Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 22

Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word

Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word

“Laat elkeen van julle . . . gedoop word.” – HAND. 2:38.

LIED 72 Maak die Koninkrykswaarheid bekend

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Jesus se dissipels vir ’n groot groep mense gesê om te doen?

’N GROOT groep mans en vrouens van verskillende lande en wat verskillende tale gepraat het, het in Jerusalem bymekaargekom. Iets wonderliks het daardie dag gebeur. ’n Groep gewone Jode kon skielik die besoekers se tale praat! Dit het daardie groot groep mense verbaas. Maar wat hulle nog meer verbaas het, was die boodskap wat daardie Jode en die apostel Petrus aan hulle oorgedra het. Hulle het geleer dat hulle gered kon word deur geloof in Jesus Christus te stel. Daardie boodskap het hulle so diep geraak dat hulle gevra het: “Wat moet ons doen?” Petrus het vir hulle gesê: “Laat elkeen van julle . . . gedoop word.” – Hand. 2:37, 38.

’n Broer neem sy vrou saam na sy Bybelstudie toe. Die Bybelstudie het ’n gedrukte kopie van die boek Geniet die lewe vir ewig! (Sien paragraaf 2)

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Sien prent op voorblad.)

2 Toe het iets verstommends gebeur. Omtrent 3 000 mense is op daardie dag as dissipels van Christus gedoop. Dit was die begin van die groot dissipelmaakwerk wat Jesus vir sy volgelinge gesê het om te doen. Sy volgelinge doen nog steeds daardie werk vandag. Vandag kan ons ’n persoon nie binne ’n paar uur help om tot doop te vorder nie. Dit kan maande of selfs ’n jaar of meer vat voordat ’n student daardie doelwit bereik. Dit is baie werk om iemand te help om ’n dissipel van Christus te word. In hierdie artikel gaan ons kyk na wat jy kan doen om jou Bybelstudent te help om ’n gedoopte dissipel te word.

HELP JOU BYBELSTUDENT OM TOE TE PAS WAT HY LEER

3. Volgens Matteus 28:19, 20, wat moet ’n student doen om tot doop te vorder?

3 Voordat ’n Bybelstudent gedoop word, moet hy toepas wat hy uit die Bybel leer. (Lees Matteus 28:19, 20.) Wanneer ’n student toepas wat hy leer, word hy soos die “verstandige man” in Jesus se illustrasie. Hierdie man het diep gegrawe sodat hy sy huis op die rots kon bou (Matt. 7:24, 25; Luk. 6:47, 48). Hoe kan ons ’n student help om toe te pas wat hy leer? Kom ons kyk na drie voorstelle.

4. Hoe kan ons ’n student help om aan te hou om vordering te maak sodat hy gedoop kan word? (Sien ook die venster “ Help jou student om doelwitte te stel en om dit te bereik”.)

4 Help jou student om doelwitte te stel. Hoekom moet jy dit doen? Dink aan die volgende illustrasie: As jy na ’n plek toe ry wat ver weg is, sal jy miskien besluit om by ’n paar plekke langs die pad te stop. Dan voel dit nie asof jy so ver hoef te ry nie. Net so, as ’n Bybelstudent klein doelwitte vir homself stel en dit bereik, sal hy heel moontlik besef dat hy die doelwit kan bereik om gedoop te word. Gebruik die “Doelwit”-gedeeltes in die boek Geniet die lewe vir ewig! om jou student te help om vordering te maak. Aan die einde van elke les moet jy met jou student bespreek hoe die doelwit hom sal help om toe te pas wat hy geleer het. As jy wil hê dat jou student ’n ander doelwit moet bereik, moet jy daardie doelwit skryf in die spasie onder die woord “Ander”. Gebruik gereeld hierdie deel van die studie om jou student se korttermyn- en langtermyndoelwitte saam met hom te bespreek.

5. Wat het Jesus vir ’n ryk man gesê om te doen in Markus 10:17-22 en hoekom?

5 Help jou student om veranderinge te maak. (Lees Markus 10:17-22.) Jesus het geweet dat dit vir ’n ryk man moeilik sou wees om al sy besittings te verkoop (Mark. 10:23). Maar tog het Jesus vir die man gesê om hierdie groot verandering in sy lewe te maak. Hoekom? Omdat Jesus lief was vir hom. Soms huiwer ons om ’n student aan te moedig om toe te pas wat hy leer omdat ons voel dat hy nog nie gereed is om ’n sekere verandering te maak nie. Dit sal ’n student dalk tyd neem om van ou gewoontes ontslae te raak en die nuwe persoonlikheid aan te leer (Kol. 3:9, 10). Maar hoe gouer jy die saak met die student bespreek, hoe gouer kan hy die verandering begin maak. En as jy dit doen, wys jy dat jy vir hom omgee. – Ps. 141:5; Spr. 27:17.   

6. Hoekom moet ons ’n student gereeld vir sy opinie vra?

6 Dit is belangrik om ’n student te vra wat hy van ’n sekere onderwerp dink? As jy sy opinie vra, kan jy uitvind wat jou student glo en verstaan. As jy dit gereeld doen, sal dit vir jou makliker wees om sensitiewe sake met hom in die toekoms te bespreek. Die boek Geniet die lewe vir ewig! bevat baie vrae wat die student sal help om te sê wat hy dink en hoe hy voel. Byvoorbeeld, les 04 bevat die vraag: “Hoe dink jy voel Jehovah wanneer jy sy naam gebruik?” Les 09 bevat die vraag: “Oor watter dinge sal jy graag wil bid?” Aan die begin sal jou student dalk tyd nodig hê om oor ’n vraag te dink. Jy kan hom help deur hom op te lei om te redeneer oor die tekste en oor die prente in die boek.

7. Hoe kan ons die ondervindinge van ander gebruik om ’n student te help?

7 Wanneer jou student verstaan wat hy moet doen, kan jy die ondervindinge van ander gebruik om hom aan te moedig om dit te doen. Byvoorbeeld, as jou student nie gereeld vergaderinge bywoon nie, kan jy vir hom die video wys met die titel Jehovah het vir my gesorg in die “Leer meer”-gedeelte van les 14. In baie van die lesse in die boek Geniet die lewe vir ewig! sal jy sulke ondervindinge vind in die gedeeltes “Soek dieper” of “Leer meer”. * Moenie jou student met iemand anders vergelyk nie, deur te sê: “As hy dit kan doen, dan kan jy dit ook doen.” Laat die student dit self besef. Fokus eerder op spesifieke dinge wat die persoon in die video gehelp het om toe te pas wat hy uit die Bybel geleer het. Miskien kan jy ’n belangrike teks bespreek of iets prakties noem wat die persoon in die video gedoen het. Probeer om sover moontlik te fokus op hoe Jehovah daardie persoon gehelp het.

8. Hoe kan ons ons student help om Jehovah lief te hê?

8 Help jou student om Jehovah lief te hê. Hoe? Soek na geleenthede om sy aandag te vestig op Jehovah se eienskappe. Help jou student om Jehovah te sien as ’n gelukkige God wat hom ondersteun en liefhet (1 Tim. 1:11; Heb. 11:6). Verduidelik aan die student dat Jehovah vir hom hierdie inligting gee omdat hy hom liefhet, en wys vir hom hoe dit hom persoonlik sal help as hy die inligting toepas (Jes. 48:17, 18). Hoe sterker jou student se liefde vir Jehovah word, hoe meer sal hy die nodige veranderinge in sy lewe wil maak. – 1 Joh. 5:3.

STEL JOU STUDENT AAN ANDER GETUIES VOOR

9. Met Markus 10:29, 30 in gedagte, wat kan ’n persoon help om opofferings te maak om ’n gedoopte dissipel te word?

9 Om tot doop te vorder moet ’n Bybelstudent opofferings maak. Soos die ryk man wat vroeër genoem is, moet party studente dalk materiële dinge opoffer. Hulle sal dalk selfs ’n ander werk moet kry as hulle werk nie in ooreenstemming is met Bybelbeginsels nie. Baie van hulle moet miskien ophou om vriende te wees met mense wat nie vir Jehovah lief is nie. Ander se familielede sal hulle miskien afskryf omdat hulle nie van Jehovah se Getuies hou nie. Jesus het gesê dat dit vir party mense moeilik sou wees om sulke opofferings te maak. Maar hy het belowe dat dié wat hom volg, nie teleurgestel sou word nie. Jehovah sou hulle beloon deur vir hulle ’n liefdevolle geestelike familie te gee. (Lees Markus 10:29, 30.) Hoe kan jy jou Bybelstudent help om by hierdie pragtige geskenk baat te vind?

10. Wat leer jy uit Manuel se ondervinding?

10 Word jou student se vriend. Dit is baie belangrik om vir jou student te wys dat jy vir hom omgee. Hoekom? Kyk na wat Manuel, wat in Mexiko bly, sê: “Voor elke studie het my studiehouer altyd vir my gevra hoe dit met my gaan. Hy het my gehelp om te ontspan en hy het dit vir my maklik gemaak om sommer oor enige iets met hom te praat. Ek kon voel dat hy regtig vir my omgee.”

11. Hoekom is dit vir ons studente goed om tyd saam met ons te spandeer?

11 Spandeer tyd saam met jou studente, net soos Jesus tyd saam met sy volgelinge gespandeer het (Joh. 3:22). As jou Bybelstudent veranderinge in sy lewe maak, kan jy hom miskien na jou huis toe nooi vir ’n koppie koffie, ’n ete of om een van die maandelikse Broadcasting-programme saam met jou te kyk. Jou student sal dalk so ’n uitnodiging waardeer, veral gedurende vakansietye wanneer hy miskien alleen voel. Kazibwe, wat in Uganda bly, sê: “Ek dink dat ek net soveel oor Jehovah geleer het deur tyd saam met my studiehouer te spandeer as wat ek in ons studiesessies geleer het. Ek het gesien hoeveel Jehovah vir sy volk omgee en hoe gelukkig hulle is. Dit is wat ek in my lewe wou hê.”

As jy verskillende verkondigers saam met jou na ’n Bybelstudie toe neem, sal die student dit makliker vind om die vergaderinge by te woon (Sien paragraaf 12) *

12. Hoekom moet ons verskillende verkondigers na ’n Bybelstudie toe neem?

12 Nooi verskillende verkondigers na die Bybelstudie toe. Ons dink miskien dat dit makliker is om alleen na die studie toe te gaan of om elke keer dieselfde verkondiger saam met ons te neem. Al is dit vir ons makliker om dit te doen, sal dit ons Bybelstudent help as ons verskillende verkondigers saam met ons neem. Dmitrii, wat in Moldowa bly, sê: “Elke verkondiger wat na my studie toe gekom het, het sy eie manier gehad om dinge te verduidelik. Dit het my gehelp om te sien hoe ek die inligting op verskillende maniere kon toepas. En omdat ek al so baie van die broers en susters ontmoet het, was ek nie so skaam toe ek my eerste vergadering bygewoon het nie.”

13. Hoekom moet ons ons student help om vergaderinge by te woon?

13 Help jou student om vergaderinge by te woon. Hoekom? Want Jehovah sê vir sy aanbidders dat hulle saam moet vergader – dit is deel van ons aanbidding (Heb. 10:24, 25). En ons broers en susters is ons geestelike familie. Wanneer ons saam by die vergaderinge is, is dit asof ons ’n lekker ete saam geniet. Wanneer jy jou Bybelstudent help om vergaderinge by te woon, help jy hom om een van die belangrikste stappe te neem om tot doop te vorder. Maar dit mag dalk vir hom moeilik wees om hierdie stap te neem. Hoe kan die boek Geniet die lewe vir ewig! jou student help om enige probleem te oorkom wat hom keer om die vergaderinge by te woon?

14. Hoe kan ons ons student motiveer om vergaderinge by te woon?

14 Gebruik les 10 van die boek Geniet die lewe vir ewig! om jou student te motiveer om die vergaderinge by te woon. Voordat die boek vrygestel is, is party verkondigers gevra om les 10 saam met hulle Bybelstudente te studeer. Hulle het gesê dat dit baie goed gewerk het en dat dit hulle studente gehelp het om die vergaderinge by te woon. Jy moet natuurlik nie wag tot les 10 voordat jy jou Bybelstudent na die vergaderinge toe nooi nie. Nooi hom so gou as moontlik en hou aan om dit gereeld te doen. Verskillende studente het verskillende probleme. Daarom moet jy weet wat jou student nodig het en probeer om hom op ’n praktiese manier te help. Moenie mismoedig word as dit tyd neem voordat hy vergaderinge bywoon nie. Wees geduldig, maar moenie ophou om hom te nooi nie.

HELP JOU BYBELSTUDENT OM SY VRESE TE OORKOM

15. Waarvoor is ’n student dalk bang?

15 Was jy dalk ’n bietjie bang om een van Jehovah se Getuies te word? Miskien het jy gedink dat jy nooit in die openbaar sou kon preek nie. Of dalk was jy bang dat jou vriende of familie jou sou teëstaan. Dan weet jy seker hoe jou Bybelstudent voel. Jesus het gesê dat party mense sulke vrese sou hê. Maar hy het vir sy volgelinge gesê dat hulle nie moet toelaat dat vrese hulle keer om Jehovah te dien nie (Matt. 10:16, 17, 27, 28). Hoe het Jesus sy volgelinge gehelp om hulle vrese te oorkom? En hoe kan jy sy voorbeeld navolg?

16. Hoe kan jy ’n student leer om ander te vertel van die dinge wat hy leer?

16 Leer jou student stelselmatig om te praat oor wat hy leer. Jesus se dissipels was dalk senuweeagtig toe hy hulle uitgestuur het om te preek. Maar Jesus het hulle gehelp deur vir hulle te sê waar hulle moet preek en wat hulle moet sê (Matt. 10:5-7). Hoe kan jy Jesus navolg? Help jou student om te sien vir wie hy kan preek. Byvoorbeeld, jy kan hom vra of hy iemand ken wat by ’n sekere Bybelwaarheid sal baat vind. Dan kan jy hom help om aan ’n eenvoudige manier te dink om daardie waarheid aan die persoon te verduidelik. Jy kan miskien saam met hom oefen deur die gedeeltes “Party mense sê” en “Iemand vra dalk” in die boek Geniet die lewe vir ewig! te gebruik. Wanneer jy dit doen, moet jy veral probeer om hom te help om die Bybel te gebruik om eenvoudige en taktvolle antwoorde te gee.

17. Hoe kan ons Matteus 10:19, 20, 29-31 gebruik om ons student te help om op Jehovah te vertrou?

17 Help jou student om op Jehovah te vertrou. Jesus het sy dissipels verseker dat Jehovah hulle sou help omdat hy hulle liefhet. (Lees Matteus 10:19, 20, 29-31.) Herinner jou student dat Jehovah hom ook sal help. Jy kan hom help om op Jehovah te vertrou deur saam met hom oor sy doelwitte te bid. Franciszek, wat in Pole bly, sê: “My studiehouer het my doelwitte gereeld in sy gebede genoem. Toe ek sien hoe Jehovah sy gebede beantwoord, het ek ook begin bid. Ek het gesien hoe Jehovah my gehelp het toe ek by my nuwe werk moes vra om af te kry sodat ek die byeenkoms en vergaderinge kon bywoon.”

18. Hoe voel Jehovah oor die onderrigtingswerk wat Christene doen?

18 Jehovah gee baie om vir ons Bybelstudente. Hy weet hoe hard onderrigters werk om mense te help om nader aan hom te kom en hy waardeer hulle en hulle werk baie (Jes. 52:7). Maar selfs as jy nie ’n Bybelstudie hou nie, kan jy Bybelstudente nog steeds help om tot doop te vorder deur saam met ander verkondigers na hulle Bybelstudies toe te gaan.

LIED 60 Dit kan hul red

^ par. 5 In hierdie artikel gaan ons kyk na hoe Jesus mense gehelp het om sy dissipels te word en hoe ons hom kan navolg. Ons gaan ook kyk na hoe ons die nuwe boek Geniet die lewe vir ewig! kan gebruik. Hierdie boek is ontwerp om ons Bybelstudente te help om tot doop te vorder.

^ par. 7 Jy kan ook ondervindinge vind in (1) die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies onder die onderwerp “Die Bybel”, dan “Praktiese waarde” en dan “‘Die Bybel verander lewens’ (’n reeks in Die Wagtoring)” of op (2) die JW Library®-app onder “Media” en dan onder “Onderhoude en ondervindinge”.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer neem sy vrou saam na sy Bybelstudie toe. Soms gaan ander broers saam met hom na sy Bybelstudie toe.