Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 24

Jy hoef nie deur Satan gevang te word nie!

Jy hoef nie deur Satan gevang te word nie!

‘Ontsnap uit die strik van die Duiwel.’ – 2 TIM. 2:26.

LIED 36 Ons bewaak ons hart

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom kan Satan met ’n jagter vergelyk word?

’N JAGTER het net een doelwit – om ’n dier te vang of dood te maak. Hy gebruik verskillende strikke net soos een van Job se valse vertroosters gesê het (Job 18:8-10). Hoe probeer ’n jagter ’n dier kry om in sy strik te trap? Hy bestudeer die dier. Wat doen die dier gewoonlik? Waarvan hou hy? Wat is die beste manier om hom onverwags te vang? Satan is soos daardie jagter. Hy bestudeer ons. Hy kyk na wat ons gewoonlik doen en hy sien waarvan ons hou. Dan besluit hy watter soort strik hy wil gebruik en hy hoop dat ons daarin sal trap. Maar die Bybel gee ons die versekering dat selfs al beland ons in een van sy strikke dat ons daaruit kan ontsnap. En dit leer ons ook hoe ons hierdie strikke heeltemal kan vermy.

Trots en gierigheid is twee van die strikke waarmee Satan die meeste sukses het (Sien paragraaf 2) *

2. Wat is twee van Satan se strikke waarmee hy die meeste sukses het?

2 Twee van Satan se strikke waarmee hy die meeste sukses het, is trots en gierigheid. * Satan kry dit al duisende jare lank reg om mense te kry om trots en gierig te wees. Hy is soos ’n voëlvanger wat ’n strik of ’n net gebruik om ’n voël te vang (Ps. 91:3). Maar ons hoef nie deur Satan gevang te word nie. Hoekom nie? Want Jehovah wys vir ons watter strikke Satan gebruik. – 2 Kor. 2:11.

Die voorbeelde in die Bybel kan ons wys hoe om die Duiwel se strikke te vermy of hoe om daaruit te ontsnap (Sien paragraaf 3) *

3. Hoekom het Jehovah waarskuwende voorbeelde in die Bybel ingesluit?

3 Een manier waarop Jehovah ons teen trots en gierigheid waarsku, is deur vir ons waarskuwende voorbeelde te gee. In die voorbeelde wat ons gaan bespreek, gaan ons sien dat Satan selfs mense mislei het wat Jehovah jare lank gedien het. Beteken dit dat ons nie ’n kans staan nie? Glad nie. Jehovah het hierdie voorbeelde in die Bybel ingesluit as “’n waarskuwing vir ons” (1 Kor. 10:11). Hy weet dat waarskuwende voorbeelde ons kan leer hoe om die Duiwel se strikke te vermy of hoe ons daaruit kan ontsnap.

TROTS

Sien paragraaf 4

4. Wat kan met ons gebeur as ons trots word?

4 Satan wil hê dat ons die verkeerde soort trots moet ontwikkel. Hy weet dat ons soos hy sal word en die ewige lewe sal verloor as ons trots word (Spr. 16:18). Daarom het die apostel Paulus gewaarsku dat iemand “opgeblase van trots [kan] word en dieselfde oordeel [kan] ontvang wat oor die Duiwel uitgespreek is” (1 Tim. 3:6, 7). Dit kan met enige een van ons gebeur, of ons nou nuut in die waarheid is of Jehovah al jare lank dien.

5. Hoe wys ’n persoon dalk dat hy trots is, volgens Prediker 7:16, 20?

5 Trotse mense is selfsugtig. Satan probeer om ons te kry om selfsugtig te wees deur meer op onsself te fokus as op Jehovah, veral wanneer ons probleme het. Byvoorbeeld, het iemand jou al valslik beskuldig? Of het iemand jou al onregverdig behandel? Satan wil baie graag hê dat jy Jehovah of jou broers moet blameer. En die Duiwel wil hê dat jy moet dink dat die enigste manier om die probleem op te los, is deur dinge op jou manier te doen eerder as om die raad te volg in God Woord. – Lees Prediker 7:16, 20.

6. Wat kan jy leer uit die ondervinding van ’n suster in Nederland?

6 Kyk na die ondervinding van ’n suster in Nederland wat haar vir ander vererg het as gevolg van hulle onvolmaakthede. Sy het gevoel dat sy nie meer die situasie kon verdra nie. Sy sê: “Ek het baie alleen gevoel en ek het gedink dat ek nie my gevoelens teenoor daardie broers en susters kan verander nie. Ek het vir my man gesê dat ons na ’n ander gemeente toe moet trek.” Toe het sy die JW Broadcasting®-program van Maart 2016 gekyk. Dit het vir haar voorstelle gegee oor hoe om die onvolmaakthede van ander te hanteer. Die suster sê: “Ek het gesien dat ek nederig moes wees en na my eie foute moes kyk eerder as om die broers en susters in die gemeente te probeer verander. Die program het my gehelp om op Jehovah en sy soewereiniteit te fokus.” Sien jy die punt? Fokus op Jehovah wanneer jy in ’n moeilike situasie is. Smeek hom om jou te help om ander te sien soos hy hulle sien. Jou hemelse Vader sien hulle foute raak, maar hy is bereid om hulle te vergewe. Hy wil hê dat jy dieselfde moet doen. – 1 Joh. 4:20.

Sien paragraaf 7

7. Wat het met koning Ussia gebeur?

7 Omdat koning Ussia van Juda trots geword het, het hy nie na raad geluister nie en iets gedoen wat hy nie die reg gehad het om te doen nie. Hy het baie oorloë gewen, baie stede gebou en hy het baie plase gehad. “Die ware God [het] hom geseën” (2 Kron. 26:3-7, 10). Die Bybel sê: “Maar toe hy magtig geword het, het hy hoogmoedig geword, en dit het tot sy ondergang gelei.” Jehovah het vroeër gesê dat net die priesters reukwerk by die tempel kon offer. Maar koning Ussia het nogtans in die tempel ingegaan en reukwerk geoffer. Jehovah het niks daarvan gehou nie en het daardie trotse man met melaatsheid getref. Ussia het vir die res van sy lewe ’n melaatse gebly. – 2 Kron. 26:16-21.

8. Hoe kan 1 Korintiërs 4:6, 7 ons help om nie trots te word nie?

8 Kan ons trots word en in die strik trap waarin Ussia getrap het? Kyk na die voorbeeld van José. Hy was ’n baie suksesvolle besigheidsman wat as ’n gerespekteerde ouerman gedien het. Hy het toesprake by kring- en streekbyeenkomste gegee, en kringopsieners het hom vir raad gevra. Hy erken: “Maar ek het op my eie vermoëns en ondervinding staatgemaak. Ek het Jehovah weggestoot. Ek het gedink dat ek sterk was, en daarom het ek nie na Jehovah se waarskuwings en raad geluister nie.” José het ernstig gesondig en is toe uitgesit. Hy is ’n hele paar jaar gelede herstel. Nou sê hy: “Jehovah het my geleer dat titels nie belangrik is nie, maar eerder dat ons doen wat hy van ons vra.” Ons moet onthou dat enige talente wat ons het en enige voorregte wat ons in die gemeente ontvang, van Jehovah af kom. (Lees 1 Korintiërs 4:6, 7.) As ons trots is, sal Jehovah ons nie gebruik nie.

GIERIGHEID

Sien paragraaf 9

9. Wat het Satan en Eva gedoen omdat hulle gierig geword het?

9 Wanneer ons aan gierigheid dink, kom Satan die Duiwel heel moontlik eerste by ons op. As een van Jehovah se engele, het Satan seker baie voorregte geniet. Maar hy wou meer gehad het. Hy wou die aanbidding gehad het wat net Jehovah verdien. Satan wil hê dat ons soos hy moet word, en daarom probeer hy om ons te kry om ontevrede te wees met wat ons het. Die eerste keer toe hy dit gedoen het, was toe hy met Eva gepraat het. Uit liefde het Jehovah vir Eva en haar man oorgenoeg lekker kos gegee om te eet. Hulle kon “van al die bome van die tuin” eet, behalwe een (Gen. 2:16). Maar Satan het dit nogtans reggekry om Eva te laat dink dat sy van die een boom wat verbode was, moes eet. Eva het nie waardeer wat sy gehad het nie – sy wou meer gehad het. Ons weet wat daarna gebeur het. Eva het gesondig en uiteindelik gesterf. – Gen. 3:6, 19.

Sien paragraaf 10

10. Hoe het gierigheid vir koning Dawid ’n strik geword?

10 Gierigheid het veroorsaak dat koning Dawid vergeet het wat Jehovah alles vir hom gegee het. Jehovah het byvoorbeeld vir hom rykdom gegee, hom koning gemaak en hom gehelp om baie oorloë te wen. Dawid was baie dankbaar en het gesê dat alles wat God vir hom gedoen het “te veel [sou] wees om op te noem!” (Ps. 40:5). Maar eenkeer het Dawid vergeet wat Jehovah alles vir hom gegee het. Hy was nie meer tevrede nie – hy wou meer gehad het. Al het Dawid ’n hele paar vrouens gehad, het hy toegelaat dat ’n verkeerde begeerte na ’n ander man se vrou in sy hart ontwikkel. Die vrou was Batseba en haar man was Uria die Hetiet. Dawid was selfsugtig en het met Batseba geslaap, en sy het swanger geword. En asof egbreuk nie erg genoeg was nie, het Dawid ook gereël dat Uria doodgemaak word! (2 Sam. 11:2-15). Wat het Dawid gedink? Het hy gedink dat Jehovah nie kon sien wat hy doen nie? Al het Dawid Jehovah jare lank gedien, het hy gierig geword, en hy het toe ’n duur prys betaal. Maar gelukkig het Dawid later erken dat hy gesondig het en was hy regtig jammer daaroor. Dink net hoe dankbaar Dawid moes gewees het dat Jehovah hom vergewe het! – 2 Sam. 12:7-13.

11. Wat kan ons help om teen gierigheid te stry, volgens Efesiërs 5:3, 4?

11 Wat leer ons uit Dawid se voorbeeld? Ons leer dat ons teen gierigheid kan stry as ons dankbaar bly vir alles wat Jehovah vir ons gegee het. (Lees Efesiërs 5:3, 4.) Ons moet tevrede wees met wat ons het. Nuwe Bybelstudente word aangemoedig om aan ’n spesifieke seëning te dink en om vir Jehovah dankie te sê daarvoor. As iemand dit elke dag vir ’n week doen, sou hy teen die einde van die week oor sewe verskillende dinge gebid het (1 Tess. 5:18). Doen jy iets soortgelyks? As jy nadink oor alles wat Jehovah vir jou gedoen het, sal dit jou help om dankbaar te wees. En wanneer jy dankbaar is, is jy tevrede. Wanneer jy tevrede is, het gierigheid geen houvas op jou nie.

Sien paragraaf 12

12. Wat het Judas Iskariot gedoen toe hy gierig geword het?

12 Omdat Judas Iskariot gierig geword het, het hy iets gedoen wat baie sleg was – hy het Jesus verraai. Maar Judas was nie altyd ’n slegte persoon nie (Luk. 6:13, 16). Dit is duidelik dat Jesus Judas vertrou het, want Judas was in beheer van die geldkissie. Jesus en die apostels het hierdie geld gebruik om hulle uitgawes in die predikingswerk te dek. Dit was amper soos die donasies vir die wêreldwye werk vandag. Maar ná ’n tyd het Judas begin steel, al het hy al Jesus se waarskuwings oor gierigheid gehoor (Mark. 7:22, 23; Luk. 11:39; 12:15). Judas het daardie waarskuwings geïgnoreer.

13. Wanneer het dit duidelik geword dat Judas gierig geword het?

13 Kort voor Jesus se dood het dit duidelik geword dat Judas gierig geword het. Jesus en sy dissipels, insluitende Maria en haar suster Marta, het by Simon die melaatse gaan eet. Terwyl hulle geëet het, het Maria opgestaan en duur lekkerruik-olie op Jesus se kop uitgegooi. Judas en die ander dissipels was baie kwaad. Die ander dissipels het miskien gedink dat die geld beter in die bediening gebruik kon word. Maar Judas was kwaad vir ’n ander rede. Hy was “’n dief” en hy wou die geld in die geldkissie steel. En omdat Judas gierig geword het, het hy Jesus later vir geld verraai. – Joh. 12:2-6; Matt. 26:6-16; Luk. 22:3-6.

14. Hoe het een paartjie die raad in Lukas 16:13 toegepas?

14 Jesus het sy volgelinge aan hierdie basiese waarheid herinner: “Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie.” (Lees Lukas 16:13.) Dit is nog steeds waar. Kyk na hoe een paartjie in Roemenië Jesus se woorde toegepas het. Hulle is ’n tydelike werk aangebied in ’n ryker land. Hulle sê: “Ons het ’n groot banklening gehad, en daarom het ons eers gedink dat hierdie werk ’n seëning is.” Maar die probleem was dat hulle minder tyd sou hê om Jehovah te dien. Nadat hulle die artikel “Handhaaf lojaliteit met ’n verenigde hart” gelees het in Die Wagtoring van 15 Augustus 2008, het hulle hulle besluit gemaak. Hulle sê: “As ons in ’n ander land gaan werk het om meer geld te verdien, sou ons ons verhouding met Jehovah tweede gestel het. Ons het geweet dat ons geestelikheid daaronder sou lei.” Daarom het hulle nie die werk aanvaar nie. Wat het toe gebeur? Die man het toe ’n werk in sy eie land gekry waar hy genoeg verdien het om hulle uitgawes te dek. Die vrou het gesê: “Jehovah se hand is nooit te kort nie.” Hierdie paartjie is bly dat hulle Jehovah as hulle Meester gekies het, eerder as geld.

VERMY SATAN SE STRIKKE

15. Hoe weet ons dat ons uit Satan se strikke kan ontsnap?

15 Wat moet ons doen as ons besef dat ons trots of gierig geword het? Ons kan ontsnap! Paulus het gesê dat dié wat “deur [die Duiwel] gevang is” uit sy strik kan ontsnap (2 Tim. 2:26). Dit is wat met Dawid gebeur het. Hy het na Natan se streng raad geluister, berou getoon en sy vriendskap met Jehovah herstel. Moet nooit vergeet dat Jehovah sterker as Satan is nie. So, as ons Jehovah se hulp aanvaar, kan ons uit enige van die Duiwel se strikke ontsnap.

16. Wat sal ons help om Satan se strikke te vermy?

16 Ons hoef natuurlik nie in Satan se strikke te trap nie. Ons kan dit heeltemal vermy. Maar ons kan dit net met God se hulp doen. En ons moenie dink dat dit nie met ons kan gebeur nie! Selfs mense wat Jehovah jare lank gedien het, het al trots en gierig geword. So smeek Jehovah elke dag om jou te help om jou gedagtes en jou dade te ondersoek (Ps. 139:23, 24). En doen jou bes om Satan se strikke te vermy!

17. Wat sal binnekort met ons vyand die Duiwel gebeur?

17 Satan is duisende jare lank al ’n jagter. Maar binnekort sal hy gebind en uiteindelik heeltemal vernietig word (Op. 20:1-3, 10). Ons sien baie uit na daardie dag. Maar tot dan moet ons wakker bly en Satan se strikke vermy. Doen jou bes om nie trots of gierig te word nie. Wees vasbeslote om ‘die Duiwel teë te staan, en hy sal van jou af wegvlug’. – Jak. 4:7

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

^ par. 5 Satan is ’n ervare jagter. Hy probeer om ons te vang, maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie. In hierdie artikel sal ons leer hoe Satan trots en gierigheid gebruik om ons verhouding met God te probeer vernietig. Ons sal ook na voorbeelde kyk van party wat in Satan se strik getrap het deur trots en gierig te word. En ons sal sien hoe ons hierdie strikke kan vermy.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: Hierdie artikel fokus op ongepaste trots, dit wil sê wanneer iemand voel dat hy beter is as iemand anders. Dit fokus ook op gierigheid, dit wil sê die uiters sterk begeerte om meer geld, mag, seks of ander dinge te wil hê.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer is trots en weier om wyse raad te aanvaar. ’n Suster wat baie dinge het, wil selfs nog meer hê.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENTE: Selfs ’n engel en koning Ussia het trots geword. Eva, koning Dawid en Judas het gierig geword. Eva het van die verbode vrug geëet, Dawid het met Batseba egbreuk gepleeg en Judas het gesteel.