Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy gesê het: “Deur die wet het ek gesterf ten opsigte van die wet”? – Gal. 2:19.

Paulus het geskryf: “Deur die wet het ek gesterf ten opsigte van die wet.” – Gal. 2:19.

Wat Paulus geskryf het, was in lyn met ’n belangrike punt wat hy gemaak het toe hy aan die gemeentes in die Romeinse provinsie Galasië geskryf het. Party Christene in daardie gemeentes was deur valse onderrigters beïnvloed. Hierdie onderrigters het ander geleer dat ’n mens aan die Wet van Moses gehoorsaam moet wees en besny moet word om gered te word. Maar Paulus het geweet dat God nie meer van sy knegte verwag om besny te word nie. Hy het op ’n oortuigende manier met die broers geredeneer en aan hulle bewys dat hierdie leringe vals is en hulle geloof in Jesus Christus se losprysoffer versterk. – Gal. 2:4; 5:2.

Die Bybel sê duidelik dat iemand wat sterf, van niks bewus is wat om hom gebeur nie (Pred. 9:5). Toe Paulus gesê het: “Ek [het] gesterf ten opsigte van die wet,” het hy bedoel dat die Wet van Moses nie meer ’n houvas op hom het nie. Hy was eerder seker dat hy deur sy geloof in die losprysoffer ‘ten opsigte van God lewend geword het’.

Paulus se situasie het verander as gevolg van die Wet. Hoe so? Hy het verduidelik dat “’n mens nie deur werke van die wet regverdig verklaar word nie, maar net deur geloof in Jesus Christus” (Gal. 2:16). Maar die Wet het wel iets belangriks bereik. Paulus het aan die Galasiërs verduidelik: “Dit is bygevoeg om oortredings openbaar te maak, totdat die nageslag sou kom aan wie die belofte gemaak is” (Gal. 3:19). Ja, die Wet het dit duidelik gemaak dat onvolmaakte, sondige mense nie die Wet volmaak kon gehoorsaam nie en dat hulle ’n finale, volmaakte offerande nodig gehad het. Die Wet het mense help besef dat Jesus “die nageslag” is. ’n Persoon kon deur God regverdig verklaar word as hy geloof in Jesus Christus gehad het (Gal. 3:24). So as gevolg van die Wet het Paulus Jesus aanvaar en geloof in hom gestel, en daarom is hy regverdig verklaar. Paulus het dus “gesterf ten opsigte van die wet” en “[lewend geword] ten opsigte van God”. Die Wet het nie meer mag oor hom gehad nie, maar God het.

Paulus het iets soortgelyks gesê in sy brief aan die Romeine. “So het julle ook, my broers, deur die offerande van die Christus gesterf wat die Wet betref . . . Maar nou is ons vrygemaak van die Wet, want ons is nie meer daardeur gebind nie” (Rom. 7:4, 6). Hierdie verse en Galasiërs 2:19 wys dat Paulus nie gepraat het van hoe mense as sondaars onder die Wet sterf nie. Hy het eerder spesifiek gepraat van hoe mense van die Wet vrygemaak word. Die Wet het nie meer ’n houvas op hom of ander soos hy gehad nie. Hulle is vrygemaak omdat hulle geloof in Christus se losprys gestel het.