Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het mense in Bybeltye papirus gebruik om bote te bou?

Papirusplante

BAIE mense weet dat mense in eertydse Egipte gewoonlik papirus gebruik het om op te skryf. Die Grieke en die Romeine het ook op papirus geskryf. * Maar min mense weet dat papirus ook gebruik is om bote te bou.

Twee modelle van papirusbote wat in ’n Egiptiese graf gevind is

Omtrent 2 500 jaar gelede het die profeet Jesaja geskryf dat die mense wat “in die streek van die riviere van Etiopië” gebly het “boodskappers . . . oor die waters in bote van papirus” uitgestuur het. Later het die profeet Jeremia voorspel dat die Mede en die Perse “die papirusbote” van die Babiloniërs sou verbrand wanneer hulle Babilon aanval om te keer dat die Babiloniërs wegkom. – Jes. 18:1, 2; Jer. 51:32.

Omdat God die Bybel geïnspireer het, is dit nie vir Bybelstudente verbasend dat argeoloë bewyse gevind het dat papirus wel in Bybeltye gebruik is om bote te bou nie (2 Tim. 3:16). Wat het hulle ontdek? Argeoloë het spesifieke bewyse ontdek dat papirusbote in Egipte gebou is.

HOE IS PAPIRUSBOTE GEBOU?

In Egiptiese grafte is daar prente wat op die mure geverf en uitgekerf is wat wys hoe mense papirus bymekaargemaak het en bote daarmee gebou het. Manne het die papirusstamme afgesny, dit in bondels vasgebind en die bondels styf teen mekaar vasgebind. Papirusstamme is driehoekig. So wanneer die stamme styf teen mekaar vasgebind word, vorm dit ’n digte, sterk bondel. Volgens die boek A Companion to Ancient Egypt was party papirusbote meer as 17 meter lank en was daar plek vir 10 tot 12 roeiers aan albei kante.

’n Prent wat op ’n muur in Egipte uitgekerf is wat wys hoe ’n papirusboot gemaak word

HOEKOM IS PAPIRUS GEBRUIK?

Papirus was volop in die Nylvallei. En dit was redelik maklik om papirusbote te maak. Selfs toe mense begin het om hout te gebruik om groot bote te bou, het vissermanne en jagters blykbaar nog steeds vlotte en klein bote gebruik wat van papirus gemaak is. Mense het nog vir ’n lang tyd aangehou om papirusbote te gebruik. Die Griekse skrywer Plutargus, wat tussen die eerste en tweede eeu HJ gelewe het, het gesê dat mense in sy dag nog steeds papirusbote gebruik het.

^ par. 3 Papirusplante groei in vleilande en in riviere wat stadig vloei. ’n Papirusplant kan tot 5 meter hoog groei, en die onderkant van die stam kan tot 15 sentimeter dik word.