Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 12

Liefde help ons om te volhard wanneer ons gehaat word

Liefde help ons om te volhard wanneer ons gehaat word

“Ek beveel julle hierdie dinge sodat julle mekaar kan liefhê. As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voordat dit julle gehaat het.” – JOH. 15:17, 18.

LIED 129 Ons sal volhard

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom moet ons nie volgens Matteus 24:9 verbaas wees as die wêreld ons haat nie?

JEHOVAH het ons gemaak om liefde te gee en te ontvang. So wanneer iemand ons haat, maak dit ons seer en voel ons dalk selfs bang. Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Georgina, wat in Europa bly, sê: “Toe ek 14 was, het my ma my gehaat omdat ek Jehovah dien. Ek het baie hartseer en alleen gevoel, en ek het begin dink dat ek dalk nie ’n goeie mens is nie.” * ’n Broer met die naam Danylo skryf: “Toe soldate my geslaan, beledig en gedreig het omdat ek een van Jehovah se Getuies is, het ek bang en vernederd gevoel.” Dit maak ons seer wanneer mense ons haat, maar dit moet ons nie verbaas nie, want Jesus het gesê dat ons gehaat sou word. – Lees Matteus 24:9.

2-3. Hoekom word Jesus se volgelinge gehaat?

2 Hoekom haat die wêreld Jesus se volgelinge? Want net soos Jesus, is ons “geen deel van die wêreld . . . nie” (Joh. 15:17-19). So alhoewel ons menseregerings respekteer, weier ons om hulle of hulle embleme te aanbid. Jehovah is die enigste een wat ons aanbid. Ons ondersteun God se reg om oor mense te regeer, maar Satan en sy “nageslag” weier om te erken dat God daardie reg het (Gen. 3:1-5, 15). Ons leer mense dat God se Koninkryk die enigste oplossing is vir mense se probleme en dat daardie Koninkryk binnekort almal sal vernietig wat dit teëstaan (Dan. 2:44; Op. 19:19-21). Daardie boodskap is goeie nuus vir die nederiges, maar slegte nuus vir die goddeloses. – Ps. 37:10, 11.

3 Ons word ook gehaat omdat ons volgens God se regverdige standaarde lewe. Hierdie standaarde is baie anders as die wêreld se lae standaarde. Byvoorbeeld, baie mense dink nie dat dit verkeerd is om betrokke te raak by dieselfde soort onsedelike gedrag waarvoor God die mense van Sodom en Gomorra vernietig het nie! (Jud. 7). Omdat ons gehoorsaam is aan die Bybel se standaarde wanneer dit kom by sulke gedrag, spot mense ons en sê hulle dat ons te streng is. – 1 Pet. 4:3, 4.

4. Watter eienskappe versterk ons wanneer mense ons haat?

4 Wat kan ons help om te volhard wanneer mense ons haat en ons beledig? Ons moet sterk geloof hê en oortuig wees dat Jehovah ons wil help. Net soos ’n skild, kan ons geloof “al die brandende pyle van die Duiwel . . . blus” (Ef. 6:16). Maar ons het meer as net geloof nodig. Ons het ook liefde nodig. Hoekom? Want liefde “raak nie gou kwaad nie”. Dit verdra en verduur alles wat ons kan seermaak (1 Kor. 13:4-7, 13). Kom ons kyk nou hoe liefde vir Jehovah, liefde vir ons broers en susters en selfs liefde vir ons vyande ons kan help om te volhard wanneer ons gehaat word.

LIEFDE VIR JEHOVAH HELP ONS OM TE VOLHARD

5. Hoe het Jesus se liefde vir sy Vader hom versterk?

5 Die aand voordat Jesus se vyande hom doodgemaak het, het hy vir sy getroue volgelinge gesê: ‘Ek is lief vir die Vader, en daarom doen ek alles wat die Vader my beveel het om te doen’ (Joh. 14:31). Jesus se liefde vir Jehovah het hom gehelp om te volhard gedurende die moeilike tye wat voorgelê het. Ons liefde vir Jehovah kan ons ook help om dieselfde te doen.

6. Hoe voel Jehovah se knegte oor die feit dat die wêreld hulle haat, volgens Romeine 5:3-5?

6 Liefde vir Jehovah het sy knegte nog altyd gehelp om vervolging te verduur. Byvoorbeeld, toe die magtige Joodse Hoë Raad die apostels beveel het om op te hou preek, het liefde vir God hulle beweeg om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense” (Hand. 5:29; 1 Joh. 5:3). Hierdie sterk liefde vir God help ons broers ook om getrou te bly, al word hulle deur wrede en magtige regerings vervolg. In plaas daarvan om mismoedig te word, sien ons dit as ’n voorreg om deur die wêreld gehaat te word. – Hand. 5:41; lees Romeine 5:3-5.

7. Hoe moet ons reageer wanneer familielede ons teëstaan?

7 Wanneer ons familielede ons teëstaan, kan dit een van die moeilikste dinge wees om te verduur. Wanneer ons in die waarheid begin belangstel, sal party familielede dalk dink dat ons mislei word. Ander sal miskien dink dat ons van ons kop af is. (Vergelyk Markus 3:21.) Hulle sal ons dalk selfs vervolg. Dit moet ons nie verbaas nie. Jesus het gesê: “’n Mens se eie familielede sal sy vyande wees” (Matt. 10:36). Maar dit maak natuurlik nie saak hoe ons familielede ons behandel nie, ons weier om hulle soos vyande te behandel. Terwyl ons liefde vir Jehovah sterker word, word ons liefde vir mense sterker (Matt. 22:37-39). Maar ons sal nooit ophou om die wette en beginsels in die Bybel te gehoorsaam net om mense tevrede te stel nie.

Ons sal dalk ’n tyd lank swaar kry, maar Jehovah sal altyd daar wees om ons te vertroos en te versterk (Sien paragraaf 8-10)

8-9. Wat het ’n suster gehelp om te volhard, al was sy erg vervolg?

8 Georgina, wat vroeër genoem is, het dit reggekry om te volhard, al het haar ma haar erg vervolg. Georgina verduidelik: “Ek en my ma het die Bybel met die Getuies begin studeer. Maar toe ek ses maande later die vergaderinge wou bywoon, het my ma se gesindheid drasties verander. Ek het uitgevind dat sy met afvalliges te doen gehad het, en sy het hulle valse redenasies gebruik wanneer sy met my gepraat het. Sy het my ook beledig, my hare getrek, my gewurg en my lektuur weggegooi. Nadat ek 15 geword het, is ek gedoop. My ma het probeer om my te keer om Jehovah te dien deur my na ’n inrigting toe te stuur vir tieners met probleme. Party van hulle was misdadigers en het dwelms gebruik. Dit is veral moeilik om teenstand te verduur wanneer dit kom van iemand wat veronderstel is om jou lief te hê en om vir jou te sorg.”

9 Wat het Georgina gehelp om te volhard? Sy sê: “Die dag toe my ma teen my gedraai het, het ek so pas die hele Bybel klaar gelees. Ek was toe heeltemal oortuig dat ek die waarheid gevind het, en ek het baie na aan Jehovah gevoel. Ek het gereeld tot hom gebid, en hy het na my geluister. Toe ek in daardie inrigting gebly het, het ’n suster my genooi om by haar te kuier, en ons het die Bybel saam gestudeer. Gedurende daardie tyd het die broers en susters my by die vergaderinge versterk. Hulle het my deel van hulle families gemaak. Ek het duidelik gesien dat Jehovah sterker as ons teenstanders is, maak nie saak wie hulle is nie.”

10. Waarvan kan ons seker wees?

10 Die apostel Paulus het geskryf dat niks “ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Rom. 8:38, 39). Al kry ons dalk ’n tyd lank swaar, sal Jehovah altyd daar wees om ons te vertroos en te versterk. Soos Georgina se ondervinding wys, help Jehovah ons ook deur middel van ons kosbare broers en susters.

LIEFDE VIR ONS BROERS EN SUSTERS HELP ONS OM TE VOLHARD

11. Hoe sou die liefde wat Jesus in Johannes 15:12, 13 beskryf het, sy volgelinge help? Gee ’n voorbeeld.

11 Die aand voor Jesus se dood, het hy sy dissipels herinner om mekaar lief te hê. (Lees Johannes 15:12, 13.) Hy het geweet dat selfopofferende liefde hulle sou help om verenig te bly en om te volhard, al haat die wêreld hulle. Kom ons kyk na die voorbeeld van die gemeente in Tessalonika. Vandat dit gevorm is, is die lede van daardie gemeente vervolg. Maar die broers en susters daar het goeie voorbeelde geword van volharding en liefde (1 Tess. 1:3, 6, 7). Paulus het hulle aangemoedig om te wys dat hulle mekaar liefhet en om dit selfs “nog meer te doen” (1 Tess. 4:9, 10). Liefde sou hulle beweeg om dié wat terneergedruk is, te vertroos en dié wat swak is, te ondersteun (1 Tess. 5:14). Hulle het Paulus se raad gevolg, want in sy tweede brief wat hy omtrent ’n jaar later geskryf het, het hy vir hulle gesê dat hulle “liefde vir mekaar toeneem” (2 Tess. 1:3-5). Hulle liefde het hulle gehelp om probleme en vervolging te verduur.

Liefde vir ons broers en susters kan ons help om te volhard wanneer ons gehaat word (Sien paragraaf 12) *

12. Hoe het broers en susters in een land gewys dat hulle mekaar liefhet toe daar oorlog was?

12 Kyk na die ondervinding van Danylo, wat vroeër genoem is, en sy vrou. Toe daar oorlog in hulle land was, het hulle aangehou om vergaderinge by te woon, om te preek en om die kos wat hulle gehad het, met hulle broers en susters te deel. Toe, eendag, het gewapende soldate na Danylo se huis toe gekom. Hy sê: “Hulle het daarop aangedring dat ek my geloof moet opgee. Toe ek geweier het, het hulle my geslaan en gemaak asof hulle my gaan skiet, en hulle het toe oor my kop geskiet. Voordat hulle daar weg is, het hulle gesê dat hulle sou terugkom om my vrou te verkrag. Maar ons broers het ons gou op ’n trein gesit na ’n ander dorpie toe. Ek sal nooit die liefde van daardie dierbare broers vergeet nie. En toe ons by die nuwe dorpie aangekom het, het die broers daar vir ons kos gegee en my gehelp om ’n werk en ’n blyplek te kry! En daarom kon ons later ander Getuies blyplek gee wat as gevolg van die oorlog gevlug het.” Sulke ondervindinge wys dat die liefde van ons broers en susters ons kan help om te volhard wanneer ons gehaat word.

LIEFDE VIR ONS VYANDE HELP ONS OM TE VOLHARD

13. Hoe help heilige gees ons om in ons diens aan Jehovah te volhard, selfs wanneer mense ons haat?

13 Jesus het vir sy volgelinge gesê om hulle vyande lief te hê (Matt. 5:44, 45). Dit is glad nie maklik nie! Maar dit is moontlik met die hulp van God se heilige gees. Die vrug van God se gees sluit liefde in, sowel as geduld, goedhartigheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal. 5:22, 23). Daardie eienskappe help ons om te volhard wanneer ons gehaat word. Baie mense het opgehou om ons te vervolg omdat hulle man, vrou, kind of bure Getuies was wat daardie eienskappe gehad het. Baie teenstanders het selfs ons dierbare broers en susters geword. So wanneer dit vir jou moeilik is om lief te wees vir persone wat jou haat omdat jy Jehovah dien, bid vir heilige gees (Luk. 11:13). En wees heeltemal oortuig dat dit altyd die beste is om gehoorsaam te wees aan God. – Spr. 3:5-7.

14-15. Hoe het Romeine 12:17-21 Yasmeen gehelp om liefde teenoor haar man te bewys, al het hy haar erg vervolg?

14 Kyk na die voorbeeld van Yasmeen, wat in die Midde-Ooste bly. Toe sy een van Jehovah se Getuies geword het, het haar man gedink dat sy mislei word, en hy het haar probeer keer om God te dien. Hy het haar beledig en vir familielede sowel as ’n godsdiensleier en ’n towenaar gevra om haar te dreig en vir haar te sê dat sy haar familie opbreek. Haar man het selfs die broers gedurende ’n vergadering uitgeskel! Yasmeen het baie keer gehuil omdat sy so sleg behandel is.

15 By die Koninkryksaal het Yasmeen se geestelike familie haar vertroos en versterk. Die ouermanne het haar aangemoedig om die raad in Romeine 12:17-21 toe te pas. (Lees.) Yasmeen sê: “Dit was moeilik, maar ek het Jehovah gevra om my te help, en ek het my bes gedoen om te doen wat die Bybel sê. So toe my man aspris sand in die kombuis gegooi het, het ek dit skoongemaak. Toe hy my beledig het, het ek kalm geantwoord. En toe hy siek was, het ek vir hom gesorg.”

Wanneer ons ons teenstanders liefdevol behandel, kan ons dalk hulle hart versag (Sien paragraaf 16-17) *

16-17. Wat leer jy uit Yasmeen se voorbeeld?

16 Yasmeen was beloon omdat sy haar man met liefde behandel het. Sy sê: “My man het my meer begin vertrou omdat hy geweet het dat ek altyd die waarheid sal praat. Hy het respekvol na my begin luister wanneer ons oor godsdiens gepraat het, en hy het ingestem om die vrede in die huis te bewaar. Nou sê hy vir my om die vergaderinge te geniet. Ons gesinslewe het drasties verbeter, en ons geniet nou ware vrede. Ek hoop regtig dat my man die waarheid sal aanvaar en dat hy Jehovah saam met my sal dien.”

17 Yasmeen se voorbeeld wys dat liefde ‘alles verdra, alles hoop, alles verduur’ (1 Kor. 13:4, 7). Haat kan kragtig wees en kan ons seermaak, maar liefde is baie sterker. Dit wen harte. En dit maak Jehovah se hart bly. Maar selfs as teenstanders aanhou om ons te haat, kan ons nog steeds gelukkig wees. Hoe?

GELUKKIG, AL WORD ONS GEHAAT

18. Hoekom kan ons gelukkig wees, al word ons gehaat?

18 Jesus het gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle haat” (Luk. 6:22). Ons kies nie om gehaat te word nie. En ons hou nie daarvan om vervolg te word vir ons geloof nie. So hoekom kan ons gelukkig wees, al word ons gehaat? Hier is drie redes. Eerstens, wanneer ons volhard, kry ons God se goedkeuring (1 Pet. 4:13, 14). Tweedens, ons geloof word waardevoller en sterker (1 Pet. 1:7). En derdens, ons gaan ’n onbeskryflike beloning kry – ewige lewe. – Rom. 2:6, 7.

19. Hoekom was die apostels gelukkig nadat hulle geslaan was?

19 Kort ná Jesus se opstanding het die apostels die geluk ondervind waarvan hy gepraat het. Nadat hulle geslaan is en beveel is om op te hou preek, was hulle bly. Hoekom? “Omdat hulle waardig bevind is om ter wille van [Jesus se] naam verneder te word” (Hand. 5:40-42). Hulle liefde vir hulle meester was groter as hulle vrees vir hulle vyande. En hulle het gewys dat hulle hom liefhet deur die goeie nuus “sonder ophou” te verkondig. Baie van ons broers vandag hou aan om Jehovah getrou te dien, al gaan hulle deur moeilike tye. Hulle weet dat Jehovah nie hulle werk en hulle liefde vir sy naam sal vergeet nie. – Heb. 6:10.

20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Die wêreld sal ons haat solank as wat hierdie stelsel bestaan (Joh. 15:19). Maar ons hoef nie bang te wees nie. Soos ons in die volgende artikel sal sien, sal Jehovah sy getroue knegte “versterk en . . . beskerm” (2 Tess. 3:3). So laat ons aanhou om Jehovah lief te hê, om ons broers en susters lief te hê en om selfs ons vyande lief te hê. Wanneer ons hierdie raad volg, sal ons verenig bly en sterk geloof hê, sal ons Jehovah eer en sal ons wys dat liefde baie sterker as haat is.

LIED 106 Kweek liefde aan

^ par. 5 In hierdie artikel sal ons sien hoe liefde vir Jehovah, liefde vir ons broers en susters en selfs liefde vir ons vyande ons kan help om te volhard wanneer die wêreld ons haat. Ons sal ook sien hoekom Jesus gesê het dat ons bly kan wees wanneer ons gehaat word.

^ par. 1 Name is verander.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: Nadat soldate Danylo gedreig het, het broers hom en sy vrou gehelp om na ’n ander dorpie te trek. Die broers daar het hulle verwelkom en hulle gehelp.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Yasmeen se man het haar teëgestaan, maar die ouermanne het vir haar goeie raad gegee. Sy het gewys dat sy ’n goeie vrou is, en sy het vir hom gesorg toe hy siek was.