Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 40

Wat is ware berou?

Wat is ware berou?

‘Ek het gekom om sondaars tot berou te roep.’ – LUK. 5:32.

LIED 36 Ons bewaak ons hart

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe het twee konings van mekaar verskil, en watter vrae gaan ons bespreek?

KOM ons bespreek die voorbeeld van twee konings wat lank gelede gelewe het. Die een het oor die tienstammeryk van Israel regeer en die ander het oor die tweestammeryk van Juda regeer. Al het hulle op verskillende tye gelewe, het hulle baie in gemeen gehad. Al twee konings het teen Jehovah gerebelleer, en hulle was ’n slegte invloed op sy volk. Hulle al twee het valse gode aanbid en hulle was moordenaars. Maar daar was ’n verskil tussen hierdie twee manne. Die een het tot sy sterfdag toe slegte dinge gedoen, maar die ander een het berou gehad en is vergewe vir die aaklige dinge wat hy gedoen het. Wie was hulle?

2 Die een was Agab, die koning van Israel, en die ander een was Manasse, die koning van Juda. Die verskille tussen hierdie twee manne kan ons baie leer oor wat ware berou is (Hand. 17:30; Rom. 3:23). Wat is berou en hoe wys ’n persoon dat hy berouvol is? Ons moet weet wat die antwoord is, want ons wil hê dat Jehovah ons moet vergewe wanneer ons sondig. Om die antwoorde op hierdie vrae te kry, gaan ons die lewens van hierdie twee konings bespreek en kyk wat ons uit hulle voorbeeld kan leer. Dan gaan ons kyk na wat Jesus oor berou gesê het.

WAT KAN ONS UIT KONING AGAB SE VOORBEELD LEER?

3. Watter soort koning was Agab?

3 Agab was die sewende koning van die tienstammeryk van Israel. Hy het getrou met Isebel, die dogter van die koning van Sidon, wat ’n ryk land noord van Israel was. As gevolg van daardie huwelik het die Israeliete meer geleenthede gehad om besigheid te doen en om baie geld te maak. Maar dit het ook veroorsaak dat die Israeliete selfs meer teen Jehovah gesondig het. Isebel het Baäl aanbid, en sy het Agab aangehits om daardie walglike godsdiens te bevorder – ’n godsdiens wat tempelprostitusie en selfs kinderofferandes ingesluit het. Geen profeet van Jehovah was veilig terwyl Isebel die koningin was nie. Sy het baie van hulle laat doodmaak (1 Kon. 18:13). En Agab “was slegter in die oë van Jehovah as almal wat voor hom was” (1 Kon. 16:30). Jehovah was heeltemal bewus van alles wat Agab en Isebel gedoen het. Maar omdat Jehovah genadig is, het hy profete soos Elia gestuur om sy volk te waarsku dat hulle moet verander voordat dit te laat is. Maar Agab en Isebel het geweier om te luister.

4. Hoe het Jehovah gesê sou hy Agab straf, en hoe het Agab gereageer?

4 Uiteindelik het Jehovah se geduld opgeraak. Hy het Elia na Agab en Isebel gestuur om vir hulle te sê hoe hy hulle sou straf. Hulle hele familie sou doodgemaak word. Elia se woorde het Agab hard getref! Verbasend genoeg het daardie arrogante man ‘homself verneder’. – 1 Kon. 21:19-29.

Koning Agab het God se profeet in die tronk laat gooi, want hy was nie regtig berouvol nie (Sien paragraaf 5-6) *

5-6. Hoe weet ons dat Agab nie regtig berouvol was nie?

5 Al het Agab homself eers verneder, het die dinge wat hy daarna gedoen het, gewys dat hy nie regtig berouvol was nie. Hy het nie probeer om van Baälaanbidding ontslae te raak nie. En hy het mense nie aangemoedig om Jehovah te aanbid nie. Agab het op ander maniere ook gewys dat hy nie berouvol was nie.

6 Later, toe Agab die goeie koning Josafat van Juda genooi het om saam met hom teen die Siriërs te veg, het Josafat voorgestel dat hulle eers ’n profeet van Jehovah raadpleeg. Eers het Agab niks van die idee gehou nie en gesê: “Daar is nog een man deur wie ons Jehovah se leiding kan vra, maar ek haat hom, want hy profeteer nooit goeie dinge oor my nie, net slegte dinge.” Maar hulle het daardie profeet, Migaja, in elk geval gaan raadpleeg. En Migaja het toe slegte dinge oor Agab voorspel, net soos Agab gesê het! Maar in plaas daarvan om berou te toon en Jehovah te vra om hom te vergewe, het hy die profeet in die tronk laat gooi (1 Kon. 22:7-9, 23, 27). Maar al het die koning dit reggekry om Jehovah se profeet in die tronk te gooi, kon hy nie keer dat die profesie waar word nie. Agab is toe in die geveg teen die Siriërs doodgemaak. – 1 Kon. 22:34-38.

7. Hoe het Jehovah Agab beskryf nadat hy gesterf het?

7 Nadat Agab gesterf het, het Jehovah gesê wat hy van hom gedink het. Toe die goeie koning Josafat veilig by die huis gekom het, het Jehovah die profeet Jehu gestuur om vir hom te sê dat dit verkeerd was van hom om Agab te help. Jehovah se profeet het gesê: “Dink u dit is reg dat u die goddeloses help en dat u liefde betoon aan dié wat wys dat hulle Jehovah haat?” (2 Kron. 19:1, 2). Dink hieraan: As Agab regtig berouvol was, sou Jehovah se profeet hom nooit beskryf het as ’n goddelose man wat Jehovah haat nie. Al was Agab spyt oor wat hy gedoen het, is dit duidelik dat hy nooit regtig berouvol was nie.

8. Wat kan ons uit Agab se voorbeeld oor berou leer?

8 Wat kan ons uit Agab se voorbeeld leer? Toe Elia vir Agab gesê het dat sy familie gestraf sou word, het Agab homself eers verneder. Dit was ’n goeie begin. Maar die dinge wat hy later gedoen het, het gewys dat hy nie regtig uit die hart berouvol was nie. So berou sluit meer in as om net te sê dat ons jammer is oor wat ons gedoen het. Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld wat ons sal help om te verstaan wat ware berou is.

WAT ONS UIT KONING MANASSE SE VOORBEELD KAN LEER

9. Watter soort koning was Manasse?

9 Omtrent twee honderd jaar later het Manasse koning van Juda geword. Hy was dalk selfs slegter as Agab! Die Bybel sê: “Hy het baie dinge gedoen wat sleg is in Jehovah se oë en hom aanstoot gegee” (2 Kron. 33:1-9). Manasse het altare vir valse gode gebou, en hy het selfs ’n heilige paal in Jehovah se tempel opgerig! Daardie heilige paal was dalk ’n simbool van seksaanbidding. Hy het toorkuns beoefen en van waarsêery gebruik gemaak. Hy het ook “baie onskuldige mense doodgemaak”. Hy het selfs “sy eie seuns as offerandes [aan valse gode] in die vuur verbrand”. – 2 Kon. 21:6, 7, 10, 11, 16.

10. Hoe het Jehovah Manasse gedissiplineer, en hoe het hy gereageer?

10 Net soos Agab, was Manasse hardkoppig en het hy die waarskuwings geïgnoreer wat Jehovah deur middel van Sy profete gegee het. Uiteindelik “het Jehovah die hoofde van die leërmag van die koning van Assirië teen [Juda] gestuur, en hulle het Manasse met hake gevange geneem, hom met twee koperboeie gebind en hom na Babilon geneem”. En dit lyk asof hy diep nagedink het oor alles wat hy gedoen het toe hy daar in Babilon in die tronk was. “Hy het nederig berou getoon voor die God van sy voorvaders.” Maar hy het nog verder gegaan. Hy het “Jehovah sy God om genade gesmeek”. En Manasse “het tot God bly bid”. Daardie goddelose man was besig om te verander. Hy het Jehovah as “sy God” begin sien, en hy het aanhoudend tot hom gebid. – 2 Kron. 33:10-13.

Koning Manasse het teen valse godsdiens gestry, want hy was regtig berouvol (Sien paragraaf 11) *

11. Volgens 2 Kronieke 33:15, 16, hoe het Manasse gewys dat hy regtig berouvol is?

11 Later het Jehovah Manasse se gebede beantwoord. Sy gebede het vir Jehovah gewys dat hy regtig verander het. Manasse se woorde het Jehovah se hart diep geraak, en hy het hom toe vergewe en hom toegelaat om weer koning te wees. Manasse het sy bes gedoen om te wys dat hy regtig berouvol is. Hy het gedoen wat Agab nooit gedoen het nie. Hy het sy gedrag verander. Hy het teen valse godsdiens gestry en ware aanbidding bevorder. (Lees 2 Kronieke 33:15, 16.) Manasse het natuurlik moed en geloof nodig gehad om dit te doen, want hy was lank ’n slegte invloed op sy familie, sy belangrike manne en sy volk. Maar nou, op sy oudag, het Manasse probeer om van die probleme wat hy veroorsaak het, reg te stel. Hy was heel moontlik ’n goeie invloed op sy jong kleinseun Josia, wat later ’n baie goeie koning geword het. – 2 Kon. 22:1, 2.

12. Wat kan ons uit Manasse se voorbeeld oor berou leer?

12 Wat kan ons uit Manasse se voorbeeld leer? Hy het nederig berou getoon, en hy het Jehovah gesmeek om hom te vergewe. En hy het sy gedrag verander. Hy het sy bes gedoen om die probleme wat hy veroorsaak het, reg te stel, en hy het sy bes gedoen om Jehovah te aanbid en om ander te help om dieselfde te doen. Manasse se voorbeeld gee selfs vir die ergste sondaars hoop. En sy ondervinding gee duidelike bewyse dat Jehovah God ‘goed is en vryelik vergewe’ (Ps. 86:5). Jehovah sal almal vergewe wat regtig berouvol is.

13. Hoe weet ons dat berou meer insluit as om net jammer te wees? Gee ’n voorbeeld.

13 Manasse het meer gedoen as om net jammer te voel oor sy sondes. Dit leer ons ’n belangrike les oor berou. Kom ons dink aan ’n voorbeeld: Jy gaan na ’n bakkery en vra vir ’n koek. Maar in plaas van ’n koek, gee die persoon vir jou ’n eier. Sal jy tevrede wees daarmee? Natuurlik nie! Sal dit help as die persoon vir jou verduidelik dat ’n eier ’n belangrike bestanddeel is van ’n koek? Natuurlik nie! Net so vra Jehovah sondaars vir berou. As ’n sondaar jammer is oor sy sonde, is dit goed. Om jammer te wees, is ’n belangrike bestanddeel van berou, maar dit is nie genoeg nie. Wat moet ’n sondaar nog doen? Ons leer baie uit ’n hartroerende illustrasie wat Jesus vertel het.

HOE OM WARE BEROU TE IDENTIFISEER

Nadat die verlore seun tot sy sinne gekom het, het hy die lang reis huis toe aangepak (Sien paragraaf 14-15) *

14. Hoe het die verlore seun in Jesus se illustrasie gewys dat hy jammer is?

14 In Lukas 15:11-32 vind ons Jesus se hartroerende illustrasie van die verlore seun. Die jong man in die illustrasie het teen sy pa gerebelleer, die huis verlaat en “na ’n ver land gereis”. Daar het hy ’n onsedelike, losbandige lewe gelei. Maar toe dinge moeilik raak, het hy ernstig oor sy lewe nagedink. Hy het besef dat sy lewe baie beter was toe hy by sy pa gebly het. Jesus het gesê dat die jong man “tot sy sinne” gekom het. Hy was vasbeslote om terug huis toe te gaan en om sy pa te vra om hom te vergewe. Dit was baie belangrik vir die jong man om te besef hoe ver hy geval het. Maar was dit genoeg? Nee. Hy moes sy gedrag verander!

15. Hoe het die verlore seun in Jesus se illustrasie gewys dat hy regtig berouvol is?

15 Die verlore seun het gewys dat hy regtig berouvol is oor wat hy gedoen het. Hy het die lang reis huis toe aangepak. Toe hy sy pa sien, het hy gesê: “Ek het teen die hemel en teen Pa gesondig. Ek verdien nie meer om Pa se seun genoem te word nie” (Luk. 15:21). Die jong man se opregte woorde het gewys dat hy sy verhouding met Jehovah wou herstel. Hy het ook besef dat hy sy pa seergemaak het. Hy was bereid om hard te werk om sy pa se goedkeuring te kry, en hy was selfs bereid om soos een van sy pa se gehuurde werkers te word! (Luk. 15:19). Hierdie illustrasie is nie net ’n hartroerende storie nie. Die beginsels in hierdie illustrasie kan ouermanne baie help wanneer hulle probeer vasstel of iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, regtig berouvol is.

16. Hoekom is dit dalk vir ouermanne moeilik om vas te stel of iemand regtig berouvol is?

16 Dit is nie vir ouermanne maklik om vas te stel of iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, regtig berouvol is nie. Die ouermanne kan nie harte lees nie, en daarom moet hulle kyk na die bewyse om uit te vind of hulle broer regtig geleer het om die sonde te haat wat hy gepleeg het. In party gevalle het ’n persoon dalk so erg gesondig dat die ouermanne nie oortuig is dat hy regtig berouvol is nie.

17. (a) Gee ’n voorbeeld wat wys dat ware berou meer insluit as om net jammer te wees. (b) Volgens 2 Korintiërs 7:11, wat sal ’n persoon doen wat regtig berouvol is?

17 Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Sê nou ’n broer pleeg egbreuk herhaaldelik oor ’n tydperk van baie jare. In plaas daarvan om hulp te soek, steek hy sy onsedelike gedrag van sy vrou, sy vriende en die ouermanne weg. Uiteindelik word hy uitgevang. Wanneer die ouermanne vir hom sê dat hulle bewyse het dat hy egbreuk gepleeg het, erken hy wat hy gedoen het en lyk dit selfs asof hy baie jammer is. Is dit genoeg? Nee. Die ouermanne het ook bewyse nodig dat hy regtig berouvol is. Dit was nie net ’n oomblik van swakheid nie, maar ’n geval van ernstige sonde wat oor baie jare gepleeg is. Hy het nie uit sy eie na vore gekom en gesê wat hy gedoen het nie. Iemand anders het sy sonde bekend gemaak. So die ouermanne moet bewyse sien dat hy sy denke, gesindheid en gedrag verander het. (Lees 2 Korintiërs 7:11.) Hy sal dalk baie tyd nodig hê om die nodige veranderinge te maak. Hy sal heel moontlik ’n tyd lank uit die gemeente gesit word. – 1 Kor. 5:11-13; 6:9, 10.

18. Hoe kan iemand wat uitgesit is, wys dat hy regtig berouvol is, en wat sal gebeur as hy regtig berouvol is?

18 As iemand wat uitgesit is, regtig berouvol is, sal hy die vergaderinge gereeld bywoon. Hy sal ook die ouermanne se raad om gereeld te bid en die Bybel te studeer, toepas. Hy sal ook sy bes doen om die omstandighede te vermy wat tot sy sonde gelei het. As hy hard daaraan werk om sy verhouding met Jehovah te herstel, kan hy seker wees dat Jehovah hom heeltemal sal vergewe en dat die ouermanne hom sal help om weer deel van die gemeente te word. Die ouermanne sal natuurlik elke saak anders hanteer omdat elke persoon se omstandighede anders is. En hulle sal nie onnodig streng wees wanneer hulle oordeel nie.

19. Wat sluit ware berou in? (Esegiël 33:14-16)

19 Soos ons geleer het, sluit ware berou meer in as om net te sê dat ’n mens jammer is oor ’n ernstige sonde wat jy gepleeg het. Dit sluit ook in dat jy die manier verander waarop jy dink en voel en dat jy dinge doen wat wys dat jy berouvol is. Jy moet byvoorbeeld ophou om die verkeerde dinge te doen wat jy gedoen het en volgens Jehovah se standaarde lewe. (Lees Esegiël 33:14-16.) Wat vir die sondaar die belangrikste moet wees, is om sy verhouding met Jehovah te herstel.

HELP SONDAARS OM BEROU TE TOON

20-21. Hoe kan ons iemand help wat ernstig gesondig het?

20 Jesus het gesê: ‘Ek het gekom om sondaars tot berou te roep’ (Luk. 5:32). Dit is duidelik dat dit vir Jesus belangrik was om sondaars te help. Dit moet vir ons ook belangrik wees om sondaars te help om berou te toon. Sê nou ons vind uit dat ’n goeie vriend ’n ernstige sonde gepleeg het. Wat moet ons doen?

21 Ons sal hom net van die wal af in die sloot help as ons probeer om sy sonde weg te steek. En ons sal die sonde in elk geval nie kan wegsteek nie, want Jehovah sien alles raak (Spr. 5:21, 22; 28:13). Jy kan jou vriend help deur hom te herinner dat die ouermanne wil help. As jou vriend weier om met die ouermanne te praat oor wat hy gedoen het, moet jy vir die ouermanne gaan sê. As jy dit doen, wys jy dat jy hom regtig wil help. Sy verhouding met Jehovah is in gevaar!

22. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

22 Maar sê nou ’n sondaar loop al lank op die verkeerde pad en het so erg gesondig dat die ouermanne besluit om hom uit te sit? Beteken dit dat hulle nie genadig teenoor hom was nie? In die volgende artikel gaan ons kyk na hoe genadig Jehovah is wanneer hy sondaars dissiplineer en hoe ons hom kan navolg.

LIED 103 Herders — Gawes in mense

^ par. 5 Ware berou sluit meer in as om net te sê dat ons jammer is oor ’n sonde wat ons gepleeg het. In hierdie artikel gaan ons kyk na die voorbeeld van koning Agab en koning Manasse, sowel as Jesus se illustrasie van die verlore seun om te sien wat berou regtig is. Ons gaan ook dinge bespreek wat ouermanne in gedagte moet hou wanneer hulle moet vasstel of iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, regtig berouvol is of nie.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Koning Agab is baie kwaad, en hy sê vir sy wagte om Jehovah se profeet Migaja in die tronk te gooi.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: Koning Manasse sê vir werkers om die beelde wat hy in die tempel opgerig het, te vernietig.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Die verlore seun, wat baie moeg is ná ’n lang reis, is verlig wanneer hy sy huis in die verte sien.