Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 32

Versterk jou geloof in die Skepper

Versterk jou geloof in die Skepper

“Geloof is . . . die duidelike bewys dat dinge wat nie gesien word nie, ’n werklikheid is.” – HEB. 11:1.

LIED 11 Die skepping loof God

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het jy oor ons Skepper geleer?

AS JY as een van Jehovah se Getuies grootgemaak is, het jy heel moontlik van kleins af oor Jehovah geleer. Jy het geleer dat hy alles geskep het, dat hy ’n pragtige persoonlikheid het en dat hy die aarde in ’n paradys wil verander. – Gen. 1:1; Hand. 17:24-27.

2. Wat dink party mense van dié wat in ’n Skepper glo?

2 Maar baie mense glo nie dat daar ’n God is wat alles geskep het nie. Hulle glo eerder dat die lewe vanself ontstaan het en dat sekere eenvoudige lewende dinge verder ontwikkel het en komplekse lewende dinge geword het. En party van hulle is hooggeleerd. Hulle sê dalk dat die wetenskap bewys het dat die Bybel verkeerd is, en hulle glo dat geloof in ’n Skepper net vir mense is wat onverstandig en ongeleerd is en wat maklik om die bos gelei word.

3. Hoekom moet jy jou geloof versterk?

3 Sal die idees van party geleerde mense ons laat twyfel dat Jehovah ons liefdevolle Skepper is? Dit hang alles af van die rede hoekom ons glo dat Jehovah die Skepper is. Glo jy dit omdat iemand vir jou gesê het om dit te glo of glo jy dit omdat jy die bewyse self ondersoek het? (1 Kor. 3:12-15). Maak nie saak hoe lank ons al een van Jehovah se Getuies is nie, ons almal moet aanhou om ons geloof te versterk. As ons dit doen, sal ons nie mislei word deur die “filosofie en leë bedrog” van mense wat sê dat God se Woord vals is nie (Kol. 2:8; Heb. 11:6). In hierdie artikel sal ons bespreek (1) hoekom baie mense nie in ’n Skepper glo nie, (2) hoe jy jou geloof in Jehovah, jou Skepper, kan versterk en (3) hoe jy daardie geloof sterk kan hou.

HOEKOM BAIE MENSE NIE IN ’N SKEPPER GLO NIE

4. Volgens Hebreërs 11:1 en die voetnoot, waarop is ware geloof gebaseer?

4 Party mense dink dat geloof beteken om in iets te glo wat nie bewys kan word nie. Maar volgens die Bybel is dit nie ware geloof nie. (Lees Hebreërs 11:1 en voetnoot.) Die Bybel wys dat geloof op bewyse gebaseer is. So al kan ons nie Jehovah, Jesus en die Koninkryk sien nie, het ons oortuigende bewyse dat hulle regtig bestaan (Heb. 11:3). Een Getuie wat ’n biochemikus is, stel dit so: “Ons het nie blinde geloof wat wetenskaplike feite ignoreer nie.”

5. Hoekom glo baie mense nie in ’n Skepper nie?

5 Ons vra dalk: ‘As daar so baie oortuigende bewyse is dat God alles geskep het, hoekom is daar dan so baie mense wat dit nie glo nie?’ Party het net nog nooit die bewyse self ondersoek nie. Robert, wat nou een van Jehovah se Getuies is, sê: “Hulle het ons nooit op skool geleer dat daar ’n Skepper is nie, en daarom het ek nooit geglo dat daar een is nie. Dit was eers toe ek in my 20’s was en met Jehovah se Getuies gepraat het dat ek gehoor het dat die Bybel vir ons oortuigende en logiese redes gee om in ’n Skepper te glo.” * – Sien die venster “ ’n Belangrike boodskap aan ouers”.

6. Hoekom weier party mense om in ’n Skepper te glo?

6 Party glo nie in ’n Skepper nie, want hulle sê dat hulle net glo in dinge wat hulle kan sien. Hulle maak natuurlik uitsonderings wanneer dit kom by sekere onsigbare dinge, soos swaartekrag, omdat daar bewyse is daarvoor. Die soort geloof wat in die Bybel genoem word, is ook gebaseer op bewyse van “dinge wat nie gesien word nie, [maar wat] ’n werklikheid is” (Heb. 11:1). ’n Mens moet tyd neem en moeite doen om die bewyse self te ondersoek, en baie mense wil nie die moeite doen nie. Iemand wat die bewyse nie self ondersoek nie, sal dalk tot die slotsom kom dat daar nie ’n God is nie.

7. Glo alle geleerde mense dat daar nie ’n Skepper is nie? Verduidelik.

7 Nadat sekere wetenskaplikes die bewyse bestudeer het, is hulle oortuig dat God alles geskep het. * Soos Robert, wat vroeër genoem is, het party maar net aangeneem dat daar nie ’n Skepper is nie omdat hulle nooit op universiteit geleer is dat daar ’n Skepper is nie. Maar baie wetenskaplikes het Jehovah leer ken en vir hom lief geword. Net soos daardie wetenskaplikes, moet ons almal ons geloof in God opbou, maak nie saak wat ons geleer is nie. Niemand anders kan dit vir ons doen nie.

HOE JY JOU GELOOF IN DIE SKEPPER KAN VERSTERK

8-9. (a) Watter vraag sal ons nou bespreek? (b) Hoe sal dit jou help as jy die skepping bestudeer?

8 Hoe kan jy jou geloof in die Skepper versterk? Kom ons kyk na vier maniere.

9 Bestudeer die skepping. Jy kan jou geloof in die Skepper versterk deur mooi te kyk na die diere, plante en sterre (Ps. 19:1; Jes. 40:26). Hoe meer jy sulke dinge bestudeer, hoe meer oortuig sal jy word dat Jehovah die Skepper is. Baie van ons publikasies bevat artikels oor verskillende dinge wat God gemaak het. Moenie huiwer om sulke artikels te lees net omdat sekere dele daarvan vir jou moeilik is nie. Neem soveel in as wat jy kan. En moenie vergeet om weer te gaan kyk na die pragtige video’s oor die skepping op ons webwerf, jw.org, wat by onlangse streekbyeenkomste gespeel is nie.

10. Gee ’n voorbeeld van hoe die skepping bewys dat daar ’n Skepper is. (Romeine 1:20)

10 Wanneer jy die skepping bestudeer, moet jy veral aandag skenk aan wat dit jou omtrent ons Skepper leer. (Lees Romeine 1:20.) Byvoorbeeld, die son gee vir ons hitte en lig, wat lewe op aarde moontlik maak, maar van die son se strale kan skadelik wees. Ons moet teen daardie strale beskerm word. En ons is daarteen beskerm! Hoe? Daar is ’n laag gas om die aarde wat soos ’n skild is en wat ons teen die son se skadelike strale beskerm. Wanneer die skadelike strale sterker word, vermeerder die hoeveelheid beskermende gas. So stem jy nie saam dat iemand verantwoordelik moet wees vir hierdie proses nie en dat hy ’n liefdevolle en intelligente Skepper moet wees nie?

11. Waar kan jy inligting vind wat jou geloof kan versterk dat daar ’n Skepper is? (Sien die venster “ Hulpmiddele wat ons geloof kan versterk”.)

11 Jy kan baie inligting oor die skepping vind wat jou geloof kan versterk deur navorsing te doen in die Watch Tower Publications Index en op jw.org. Jy kan dalk begin met die artikels en video’s in die reeks “Is dit ontwerp?” Hierdie artikels en video’s is kort en bevat verstommende inligting oor diere en plante. Dit bevat ook voorbeelde van hoe wetenskaplikes probeer het om dinge in die natuur na te boots.

12. Waarna moet jy spesifiek kyk wanneer jy die Bybel studeer?

12 Studeer die Bybel. Die biochemikus wat vroeër genoem is, het eers nie geglo dat daar ’n Skepper is nie. Maar later het die bewyse hom oortuig dat daar ’n Skepper is. Hy sê: “My geloof was nie net op die wetenskap gebaseer nie. Dit was ook op ’n diep studie van die Bybel gebaseer.” Miskien ken jy die Bybel al goed. Maar as jy geloof in jou Skepper wil opbou, moet jy aanhou om God se Woord te studeer (Jos. 1:8; Ps. 119:97). Kyk spesifiek na hoe akkuraat die Bybel dinge beskryf wat lank gelede gebeur het. En kyk ook na hoe die profesieë daarin waar geword het en hoe die verskillende Bybelboeke met mekaar ooreenstem. As jy dit doen, sal dit jou geloof versterk dat ’n liefdevolle, wyse Skepper ons gemaak het en dat die Bybel sy boodskap aan ons is. * – 2 Tim. 3:14; 2 Pet. 1:21.

13. Gee een voorbeeld van die wysheid wat in God se Woord gevind word.

13 Wanneer jy God se Woord studeer, moet jy dink aan hoe die raad daarin jou kan help. Byvoorbeeld, die Bybel het lank gelede al gewaarsku dat die liefde vir geld skadelik is en dat dit “baie pyn” veroorsaak (1 Tim. 6:9, 10; Spr. 28:20; Matt. 6:24). Is dit vandag nog waar? Die boek The Narcissism Epidemic sê: “Oor die algemeen is materialistiese mense minder gelukkig en meer depressief. Selfs mense wat maar net meer geld wil hê, is ongelukkig en het meer gesondheidsprobleme.” So die Bybel se waarskuwing dat ons nie lief moet wees vir geld nie, is beslis baie goeie raad! Kan jy dink aan ander raad in die Bybel wat jou al gehelp het? Hoe meer ons die raad in die Bybel waardeer, hoe meer sal ons op die wyse raad van ons liefdevolle Skepper staatmaak (Jak. 1:5). En dan sal jy die lewe meer geniet. – Jes. 48:17, 18.

14. Wat sal jy oor Jehovah leer wanneer jy die Bybel studeer?

14 Studeer vir die regte rede – om Jehovah te leer ken (Joh. 17:3). Wanneer jy die Bybel studeer, sal jy oor Jehovah se persoonlikheid en eienskappe leer. En jy sal sien dat daardie eienskappe ooreenstem met Jehovah se eienskappe wat jy in die skepping sien. Wanneer jy oor Jehovah se eienskappe leer, sal dit jou oortuig dat hy ’n regte Persoon is (Eks. 34:6, 7; Ps. 145:8, 9). Hoe beter jy Jehovah leer ken, hoe sterker sal jou geloof, jou liefde vir hom en jou vriendskap met hom word.

15. Hoe sal dit jou help as jy met ander praat oor die dinge waarin jy glo?

15 Praat met ander oor jou geloof in God. Dit sal jou geloof versterk. Maar sê nou iemand vir wie jy preek, vra ’n vraag oor God se bestaan en jy weet nie wat om vir hom te sê nie? Probeer om ’n skriftuurlike antwoord op die vraag in een van ons publikasies te kry, en bespreek dit dan met die persoon (1 Pet. 3:15). Jy kan ook vir ’n ander ervare Getuie vir hulp vra. Die navorsing sal jou persoonlik help, of die persoon die antwoorde uit die Bybel aanvaar of nie. Jou geloof sal sterker word. En dan sal jy nie sogenaamde wyse en geleerde mense glo wat sê dat daar nie ’n Skepper is nie.

HOU JOU GELOOF STERK!

16. Wat kan gebeur as ons nie aanhou om ons geloof op te bou en sterk te hou nie?

16 Maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie, ons moet aanhou om ons geloof op te bou en sterk te hou. Hoekom? Want as ons nie versigtig is nie, kan ons geloof swak word. Onthou dat geloof gebaseer is op bewyse van onsigbare dinge wat ’n werklikheid is. En ons kan maklik vergeet van dinge wat ons nie kan sien nie. Daarom het Paulus gesê dat ’n gebrek aan geloof “die sonde [is] wat ons maklik verstrik” (Heb. 12:1). So hoe kan ons hierdie strik vermy? – 2 Tess. 1:3.

17. Wat kan ons help om ons geloof sterk te hou?

17 Eerstens, smeek Jehovah vir sy heilige gees, en doen dit gereeld. Hoekom? Want geloof is deel van die vrug van die gees (Gal. 5:22, 23). Ons kan nie geloof in ons Skepper opbou en sterk hou sonder die hulp van sy heilige gees nie. As ons aanhou om Jehovah vir sy gees te vra, sal hy dit vir ons gee (Luk. 11:13). Ons kan selfs bid vir meer geloof. – Luk. 17:5.

18. Volgens Psalm 1:2, 3, watter voorreg het ons vandag?

18 Nog iets wat jy moet doen, is om by ’n goeie roetine van Bybelstudie te bly. (Lees Psalm 1:2, 3.) Toe hierdie Psalm geskryf is, het min Israeliete ’n afskrif gehad van die hele Wet van God. Maar die koning en die priesters het toegang gehad tot die afskrifte van God se Wet. En elke sewe jaar kon al “die mans, die vrouens, die kinders en die uitlanders” luister terwyl God se Wet gelees is (Deut. 31:10-12). In Jesus se dag het min mense afskrifte van die Skrif gehad, en die meeste afskrifte daarvan kon net in sinagoges gevind word. Maar vandag het die meeste mense toegang tot ten minste dele van die Bybel. Dit is ’n baie groot voorreg. Hoe kan ons wys dat ons daardie voorreg waardeer?

19. Wat moet ons doen om ons geloof sterk te hou?

19 Ons kan wys dat ons die voorreg waardeer om God se Woord te hê deur dit gereeld te lees. Ons moet seker maak dat Bybelstudie deel van ons roetine is. Ons moet dit nie net doen wanneer ons ’n bietjie vrye tyd het nie. As ons by ’n goeie roetine van Bybelstudie bly, kan ons ons geloof sterk hou.

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Ons is nie soos “die wyse en geleerde mense” van hierdie wêreld nie, want ons het sterk geloof wat op God se Woord gebaseer is (Matt. 11:25, 26). As gevolg van ons studie van die Bybel weet ons hoekom toestande op die aarde al hoe slegter word en wat Jehovah daaromtrent gaan doen. Laat ons dan vasbeslote wees om ons geloof te versterk en om soveel mense as moontlik te help om geloof in ons Skepper te hê (1 Tim. 2:3, 4). En laat ons aanhou om uit te sien na die tyd wanneer almal op aarde Jehovah sal prys met die woorde in Openbaring 4:11: “U is waardig, Jehovah ons God, om die heerlikheid . . . te ontvang, want u het alles geskep.”

LIED 2 Jehovah is u naam

^ par. 5 Die Bybel maak dit duidelik dat Jehovah God alles geskep het. Maar baie mense glo dit nie. Hulle sê dat die lewe vanself ontstaan het. Maar wat hulle glo, sal nie ons geloof verswak as ons hard daaraan werk om ons geloof in God en in die Bybel te versterk nie. Hierdie artikel sal verduidelik hoe ons dit kan doen.

^ par. 5 In baie skole bespreek onderwysers nie eers die moontlikheid dat God alles geskep het nie. Party onderwysers voel dat as hulle dit doen, hulle druk op die studente sou sit om in God te glo.

^ par. 7 Kommentare van meer as 60 geleerdes, insluitende wetenskaplikes wat in ’n Skepper glo, kan gevind word in die nuutste Watch Tower Publications Index onder die onderwerp Scienceen onder die onderhofie “scientists expressing belief in creation”. Van hierdie kommentare kan ook gevind word in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies onder die onderwerp “Wetenskap en tegnologie” en onder die onderhofie “‘Onderhoud’ (Reeks in die Ontwaak!)”.

^ par. 12 Sien byvoorbeeld die artikel “Is die wetenskap en die Bybel versoenbaar?” in die Ontwaak! van Februarie 2011 en die artikel “Wat Jehovah voorspel, word bewaarheid” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2008.