Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 29

Vind vreugde in jou eie vordering!

Vind vreugde in jou eie vordering!

“Laat elkeen . . . bly . . . wees oor wat hy self doen en nie omdat hy homself met ander vergelyk nie.” – GAL. 6:4.

LIED 34 Ek sal lojaal bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom vergelyk Jehovah ons nie met ander nie?

JEHOVAH hou van verskeidenheid. Ons kan dit sien wanneer ons kyk na die verstommende dinge wat hy gemaak het, soos die mensdom. Elkeen van ons is uniek. Daarom vergelyk Jehovah jou nooit met ander nie. Hy ondersoek die hart – die innerlike mens (1 Sam. 16:7). Hy weet wat jy goed kan doen, wat jou swakhede is en wat jou agtergrond is. En hy vra nooit meer van jou as wat jy kan gee nie. Ons moet Jehovah se voorbeeld volg deur onsself te sien soos hy ons sien. Dan sal ons verstandig wees en nie te veel of te min van onsself dink nie. – Rom. 12:3.

2. Hoekom is dit nie goed om onsself met ander te vergelyk nie?

2 Ons kan natuurlik leer uit die goeie voorbeelde van ander. Byvoorbeeld, ons ken miskien ’n broer of ’n suster wat baie goed is in die bediening (Heb. 13:7). Ons kan dalk by hom of haar leer hoe ons in die bediening kan verbeter (Fil. 3:17). Maar alhoewel dit goed is om uit iemand anders se voorbeeld te leer, moet ons nie onsself met ander vergelyk nie. As jy dit doen, kan jy jaloers, mismoedig of selfs waardeloos voel. En soos ons in die vorige artikel geleer het, kan dit ons geestelikheid afbreek as ons met broers en susters in die gemeente kompeteer. Daarom moedig Jehovah ons aan: “Laat elkeen sy eie dade ondersoek, en dan sal hy ’n rede hê om bly te wees oor wat hy self doen en nie omdat hy homself met ander vergelyk nie.” – Gal. 6:4.

3. Watter geestelike vordering het jy gemaak wat vir jou vreugde gee?

3 Jehovah wil hê dat jy vreugde moet vind in jou eie geestelike vordering. Byvoorbeeld, as jy gedoop is, moet jy baie bly wees dat jy daardie doelwit bereik het! Jy het daardie besluit self geneem. Jou liefde vir God het jou beweeg om dit te doen. Dink aan al die vordering wat jy van daardie tyd af gemaak het. Byvoorbeeld, geniet jy dit nou meer om jou Bybel te lees en om persoonlike studie te doen? Bid jy nou meer uit die hart? (Ps. 141:2). Is jy nou meer op jou gemak om met mense in die bediening te gesels en vind jy dit nou makliker om ons hulpmiddele in die bediening te gebruik? Of het Jehovah jou gehelp om ’n beter man, vrou of ouer te word? Jy kan baie bly wees oor al die vordering wat jy gemaak het.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Ons kan ander help om vreugde te vind in hulle eie geestelike vordering. Ons kan hulle ook help om hulleself nie met ander te vergelyk nie. In hierdie artikel gaan ons kyk na hoe ouers hulle kinders kan help, hoe huweliksmaats mekaar kan help en hoe ouermanne en ander hulle broers en susters kan help. En laastens gaan ons kyk na ’n paar Bybelbeginsels wat ons kan help om redelike doelwitte te stel volgens ons eie vermoëns en omstandighede.

WAT OUERS EN HUWELIKSMAATS KAN DOEN

Ouers, wys vir julle kinders dat julle vreugde vind in die goeie dinge wat hulle doen (Sien paragraaf 5-6) *

5. Volgens Efesiërs 6:4, wat moet ouers nie doen nie?

5 Ouers moenie een kind met ’n ander kind vergelyk of meer van die kind verwag as wat hy kan gee nie. As ’n ouer dit doen, kan dit ’n kind mismoedig maak. (Lees Efesiërs 6:4.) ’n Suster met die naam Sachiko * sê: “My onderwysers het verwag dat ek beter punte as my klasmaats moes kry. Boonop wou my ma gehad het dat ek goed moes doen op skool sodat ek ’n goeie getuienis kon gee vir my onderwysers en vir my pa wat nie ’n Getuie was nie. Sy wou gehad het dat ek 100 persent in my eksamens moes kry, maar dit was vir my onmoontlik. Al is ek al jare lank uit die skool uit, wonder ek soms nog steeds of my beste vir Jehovah goed genoeg is.”

6. Watter les kry ouers in Psalm 131:1, 2?

6 Ouers kan ’n belangrike les vind in Psalm 131:1, 2. (Lees.) Koning Dawid het gesê dat hy nie na dinge streef “wat te groot is” of wat vir hom onbereikbaar is nie. Sy nederigheid en beskeidenheid het hom “gekalmeer en tot bedaring gebring”. Wat kan ouers uit Dawid se woorde leer? Nederige ouers verwag nie te veel van hulleself of van hulle kinders nie. Ouers kan hulle kinders help om waardevol te voel deur vir hulle te help besef wat hulle sterk en swak punte is en deur vir hulle te help om doelwitte te stel wat hulle kan bereik. ’n Suster met die naam Marina sê: “My ma het my nooit met my broers of met ander kinders vergelyk nie. Sy het my geleer dat almal verskillende talente het en dat elkeen van ons vir Jehovah kosbaar is. Danksy haar vergelyk ek myself amper nooit met ander nie.”

7-8. Hoe kan ’n man sy vrou met respek behandel?

7 ’n Christenman moet sy vrou met respek behandel (1 Pet. 3:7). Dit sluit in dat hy vir haar spesiale aandag moet gee. Byvoorbeeld, ’n man behandel sy vrou met respek deur vir haar te wys dat sy vir hom belangrik is. Hy verwag nie meer van haar as wat sy kan gee nie. En hy vergelyk haar beslis nie met ander vrouens nie. Hoe sal ’n vrou voel as haar man dit doen? Kyk na die voorbeeld van ’n suster met die naam Rosa. Haar man wat nie in die waarheid is nie, vergelyk haar gereeld met ander vrouens. Sy lelike woorde het Rosa nie net sleg laat voel oor haarself nie, maar ook laat twyfel of enige iemand regtig vir haar lief is. Sy sê: “Ek moet heeltyd verseker word dat ek kosbaar is vir Jehovah.” Maar ’n Christenman behandel sy vrou met respek. Hy weet dat dit sy verhouding met haar en sy verhouding met Jehovah raak. *

8 ’n Man wat sy vrou met respek behandel, prys haar en verseker haar van sy liefde (Spr. 31:28). Kyk na die voorbeeld van Katerina, wat in die vorige artikel genoem is. Sy het gesukkel met ’n lae selfbeeld, en haar man het haar gehelp om haar negatiewe gevoelens te oorkom. Toe sy ’n kind was, het haar ma haar verkleineer en haar met ander meisies, insluitende haar vriende, vergelyk. As gevolg daarvan het Katerina haarself met ander begin vergelyk – en sy het aangehou om dit te doen selfs nadat sy in die waarheid gekom het! Maar haar man het haar gehelp om op te hou om dit te doen en om die regte beskouing van haarself te ontwikkel. Sy sê: “Hy is lief vir my, hy prys my vir die goeie dinge wat ek doen en hy bid vir my. Hy herinner my ook aan Jehovah se wonderlike eienskappe en hy help my om my negatiewe denke reg te stel.”

WAT LIEFDEVOLLE OUERMANNE EN ANDER KAN DOEN

9-10. Hoe het liefdevolle ouermanne ’n suster gehelp om op te hou om haarself met ander te vergelyk?

9 Hoe kan ouermanne broers en susters help wat geneig is om hulleself met ander te vergelyk? Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Hanuni, wat amper nooit geprys was toe sy ’n kind was nie. Sy sê: “Ek was skaam en het gedink dat ander kinders beter as ek is. Vandat ek kan onthou het ek myself met ander vergelyk.” Selfs nadat Hanuni in die waarheid gekom het, het sy haarself nog steeds met ander vergelyk. Daarom het sy gevoel dat sy min waarde in die gemeente het. Maar nou dien sy as ’n gelukkige pionier. Wat het haar gehelp om meer positief te wees?

10 Hanuni sê dat liefdevolle ouermanne haar gehelp het. Hulle het vir haar gesê dat sy ’n waardevolle deel van die gemeente is, en hulle het haar geprys vir haar getroue voorbeeld. Sy sê: “Die ouermanne het my ’n paar keer gevra om susters aan te moedig wat hulp nodig het. Hierdie toewysings het my laat voel dat ek nodig is in die gemeente. Ek onthou hoe liefdevolle ouermanne my bedank het vir die aanmoediging wat ek vir ’n paar jonger susters gegee het. Toe het hulle 1 Tessalonisense 1:2, 3 vir my gelees. Dit het my hart so geraak! Danksy daardie goeie herders waardeer ek nou my plek in Jehovah se organisasie.”

11. Hoe kan ons mense help wat in Jesaja 57:15 as “gebroke en nederig van gees” beskryf word?

11 Lees Jesaja 57:15. Jehovah gee baie om vir mense “wat gebroke en nederig van gees is”. Ons almal, nie net die ouermanne nie, kan hierdie dierbare broers en susters aanmoedig. Een manier om hulle aan te moedig, is deur vir hulle te wys dat ons regtig in hulle belangstel. Jehovah wil hê dat ons vir hulle moet wys hoe lief hy vir hulle is (Spr. 19:17). Ons kan ons broers en susters ook help deur nederig te wees en deur nie te spog nie. Ons wil ook nie die aandag op onsself vestig nie omdat ons nie wil hê dat ander op ons jaloers moet wees nie. Ons gebruik eerder ons talente en kennis om mekaar aan te moedig. – 1 Pet. 4:10, 11.

Jesus se dissipels het daarvan gehou om met hom te assosieer omdat hy nie op hulle neergesien het nie. Hy het dit geniet om tyd saam met sy vriende te spandeer (Sien paragraaf 12)

12. Hoekom het gewone mense van Jesus gehou? (Sien prent op voorblad.)

12 Ons kan leer hoe om ander te behandel deur te kyk na hoe Jesus sy volgelinge behandel het. Hy was die grootste mens wat al ooit gelewe het. Maar hy was “saggeaard en nederig van hart” (Matt. 11:28-30). Hy het nie gespog oor hoe slim hy was en oor alles wat hy geweet het nie. Toe hy mense geleer het, het hy eenvoudige taal gebruik, en hy het illustrasies gebruik wat mense se harte geraak het (Luk. 10:21). Hy was nie soos die trotse godsdiensleiers nie. Hy het mense altyd gehelp om te besef dat hulle kosbaar is in God se oë (Joh. 6:37). En hy het gewone mense met respek behandel.

13. Hoe het Jesus sy liefde bewys deur die manier hoe hy sy dissipels behandel het?

13 Jesus het sy liefde bewys deur die manier hoe hy sy dissipels behandel het. Hy het geweet dat hulle verskillende vermoëns en omstandighede het. Daarom kon hulle nie almal dieselfde verantwoordelikhede hanteer of ewe produktief in die bediening wees nie. Maar hy was bly omdat elkeen sy bes gedoen het. Die illustrasie van die talente wys vir ons hoe redelik Jesus is. In die illustrasie het die meester vir elke slaaf werk gegee “volgens sy eie vermoë”. Een van die twee hardwerkende slawe het meer geld verdien as die ander. Maar die meester het al twee geprys met dieselfde woorde: “Mooi so, goeie en getroue slaaf!” – Matt. 25:14-23.

14. Hoe kan ons ander behandel soos Jesus mense behandel het?

14 Jesus behandel ons met liefde. Hy weet dat ons verskillende vermoëns en omstandighede het, en hy is bly wanneer ons ons beste doen. Ons moet ander behandel soos Jesus mense behandel het. Ons wil nooit ’n broer of ’n suster waardeloos laat voel of skaam laat voel omdat hy of sy nie soveel soos ander kan doen nie. Laat ons eerder na geleenthede soek om ons broers en susters te prys omdat hulle hulle bes in Jehovah se diens doen.

STEL REDELIKE DOELWITTE

Vind vreugde daarin om redelike doelwitte te stel en om dit te bereik (Sien paragraaf 15-16) *

15-16. Hoe het dit ’n suster gehelp om redelike doelwitte vir haarself te stel?

15 Geestelike doelwitte gee ons rigting en ’n doel in die lewe. Maar dit is belangrik om doelwitte te stel volgens ons eie vermoëns en omstandighede en nie volgens ander se vermoëns en omstandighede nie. Anders gaan jy net mismoedig en teleurgesteld wees (Luk. 14:28). Kyk na die voorbeeld van ’n pioniersuster met die naam Midori.

16 Toe Midori ’n kind was, het haar pa, wat nie ’n Getuie is nie, haar verneder deur haar met haar broers en susters en klasmaats te vergelyk. Midori sê: “Ek het waardeloos gevoel.” Maar soos sy ouer geword het, het sy meer selfvertroue gekry. Sy sê: “Ek lees die Bybel elke dag sodat ek vrede in my hart kan hê en sodat ek kan voel dat Jehovah vir my lief is.” Sy het ook redelike doelwitte vir haarself gestel en vir Jehovah spesifiek gevra vir hulp om hierdie doelwitte te bereik. Daarom kon Midori vreugde vind in haar eie geestelike vordering.

HOU AAN OM JEHOVAH JOU BESTE TE GEE

17. Hoe kan ons “aanhou om ’n nuwe denkwyse aan te leer”, en wat sal gebeur as ons dit doen?

17 Negatiewe gedagtes en gevoelens sal miskien nie oornag verdwyn nie. Daarom sê Jehovah vir ons: “Julle moet aanhou om ’n nuwe denkwyse aan te leer” (Ef. 4:23, 24). Om dit te doen, moet ons bid, God se Woord studeer en daaroor nadink. So hou aan om hierdie dinge te doen en vra Jehovah vir krag. Sy heilige gees sal jou help om op te hou om jouself met ander te vergelyk. Jehovah sal jou help om te sien of daar enige trots of jaloesie in jou hart is, en hy sal jou help om van hierdie negatiewe gevoelens ontslae te raak.

18. Hoe kan die woorde in 2 Kronieke 6:29, 30 ons vertroos?

18 Lees 2 Kronieke 6:29, 30. Jehovah ken ons hart. Hy weet ook waarmee ons sukkel en hoe ons teen die slegte invloede van hierdie wêreld en teen ons eie onvolmaakthede stry. Wanneer Jehovah sien hoe hard ons teen hierdie dinge stry, word sy liefde vir ons nog sterker.

19. Hoe voel Jehovah oor ons?

19 Jehovah vergelyk sy liefde vir ons met ’n ma se liefde vir haar baba (Jes. 49:15). Kyk na die voorbeeld van ’n ma met die naam Rachel. Sy sê: “My dogter Stephanie was te vroeg gebore. Toe ek haar vir die eerste keer gesien het, het sy so klein en hulpeloos gelyk. Maar gedurende die eerste maand toe sy in ’n broeikas was, het die hospitaal my toegelaat om haar elke dag vas te hou. Gedurende daardie spesiale oomblikke het ons ’n sterk band gevorm. Sy is nou ses jaar oud en sy is kleiner as die ander kinders van haar ouderdom. Maar ek is selfs meer lief vir haar omdat sy so hard baklei het om aan die lewe te bly, en sy het vir my soveel vreugde in my lewe gebring!” Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah hierdie diep liefde vir ons voel wanneer hy sien hoe hard ons baklei om hom met ons hele hart te dien!

20. As ’n toegewyde kneg van Jehovah, hoekom kan jy vreugdevol wees?

20 As een van Jehovah se knegte, is jy uniek en is jy ’n kosbare lid van Jehovah se familie. Jehovah het jou nie na hom toe getrek omdat jy beter as ander is nie. Hy het jou getrek omdat hy in jou hart gekyk het en gesien het dat jy nederig is en dat hy jou kan leer en kan vorm (Ps. 25:9). Wees verseker dat hy dit waardeer wanneer jy jou bes doen om hom te dien. Jou volharding en getrouheid bewys dat jy “’n opregte en goeie hart” het (Luk. 8:15). So hou aan om Jehovah jou beste te gee. Dan sal jy vreugde kan vind in “wat [jy] self doen”.

LIED 38 Hy maak jou sterk

^ par. 5 Jehovah vergelyk ons nie met ander nie. Maar party van ons is dalk geneig om dit te doen, en dan voel ons sleg oor onsself. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom dit nie goed is om onsself met ander te vergelyk nie. Ons sal ook kyk na hoe ons ons familielede en ander in die gemeente kan help om hulleself te sien soos Jehovah hulle sien.

^ par. 5 Party name is verander.

^ par. 7 Al bespreek ons hier wat ’n man moet doen, is baie van die beginsels ook van toepassing op vrouens.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende hulle gesinsaanbidding wys die ouers dat hulle baie bly is oor wat elke kind gemaak het om in Noag se ark te sit.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Enkelouer met ’n jong kind werk ’n rooster uit sodat sy hulppionierdiens kan doen, en sy is baie bly dat sy haar doelwit bereik het.