Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 38

Kom nader aan Jehovah en aan jou broers en susters

Kom nader aan Jehovah en aan jou broers en susters

“Ek vaar op na my Vader en julle Vader.” – JOH. 20:17.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter soort verhouding kan getroue mense met Jehovah hê?

JEHOVAH se familie van aanbidders sluit Jesus, “die eersgeborene van die hele skepping,” en ’n menigte engele in (Kol. 1:15; Ps. 103:20). Toe Jesus op aarde was, het hy mense gehelp om te verstaan dat hulle Jehovah as hulle Vader kan beskou. Byvoorbeeld, toe hy met sy dissipels gepraat het, het hy na Jehovah verwys as “my Vader en julle Vader” (Joh. 20:17). En wanneer ons ons aan Jehovah toewy en gedoop word, word ons deel van ’n liefdevolle familie van broers en susters. – Mark. 10:29, 30.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Party vind dit moeilik om Jehovah as ’n liefdevolle Vader te sien. Ander weet dalk nie hoe om vir hulle broers en susters te wys dat hulle hulle liefhet nie. In hierdie artikel sal ons kyk na hoe Jesus ons help om Jehovah te sien as ’n liefdevolle Vader, wat graag wil hê dat ons nader aan hom moet kom. Ons sal ook na maniere kyk hoe ons Jehovah kan navolg in die manier waarop ons ons broers en susters behandel.

JEHOVAH WIL HÊ DAT JY NADER AAN HOM MOET KOM

3. Hoe help die modelgebed ons om nader aan Jehovah te kom?

3 Jehovah is ’n liefdevolle Vader. Jesus wil hê dat ons Jehovah moet sien soos hy hom sien – as ’n liefdevolle ouer met wie ons maklik kan praat, nie iemand wat liefdeloos is en net vir ons wil sê wat om te doen nie. Ons sien bewyse hiervan in die modelgebed. Jesus het hierdie gebed begin met die woorde: “Ons Vader” (Matt. 6:9). Hy kon gesê het dat ons Jehovah “die Almagtige,” “die Skepper” of “die Koning van die ewigheid” moet noem. Al hierdie titels is gepas en kom in die Bybel voor (Gen. 49:25; Jes. 40:28; 1 Tim. 1:17). Maar Jesus het vir ons gesê dat ons Jehovah “Vader” moet noem.

4. Hoe weet ons dat Jehovah wil hê dat ons nader aan hom moet kom?

4 Vind jy dit moeilik om Jehovah as ’n liefdevolle Vader te sien? Party van ons vind dit moeilik. Ons vind dit dalk moeilik om die idee van ’n liefdevolle ouer te verstaan omdat ons nie in ’n liefdevolle huis grootgeword het nie. Maar ons moenie sleg voel nie, want Jehovah weet presies hoe ons voel en hoekom ons so voel! Hy wil na aan ons wees. Dit is hoekom sy Woord ons nooi: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8). Jehovah is lief vir ons, en hy wil vir ons die beste Vader wees wat ons ooit kan hê.

5. Volgens Lukas 10:22, hoe kan Jesus ons help om nader aan Jehovah te kom?

5 Jesus kan ons help om nader aan Jehovah te kom. Jesus ken Jehovah baie goed, en hy volg sy eienskappe volmaak na. Daarom het hy gesê: “Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:9). Net soos ’n ouer broer, leer Jesus ons hoe om ons Vader te respekteer en te gehoorsaam, hoe om dinge te vermy wat Hom seermaak en hoe om Sy goedkeuring te kry. Maar Jesus se lewenswyse op aarde help ons veral om te verstaan hoe liefdevol Jehovah is. (Lees Lukas 10:22.) Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

As ’n liefdevolle Vader het Jehovah sy Seun deur middel van ’n engel versterk (Sien paragraaf 6) *

6. Gee voorbeelde wat wys dat Jehovah na Jesus geluister het.

6Jehovah luister na sy kinders. Kyk na hoe Jehovah na sy eersgebore Seun geluister het. Jehovah se Seun het baie gebid toe hy op aarde was, en Jehovah het beslis na daardie gebede geluister (Luk. 5:16). Hy het gehoor hoe Jesus oor baie belangrike besluite gebid het, soos toe hy sy 12 apostels moes kies (Luk. 6:12, 13). Jehovah het ook gehoor hoe Jesus gebid het toe hy baie bekommerd was. Net voordat Judas Jesus verraai het, het hy tot sy Vader gebid oor die moeilike toets wat vir hom voorgelê het. Jehovah het nie net na Jesus se gebed geluister nie, maar hy het ook ’n engel gestuur om sy geliefde Seun te versterk. – Luk. 22:41-44.

7. Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jehovah na ons gebede luister?

7 Vandag luister Jehovah nog steeds na die gebede van sy knegte, en hy beantwoord dit op die regte tyd en op die beste manier (Ps. 116:1, 2). ’n Suster in Indië het gesien hoe Jehovah haar gebede beantwoord. Sy het baie gesukkel met angstigheid, en sy het ernstig tot Jehovah daaroor gebid. Sy skryf: “Die JW Broadcasting®-program van Mei 2019 oor hoe om bekommernisse en angs te hanteer, was presies wat ek nodig gehad het. Dit was ’n antwoord op my gebede.”

8. Hoe het Jehovah gewys dat hy Jesus liefhet?

8 Net soos Jehovah Jesus liefgehad het en vir hom gesorg het toe hy op die aarde was, is Jehovah ook lief vir ons en sorg hy vir ons (Joh. 5:20). Hy het Jesus gehelp om sy geloof sterk te hou, hy het hom aangemoedig toe hy mismoedig was en hy het seker gemaak dat Jesus alles het wat hy nodig gehad het. En Jehovah het vir sy Seun gesê dat hy hom liefhet en dat hy sy goedkeuring het (Matt. 3:16, 17). Omdat Jesus altyd op sy hemelse Vader kon staatmaak, het hy nooit alleen gevoel nie. – Joh. 8:16.   

9. Hoe weet ons dat Jehovah ons liefhet?

9 Net soos Jesus, het ons almal al Jehovah se liefde op baie maniere ondervind. Dink net: Jehovah het ons na hom toe getrek, en hy het vir ons baie liefdevolle broers en susters gegee wat ons gelukkig maak en wat ons aanmoedig wanneer ons deur moeilike tye gaan (Joh. 6:44). Jehovah gee ook vir ons alles wat ons nodig het om ons geloof sterk te hou. En hy help ons selfs om alles te kry wat ons nodig het om aan die lewe te bly (Matt. 6:31, 32). Wanneer ons dink aan hoe lief Jehovah ons het, word ons liefde vir hom al hoe sterker.   

BEHANDEL JOU GEESTELIKE FAMILIE SOOS JEHOVAH HULLE BEHANDEL

10. Hoe kan ons die liefde van ons geestelike familie versterk?

10 Jehovah is lief vir ons broers en susters. Maar ons vind dit soms moeilik om ons broers en susters lief te hê en om vir hulle te wys dat ons hulle liefhet. Soms is dit moeilik omdat ons uit baie verskillende kulture en agtergronde kom. En ons almal maak foute wat ander kan irriteer en wat hulle ongelukkig kan maak. Maar ons almal kan hard probeer om die liefde van ons geestelike familie te versterk. Hoe kan ons dit doen? Deur ons broers en susters lief te hê soos ons Vader hulle liefhet (Ef. 5:1, 2; 1 Joh. 4:19). Kom ons kyk wat ons uit Jehovah se voorbeeld kan leer.

11. Hoe het Jesus gewys dat hy, net soos Jehovah, meegevoel vir ander het?

11Jehovah is baie liefdevol en het meegevoel vir ander (Luk. 1:78). As iemand wat meegevoel het, sien dat ander swaarkry, soek hy na maniere om hulle te help en te vertroos. Deur die manier hoe Jesus ander behandel het, het hy gewys dat hy, net soos Jehovah, meegevoel vir hulle het (Joh. 5:19). Toe Jesus eenkeer ’n groep mense gesien het, “het hy baie jammer vir hulle gevoel, want hulle was verwaarloos en sleg behandel, soos skape sonder ’n herder” (Matt. 9:36). Jesus se meegevoel was meer as net ’n liefdevolle gevoel. Hy het dié wat siek was, gesond gemaak en dié wat “uitgeput [was] en ’n swaar las [gedra het]”, nuwe krag gegee. – Matt. 11:28-30; 14:14.

Volg Jehovah na deur meegevoel vir jou broers en susters te hê en deur vrygewig te wees (Sien paragraaf 12-14) *

12. Hoe kan ons wys dat ons meegevoel vir ons broers en susters het?

12 Voordat ons meegevoel vir ons broers en susters kan hê, moet ons eers weet watter probleme hulle het. Byvoorbeeld, ’n suster het dalk ’n ernstige gesondheidsprobleem. Sy kla nooit oor haar probleem nie, maar sy sou dit sekerlik baie waardeer as iemand haar help. Hoe sorg sy vir die fisiese behoeftes van haar familie? Kan ons haar dalk help deur vir haar te kook of deur die huis skoon te maak? Of sê nou ’n broer het dalk sy werk verloor. Kan ons dalk vir hom geld as ’n geskenkie gee om hom te help totdat hy ’n ander werk kry, dalk sonder om vir hom te sê dat dit van ons af kom?

13-14. Hoe kan ons vrygewig wees soos Jehovah?

13Jehovah is vrygewig (Matt. 5:45). Ons moenie wag totdat ons broers en susters ons vir hulp vra voordat ons hulle help nie. Net soos Jehovah, kan ons dinge vir hulle doen voordat hulle ons vra. Hy laat die son elke dag opkom, sonder dat ons daarvoor vra. En almal kan die son geniet, selfs mense wat ondankbaar is. Deur vir ons die dinge te gee wat ons nodig het, wys Jehovah dat hy ons liefhet. Ons is baie lief vir Jehovah omdat hy so liefdevol en vrygewig is!

14 Baie van ons broers en susters volg hulle hemelse Vader na deur vrygewig te wees. Byvoorbeeld, in 2013 het die supertifoon Haiyan baie skade in die Filippyne veroorsaak. ’n Hele paar broers en susters het hulle huise en besittings verloor. Maar hulle geestelike familie van regoor die wêreld het vinnig ingespring om hulle te help. Baie het geld gegee of gehelp om huise te herstel of te herbou. En amper 750 huise is in minder as ’n jaar herstel of herbou! Gedurende die COVID-19-pandemie het die Getuies hard gewerk om hulle broers en susters te ondersteun. Wanneer ons ons geestelike familie ondersteun, wys ons vir hulle dat ons hulle liefhet.

15-16. Volgens Lukas 6:36, wat is ’n belangrike manier hoe ons ons hemelse Vader kan navolg?

15Jehovah is genadig en altyd gereed om te vergewe. (Lees Lukas 6:36.) Elke dag ondervind ons ons hemelse Vader se genade (Ps. 103:10-14). Jesus se volgelinge was onvolmaak, maar hy was genadig teenoor hulle en het hulle altyd vergewe. Hy was selfs bereid om sy lewe op te offer sodat ons sondes vergewe kan word (1 Joh. 2:1, 2). Omdat Jehovah en Jesus so genadig is en altyd gereed is om te vergewe, wil ons al hoe nader aan hulle kom.

16 Ons versterk die band van liefde in ons geestelike familie wanneer ons “vryelik vergewe” (Ef. 4:32). Dit is natuurlik nie altyd maklik om ander te vergewe nie, maar ons moet ons bes doen om hulle te vergewe. Een suster het gesê dat die Wagtoring-artikel “Vergewe mekaar vryelik” haar gehelp het om dit te doen. * Sy sê: “Hierdie artikel het my gewys wat die voordele is wanneer ek ander vergewe. Dit het verduidelik dat vergifnis nie beteken dat jy die verkeerde dinge wat ander gedoen het, goedkeur nie of dat jy maak asof die skade wat daardeur veroorsaak is, nie so ernstig is nie. Maar dit beteken wel dat jy nie meer kwaad is nie en dat jy jou innerlike vrede behou.” Wanneer ons ons broers en susters vryelik vergewe, wys ons dat ons hulle liefhet en dat ons ons Vader, Jehovah, navolg.

WAARDEER JOU PLEK IN DIE FAMILIE

Jonk en oud het gewys dat hulle hulle broers en susters liefhet (Sien paragraaf 17) *

17. Volgens Matteus 5:16, hoe kan ons ons hemelse Vader eer?

17 Dit is ’n groot voorreg om deel te wees van ’n liefdevolle internasionale familie. Ons wil hê dat soveel mense as moontlik saam met ons ons God moet dien. So ons moet nooit enige iets doen wat kan veroorsaak dat mense sleg dink van Jehovah of van sy volk nie. Ons probeer om onsself te gedra op ’n manier wat mense na die waarheid toe sal trek. – Lees Matteus 5:16.

18. Wat kan ons help om sonder vrees te preek?

18 Soms sal party ons dalk verkleineer of selfs vervolg omdat ons gehoorsaam is aan ons hemelse Vader. Wat kan ons doen as ons bang is wanneer ons met ander oor ons geloof praat? Ons kan op Jehovah en sy Seun staatmaak om ons te help. Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle nie bekommerd moet wees oor wat hulle moet sê of hoe hulle dit moet sê nie. Hoekom nie? Jesus het verduidelik: “Wat julle moet sê, sal op daardie tyd aan julle gegee word, want dit is nie net julle wat praat nie, maar dit is die gees van julle Vader wat deur julle praat.” – Matt. 10:19, 20.

19. Gee ’n voorbeeld van iemand wat moedig gepreek het.

19 Kyk na die voorbeeld van Robert. ’n Hele tydjie terug, toe hy ’n nuwe Bybelstudent was en nie baie oor die Bybel geweet het nie, het hy voor ’n militêre hof in Suid-Afrika verskyn. Hy het moedig aan die hof verduidelik dat hy neutraal wou bly omdat hy lief was vir sy Christenbroers. Hy het sy plek in ons geestelike familie waardeer! Die regter het skielik gevra: “Wie is jou broers?” Robert het nie daardie vraag verwag nie, maar hy het onmiddellik aan die dagteks vir daardie dag gedink. Die dagteks was Matteus 12:50: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, is my broer en suster en ma.” Al was Robert ’n nuwe Bybelstudent, het Jehovah se heilige gees hom gehelp om daardie vraag te beantwoord, en ook ’n hele paar ander vrae wat hy nie verwag het nie. Jehovah moes sekerlik trots gewees het op Robert! En Jehovah is ook trots op ons wanneer ons op hom vertrou om moedig in moeilike situasies te getuig.

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (Joh. 17:11, 15).

20 Mag ons aanhou om die voorreg te waardeer om deel te wees van ’n liefdevolle geestelike familie. Ons het die beste Vader moontlik, asook baie getroue broers en susters. Ons moet nooit hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar nie. Satan en sy wrede volgelinge probeer om ons te laat twyfel dat ons hemelse Vader ons liefhet, en hulle probeer om ons eenheid te vernietig. Maar Jesus het ons Vader gevra om oor ons te waak sodat ons familie verenig kan bly. (Lees Johannes 17:11, 15.) Jehovah beantwoord daardie gebed. Mag ons, net soos Jesus, nooit in die liefde en ondersteuning van ons hemelse Vader twyfel nie. Laat ons vasbeslote wees om aan te hou om nader aan ons geestelike familie te kom.

LIED 99 Duisende broers

^ par. 5 Ons het die ongelooflike voorreg om deel te wees van ’n liefdevolle familie van broers en susters. Ons almal wil die liefde wat ons vir mekaar het, versterk. Hoe kan ons dit doen? Ons kan dit doen deur ander te behandel soos ons liefdevolle Vader ons behandel en deur die voorbeelde van Jesus en ons broers en susters te volg.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Jehovah stuur ’n engel om Jesus te versterk in die tuin van Getsemane.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende die COVID-19-pandemie het baie broers kospakkies gemaak en dit na ons broers en susters toe geneem.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ma help haar dogter om ’n aanmoedigende brief te skryf aan ’n broer wat in die tronk is.