Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 36

Waardeer die krag van jongmense

Waardeer die krag van jongmense

“Die prag van jong manne is hulle krag.” – SPR. 20:29.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter doelwit kan ouer broers en susters vir hulleself stel?

WANNEER ons ouer word, is ons dalk bang dat ons nie meer so baie vir Jehovah kan doen as wat ons gedoen het toe ons jonger was nie. Al het ons nou minder energie, kan ons ons wysheid en ondervinding gebruik om jongmense te help om hulle volle potensiaal te bereik en nuwe verantwoordelikhede te aanvaar. Een broer wat al jare lank as ’n ouerman dien, sê: “Toe ek as gevolg van my ouderdom nie meer so baie kon doen nie, was ek baie dankbaar dat daar jonger broers was wat die werk kon doen.”

2. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 In die vorige artikel het ons bespreek hoe dit jonger mense help wanneer hulle vriende maak met ouer broers en susters. In hierdie artikel gaan ons sien hoe eienskappe soos nederigheid, beskeidenheid, dankbaarheid en vrygewigheid ouer broers en susters kan help om goed saam met jonger mense te werk. Ons gaan ook kyk na hoe dit die gemeente opbou wanneer jonger en ouer persone goed saamwerk.

WEES NEDERIG

3. Volgens Filippense 2:3, 4, wat is nederigheid, en hoe kan dit ’n Christen help?

3 Ouer broers en susters moet nederig wees as hulle jonger mense wil help. ’n Nederige persoon beskou ander as hoër as homself. (Lees Filippense 2:3, 4.) Ouer broers en susters wat nederig is, besef dat daar meer as een skriftuurlike manier is om ’n toewysing te doen. So hulle verwag nie dat almal dinge moet doen soos hulle dit in die verlede gedoen het nie (Pred. 7:10). Hulle het wel waardevolle ondervinding wat hulle met jonger mense kan deel. Maar hulle besef dat hulle dalk by nuwe omstandighede moet aanpas omdat “die toneel van hierdie wêreld . . . besig [is] om te verander”. – 1 Kor. 7:31.

Ouer broers en susters is vrygewig en deel hulle ondervinding met ander (Sien paragraaf 4-5) *

4. Hoekom kan ons sê dat kringopsieners dieselfde gesindheid as die Leviete het?

4 Ouer persone wat nederig is, besef dat hulle nie meer so baie kan doen as wat hulle gedoen het toe hulle jonger was nie. Dink aan die voorbeeld van ons kringopsieners. Wanneer hulle 70 jaar oud word, word hulle genooi om ’n ander toewysing te aanvaar. Dit kan dalk baie moeilik wees. Hulle waardeer die voorreg om hulle broers te dien. Hulle is baie lief vir hulle toewysing en hulle wil dit nie graag opgee nie. Maar hulle besef dat dit beter sal wees as jonger broers die werk doen. Hulle het dieselfde gesindheid as die Leviete, wat op die ouderdom van 50 moes ophou om by die tabernakel te dien. Die vreugde van daardie ouer Leviete het nie afgehang van ’n sekere voorreg nie. Hulle het die voorregte wat hulle wel gehad het, waardeer en hulle bes gedoen om die jonger mense te help (Num. 8:25, 26). Selfs al moet kringopsieners ophou om verskillende gemeentes te dien, is hulle nog steeds ’n groot aanwins vir die gemeente waarna hulle toegewys is.

5. Wat leer jy uit die voorbeeld van Dan en Katie?

5 Kyk na die voorbeeld van Dan, wat 23 jaar lank as ’n kringopsiener gedien het. Toe Dan 70 jaar oud geword het, is hy en sy vrou, Katie, as spesiale pioniers aangestel. Hoe het hulle by hulle nuwe omstandighede aangepas? Dan sê dat hy nou besiger is as ooit tevore. Hy sien om na sy verantwoordelikhede in die gemeente, hy help broers om as bedieningsknegte te kwalifiseer en hy lei ander op om metro-getuieniswerk te doen en om in tronke te preek. Al is jy nie in die voltydse diens nie, kan jy as ’n ouer persoon baie doen om ander te help. Pas aan by jou nuwe omstandighede, stel nuwe doelwitte en fokus op wat jy kan doen eerder as op wat jy nie kan doen nie.

WEES BESKEIE

6. Hoekom is dit wys om beskeie te wees? Verduidelik.

6 ’n Beskeie persoon weet wat sy beperkings is (Spr. 11:2). Omdat hy beskeie is, sal hy nie meer van homself verwag as wat hy kan doen nie. En daarom sal hy gelukkig bly en aanhou om hard te werk. Iemand wat beskeie is, kan vergelyk word met iemand wat ’n kar bestuur en opdraand ry. Hy sal na ’n laer rat moet verander. Hy sal wel stadiger ry, maar hy sal aanhou om vorentoe te beweeg. Net so sal ’n beskeie persoon weet wanneer om “na ’n laer rat te verander” sodat hy kan aanhou om Jehovah te dien en om ander te help. – Fil. 4:5.

7. Hoe het Barsillai gewys dat hy beskeie is?

7 Kyk na die voorbeeld van Barsillai, wat 80 jaar oud was toe koning Dawid hom genooi het om deel van die koninklike hof te word. Omdat Barsillai beskeie was, het hy nie die koning se aanbod aanvaar nie. Barsillai het geweet dat hy as gevolg van sy ouderdom nie meer so baie kon doen nie, en daarom het hy voorgestel dat ’n jonger man, Kimham, in sy plek gaan (2 Sam. 19:35-37). Net soos Barsillai, is ouer mans bly om jonger mans die geleentheid te gee om te dien.

Koning Dawid het God se besluit aanvaar dat sy seun die tempel moet bou (Sien paragraaf 8)

8. Hoe het koning Dawid gewys dat hy beskeie is toe hy die tempel wou bou?

8 Koning Dawid was ook ’n uitstekende voorbeeld van beskeidenheid. Hy wou bitter graag vir Jehovah ’n huis bou. Maar toe Jehovah vir hom gesê het dat die jong Salomo die voorreg sou kry, het Dawid Jehovah se besluit aanvaar en die projek heelhartig ondersteun (1 Kron. 17:4; 22:5). Dawid het nie gedink dat hy die toewysing beter as Salomo kon doen omdat Salomo “jonk en onervare” was nie (1 Kron. 29:1). Dawid het geweet dat die sukses van die bouprojek van Jehovah se seën afhang en nie van die ouderdom of ondervinding van dié wat die leiding neem nie. Net soos Dawid, bly ouer broers en susters besig in Jehovah se diens, al verander hulle toewysing. En hulle weet dat Jehovah die jonger mense sal seën wat die werk doen wat hulle voorheen gedoen het.

9. Hoe het een Takkomiteelid gewys dat hy beskeie is?

9 ’n Broer met die naam Shigeo is ook ’n baie goeie voorbeeld van beskeidenheid. In 1976, toe hy 30 jaar oud was, is hy aangestel om op ’n Takkomitee te dien. In 2004 het hy die koördineerder van die Takkomitee geword. Later het hy besef dat hy as gevolg van sy ouderdom die werk nie meer so vinnig kon doen nie. Hy het biddend gedink oor wat die voordele sou wees as ’n jonger broer sy verantwoordelikhede sou oorneem. Al is Shigeo nie meer die koördineerder nie, werk hy nog steeds goed saam met die ander Takkomiteelede. Die voorbeelde van Barsillai, koning Dawid en Shigeo wys dat ’n nederige en beskeie persoon op jonger mense se sterk punte fokus en nie op hoe onervare hulle is nie. Hy sal hulle nie as kompetisie beskou nie, maar as medewerkers. – Spr. 20:29.

WEES DANKBAAR

10. Hoe voel ouer broers en susters oor jonger mense in die gemeente?

10 Ouer broers en susters beskou jonger mense in die gemeente as kosbare geskenke van Jehovah, en hulle is dankbaar vir wat hierdie jonger mense doen. Ouer mense het nie meer die krag wat hulle voorheen gehad het nie, en hulle is dankbaar vir die jonger mense wat gewillig is om die gemeente te dien.

11. Hoe wys Rut 4:13-16 dat dit vir ouer mense goed kan wees om die hulp van jonger mense te aanvaar?

11 Die Bybelkarakter Naomi is ’n uitstekende voorbeeld van ’n ouer persoon wat baie dankbaar was vir die hulp van ’n jonger persoon en wat daardie hulp aanvaar het. Nadat Naomi se seun gesterf het, het sy sy vrou, Rut, aangemoedig om terug te gaan na haar familie toe. Maar Rut het geweier om Naomi te verlaat en het saam met haar na Betlehem gegaan. Naomi het Rut se hulp aanvaar en haar lojale ondersteuning baie waardeer (Rut 1:7, 8, 18). En wat ’n groot seën was dit tog nie vir albei vrouens nie! (Lees Rut 4:13-16.) Nederigheid sal ouer broers en susters beweeg om Naomi se voorbeeld te volg.

12. Hoe het die apostel Paulus gewys dat hy dankbaar is vir die ondersteuning van sy broers en susters?

12 Die apostel Paulus was baie dankbaar vir die hulp wat hy van sy broers en susters ontvang het. Byvoorbeeld, hy het vir die Christene in Filippi dankie gesê vir die geskenke wat hulle vir hom gestuur het (Fil. 4:16). Hy het gewys hoeveel hy Timoteus se hulp waardeer (Fil. 2:19-22). En Paulus het God gedank vir die broers wat hom kom aanmoedig het toe hy as ’n gevangene Rome toe geneem is (Hand. 28:15). Paulus was ’n sterk persoon, wat duisende kilometers gereis het om te preek en om die gemeentes aan te moedig. Tog was hy nie te trots om hulp van sy broers en susters te aanvaar nie.

13. Hoe kan ouer persone wys dat hulle dankbaar is vir jonger mense in die gemeente?

13 As jy ouer is, kan jy op verskillende maniere wys dat jy dankbaar is vir die jonger mense in jou gemeente. As hulle jou wil help met vervoer, inkopies of ander dinge wat jy nodig het, moet jy daardie hulp aanvaar en waardeer. Sien hulle hulp as ’n bewys van Jehovah se liefde. Jy sal dalk goeie vriende word met broers en susters wat jou help. Soek na geleenthede om hulle te help om geestelik te groei, en sê vir hulle hoe bly jy is om jonger mense te sien wat uitreik om die gemeente te dien. Wees bereid om tyd saam met hulle te spandeer en om hulle van jou ondervindinge te vertel. As jy dit doen, sal jy wys dat jy dankbaar is teenoor Jehovah vir die jonger mense wat hy na die gemeente toe getrek het. – Kol. 3:15; Joh. 6:44; 1 Tess. 5:18.

WEES VRYGEWIG

14. Hoe het koning Dawid gewys dat hy vrygewig was?

14 Koning Dawid was ook ’n goeie voorbeeld van vrygewigheid – nog ’n belangrike eienskap wat ouer broers en susters moet hê. Hy het baie geld en waardevolle dinge geskenk om die bou van die tempel te ondersteun (1 Kron. 22:11-16; 29:3, 4). Hy het dit gedoen, al sou sy seun Salomo meeste van die eer vir die projek kry. Wanneer ons nie meer die krag het om met teokratiese bouprojekte te help nie, kan ons nog steeds hierdie projekte ondersteun deur geld by te dra, volgens wat ons omstandighede toelaat. En ons kan ons ondervinding met jonger mense in die gemeente deel.

15. Watter waardevolle opleiding het die apostel Paulus vir Timoteus gegee?

15 Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld gestel wanneer dit kom by vrygewigheid. Hy het Timoteus genooi om saam met hom as ’n sendeling te dien. Paulus was vrygewig en het hierdie jonger man sy onderrigtingsmetodes geleer (Hand. 16:1-3). Paulus se opleiding het Timoteus gehelp om ’n goeie verkondiger van die goeie nuus te wees (1 Kor. 4:17). En Timoteus het weer Paulus se metodes gebruik om ander op te lei.

16. Hoekom het Shigeo ander opgelei?

16 Ouer broers en susters is nie bang dat hulle nie meer ’n doel sal hê as hulle jonger persone oplei om die werk te doen wat hulle voorheen in die gemeente gedoen het nie. Byvoorbeeld, Shigeo, wat vroeër genoem is, het oor die jare jonger Takkomiteelede opgelei. Hy het dit gedoen om die Koninkrykswerk te ondersteun in die land waar hy dien. As gevolg daarvan was daar ’n goed opgeleide broer wat hom as koördineerder kon vervang toe hy nie meer as koördineerder kon dien nie. Shigeo hou aan om sy meer as 45 jaar se ondervinding op die Takkomitee met jonger broers te deel. Broers soos Shigeo is beslis ’n groot seën vir God se volk!

17. Hoe kan ouer broers en susters Lukas 6:38 toepas?

17 Ouer broers en susters, julle is lewende bewyse dat ’n mens die beste lewe kan geniet wanneer jy Jehovah met geloof en integriteit dien. Julle voorbeeld wys dat dit die moeite werd is om Bybelbeginsels te leer en om dit in jou lewe toe te pas. Julle weet hoe dinge in die verlede gedoen is, maar julle besef ook dat julle by nuwe omstandighede moet aanpas. As jy ’n ouer persoon is wat onlangs gedoop is, het jy ook baie om te gee. Jy kan jonger mense vertel van die vreugdes wat iemand geniet wat Jehovah later in die lewe leer ken. Hulle sal dit geniet om van jou ondervindinge te hoor en van die lesse wat jy geleer het. As jy vrygewig is en jou ondervinding met ander deel, sal Jehovah jou ryklik seën. – Lees Lukas 6:38.

18. Hoe kan ouer persone en jonger persone mekaar help?

18 Wanneer ouer persone en jonger persone nader aan mekaar kom, sal hulle mekaar kan ondersteun (Rom. 1:12). Elke groep het iets waardevols wat die ander groep nie het nie. Ouer broers en susters het wysheid en jare se ondervinding. Jonger mense het energie en krag. Wanneer jonger en ouer broers en susters as vriende saamwerk, eer hulle ons liefdevolle hemelse Vader en is hulle ’n groot seën vir almal in die gemeente.

LIED 90 Bemoedig mekaar

^ par. 5 Ons is so bly dat ons so baie jongmense in ons gemeentes het wat hard probeer om Jehovah se organisasie te ondersteun. Ouer broers en susters van verskillende kulture en agtergronde kan jonger mense help om hulle krag ten volle in Jehovah se diens te gebruik.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Kringopsiener wat nou 70 jaar oud is, kry ’n nuwe toewysing. Hy en sy vrou het baie ondervinding, wat hulle nou gebruik om ander in hulle nuwe gemeente op te lei.