Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 27

Volhard soos Jehovah volhard

Volhard soos Jehovah volhard

“Deur julle volharding sal julle julle lewens red.” – LUK. 21:19.

LIED 114 Wees geduldig

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe help Jehovah se woorde in Jesaja 65:16, 17 ons om nie op te gee nie?

“MOENIE OPGEE NIE!” was die opwindende tema van die streekbyeenkomsprogram vir 2017. Die program het ons gewys hoe ons ons probleme kan verduur. Dit is nou al vier jaar later en ons volhard nog steeds in hierdie goddelose wêreld.

2 Watter probleme het jy onlangs gehad? Het jy ’n familielid of ’n goeie vriend in die dood verloor? Het jy ’n lewensgevaarlike siekte? Of maak die ouderdom die lewe vir jou moeilik? Is jy dalk geraak deur ’n natuurramp, geweld of vervolging? Of is jy geraak deur die gevolge van ’n siekte soos die COVID-19-pandemie? Ons sien so uit na die dag wanneer dit alles iets van die verlede is – wanneer ons nie eers daaraan sal dink of ooit weer daardeur sal hoef te gaan nie! – Lees Jesaja 65:16, 17.

3. Wat moet ons nou doen, en hoekom?

3 Die lewe in hierdie wêreld is moeilik, en dit sal dalk in die toekoms nog moeiliker raak (Matt. 24:21). Dit is duidelik dat ons moet aanhou om ons volharding te versterk. Hoekom? Omdat Jesus gesê het: “Deur julle volharding sal julle julle lewens red” (Luk. 21:19). As ons dink aan hoe ander mense probleme verduur wat soortgelyk is aan ons s’n, kan dit ons help om te volhard.

4. Hoekom kan ons sê dat Jehovah die beste voorbeeld van volharding is?

4 Wie is die beste voorbeeld van volharding? Jehovah God. Verbaas hierdie antwoord jou? As ’n mens ’n bietjie daaroor dink, sal dit ons help om te verstaan hoekom Jehovah die beste voorbeeld van volharding is. Hierdie wêreld is onder die beheer van die Duiwel en dit is vol probleme. Jehovah het die mag om dit alles in ’n oogwink te beëindig, maar hy wag vir sy vasgestelde tyd om dit te doen (Rom. 9:22). Intussen volhard ons God totdat daardie tyd aanbreek. Kom ons bespreek nege dinge wat Jehovah besluit het om te verduur.

WAT HET JEHOVAH BESLUIT OM TE VERDUUR?

5. Hoe is God se naam sonder respek behandel, en hoe voel jy daaroor?

5Jehovah sien hoe sy naam sonder respek behandel word. Jehovah is lief vir sy naam, en hy wil hê dat almal dit moet respekteer (Jes. 42:8). Maar oor die afgelope 6 000 jaar is daar oneer op sy naam gebring (Ps. 74:10, 18, 23). Dit het in die tuin van Eden begin toe die Duiwel (wat “lasteraar” beteken) gesê het dat God iets van Adam en Eva terughou wat hulle nodig het om gelukkig te wees (Gen. 3:1-5). Van daardie tyd af is Jehovah daarvan beskuldig dat hy dinge van mense terughou wat hulle regtig nodig het. Jesus was bekommerd oor die feit dat sy Vader se naam sonder respek behandel word. Daarom het hy sy dissipels geleer om so te bid: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word.” – Matt. 6:9.

6. Hoekom het Jehovah so lank gewag om te bewys dat hy die reg het om te regeer?

6Jehovah sien hoe sy reg om te regeer, teëgestaan word. Net Jehovah het die reg om oor die hemel en die aarde te regeer, en sy manier van regeer is die heel beste (Op. 4:11). Maar die Duiwel het mense en engele probeer mislei om te dink dat God nie daardie reg het nie. Dit sou tyd neem om te bewys dat Jehovah die reg het om te regeer en dat sy manier van regeer die heel beste is. God het genoeg tyd laat verbygaan sodat mense kan sien dat hulle nie oor hulleself kan regeer tensy hulle na die Skepper luister nie. Dit wys vir ons hoe wys God is (Jer. 10:23). Omdat God geduldig is, sal hy eens en vir altyd bewys dat hy die reg het om te regeer. Almal sal weet dat Jehovah se manier van regeer, die beste is en dat net sy Koninkryk ware vrede en veiligheid op die aarde kan bring.

7. Wie het teen Jehovah in opstand gekom, en wat sal met hulle gebeur?

7Jehovah sien hoe party van sy kinders teen hom in opstand kom. Jehovah het engele en mense volmaak geskep. Maar toe het die engel Satan (wat “teenstander” beteken) die volmaakte mense Adam en Eva oorreed om ook teen Jehovah in opstand te kom. Ander engele en mense het ook teen Jehovah in opstand gekom (Jud. 6). Later het selfs party van die Israeliete, wat God se eie volk was, teen hom gedraai en valse gode begin aanbid (Jes. 63:8, 10). Jehovah het gevoel asof hulle hom in die rug gesteek het. Maar hy het volhard en hy sal aanhou volhard totdat die tyd kom wanneer hy ’n einde maak aan almal wat teen hom in opstand kom. Dan sal Jehovah en almal wat lojaal aan hom is, baie bly wees dat hulle nie meer hoef te volhard in hierdie slegte wêreld nie!

8-9. Watter leuens word oor Jehovah versprei, en wat kan ons daaromtrent doen?

8Jehovah sien hoe die Duiwel aanhoudend leuens oor hom versprei. Satan het Job en alle ander getroue knegte van Jehovah daarvan beskuldig dat hulle God net vir selfsugtige redes aanbid (Job 1:8-11; 2:3-5). Tot vandag toe hou die Duiwel aan om mense daarvan te beskuldig (Op. 12:10). Ons kan help bewys dat Satan ’n leuenaar is deur te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan en deur lojaal te bly aan Jehovah omdat ons hom liefhet. Soos Job sal ons geseën word as ons volhard. – Jak. 5:11.

9 Satan gebruik leiers van valse godsdienste om te sê dat Jehovah wreed is en dat hy verantwoordelik is vir mense se probleme. Wanneer kinders sterf, sê party selfs dat God hulle gevat het omdat hy meer engele in die hemel nodig gehad het. Wat ’n nare leuen! Maar ons weet dat Jehovah ’n liefdevolle Vader is. Wanneer ons ’n ernstige siekte het of iemand in die dood verloor, sal ons nooit ons God blameer nie. Ons weet dat hy eendag alles sal regmaak. Ons kan vir almal wat wil luister, vertel wat ’n liefdevolle God Jehovah is. Dan sal Jehovah ’n goeie antwoord kan gee aan die een wat hom uittart. – Spr. 27:11.

10. Wat leer Psalm 22:23, 24 ons oor Jehovah?

10Jehovah sien hoe sy geliefde knegte swaarkry. Jehovah is ’n God met meegevoel. Dit breek sy hart om te sien hoe ons swaarkry – miskien as gevolg van vervolging, siekte of onvolmaaktheid. (Lees Psalm 22:23, 24.) Jehovah voel ons pyn. Hy wil ’n einde daaraan maak en hy sal ’n einde daaraan maak. (Vergelyk Eksodus 3:7, 8; Jesaja 63:9.) Die dag sal kom wanneer hy “elke traan van [ons] oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” – Op. 21:4.

11. Hoe voel Jehovah oor sy lojale knegte wat gesterf het?

11Jehovah mis sy vriende wat gesterf het. Hoe voel Jehovah oor getroue manne en vrouens wat gesterf het? Hy kan nie wag om hulle weer te sien nie! (Job 14:15). Kan jy dink hoe baie Jehovah sy vriend Abraham mis? (Jak. 2:23). Of wat van Moses, met wie hy direk gepraat het? (Eks. 33:11). En hy sien baie daarna uit om te hoor hoe Dawid en die ander psalmiste hulle pragtige liedjies sing om hom te eer! (Ps. 104:33). Al is hierdie vriende van God nou dood, het Jehovah hulle nie vergeet nie (Jes. 49:15). Hy onthou elke liewe detail van hulle persoonlikheid. In sy oë “lewe hulle almal” (Luk. 20:38). Eendag sal hy hulle weer laat lewe, en hy sal hulle opregte gebede weer hoor en hulle aanbidding aanvaar. Mag hierdie gedagtes jou vertroos as jy iemand wat jy liefhet, in die dood verloor het.

12. Wat maak Jehovah veral hartseer gedurende hierdie goddelose laaste dae?

12Jehovah sien hoe mense onderdruk word. Toe dinge in Eden skeefgeloop het, het Jehovah geweet dat toestande erger sou word voordat hulle beter word. Jehovah haat die goddeloosheid, ongeregtigheid en geweld in die wêreld vandag. Hy voel veral vir mense wat hulleself nie kan verdedig nie – soos weeskinders en weduwees (Sag. 7:9, 10). Jehovah is veral ontsteld wanneer hy sien hoe sy getroue knegte onderdruk en in die tronk gegooi word. Ons kan seker wees dat hy ons almal liefhet wat saam met hom volhard.

13. Watter skandelike dinge sien God onder mense vandag, en wat gaan hy daaromtrent doen?

13Jehovah sien hoe mense skandelike dinge doen. Mense is na God se beeld geskep, en Satan hou daarvan om hulle te kry om skandelike dinge te doen. Toe God gesien het dat mense in Noag se dag baie goddeloos was, het hy “spyt gevoel dat hy mense op die aarde gemaak het, en hy was hartseer” (Gen. 6:5, 6, 11). Het dinge intussen verbeter? Glad nie! Dink net hoe bly die Duiwel moet wees wanneer hy sien hoe algemeen seksuele onsedelikheid is, soos byvoorbeeld wanneer mense van die teenoorgestelde geslag en mense van dieselfde geslag dinge doen wat seksueel onsedelik is! (Ef. 4:18, 19). Dit maak Satan veral bly wanneer hy ware aanbidders kan kry om te sondig. Wanneer Jehovah se geduld opraak, sal hy wys dat hy onsedelike gedrag haat deur alle onsedelike mense te vernietig.

14. Wat doen mense aan die aarde en die diere?

14Jehovah sien hoe sy skeppingswerke vernietig word. ‘Mense heers oor ander mense tot hulle nadeel’ en hulle sorg nie vir die aarde en vir die diere soos Jehovah wou gehad het nie (Pred. 8:9; Gen. 1:28). Party wetenskaplikes sê dat mense kan veroorsaak dat nog ’n miljoen spesies * oor die volgende paar jaar uitsterf. Dit is geen wonder dat hulle sê dat die natuur in die moeilikheid is nie! Ons kan so dankbaar wees dat Jehovah belowe het “om die vernietigers van die aarde te vernietig” en om die aarde in ’n paradys te verander. – Op. 11:18; Jes. 35:1.

WAT ONS UIT JEHOVAH SE VOLHARDING LEER

15-16. Wat moet ons motiveer om te volhard soos Jehovah volhard? Verduidelik.

15 Dink aan alles wat ons hemelse Vader duisende jare lank al verduur. (Sien die venster “ Dinge wat Jehovah verduur”.) Jehovah kan enige tyd ’n einde maak aan hierdie goddelose wêreld. Maar sy geduld is vir ons ’n groot seëning! Dink aan die volgende voorbeeld. Sê nou daar word vir ’n man en sy vrou gesê dat hulle ongebore baba ernstige fisiese probleme het en dat die kind ’n moeilike lewe sal hê en jonk sal sterf. Al sal dit vir hulle baie moeilik wees om vir die kind te sorg, verwelkom hulle hom met ope arms. As gevolg van hulle liefde vir die kind is hulle bereid om enige moeilike situasie te verduur sodat hulle vir hom die beste moontlike lewe kan gee.

16 Net so is al Adam en Eva se kinders van geboorte af onvolmaak. Maar Jehovah is lief vir hulle en hy sorg vir hulle (1 Joh. 4:19). En anders as die ouers in die illustrasie, kan Jehovah ’n einde maak aan sy kinders se probleme. Hy het ’n tyd vasgestel wanneer hy ’n einde gaan maak aan alles wat die lewe vir mense moeilik maak (Matt. 24:36). Moet sy liefde ons dan nie ook motiveer om saam met hom te volhard solank as wat dit nodig is nie?

17. Hoe kan die beskrywing van Jesus in Hebreërs 12:2, 3 ons help om te volhard?

17 Jehovah het die volmaakte voorbeeld van volharding gestel. Jesus het dit reggekry om sy Vader se voorbeeld van volharding te volg. Toe Jesus op die aarde was, het hy skande, lelike dinge wat ander van hom gesê het en ’n folterpaal vir ons verduur. (Lees Hebreërs 12:2, 3.) Jehovah se voorbeeld van volharding het Jesus beslis die krag gegee om te volhard. Dit kan ons ook versterk.

18. Hoe help 2 Petrus 3:9 ons om te sien wat die goeie resultate is van Jehovah se geduld?

18 Lees 2 Petrus 3:9. Jehovah weet wat die beste tyd is om ’n einde te maak aan hierdie goddelose wêreld. Omdat hy geduldig is, het baie mense die kans gekry om hom te leer ken, en nou word hy aanbid deur ’n groot menigte wat uit miljoene mense bestaan. Hulle almal is baie bly dat Jehovah so lank volhard het, want dit het vir hulle die kans gegee om hom lief te kry en om hulleself aan hom toe te wy. Miljoene mense sal tot die einde toe volhard, en dan sal dit duidelik wees dat Jehovah se besluit om geduldig te wees, die regte besluit was!

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen, en wat sal ons beloning wees?

19 Ons leer by Jehovah hoe om met vreugde te volhard. Al het Satan so baie pyn en hartseer veroorsaak, bly Jehovah “die gelukkige God” (1 Tim. 1:11). Ons kan ook vreugdevol bly terwyl ons geduldig vir Jehovah wag om sy naam te regverdig, om te bewys dat hy die reg het om te regeer en om ’n einde te maak aan alle goddeloosheid en al ons probleme. Laat ons vasbeslote wees om te volhard en vertroosting vind in die feit dat ons hemelse Vader ook volhard. As ons dit doen sal die volgende woorde op ons van toepassing wees: “Gelukkig is die mens wat volhard in moeilike tye, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah belowe het aan dié wat Hom altyd liefhet.” – Jak. 1:12.

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

^ par. 5 Ons almal het probleme. Vir baie van ons probleme is daar op die oomblik geen oplossing nie – ons moet dit maar net verduur. Maar ons is nie alleen nie. Jehovah verduur ook baie dinge. In hierdie artikel sal ons nege dinge bespreek wat Jehovah verduur. Ons sal ook kyk na wat die goeie resultate was van Jehovah se volharding en hoe sy voorbeeld ons kan help.

^ par. 14 Die term “spesies” is nie dieselfde as die Bybelse term “soorte” nie. Die woord “soorte” verwys na ’n breë groep lewende dinge.