Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 15

Lesse uit Jesus se laaste woorde

Lesse uit Jesus se laaste woorde

“Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het. Luister na hom.” – MATT. 17:5.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Beskryf wat gebeur het toe Jesus sy laaste woorde gesê het voordat hy gesterf het.

DIT is 14 Nisan 33 HJ. Jesus word beskuldig van iets wat hy nie gedoen het nie. Daarna word hy skuldig bevind, bespot, wreed mishandel en dan aan ’n paal gehang. Spykers word deur sy hande en voete geslaan. Elke keer wanneer hy asemhaal en elke keer wanneer hy praat, veroorsaak dit vir hom pyn. Maar hy moet praat – hy het belangrike dinge om te sê.

2 Kom ons bespreek wat Jesus gesê het toe hy besig was om dood te gaan en die lesse wat ons daaruit kan leer. Met ander woorde, kom ons “luister na hom”. – Matt. 17:5.

“VADER, VERGEWE HULLE”

3. Van wie het Jesus heel moontlik gepraat toe hy gesê het: “Vader, vergewe hulle”?

3 Wat het Jesus gesê? Toe Jesus aan die paal gehang het, het hy gebid: “Vader, vergewe hulle.” Vir wie moes sy Vader vergewe? Jesus se volgende woorde help ons om te sien van wie hy gepraat het: “Hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:33, 34). Jesus het moontlik verwys na die Romeinse soldate wat die spykers deur sy hande en voete geslaan het. Hulle het nie geweet wie hy regtig was nie. Hy het miskien ook gedink aan van die mense wat daar gestaan en skree het dat hy doodgemaak moet word, maar wat later in hom sou glo (Hand. 2:36-38). Jesus het nie die dood verdien nie, maar hy het nie kwaad geword en geweier om die mense te vergewe wat hom vervolg het nie (1 Pet. 2:23). Hy het Jehovah eerder gevra om die mense te vergewe wat hom sou doodmaak.

4. Wat kan ons leer uit die feit dat Jesus bereid was om sy teenstanders te vergewe?

4 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Net soos Jesus, moet ons bereid wees om ander te vergewe (Kol. 3:13). Party mense, insluitende ons familielede, sal ons miskien teëstaan omdat hulle nie verstaan wat ons glo of hoe ons lewe nie. Hulle sal dalk leuens oor ons vertel, ons voor ander verneder, ons lektuur vernietig of selfs dreig om ons seer te maak. Eerder as om kwaad te bly, kan ons Jehovah vra om ons teenstanders te help om die waarheid te aanvaar (Matt. 5:44, 45). Partykeer sal ons dit dalk moeilik vind om ander te vergewe, veral as hulle ons baie sleg behandel het. Maar as ons kwaad bly en weier om te vergewe, maak ons onsself net seer. Een suster het verduidelik: “Ek besef dat wanneer ek ander vergewe, dit nie beteken dat ek hulle gedrag goedkeur of hulle toelaat om my sleg te behandel nie. Dit beteken net dat ek besluit om nie vir hulle kwaad te bly nie” (Ps. 37:8). Wanneer ons besluit om te vergewe, kies ons om nie toe te laat dat negatiewe ondervindinge ons bitter maak nie. – Ef. 4:31, 32.

“JY SAL SAAM MET MY IN DIE PARADYS WEES”

5. Watter belofte het Jesus gemaak aan een van die misdadigers wat langs hom aan ’n paal gehang het, en hoekom het hy daardie belofte gemaak?

5 Wat het Jesus gesê? Twee misdadigers het langs Jesus aan pale gehang. Eers het al twee van hulle hom bespot (Matt. 27:44). Maar later het een van hulle opgehou om Jesus te spot. Hy het besef dat Jesus “niks slegs” gedoen het nie (Luk. 23:40, 41). Hy het ook gewys dat hy glo dat Jesus uit die dood opgewek sou word en dat hy eendag ’n koning sou wees. Hy het vir Jesus gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u Koninkryk kom” (Luk. 23:42). Watter sterk geloof! Jesus het vir hom gesê: “Ek verseker jou vandag: Jy sal saam met my [nie in die Koninkryk nie, maar] in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Let op dat Jesus daardie belofte baie persoonlik gemaak het deur “ek”, “jy” en “my” te sê. Omdat Jesus geweet het dat sy Vader genadig is, het hy iets gesê wat vir hierdie sterwende misdadiger hoop gegee het. – Ps. 103:8.

6. Wat leer ons uit Jesus se woorde aan die misdadiger?

6 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Jesus is presies soos sy Vader (Heb. 1:3). Jehovah wil ons baie graag vergewe en genade aan ons betoon, maar hy sal dit net doen as ons regtig jammer is oor die slegte dinge wat ons in die verlede gedoen het en as ons geloof het in Jesus Christus se offerande (1 Joh. 1:7). Party vind dit dalk moeilik om te glo dat Jehovah hulle ooit kan vergewe vir die foute wat hulle in die verlede gemaak het. As jy soms so voel, dink hieraan: Kort voor Jesus se dood het hy genade betoon aan die misdadiger wat net begin het om geloof in hom te stel. So hoeveel te meer sal Jehovah nie genade betoon aan sy getroue aanbidders wat hulle bes doen om gehoorsaam te wees aan sy gebooie nie! – Ps. 51:1; 1 Joh. 2:1, 2.

“KYK, U SEUN! . . . KYK, JOU MA!”

7. Wat het Jesus vir Maria en Johannes gesê in Johannes 19:26, 27, en hoekom het hy dit gesê?

7 Wat het Jesus gesê? (Lees Johannes 19:26, 27.) Jesus was besorg oor sy ma, wat heel moontlik ’n weduwee was. Sy broers en susters kon dalk fisies en materieel vir haar gesorg het. Maar wie sou geestelik vir haar kon sorg? Daar is geen bewyse dat sy broers op daardie stadium dissipels was nie. Maar Johannes was ’n getroue apostel en een van Jesus se beste vriende. Mense wat Jehovah aanbid het, was vir Jesus soos familie (Matt. 12:46-50). Daarom het Jesus gevra dat Johannes vir Maria moet sorg omdat hy geweet het dat hy geestelik vir haar sou sorg. Jesus het vir sy ma gesê: “Kyk, u seun!” En hy het vir Johannes gesê: “Kyk, jou ma!” Van daardie dag af het Johannes vir Maria soos ’n seun geword en het hy vir haar gesorg asof sy sy eie ma was. Watter duidelike bewyse van Jesus se diep liefde vir hierdie kosbare vrou, wat van geboorte af so liefdevol vir hom gesorg het en wat nou by hom staan, terwyl hy besig is om dood te gaan!

8. Wat kan ons leer uit Jesus se woorde aan Maria en Johannes?

8 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Ons verhouding met ons Christenbroers en -susters kan sterker wees as ons verhouding met ons familielede. Ons familielede sal ons miskien teëstaan of selfs afskryf. Maar as ons lojaal bly aan Jehovah en Sy organisasie, sal ons “100 keer soveel” kry as wat ons verloor het, net soos Jesus gesê het. Baie van hulle sal vir ons soos ’n liefdevolle seun, dogter, ma of pa word (Mark. 10:29, 30). Hoe voel jy daaroor om deel te wees van ’n geestelike familie wat verenig word deur geloof en liefde – liefde vir Jehovah en liefde vir mekaar? – Kol. 3:14; 1 Pet. 2:17.

“MY GOD, WAAROM HET U MY VERLAAT?”

9. Wat leer ons uit Jesus se woorde in Matteus 27:46?

9 Wat het Jesus gesê? Kort voor sy dood het Jesus uitgeroep: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” (Matt. 27:46). Die Bybel sê nie vir ons hoekom Jesus dit gesê het nie. Maar kom ons kyk wat ons uit hierdie woorde kan leer. Eerstens, toe Jesus hierdie woorde gesê het, het hy die profesie in Psalm 22:1 vervul. * En hierdie woorde maak dit duidelik dat Jehovah nie “’n beskermende muur” om sy seun geplaas het nie (Job 1:10). Jesus het geweet dat sy Vader sy vyande toegelaat het om sy geloof tot die dood toe te toets – soos geen mens al ooit getoets was nie. Hierdie woorde bewys ook dat hy nie ’n misdaad gepleeg het waarvoor hy die doodstraf moes kry nie.

10. Wat kan ons leer uit Jesus se woorde aan sy Vader?

10 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Een les wat ons kan leer, is dat ons nie moet verwag dat Jehovah ons teen probleme sal beskerm wat ons geloof sal toets nie. Net soos Jesus tot die dood toe getoets is, moet ons ook bereid wees om selfs tot die dood toe getrou te bly (Matt. 16:24, 25). Maar ons het die versekering dat God nie sal toelaat dat ons iets moet deurmaak wat ons nie kan hanteer nie (1 Kor. 10:13). Nog ’n les wat ons leer is dat ons, soos Jesus, miskien sleg behandel sal word, al het ons niks verkeerds gedoen nie (1 Pet. 2:19, 20). Ons word vervolg, nie omdat ons iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat ons geen deel van die wêreld is nie en omdat ons die waarheid verkondig (Joh. 17:14; 1 Pet. 4:15, 16). Jesus het geweet hoekom Jehovah toegelaat het dat hy so baie pyn moes verduur. Maar party getroue aanbidders het al gewonder hoekom Jehovah sekere dinge toelaat wanneer hulle deur ’n moeilike tyd gaan (Hab. 1:3). Ons genadige en geduldige God weet dat hulle nie te min geloof het nie. Hulle het die vertroosting nodig wat net hy kan voorsien. – 2 Kor. 1:3, 4.

“EK IS DORS”

11. Hoekom het Jesus gesê: “Ek is dors”?

11 Wat het Jesus gesê? (Lees Johannes 19:28.) Hoekom het Jesus gesê: “Ek is dors”? Hy het dit gedoen “om die Skrifgedeelte te vervul” – dit wil sê, die profesie in Psalm 22:15 wat sê: “My krag het opgedroog soos ’n gebreekte kleipot. My tong sit aan my verhemelte vas.” En ná alles wat Jesus deurgemaak het, insluitende die verskriklike pyn wat hy ondervind het toe hy aan die folterpaal gehang het, moes hy baie dors gewees het. Hy het hulp nodig gehad sodat hy iets kon kry om te drink.

12. Wat kan ons leer uit Jesus se woorde “ek is dors”?

12 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Jesus het nie gedink dat dit ’n teken van swakheid was om te sê hoe hy voel nie, en ons moet ook nie. Vir ’n groot deel van ons lewe wou ons miskien nie vir mense sê wat ons nodig het nie. Maar as ons hulp nodig het, moet ons nie huiwer om ander vir hulp te vra nie. Byvoorbeeld, as ons bejaard is of ’n gesondheidsprobleem het, sal ons miskien vir ’n vriend moet vra om ons na ’n winkel of die dokter toe te vat. As ons af voel of mismoedig is, moet ons dalk met ’n ouerman of ’n ander volwasse Christen gaan praat of hulle vra om ons aan te moedig (Spr. 12:25). Ons moet onthou dat ons broers en susters vir ons lief is en hulle wil ons “gedurende moeilike tye” help (Spr. 17:17). Maar hulle kan nie ons gedagtes lees nie. Hulle sal miskien nie weet dat ons hulp nodig het tensy ons dit vir hulle sê nie.

“DIT IS AFGEHANDEL!”

13. Wat het Jesus bereik deur tot die dood toe lojaal te bly?

13 Wat het Jesus gesê? Omtrent drieuur die middag op 14 Nisan het Jesus uitgeroep: “Dit is afgehandel!” (Joh. 19:30). Dit was net oomblikke voor sy dood, en Jesus het alles gedoen wat Jehovah van hom verwag het. Deur tot die dood toe lojaal te bly, het Jesus ’n hele paar dinge bereik. Eerstens, hy het bewys dat Satan ’n leuenaar is. Jesus het gewys dat ’n volmaakte mens heeltemal lojaal kan bly, maak nie saak wat Satan doen nie. Tweedens, Jesus het sy lewe as ’n losprys gegee. Sy offerande het dit vir onvolmaakte mense moontlik gemaak om ’n verhouding met God te kan hê en om die hoop te hê om vir ewig te lewe. Derdens, Jesus het bewys dat Jehovah ’n regverdige heerser is en dat die slegte dinge wat oor sy Vader gesê is, leuens was.

14. Wat moet ons vasbeslote wees om elke dag te doen? Verduidelik.

14 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Ons moet elke dag vasbeslote wees om lojaal aan Jehovah te bly. Kyk na wat broer Maxwell Friend gesê het. Hy was ’n instrukteur by die Wagtoring-Bybelskool Gilead. By ’n internasionale byeenkoms, het broer Friend in ’n toespraak oor getrouheid gesê: “Moenie dinge wat jy vandag kan doen of sê tot môre toe uitstel nie. Hoe seker is jy dat jy môre nog gaan lewe. Lewe elke dag asof dit jou laaste kans is om te wys dat jy die ewige lewe verdien.” Mag ons elke dag lewe asof dit ons laaste kans is om lojaal aan Jehovah te bly! Dan, al kom ons voor die dood te staan, sal ons kan sê: “Jehovah, ek het my bes gedoen om lojaal aan u te bly, om te bewys dat Satan ’n leuenaar is, om u naam te regverdig en om u soewereiniteit te ondersteun!”

“IN U HANDE GEE EK MY GEES OOR”

15. Waarvan was Jesus seker, volgens Lukas 23:46?

15 Wat het Jesus gesê? (Lees Lukas 23:46.) Met die volste vertroue het Jesus gesê: “Vader, in u hande gee ek my gees oor.” Jesus het geweet dat sy toekoms in Jehovah se hande was, en hy was seker dat sy Vader hom sou onthou.

16. Wat leer ons uit die ondervinding van ’n 15-jarige Getuie?

16 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Wees bereid om jou lewe in Jehovah se hande te sit. Om dit te doen, moet jy ‘met jou hele hart op Jehovah vertrou’ (Spr. 3:5). Kyk na die voorbeeld van Joshua, ’n 15-jarige Getuie wat ’n dodelike siekte gehad het. Hy het geweier om mediese prosedures te aanvaar wat teen God se wet is. Kort voor sy dood het hy vir sy ma gesê: “Ma, ek is in Jehovah se hande. . . . Ek kan vir Ma met alle sekerheid sê: Ek weet dat Jehovah my beslis in die opstanding sal terugbring. Hy het my hart gelees en ek is regtig lief vir hom.” * Dit sal goed wees as elkeen van ons onsself vra: ‘Sal ek aan Jehovah getrou bly, al kan ek my lewe verloor? Sal ek my lewe in Jehovah se hande sit en vertrou dat hy my sal onthou?’

17-18. Watter lesse het ons geleer? (Sien ook die venster “ Wat ons uit Jesus se laaste woorde leer”.)

17 Ons het beslis kragtige lesse geleer uit Jesus se laaste woorde! Sy woorde herinner ons aan hoe belangrik dit is om ander te vergewe en om te vertrou dat Jehovah ons sal vergewe. Ons het ’n wonderlike geestelike familie van broers en susters wat gereed is om ons te help. Maar wanneer ons hulp nodig het, moet ons hulle vra om ons te help. Ons weet dat Jehovah ons sal help om enige probleem te verduur. En ons het gesien hoe belangrik dit is om elke dag te lewe asof dit ons laaste kans is om te bewys dat ons lojaal is aan Jehovah en dat ons die vertroue het dat ons lewe veilig in sy hande is.

18 As ons die lesse toepas wat ons uit Jesus se laaste woorde leer, sal ons wys dat ons gehoorsaam is aan Jehovah se woorde: “Luister na hom.”– Matt. 17:5.

LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam

^ par. 5 Jehovah wil hê dat ons na sy seun moet luister, soos Matteus 17:5 vir ons sê. In hierdie artikel sal ons ’n hele paar lesse bespreek wat ons kan leer uit wat Jesus gesê het toe hy besig was om dood te gaan.

^ par. 9 Vir ’n bespreking van moontlike redes hoekom Jesus uit Psalm 22:1 aangehaal het, sien “Vrae van lesers” in hierdie nommer.

^ par. 16 Sien die artikel “Joshua se geloof—’n oorwinning vir kinderregte” in die Ontwaak! van 22 Januarie 1995.