Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 14

‘Volg sy voetstappe noukeurig’

‘Volg sy voetstappe noukeurig’

“Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.” – 1 PET. 2:21.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

IN HIERDIE ARTIKEL *

Jesus het vir ons voetstappe agtergelaat wat ons noukeurig moet volg (Sien paragraaf 1-2)

1-2. Hoe is dit vir ons moontlik om Jesus se voetstappe te volg? Verduidelik.

VERBEEL jou jy is deel van ’n groep mense wat deur ’n gevaarlike sneeubedekte wildernis stap. ’n Ervare gids stap voor julle. Soos hy stap, laat hy voetspore in die sneeu agter. Op een stadium kan julle nie meer die gids sien nie, maar julle is nie bekommerd nie. Jy en die persone wat saam met jou stap, volg eerder die gids se voetspore so noukeurig as moontlik.

2 As ware Christene, is ons ook in ’n sekere sin besig om deur ’n gevaarlike wildernis te stap – hierdie slegte wêreld. Gelukkig het Jehovah vir ons die perfekte Gids gegee – sy Seun, Jesus Christus, wie se voetstappe ons noukeurig kan volg (1 Pet. 2:21). Volgens een Bybelnaslaanwerk, vergelyk Petrus Jesus in hierdie vers met ’n gids. Net soos ’n gids wat voetstappe agterlaat, het Jesus voetstappe agtergelaat wat ons kan volg. Kom ons bespreek die volgende drie vrae: Wat beteken dit om Jesus se voetstappe te volg? Hoekom moet ons dit doen? En hoe kan ons dit doen?

WAT BETEKEN DIT OM JESUS SE VOETSTAPPE TE VOLG?

3. Wat beteken dit om iemand se voetstappe te volg?

3 In die Bybel verwys die woorde “wandel” en “loop” soms na hoe ’n persoon sy lewe lei (Gen. 6:9; Spr. 4:26). Die voorbeeld wat ’n persoon stel, kan vergelyk word met voetspore of voetstappe wat hy agterlaat terwyl hy loop. So om iemand se voetstappe te volg, beteken om sy voorbeeld te volg, om hom na te volg.

4. Wat beteken dit om Jesus se voetstappe te volg?

4 Wat beteken dit om Jesus se voetstappe te volg? Dit beteken eenvoudig om sy voorbeeld na te volg. In ons temateks praat die apostel Petrus spesifiek van die goeie voorbeeld wat Jesus gestel het omdat hy volhard het. Maar ons kan Jesus ook op baie ander maniere navolg (1 Pet. 2:18-25). Ons kan Jesus se hele lewe – alles wat hy gesê en gedoen het – navolg.

5. Kan onvolmaakte mense regtig Jesus se volmaakte voorbeeld volg? Verduidelik.

5 Kan ons, as onvolmaakte mense, regtig Jesus se voorbeeld volg? Ja, ons kan. Hou in gedagte dat Petrus ons aangemoedig het om Jesus se “voetstappe noukeurig [te] volg” – nie perfek nie. As ons sy voetstappe noukeurig volg, dit wil sê as ons ons bes doen om hom as onvolmaakte mense na te volg, doen ons wat die apostel Johannes gesê het – ons “lewe net soos [Jesus] gelewe het”. – 1 Joh. 2:6.

HOEKOM MOET ONS JESUS SE VOETSTAPPE VOLG?

6-7. Hoekom sal ons nader aan Jehovah kom as ons Jesus se voetstappe volg?

6 As ons Jesus se voetstappe volg, sal ons nader aan Jehovah kom. Hoekom kan ons so sê? Eerstens, Jesus stel ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n mens moet lewe om God se hart bly te maak (Joh. 8:29). So as ons Jesus se voetstappe volg, sal ons Jehovah se hart bly maak. En ons kan seker wees dat ons hemelse Vader nader sal kom aan dié wat hard probeer om sy vriende te wees. – Jak. 4:8.

7 Tweedens, Jesus het sy Vader volmaak nagevolg. Daarom kon hy sê: “Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:9). Ons kan Jesus se eienskappe en die manier hoe hy ander behandel het, navolg. Byvoorbeeld, hy het jammer gevoel vir ’n melaatse, hy het simpatie gehad vir ’n vrou met ’n ernstige siekte en hy het meegevoel gehad vir persone wat geliefdes in die dood verloor het. Wanneer ons Jesus navolg, volg ons Jehovah ook na (Mark. 1:40, 41; 5:25-34; Joh. 11:33-35). Hoe meer ons soos Jehovah word, hoe nader sal ons aan hom kom.

8. Hoekom sal dit ons help om die wêreld te “oorwin” as ons Jesus se voetstappe volg? Verduidelik.

8 As ons Jesus se voetstappe volg, sal dit ons help om nie ons fokus te verloor nie. Die aand voor Jesus se dood kon hy sê: “Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy het bedoel dat hy nie toegelaat het dat hierdie wêreld sy denke, sy doelwitte en sy dade beïnvloed nie. Jesus het nooit vergeet hoekom hy aarde toe gestuur is nie – om Jehovah se naam te regverdig. Wat van ons? In hierdie wêreld is daar baie dinge wat ons aandag kan aflei. Maar as ons, soos Jesus, gefokus bly om Jehovah se wil te doen, sal ons ook die wêreld “oorwin”. – 1 Joh. 5:5.

9. Wat moet ons doen om op die pad na die ewige lewe te bly?

9 As ons Jesus se voetstappe volg, kan ons vir ewig lewe. Toe ’n ryk, jong man gevra het wat hy moes doen om die ewige lewe te kry, het Jesus gesê: “Kom word my volgeling” (Matt. 19:16-21). Jesus het vir party Jode, wat nie geglo het dat hy die Christus is nie, gesê: “My skape . . . volg my. Ek gee hulle die ewige lewe” (Joh. 10:24-29). Jesus het vir Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin wat in sy leringe belanggestel het, gesê dat dié “wat geloof in hom beoefen, . . . die ewige lewe [sou] hê” (Joh. 3:16). Ons wys dat ons geloof in Jesus het deur die dinge toe te pas wat hy geleer het en deur sy voorbeeld na te volg. As ons dit doen, sal ons op die pad na die ewige lewe bly. – Matt. 7:14.

HOE KAN ONS JESUS SE VOETSTAPPE NOUKEURIG VOLG?

10. Wat moet ons doen om Jesus beter te “leer ken”? (Johannes 17:3)

10 Voordat ons Jesus se voetstappe noukeurig kan volg, moet ons hom leer ken. (Lees Johannes 17:3.) Om Jesus te “leer ken,” is ’n aanhoudende proses. Ons moet aanhou om meer en meer oor hom te leer – sy eienskappe, sy denke en sy standaarde. Maak nie saak hoe lank ons in die waarheid is nie, ons moet aanhou om Jehovah en sy Seun beter te “leer ken”.

11. Wat bevat die vier Evangelies?

11 Om ons te help om sy Seun beter te leer ken, het Jehovah uit liefde die vier Evangelies in sy Woord ingesluit. Die Evangelies bevat die geskiedenis van Jesus se lewe en bediening. Hierdie boeke vertel vir ons wat Jesus gesê het, wat hy gedoen het en hoe hy gevoel het. Hierdie vier boeke help ons om mooi te kyk na Jesus se voorbeeld (Heb. 12:3). Dit bevat die voetstappe wat Jesus agtergelaat het. So deur die Evangelies te studeer kan ons Jesus beter en beter leer ken, en as ons dit doen, kan ons sy voetstappe noukeurig volg.

12. Wat moet ons doen wanneer ons die Evangelies studeer?

12 Om die meeste uit die Evangelies te kry, moet ons meer doen as om dit net te lees. Ons moet tyd maak om dit goed te studeer en diep daaroor na te dink. (Vergelyk Josua 1:8.) So kom ons bespreek twee voorstelle wat ons kan help om oor die Evangelies na te dink en om toe te pas wat ons daarin lees.

13. Hoe kan jy jou in die Evangelies inleef?

13 Eerstens, leef jou in die Evangelieverslae in. Gebruik jou verbeelding om die dinge te sien, te hoor en te voel wat besig is om te gebeur. Om jou hiermee te help, kan jy navorsing doen in die publikasies wat deur Jehovah se organisasie voorsien word. Kyk na die konteks, dit wil sê die dinge wat voor of ná die verslag gebeur het wat jy besig is om te studeer. Soek vir meer inligting wat die agtergrond en die omstandighede verduidelik. Vergelyk die verslag wat jy besig is om te studeer met ’n parallelle verslag in ’n ander Evangelie. Partykeer noem een Evangelieskrywer iets interessants wat ’n ander skrywer nie noem nie.

14-15. Wat moet ons doen om die Evangelieverslae in ons lewe toe te pas?

14 Tweedens, pas die Evangelieverslae in jou lewe toe (Joh. 13:17). Nadat jy ’n Evangelieverslag goed gestudeer het, vra jouself: ‘Is daar ’n les in hierdie verslag wat ek in my lewe kan toepas? Hoe kan ek hierdie verslag gebruik om iemand anders te help?’ Probeer om aan ’n spesifieke persoon te dink, en wanneer die tyd reg is, kan jy op ’n liefdevolle en taktvolle manier vir die persoon vertel wat jy geleer het.

15 Kom ons kyk na ’n voorbeeld oor hoe ons hierdie twee voorstelle kan toepas. Ons gaan na die verhaal kyk van die arm weduwee wat Jesus in die tempel gesien het.

DIE ARM WEDUWEE IN DIE TEMPEL

16. Beskryf wat in Markus 12:41 gebeur het.

16 Leef jou in die verhaal in. (Lees Markus 12:41.) Gebruik jou verbeelding om te sien wat besig is om te gebeur. Dit is 11 Nisan 33 HJ – minder as ’n week voor Jesus se dood. Hy het amper die hele dag in die tempel gespandeer om mense te leer. Maar die godsdiensleiers het dit nie vir hom maklik gemaak nie. Party van hulle het vroeër sy gesag bevraagteken. Ander het hom probeer vasvra (Mark. 11:27-33; 12:13-34). Nou het Jesus na ’n ander deel van die tempel gegaan. Hier – moontlik in die deel wat die Voorhof van die Vroue genoem word – kan hy die skatkiste sien wat teen die mure van die voorhof is. Hy sit en kyk na die mense terwyl hulle hulle bydraes in die skatkiste gooi. Hy sien hoe die ryk mense baie muntstukke ingooi. Dalk is hy naby genoeg om te hoor hoe hulle muntstukke in die skatkiste inval.

17. Wat het die arm weduwee wat in Markus 12:42 genoem word, gedoen?

17 Lees Markus 12:42. Ná ’n rukkie trek ’n vrou Jesus se aandag. Sy is “’n arm weduwee” (Luk. 21:2). Haar lewe is baie moeilik en sy het moontlik nie genoeg geld om die dinge te koop wat sy nodig het om aan die lewe te bly nie. Maar sy gaan nog steeds na een van die skatkiste en gooi twee klein muntstukkies in, wat dalk skaars ’n geluid maak wanneer dit in die skatkis val. Jesus weet hoeveel sy ingegooi het – twee lepta, die kleinste muntstukke wat in daardie tyd gebruik was. Dit is nie eers genoeg geld om ’n enkele mossie te koop nie, een van die goedkoopste voëls wat as kos verkoop was.

18. Wat het Jesus oor die weduwee se bydrae gesê, volgens Markus 12:43, 44?

18 Lees Markus 12:43, 44. Jesus is baie beïndruk met hierdie weduwee. Hy roep sy dissipels, wys na die weduwee en sê: “Hierdie arm weduwee [het] meer ingegooi . . . as al die ander mense. . . . Hulle almal [veral die ryk mense] het uit hulle oorvloed ingegooi, maar al is sy baie arm, het sy alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” Toe hierdie getroue weduwee haar laaste bietjie geld op daardie dag gegee het, het sy op Jehovah vertrou om vir haar te sorg. – Ps. 26:3.

Net soos Jesus, moet ons ander prys wat Jehovah hulle beste gee (Sien paragraaf 19-20) *

19. Watter belangrike les kan ons uit Jesus se woorde oor die arm weduwee leer?

19 Pas die verhaal in jou lewe toe. Vra jouself: ‘Watter les kan ek uit Jesus se woorde oor die arm weduwee leer?’ Dink aan daardie weduwee. Sy het heel moontlik gewens dat sy vir Jehovah meer kon gee. Maar sy het gedoen wat sy kon – sy het vir Jehovah haar beste gegee. En Jesus het geweet dat haar bydrae kosbaar in sy Vader se oë was. Hier is ’n belangrike les vir ons: Dit maak Jehovah bly wanneer ons ons bes vir hom gee, dit wil sê wanneer ons hom met ons hele hart en siel dien (Matt. 22:37; Kol. 3:23). Jehovah is baie bly wanneer hy sien dat ons alles doen wat ons kan! Dit geld vir alles wat ons in sy diens doen, insluitende die bediening en die vergaderinge.

20. Hoe kan jy die les oor die weduwee toepas? Gee ’n voorbeeld.

20 Hoe kan jy die les in die verhaal oor die weduwee toepas? Dink aan spesifieke persone wat dalk die versekering nodig het dat Jehovah bly is oor wat hulle vir hom kan doen. Byvoorbeeld, ken jy ’n ouer suster wat dalk skuldig of waardeloos voel omdat sy nie meer so gesond is en die energie het om so baie tyd in die bediening te spandeer as wat sy in die verlede gespandeer het nie? Of ken jy ’n broer met ’n kroniese, pynlike siekte wat mismoedig voel omdat hy nie by elke vergadering kan wees nie? Help sulke persone deur iets te sê wat “opbouend is” (Ef. 4:29). Vertel vir hulle van die aanmoedigende les wat ons uit die verhaal van die weduwee geleer het. Jou aanmoedigende woorde kan hulle verseker dat Jehovah bly is wanneer ons ons bes vir hom gee (Spr. 15:23; 1 Tess. 5:11). Wanneer jy ander prys omdat hulle hulle bes vir Jehovah gee – maak nie saak hoe klein dit dalk lyk nie – volg jy Jesus se voetstappe noukeurig.

21. Wat is jy vasbeslote om te doen?

21 Ons is dankbaar dat daar so baie inligting oor Jesus se lewe in die Evangelieverslae is. Dit help ons om hom na te volg, om sy voetstappe noukeurig te volg. Miskien kan jy ’n projek oor die Evangelieverslae vir persoonlike studie of gesinsaanbidding doen. Onthou dat ons die meeste uit ons studie sal kry as ons ons in die verhale inleef en die lesse in ons lewe toepas. Ons moet doen wat Jesus gedoen het, maar ons moet ook luister na wat hy gesê het. In die volgende artikel sal ons sien wat ons kan leer uit Jesus se laaste woorde voordat hy gesterf het.

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

^ par. 5 As ware Christene, moet ons Jesus se “voetstappe noukeurig . . . volg”. Watter “voetstappe” het Jesus agtergelaat wat ons moet volg? In hierdie artikel sal ons hierdie vraag beantwoord. Ons gaan ook bespreek hoekom ons sy voetstappe noukeurig moet volg en hoe ons dit kan doen.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Nadat ’n suster nagedink het oor wat Jesus oor die arm weduwee gesê het, prys sy ’n ouer suster omdat sy Jehovah met haar hele hart en siel dien.