Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 28

Moenie met mekaar kompeteer nie – Streef vrede na

Moenie met mekaar kompeteer nie – Streef vrede na

“Laat ons nie te veel van onsself begin dink en met mekaar kompeteer en jaloers wees op mekaar nie.” – GAL. 5:26.

LIED 101 Werk eensgesind saam

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe kan ’n gees van kompetisie mense affekteer?

VANDAG is baie mense selfsugtig en kompeteer hulle met mekaar. Byvoorbeeld, ’n besigheidsman doen dalk dinge wat ander seermaak sodat hy meer suksesvol kan wees as ander besighede. ’n Atleet maak dalk ’n speler op ’n ander span opsetlik seer sodat hy ’n wedstryd kan wen. ’n Student doen dalk iets wat oneerlik is sodat hy kan kwalifiseer om by ’n goeie universiteit in te kom. As Christene, weet ons dat sulke gedrag verkeerd is – dit is deel van “die werke van die vlees” (Gal. 5:19-21). Maar is dit moontlik dat ons ’n gees van kompetisie in die gemeente bevorder sonder dat ons dit agterkom? Dit is ’n belangrike vraag, want ’n gees van kompetisie kan die eenheid van ons broederskap versteur.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel gaan ons die negatiewe eienskappe bespreek wat kan veroorsaak dat ons met ons broers kompeteer. Ons gaan ook die voorbeelde van getroue mans en vrouens in Bybeltye bespreek wat ’n gees van kompetisie vermy het. Kom ons kyk eers hoe ons selfondersoek kan doen.

DOEN SELFONDERSOEK

3. Watter vrae moet ons onsself vra?

3 Dit is goed om van tyd tot tyd selfondersoek te doen. Ons kan onsself vra: ‘Meet ek my eie waarde deur myself met ander te vergelyk? Werk ek hard in die gemeente sodat ek die beste kan wees of ten minste sodat ek beter as ander kan wees? Of werk ek hard omdat ek Jehovah my beste wil gee?’ Hoekom moet ons hierdie vrae vra? Kyk wat God se Woord sê.

4. Volgens Galasiërs 6:3, 4, hoekom moet ons onsself nie met ander vergelyk nie?

4 Die Bybel sê dat ons onsself nie met ander moet vergelyk nie. (Lees Galasiërs 6:3, 4.) Hoekom? Aan die een kant, as ons dink dat ons beter as ons broer is, kan ons trots word. Aan die ander kant, as ons dink dat ons broer beter as ons is, kan dit ons mismoedig maak. So dit is nooit wys om onsself met ander te vergelyk nie (Rom. 12:3). ’n Suster met die naam Katerina, * wat in Griekeland bly, sê: “Ek het myself altyd met ander vergelyk wat ek gedink het mooier is, beter in die bediening is en makliker vriende maak. En daarom het ek waardeloos gevoel.” Ons moet onthou dat Jehovah ons na hom toe getrek het, nie omdat ons mooi of gewild is of omdat ons goed kan praat nie, maar omdat ons gewillig is om hom lief te hê en om na sy Seun te luister. – Joh. 6:44; 1 Kor. 1:26-31.

5. Wat leer jy uit die ondervinding van ’n broer met die naam Hyun?

5 Nog ’n vraag wat ons onsself kan vra, is: ‘Ken mense my as ’n vredemaker of stry ek gereeld met ander?’ Kyk na die ondervinding van ’n broer met die naam Hyun, wat in Suid-Korea bly. Hy het party broers wat voorregte gehad het, eers as sy kompetisie beskou. Hy sê: “Ek was krities teenoor hierdie broers en het baie keer nie saamgestem met die dinge wat hulle gesê het nie.” Wat was die gevolge? Hy erken: “My gesindheid het onenigheid in die gemeente veroorsaak.” Party van Hyun se vriende het hom gehelp om te besef dat hy ’n probleem het. Hyun het die nodige veranderinge gemaak, en vandag dien hy as ’n ouerman. As ons sien dat ons geneig is om met ander te kompeteer eerder as om vrede te bevorder, moet ons dadelik iets daaromtrent doen.

MOENIE TROTS OF JALOERS WEES NIE

6. Volgens Galasiërs 5:26, watter negatiewe eienskappe kan veroorsaak dat ons ’n gees van kompetisie ontwikkel?

6 Lees Galasiërs 5:26. Watter negatiewe eienskappe kan veroorsaak dat ons ’n gees van kompetisie ontwikkel? Een is trots. ’n Trotse persoon dink te veel van homself en is selfsugtig. Jaloesie is nog ’n negatiewe eienskap. As jy jaloers is, beteken dit dat jy iets wil hê wat aan iemand anders behoort, en dit kan selfs veroorsaak dat jy dit van hom af wil wegvat. En as jy iets van iemand af wil wegvat, beteken dit dat jy hom haat. Ons wil beslis hierdie negatiewe eienskappe soos die pes vermy!

7. Waarmee kan die gevolge van trots en jaloesie vergelyk word?

7 Trots en jaloesie kan vergelyk word met onsuiwerhede in ’n vliegtuig se brandstof. Al styg die vliegtuig op, kan die onsuiwerhede die brandstofleiding verstop. Dit kan veroorsaak dat die enjins krag verloor en dat die vliegtuig val net voordat dit land. Net so sal ’n persoon wat trots of jaloers word, geestelik val al dien hy Jehovah al ’n tyd lank (Spr. 16:18). Hy sal ophou om Jehovah te dien en veroorsaak dat hy en ander seerkry. Maar hoe kan ons trots en jaloesie vermy?

8. Hoe kan ons teen trots stry?

8 Ons kan teen trots stry deur die apostel Paulus se raad aan die Filippense in gedagte te hou: “Moenie stryerig wees of te veel van julleself dink nie, maar wees nederig en beskou ander as hoër as julleself” (Fil. 2:3). As ons ander as hoër as onsself beskou, sal ons nie met ons broers en susters kompeteer wat meer talentvol is of wat iets beter as ons kan doen nie. Ons sal eerder bly wees vir hulle. Dit is veral die geval as hulle hulle talente in Jehovah se diens gebruik om hom te eer. En as ons talentvolle broers en susters Paulus se raad volg, sal hulle fokus op die eienskappe wat hulle in ons waardeer. En dan sal ons almal vrede en eenheid in die gemeente bevorder.

9. Hoe kan ons keer dat ons jaloers word?

9 Ons kan keer dat ons jaloers word deur hard daaraan te werk om beskeie te wees, dit wil sê om bewus te wees van ons beperkings. As ons beskeie is, sal ons nie probeer bewys dat ons meer talentvol is of iets beter kan doen as die res nie. Ons sal eerder probeer om by ander te leer wat iets beter as ons doen. Byvoorbeeld, sê nou ’n broer in die gemeente gee uitstekende openbare toesprake. Ons kan dalk vir hom vra hoe hy sy toesprake voorberei. As ’n suster lekker kan kos maak, kan ons dalk vir haar vra vir wenke. En as ’n jong Christen sukkel om vriende te maak, kan hy dalk vir iemand wat maklik vriende maak vir raad vra. As ons dit doen, kan ons keer dat ons trots word en kan ons ons vaardighede verbeter.

LEER UIT BYBELVOORBEELDE

Omdat Gideon nederig was, het hy die vrede bewaar (Sien paragraaf 10-12)

10. Watter uitdaging het Gideon gehad?

10 Dink aan wat tussen Gideon en die manne van die stam van Efraim gebeur het. Gideon was van die stam van Manasse, en hy en sy 300 manne het met Jehovah se hulp ’n groot oorwinning gehad, en hulle kon maklik trots geword het as gevolg daarvan. Die manne van Efraim het na Gideon toe gegaan om met hom te stry eerder as om hom te prys. Hulle was kwaad omdat Gideon hulle nie van die begin af gevra het om saam met hulle teen God se vyande te veg nie. Die reputasie van hulle stam was vir hulle so belangrik dat hulle nie die groter prentjie kon sien nie – Gideon het nou net iets gedoen wat eer op Jehovah se naam gebring het en wat God se volk beskerm het. – Rigt. 8:1.

11. Wat het Gideon vir die manne van Efraim gesê?

11 Gideon het nederig vir die manne van Efraim gesê: “Wat het ek gedoen in vergelyking met julle?” Hy het toe vir hulle ’n spesifieke voorbeeld gegee van hoe Jehovah hulle geseën het. Toe het die manne “gekalmeer” (Rigt. 8:2, 3). Gideon was nederig en hy het sy trots gesluk sodat hy die vrede onder God se volk kon bewaar.

12. Wat leer ons uit die voorbeeld van die manne van Efraim en wat leer ons by Gideon?

12 Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Die voorbeeld van die manne van Efraim leer ons dat ons reputasie nie vir ons belangriker moet word as om eer op Jehovah se naam te bring nie. En gesinshoofde en ouermanne kan die volgende les by Gideon leer: As iemand kwaad is as gevolg van iets wat ons gedoen het, moet ons probeer om onsself in sy skoene te sit. En ons kan ook die persoon prys vir iets wat hy goed gedoen het. Ons sal nederig moet wees om dit te doen, veral as dit duidelik is dat die ander persoon verkeerd is. Maar vrede is baie belangriker as ons eie trots.

Omdat Hanna vertrou het dat Jehovah dinge sou regstel, het sy haar innerlike vrede teruggekry (Sien paragraaf 13-14)

13. Watter uitdaging het Hanna gehad, en hoe het sy dit oorkom?

13 Dink ook aan die voorbeeld van Hanna. Sy was getroud met ’n Leviet met die naam Elkana, wat haar baie liefgehad het. Maar Elkana het ook ’n ander vrou gehad, Peninna. Elkana was liewer vir Hanna as vir Peninna. Maar ‘Peninna het kinders gehad terwyl Hanna geen kinders gehad het nie’. As gevolg daarvan het Peninna Hanna “heeltyd uitgetart om haar te ontstel”. Hoe het Hanna gereageer? Sy het so ontsteld geraak “dat sy gehuil het en nie geëet het nie” (1 Sam. 1:2, 6, 7). Maar daar is geen bewyse dat Hanna probeer het om Peninna terug te kry vir wat sy gedoen het nie. Sy het eerder haar hart voor Jehovah uitgestort en het die vertroue gehad dat hy dinge sou regstel. Het Peninna se gesindheid teenoor Hanna verander? Die Bybel sê nie. Maar ons weet dat Hanna haar innerlike vrede teruggekry het en dit toe behou het. “Sy was nie meer hartseer nie.” – 1 Sam. 1:10, 18.

14. Wat kan ons uit Hanna se voorbeeld leer?

14 Wat kan ons by Hanna leer? As iemand probeer om met jou te kompeteer, moet jy onthou dat jy in beheer van die situasie is. Jy hoef nie met daardie persoon te kompeteer nie. En in plaas daarvan om die persoon te probeer terugkry as hy iets slegs aan jou gedoen het, moet jy vrede probeer maak (Rom. 12:17-21). Selfs as hy nie verander nie, sal jy jou innerlike vrede behou.

Omdat Apollos en Paulus besef het dat Jehovah die werk seën, het hulle mekaar nie as kompetisie beskou nie (Sien paragraaf 15-18)

15. Wat het Apollos en Paulus in gemeen gehad?

15 Kom ons kyk laastens wat ons kan leer uit die voorbeeld van Apollos en die apostel Paulus. Al twee hierdie mans het ’n uitstekende kennis van die Skrif gehad. Al twee was baie bekend en was baie goeie onderrigters. En al twee het gehelp om baie dissipels te maak. Maar hulle het mekaar nie as kompetisie beskou nie.

16. Hoe sal jy Apollos beskryf?

16 Apollos was “in Aleksandrië gebore”, ’n plek waarheen baie mense in die eerste eeu gegaan het om verder te studeer. Hy was blykbaar ’n goeie spreker en het “die Skrif baie goed geken” (Hand. 18:24). Toe Apollos in Korinte gebly het, het party in die gemeente dit duidelik gemaak dat hulle hom verkies het bo ander broers, insluitende Paulus (1 Kor. 1:12, 13). Hierdie gesindheid kon verdeeldheid veroorsaak het. Het Apollos hierdie gesindheid bevorder? Ons kan nie dink dat hy so iets sou gedoen het nie. ’n Ruk nadat Apollos Korinte verlaat het, het Paulus hom gevra om daarnatoe terug te gaan (1 Kor. 16:12). Paulus sou dit nooit gedoen het as hy gedink het dat Apollos besig was om verdeeldheid in die gemeente te veroorsaak nie. Dit is duidelik dat Apollos sy talente op ’n goeie manier gebruik het – om die goeie nuus te verkondig en om sy broers te versterk. En ons kan seker wees dat Apollos ’n nederige man was. Byvoorbeeld, daar is geen bewyse dat hy aanstoot geneem het toe Aquila en Priscilla “die weg van God vir hom nog duideliker gemaak” het nie. – Hand. 18:24-28.

17. Hoe het Paulus vrede bevorder?

17 Die apostel Paulus het geweet van die goeie werk wat Apollos gedoen het. Maar Paulus was nie bekommerd dat mense gaan dink dat Apollos beter as hy is nie. Die raad wat Paulus aan die gemeente in Korinte gegee het, wys hoe nederig, beskeie en redelik hy was. Hy het nie daarvan gehou toe mense gesê het “ek behoort aan Paulus” nie. Hy het eerder mense se aandag gevestig op Jehovah God en Jesus Christus. – 1 Kor. 3:3-6.

18. As ons kyk na 1 Korintiërs 4:6, 7, wat kan ons uit die voorbeeld van Apollos en Paulus leer?

18 Wat kan ons uit die voorbeeld van Apollos en Paulus leer? Dalk werk ons hard vir Jehovah en help ons baie om tot doop te vorder. Maar ons besef dat ons suksesvol is omdat Jehovah ons seën. Nog ’n les wat ons uit Apollos en Paulus se voorbeeld kan leer, is: Hoe meer verantwoordelikhede ons in die gemeente het, hoe meer kan ons doen om vrede in die gemeente te bevorder. Ons is baie dankbaar wanneer aangestelde manne vrede en eenheid bevorder. Hulle doen dit wanneer hulle al hulle raad op die Bybel baseer. Hulle probeer nie om belangrik te wees nie. Hulle help die gemeente eerder om gehoorsaam te wees aan Jesus en om sy voorbeeld te volg. – Lees 1 Korintiërs 4:6, 7.

19. Wat kan elkeen van ons doen? (Sien ook die venster “ Vermy ’n gees van kompetisie”.)

19 Elkeen van ons het talente en vermoëns wat ons kan gebruik “om mekaar te dien” (1 Pet. 4:10). Miskien voel ons dat wat ons doen, nie baie belangrik is nie. Maar elke klein dingetjie wat ons doen om vrede te bevorder, is soos die klein steke wat ’n stuk klere bymekaarhou. Mag elkeen van ons hard werk om seker te maak dat ons glad nie beïnvloed word deur ’n gees van kompetisie nie. Laat ons vasbeslote wees om alles te doen wat ons kan om vrede en eenheid in die gemeente te bevorder. – Ef. 4:3.

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’

^ par. 5 Net soos klein krakies ’n kleipot kan verswak, kan ’n gees van kompetisie ’n gemeente verswak. As die gemeente nie sterk en verenig is nie, kan dit nie ’n plek van vrede wees waar ons God aanbid nie. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons ’n gees van kompetisie moet vermy en wat ons kan doen om vrede in die gemeente te bevorder.

^ par. 4 Name is verander.