Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

“Ek het so baie by ander geleer!”

“Ek het so baie by ander geleer!”

EK WAS ’n baie jong soldaat in die Franse weermag. Ons groep het in die berge van Algerië kamp opgeslaan, in ’n gebied waar daar baie gevegte was. Een aand toe dit pikdonker was, het ek met ’n masjiengeweer in my hand wag gestaan agter ’n hoop sandsakke. Skielik het ek voetstappe gehoor, en ek was doodbang. Ek wou niemand doodmaak nie, en ek wou nie doodgemaak word nie, en daarom het ek uitgeroep: “God, help my!”

My lewe het daardie aand verander, want dit was toe ek begin het om na God te soek. Maar voordat ek vertel wat verder op daardie donker aand gebeur het, wil ek julle vertel van ’n paar dinge wat met my as ’n kind gebeur het wat veroorsaak het dat ek God wou leer ken.

LESSE WAT EK BY MY PA GELEER HET

Ek is in 1937 in Guesnain gebore, ’n myndorpie in die noorde van Frankryk. My pa was ’n steenkoolmyner en hy het my geleer hoe belangrik dit is om hard te werk. My pa het my geleer om ongeregtigheid te haat. Hy het gesien dat baie myners onregverdig behandel was en onder gevaarlike omstandighede moes werk, en hy wou hulle help. Daarom het hy aangesluit by organisasies wat vir die regte van myners geveg het. Hy was ook kwaad toe hy gesien het hoe skynheilig die plaaslike priesters was. Baie van hulle het ’n gemaklike lewe gehad, maar hulle wou nog steeds hê dat die arm myners vir hulle kos en geld moes gee. Die gedrag van die priesters het my pa so ontstel dat hy my niks oor godsdiens geleer het nie. En ons het nie eers oor God gepraat nie.

Terwyl ek grootgeword het, het ek ongeregtigheid ook begin haat. Een van die dinge wat ek gedink het onregverdig was, was die feit dat baie mense in Frankryk niks van uitlanders gehou het nie. Ek het sokker gespeel met die kinders van immigrante, en ek het dit geniet om tyd saam met hulle te spandeer. My ma is in elk geval Pools en nie Frans nie. Ek wou baie graag hê dat mense van verskillende rasse in vrede moes saamlewe en dieselfde behandel moes word.

EK BEGIN ERNSTIG DINK OOR DIE LEWE

Toe ek in die weermag was

In 1957 was ek opgeroep vir militêre diens. Dit is hoe ek in die berge van Algerië beland het op die donker aand waarvan ek vroeër gepraat het. Nadat ek uitgeroep het: “God, help my!” het ek nie ’n vyand gesien nie, maar eerder ’n wildedonkie! Wat ’n verligting! Maar die oorlog, en wat daardie aand gebeur het, het my ernstig laat dink oor die betekenis van die lewe. Hoekom is ons hier? Gee God vir ons om? Sal daar ooit vrede op die aarde wees?

Later, toe ek op verlof was, het ek een van Jehovah se Getuies by my ouers se huis ontmoet. Hy het vir my ’n Katolieke vertaling van die Bybel in Frans gegee, en ek het dit begin lees nadat ek na Algerië toe teruggegaan het. Wat ek in Openbaring 21:3, 4 gelees het, het my baie laat dink. Dit sê: “Die tent van God is by die mensdom. . . . En God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” * Ek was verbaas toe ek daardie woorde gelees het. Ek het gewonder of dit waar kon wees. Op daardie stadium het ek basies niks oor God en die Bybel geweet nie.

Nadat ek in 1959 die weermag verlaat het, het ek ’n Getuie met die naam François ontmoet wat my baie Bybelwaarhede geleer het. Hy het byvoorbeeld vir my in die Bybel gewys dat God ’n persoonlike naam het, Jehovah (Ps. 83:18). Hy het verduidelik dat Jehovah sal seker maak dat daar geregtigheid op die aarde is, dat hy die aarde in ’n paradys sal verander en dat hy die woorde in Openbaring 21:3, 4 sal vervul.

Wat hy my geleer het, het baie sin gemaak, en dit het my hart geraak. Maar ek was baie kwaad vir die priesters, en ek wou hulle gaan aanvat omdat hulle mense dinge leer wat nie in die Bybel staan nie! Ek het nog soos my pa gedink, en ek was ongeduldig. Ek wou dadelik iets doen!

François en my ander nuwe Getuie-vriende het my gehelp om te kalmeer. Hulle het verduidelik dat ons as Christene nie ander mense moet oordeel nie, maar dat ons eerder vir hulle deur middel van die goeie nuus van die Koninkryk hoop moet gee. Dit is wat Jesus gedoen het, en dit is wat hy vir sy volgelinge gesê het om te doen (Matt. 24:14; Luk. 4:43). Ek moes ook leer om mooi en taktvol met mense te praat, maak nie saak wat hulle glo nie. Die Bybel sê: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie. Hy moet eerder vriendelik wees teenoor almal.” – 2 Tim. 2:24.

Ek het die nodige veranderinge gemaak en is in 1959 by ’n kringbyeenkoms as een van Jehovah se Getuies gedoop. Daar het ek ’n jong suster met die naam Angèle ontmoet, en ek het baie van haar gehou. Ek het af en toe haar vergaderinge bygewoon, en ons is in 1960 getroud. Sy is regtig ’n uitstekende en wonderlike vrou en ’n kosbare geskenk van Jehovah. – Spr. 19:14.

Op ons troudag

EK HET BAIE BY WYSE EN ERVARE MANNE GELEER

Oor die jare het ek baie belangrike lesse by wyse en ervare broers geleer. Een van die belangrikste lesse is: As jy ’n sukses wil maak van enige moeilike toewysing, dan moet jy nederig wees en die wyse raad toepas in Spreuke 15:22, wat sê: “As daar baie raadgewers is, lei dit tot sukses.”

In 1965 toe ons op die kring in Frankryk gedien het

In 1964 het ek begin sien hoe waar daardie woorde is. In daardie jaar het ek as ’n kringopsiener begin dien. Ek het gemeentes besoek om die broers aan te moedig en geestelik op te bou. Maar ek was toe maar net 27 jaar oud, en ek het nie baie ondervinding gehad nie. Daarom het ek foute gemaak. Maar ek het probeer om uit my foute te leer. Ek het veral by ervare “raadgewers” baie waardevolle lesse geleer.

Byvoorbeeld, ek onthou iets wat gebeur het kort nadat ek op die kring begin dien het. Nadat ek ’n gemeente in Parys besoek het, het ’n geestelik volwasse broer my gevra of hy alleen met my kan praat. “Natuurlik”, het ek gesê.

Hy het vir my gevra: “Louis, as ’n dokter ’n huisbesoek doen, na wie toe gaan hy?”

“Na dié wat siek is”, het ek gesê.

Hy het gesê: “Dis reg. Maar ek het gesien dat jy die meeste van jou tyd spandeer saam met broers wat geestelik sterk is, soos die gemeenteopsiener. Daar is baie broers en susters in ons gemeente wat mismoedig, nuut of skaam is. Hulle sal dit baie waardeer as jy tyd saam met hulle spandeer of selfs na hulle huise toe gaan vir ’n ete.”

Daardie dierbare broer se raad was baie waardevol en gepas. Sy liefde vir Jehovah se skape het my hart geraak. Daarom het ek my trots gesluk en sy raad onmiddellik toegepas. Ek dank Jehovah vir sulke broers.

In 1969 en 1973 is ek aangestel om te dien as die opsiener van die kosafdeling by twee internasionale byeenkomste in Colombes, Parys. By die byeenkoms in 1973 moes ons vir vyf dae vir omtrent 60 000 mense kos voorsien! Ek het nie geweet hoe ons dit gaan doen nie. Maar weer eens was die raad in Spreuke 15:22 die oplossing – gaan praat met wyse mense. Ek het geestelik volwasse manne wat ondervinding gehad het in die kosbedryf vir raad gevra. Party van hulle was slagters, plaasboere, kokke en aankopers. Saam het ons ’n toewysing uitgevoer wat vir ons soos ’n berg gelyk het.

In 1973 is ek en my vrou genooi om by Bethel in Frankryk te dien. My eerste toewysing daar was ook vir my ’n groot uitdaging. Ek moes lektuur voorsien aan ons broers in Kameroen, waar ons werk tussen 1970 en 1993 verbied was. Ek het weer nie geweet hoe ek dit gaan doen nie. Die takopsiener het seker gesien dat ek oorweldig voel, en hy het my aangemoedig deur te sê: “Ons broers in Kameroen het geestelike kos dringend nodig. Kom ons gee dit vir hulle!” En dit is presies wat ons gedoen het.

By ’n spesiale vergadering in Nigerië met Getuies van Kameroen, 1973

Ek het ’n hele paar keer na die lande om Kameroen gereis om vergaderinge te hou met die ouermanne van Kameroen. Daardie moedige en verstandige manne het my gehelp om te reël dat die broers in Kameroen gereeld geestelike kos kry. Jehovah het ons pogings geseën. Om die waarheid te sê, vir omtrent 20 jaar het die broers in daardie land elke liewe Wagtoring gekry, sowel as ’n maandelikse publikasie wat op daardie stadium Ons Koninkryksdiens genoem is.

Ek en Angèle in 1977 in Nigerië saam met kringopsieners en hulle vrouens van Kameroen

EK HET BAIE BY MY KOSBARE VROU GELEER

Vandat ons begin uitgaan het, het ek gesien dat Angèle pragtige geestelike eienskappe het. Nadat ons getrou het, het ek daardie eienskappe selfs meer gesien. Byvoorbeeld, sy het al op die aand van ons troudag vir my gevra om te bid oor ons begeerte om Jehovah as ’n getroude paartjie na die beste van ons vermoë te dien. Jehovah het daardie gebed beantwoord.

Angèle het my ook gehelp om meer op Jehovah te vertrou. Byvoorbeeld, toe ons in 1973 genooi is om by Bethel te dien, het ek eers gehuiwer omdat ek baie daarvan gehou het om op die kring te dien. Maar Angèle het my herinner dat ons ons lewe aan Jehovah toegewy het. Moet ons dan nie doen wat ook al sy organisasie ons vra om te doen nie? (Heb. 13:17). Hoe kon ek daarteen stry! En toe is ons Bethel toe. Deur al ons jare saam het my vrou se wysheid, verstandigheid en geestelike uitkyk ons huwelik versterk en ons gehelp om goeie besluite te maak.

Saam met Angèle in die tuin by Bethel in Frankryk

Noudat ons ouer is, is Angèle nog steeds ’n uitstekende vrou wat my baie goed ondersteun. Byvoorbeeld, ek en Angèle het hard gewerk om ons Engels op te skerp sodat ons teokratiese skole kon bywoon omdat baie van daardie skole in Engels gehou word. Daarom het ons by ’n Engelse gemeente aangesluit, al was ons op daardie stadium in ons middel-70’s. As gevolg van my verantwoordelikhede as ’n lid van die Takkomitee in Frankryk, was dit vir my baie moeilik om tyd te maak om ’n ander taal te leer. Maar ek en Angèle het mekaar gehelp. Nou is ons in ons 80’s en ons hou aan om in Engels en Frans vir die vergaderinge voor te berei. Ons probeer ook om soveel as wat ons kan kommentare by die vergaderinge te gee en om saam met ons gemeente aan die bediening deel te neem. Jehovah het ons pogings geseën om Engels te leer.

In 2017 het ons ’n wonderlike seëning ontvang. Ek en Angèle het die voorreg gekry om die Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens by te woon wat by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York gehou word.

Jehovah is regtig die Groot Onderrigter (Jes. 30:20). Daarom verbaas dit ons nie dat sy knegte – oud en jonk – die heel beste onderrigting kry nie! (Deut. 4:5-8). En ek het gesien dat jongmense wat na Jehovah en na ervare broers en susters luister, goeie geestelike vordering maak en suksesvolle volwassenes word. Spreuke 9:9 sê: “Gee raad aan ’n wyse persoon, en hy sal nog wyser word. Leer ’n regverdige, en hy sal meer kennis kry.”

Soms dink ek aan daai donker aand omtrent 60 jaar gelede in die berge van Algerië. Min het ek geweet watter wonderlike dinge op my wag. Ek het so baie by ander geleer! Jehovah het regtig vir my en Angèle ’n wonderlike, vol lewe gegee. Daarom is ons vasbeslote om nooit op te hou om te leer by ons hemelse Vader en by wyse en ervare broers en susters wat hom liefhet nie.

^ par. 11 Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel.