk wat ons kan doen wanneer iemand ons nooi om saam met hulle na ’n Bybelstudie toe te gaan en wat ons kan doen wanneer die Bybelstudent vergaderinge begin bywoon. Ons gaan ook sien hoe ouermanne Bybelstudente kan help om tot doop te vorder.

WANNEER JY SAAM MET IEMAND NA ’N BYBELSTUDIE TOE GAAN

Wanneer jy saam met iemand na ’n Bybelstudie toe gaan, berei die inligting voor wat bespreek gaan word (Sien paragraaf 5-7)

5. Wat moet jy doen wanneer jy genooi word om saam met iemand na ’n Bybelstudie toe te gaan?

5 By ’n Bybelstudie is dit die onderrigter se verantwoordelikheid om die student te help om God se Woord te verstaan. As die onderrigter jou nooi om saam met hom te gaan, is jy daar om hom te ondersteun (Pred. 4:9, 10). Maar wat kan jy doen om hom te ondersteun?

6. Hoe kan jy die beginsel in Spreuke 20:18 toepas voordat jy saam met iemand na ’n Bybelstudie toe gaan?

6 Berei vir die Bybelstudie voor. Vra die onderrigter eers om jou ’n bietjie meer oor die student te vertel. (Lees Spreuke 20:18.) Jy kan vra: “Wat is die student se agtergrond? Watter onderwerp gaan jy met hom studeer? Wat wil jy hê moet die student uit hierdie studiesessie leer? Is daar enige iets wat ek moet of nie moet sê of doen terwyl ons by die studie is nie? Hoe kan ek die student aanmoedig om vordering te maak?” Die onderrigter sal natuurlik nie enige persoonlike inligting gee nie, maar wat hy wel sê, sal jou kan help. ’n Sendeling met die naam Joy het hierdie soort besprekings met persone wat saam met haar na ’n Bybelstudie toe gaan. Sy erken: “Hierdie bespreking help my velddiensmaat om in die student belang te stel en om te weet wat om te sê gedurende die studie.”

7. Hoekom moet jy voorberei as jy saam met iemand na hulle Bybelstudie toe gaan?

7 As jy genooi word om saam met iemand na ’n Bybelstudie toe te gaan, sal dit goed wees as jy die inligting wat bespreek gaan word, voor die tyd voorberei (Esra 7:10). Dorin, die broer wat vroeër genoem is, sê: “Ek waardeer dit wanneer my velddiensmaat vir die studie voorberei. Dan kan hy ook deelneem aan die bespreking.” Die student sal heel moontlik ook sien dat julle al twee goed voorbereid is en dit sal ’n goeie voorbeeld vir hom stel. Selfs al kan jy nie goed vir die les voorberei nie, kan jy ten minste kyk wat die hoofgedagtes van die les is.

8. Hoe kan jy seker maak dat jou gebede betekenisvol is wanneer jy by ’n Bybelstudie is?

8 Gebed is ’n belangrike deel van ’n Bybelstudiesessie. So dink voor die tyd aan wat jy gaan sê as jy gevra word om te bid. Dan sal jou gebed heel moontlik meer betekenisvol wees (Ps. 141:2). Hanae, wat in Japan bly, sê dat sy nog steeds die gebede onthou van ’n suster wat saam met haar Bybelonderrigter na die Bybelstudie toe gekom het. Sy sê: “Ek kon hoor dat sy ’n sterk vriendskap met Jehovah het, en ek wou soos sy wees. Ek kon ook voel dat sy my liefhet toe sy my naam in haar gebede genoem het.”

9. Wat kan jy volgens Jakobus 1:19 doen om die onderrigter by ’n Bybelstudie te help?

9 Ondersteun die onderrigter by die studie. Omamuyovbi, ’n spesiale pionier in Nigerië, sê: “’n Goeie velddiensmaat luister mooi gedurende die studie. Hy noem goeie punte, maar hy praat nie te veel nie, want hy besef dat dit die onderrigter se werk is om die studie te hou.” So, hoe weet jy wat om by die studie te sê en wanneer om dit te sê? (Spr. 25:11). Luister mooi terwyl die onderrigter en die student praat. (Lees Jakobus 1:19.) Dan sal jy gereed wees om op die regte tyd te help. Jy moet natuurlik dink voordat jy praat. Byvoorbeeld, jy wil nie te veel praat of iets sê terwyl die onderrigter besig is om iets te verduidelik nie. En jy wil ook nie oor ’n ander onderwerp begin praat nie. Maar met ’n kort kommentaar, illustrasie of vraag, kan jy help om die punt wat bespreek word, duideliker te maak. Soms voel jy dalk dat jy nie baie het om oor die onderwerp te sê nie. Maar as jy die student prys en hom wys dat jy in hom belangstel, sal jy baie doen om hom te help om vordering te maak.

10. Hoe kan jou ondervinding ’n Bybelstudent dalk help?

10 Vertel jou ondervinding. As dit die student sal help, kan jy kortliks vir hom vertel hoe jy die waarheid geleer het, hoe jy ’n uitdaging oorkom het, of hoe jy Jehovah se hand in jou lewe gesien het (Ps. 78:4, 7). Jou ondervinding is dalk net wat ’n student nodig het. Dit kan dalk sy geloof versterk of hom aanmoedig om tot doop te vorder. En dit kan hom help om ’n probleem wat hy het, te hanteer (1 Pet. 5:9). Gabriel, wat in Brasilië bly en wat nou as ’n pionier dien, onthou wat hom gehelp het toe hy die Bybel gestudeer het. Hy sê: “Toe ek die broers se ondervindinge gehoor het, het ek geleer dat Jehovah weet watter probleme ons het. En as hulle dit kon hanteer, kon ek ook.”

WANNEER DIE BYBELSTUDENT VERGADERINGE BYWOON

Ons almal kan die student aanmoedig om gereeld vergaderinge by te woon (Sien paragraaf 11)

11-12. Hoekom moet ons ’n Bybelstudent wat vergaderinge bywoon, welkom laat voel?

11 ’n Bybelstudent moet gereeld die vergaderinge bywoon as hy tot doop wil vorder (Heb. 10:24, 25). Die onderrigter sal hom heel moontlik na sy eerste vergadering toe nooi. Wanneer hy by die vergadering is, kan ons almal hom aanmoedig om die vergaderinge gereeld by te woon. Hoe kan ons dit doen?

12 Laat die student welkom voel (Rom. 15:7). As die student welkom voel, sal hy heel moontlik aanhou om na die vergaderinge toe te kom. Sonder om die student ongemaklik te laat voel, kan jy hom vriendelik groet en hom aan ander voorstel. Moenie net aanneem dat daar alreeds iemand is wat na hom omsien nie. Die onderrigter het dalk nog nie gekom nie, of dalk is hy besig met ander verantwoordelikhede. Luister mooi na wat die student sê en wys dat jy in hom belangstel. Hoe kan dit die student help? Kyk na die ondervinding van Dmitrii, wat net ’n paar jaar gelede gedoop is en wat nou as ’n bedieningskneg dien. Hy sê oor sy eerste vergadering: “’n Broer het gesien dat ek senuweeagtig is en buite die Koninkryksaal wag, en hy het saam met my by die Koninkryksaal ingestap. Baie het my kom groet. Ek was baie verbaas. Ek het so baie daarvan gehou dat ek gewens het dat daar elke dag ’n vergadering is. Ek het nog nooit so iets ervaar nie.”

13. Hoe kan jou goeie voorbeeld ’n Bybelstudent help?

13 Stel ’n goeie voorbeeld. Jou goeie voorbeeld kan die Bybelstudent help om te besef dat hy die waarheid gevind het (Matt. 5:16). Vitalii, wat nou as ’n gewone pionier in Moldowa dien, sê: “Ek het geleer hoe ander in die gemeente lewe, dink en optree. Dit het my oortuig dat Jehovah se Getuies die ware godsdiens het.”

14. Hoe kan jou voorbeeld dalk iemand anders help om aan te hou om vordering te maak?

14 Voordat ’n student gedoop kan word, moet hy toepas wat hy leer. Dit is nie altyd maklik nie. Maar wanneer die student sien hoe Bybelbeginsels jou help, sal dit hom dalk motiveer om jou na te volg (1 Kor. 11:1). Kyk na die ondervinding van Hanae, wat vroeër genoem is. Sy sê: “Die broers en susters was alreeds besig om die dinge toe te pas wat ek besig was om te leer. Ek het gesien hoe om ander aan te moedig en te vergewe en hoe ek kan wys dat ek hulle liefhet. Hulle het altyd goeie dinge van ander gesê, en ek wou soos hulle wees.”

15. Hoe help Spreuke 27:17 ons om te sien hoekom ons vriende met ’n Bybelstudent moet maak terwyl hy aanhou om vergaderinge by te woon?

15 Maak vriende met die student. Terwyl die student aanhou om vergaderinge by te woon, moet jy aanhou om te wys dat jy in hom belangstel (Fil. 2:4). Dalk kan jy hom beter leer ken. Sonder om te persoonlik te raak, kan jy hom prys vir enige goeie veranderinge wat hy gemaak het. Jy kan hom ook vra hoe dit gaan met sy Bybelstudie, met sy familie en by die werk. Hierdie gesprekke kan julle dalk nader aan mekaar bring. Wanneer jy die student se vriend word, kan jy hom help om tot doop te vorder. (Lees Spreuke 27:17.) Hanae dien nou as ’n gewone pionier. Sy vertel wat met haar gebeur het toe sy vergaderinge begin bywoon het: “Toe ek vriende in die gemeente begin maak het, het ek uitgesien na die vergaderinge en ek het die vergaderinge bygewoon selfs al was ek moeg. Ek het dit geniet om tyd met my nuwe vriende te spandeer en dit het my gehelp om nie meer vriende te wees met mense wat nie Jehovah aanbid nie. Ek wou nader aan Jehovah en die broers en susters kom, en daarom het ek besluit om gedoop te word.”

16. Wat kan jy nog doen om ’n Bybelstudent te help om tuis te voel in die gemeente?

16 Terwyl die student aanhou vordering maak, help hom om te voel dat hy in die gemeente behoort. Jy kan dit doen deur gasvry te wees (Heb. 13:2). Denis, wat in Moldowa bly, dink terug aan toe hy ’n Bybelstudent was en sê: “Ek en my vrou was baie keer genooi om saam met die broers en susters te kuier. Hulle het ons vertel hoe Jehovah hulle gehelp het. Hulle het ons aangemoedig. Hierdie geleenthede het ons oortuig dat ons Jehovah wou dien en dat ons ’n wonderlike lewe sou hê as ons dit doen.” Wanneer die Bybelstudent ’n verkondiger word, kan jy hom nooi om saam met jou velddiens te doen. Diego, ’n verkondiger van Brasilië, sê: “Baie broers het my genooi om saam met hulle velddiens te doen. Dit was die beste manier om hulle beter te leer ken. Terwyl ek dit gedoen het, het ek baie geleer, en ek het nader aan Jehovah en Jesus gevoel.”

HOE KAN OUERMANNE HELP?

Ouermanne, julle liefdevolle belangstelling kan studente help om vordering te maak (Sien paragraaf 17)

17. Hoe kan ouermanne Bybelstudente help?

17 Maak tyd vir Bybelstudente. Ouermanne, julle liefdevolle belangstelling kan Bybelstudente help om tot doop te vorder. Gesels gereeld met Bybelstudente by die vergaderinge. Hulle sal sien dat julle in hulle belangstel as julle hulle name onthou, veral wanneer hulle begin om antwoorde te gee. Kan julle nou en dan tyd maak om saam met ’n verkondiger na sy Bybelstudie te gaan? Julle kan ’n Bybelstudent dalk meer help as wat julle dink. ’n Pionier met die naam Jackie, wat in Nigerië bly, sê: “Baie studente is verbaas wanneer hulle uitvind dat die broer wat saam met my na hulle studie toe gekom het, ’n ouerman is. Een Bybelstudent het gesê: ‘My pastoor sou dit nooit gedoen het nie. Hy besoek net die ryk mense en net as hulle hom betaal!’” Daardie student woon nou die vergaderinge by.

18. Hoe kan ouermanne Handelinge 20:28 toepas?

18 Lei Bybelonderrigters op en moedig hulle aan. Ouermanne het die belangrike verantwoordelikheid om verkondigers te help om effektief te wees in die bediening, en dit sluit in wanneer hulle Bybelstudies hou. (Lees Handelinge 20:28.) As iemand skaam is om ’n Bybelstudie te hou terwyl jy daar is, bied aan om die studie te hou. Jackie, wat vroeër genoem is, sê: “Ouermanne vra my gereeld uit oor my Bybelstudente. Wanneer ek hulp nodig het, gee hulle my raad wat my kan help.” Ouermanne kan baie doen om onderrigters aan te moedig en te motiveer om nie op te gee nie (1 Tess. 5:11). Jackie sê verder: “Ek hou daarvan wanneer ouermanne my aanmoedig en vir my sê dat hulle my harde werk waardeer. Sulke woorde is verfrissend, net soos ’n glas koue water op ’n warm dag. Hulle liefdevolle woorde gee my meer selfvertroue en help my om meer vreugde te hê wanneer ek Bybelstudies hou.” – Spr. 25:25.

19. Watter vreugde kan ons almal hê?

19 Selfs al hou ons nie nou ’n Bybelstudie nie, kan ons nog steeds iemand help om tot doop te vorder. Sonder om te veel te praat, kan ons die Bybelonderrigter gedurende ’n studiesessie help met ons goed voorbereide kommentare. Ons kan vriende met die studente maak wanneer hulle na die Koninkryksaal kom en ons kan ’n goeie voorbeeld vir hulle stel. Ouermanne kan die studente aanmoedig deur tyd met hulle te spandeer, en hulle kan die onderrigters aanmoedig deur hulle op te lei en te prys. Ons is baie bly wanneer ons iets kan doen, selfs al is dit iets kleins, om iemand te help om Jehovah lief te hê en om hom te dien.

LIED 79 Leer hulle om standvastig te bly

^ par. 5 Nie almal van ons het op die oomblik die voorreg om ’n Bybelstudie te hou nie. Maar ons almal kan iemand help om tot doop te vorder. In hierdie artikel sal ons sien hoe elkeen van ons ’n student kan help om hierdie doelwit te bereik.