Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 43

Moenie opgee nie!

Moenie opgee nie!

“Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie.” – GAL. 6:9.

LIED 68 Saai die Koninkryksaad

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter groot vreugde en voorreg het ons?

WAT ’n groot vreugde en voorreg het ons as Jehovah se Getuies! Ons dra God se naam, en ons bewys dat ons sy Getuies is deur te preek en ander oor hom te leer. Dit maak ons baie bly wanneer ons iemand wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, kan help om tot doop te vorder (Hand. 13:48). Ons voel net soos Jesus gevoel het. Hy het “[oorgeloop] van vreugde in die heilige gees” toe sy dissipels hom kom vertel het van die goeie ondervindinge wat hulle gehad het terwyl hulle gepreek het. – Luk. 10:1, 17, 21.

2. Hoe kan ons wys dat ons ernstig is oor ons bediening?

2 Ons is ernstig oor ons bediening. Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê: “Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting.” En hy het bygevoeg: “Want so sal jy jouself red en dié wat na jou luister” (1 Tim. 4:16). So lewens is op die spel. Ons ‘skenk voortdurend aandag aan onsself’ omdat ons burgers van God se Koninkryk is. Ons wil ons altyd gedra op ’n manier wat Jehovah eer en wat in ooreenstemming is met die goeie nuus wat ons aan ander verkondig (Fil. 1:27). Ons wys dat ons ‘aandag skenk aan ons onderrigting’ deur goed voor te berei vir die bediening en deur vir Jehovah te vra om ons te help voordat ons vir ander preek.

3. Kan ons verwag dat almal in die Koninkryksboodskap sal belangstel? Gee ’n voorbeeld.

3 Al doen ons ons bes in die predikingswerk, sal baie mense in ons gebied dalk nie in die goeie nuus van die Koninkryk belangstel nie. Kyk na die ondervinding van broer Georg Lindal, wat van 1929 tot 1947 stoksielalleen in verskillende dele van Ysland gepreek het. Hy het duisende publikasies geplaas, maar nie ’n enkele persoon het die waarheid aanvaar nie. Hy het geskryf: “Dit lyk asof party teen die waarheid gekant is, maar die meerderheid stel net glad nie belang nie.” En toe sendelinge wat by die Gileadskool was, soontoe gegaan het om te help met die predikingswerk, het hulle ook nege jaar lank gepreek voordat enige Yslanders hulleself aan Jehovah toegewy het en hulle laat doop het. *

4. Hoe voel ons dalk as mense nie die goeie nuus aanvaar nie?

4 Ons voel teleurgesteld wanneer mense nie die goeie nuus aanvaar nie. Miskien voel ons soos die apostel Paulus. Hy was “baie hartseer” en het “onophoudelike pyn in [sy] hart” ondervind omdat die Jode oor die algemeen Jesus nie as die beloofde Messias aanvaar het nie (Rom. 9:1-3). Sê nou jy doen jou bes om jou Bybelstudent te help deur ’n goeie onderrigter te probeer wees en deur gereeld vir hom te bid, maar hy maak nie vordering nie en jy moet die studie beëindig? Of sê nou jy het nie enige iemand gehelp om tot doop te vorder nie? Moet jy skuldig voel en dink dat Jehovah jou bediening nie seën nie? In hierdie artikel sal ons twee vrae beantwoord: (1) Wat maak ’n mens se bediening suksesvol? (2) Watter realistiese verwagtinge moet ons hê?

WAT MAAK ’N MENS SE BEDIENING SUKSESVOL?

5. Hoekom kry ons nie altyd die resultate wat ons graag wil hê wanneer dit kom by ons diens aan Jehovah nie?

5 Die Bybel sê van iemand wat God se wil doen: “Alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Ps. 1:3). Maar dit beteken nie dat ons altyd die resultate sal kry wat ons graag wil hê wanneer dit kom by ons diens aan Jehovah nie. Die lewe is “vol probleme” omdat ons almal onvolmaak is (Job 14:1). En teenstanders kry dit soms reg om ons te keer om in die openbaar te preek (1 Kor. 16:9; 1 Tess. 2:18). Maar wat maak ons suksesvol in Jehovah se oë? Kom ons kyk na ’n paar Bybelbeginsels wat ons sal help om hierdie vraag te beantwoord.

Jehovah waardeer alles wat ons in die bediening doen, of ons nou van huis tot huis, deur middel van briewe of oor die foon getuig (Sien paragraaf 6)

6. Wat is vir Jehovah belangrik wanneer dit kom by ons diens aan hom?

6 Wat vir Jehovah belangrik is, is dat ons ons beste gee en volhard. In Jehovah se oë is ons werk suksesvol as ons uit liefde vir hom ons beste gee, selfs as mense nie na ons luister nie. Paulus het geskryf: “God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle werk en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en bly dien nie” (Heb. 6:10). Jehovah onthou die werk wat ons gedoen het, sowel as ons liefde, selfs as ons nie goeie resultate kry nie. Daarom is Paulus se woorde aan die Korintiërs ook op jou van toepassing: “Julle weet dat julle werk vir die Here nie verniet is nie.” En dit is die geval, selfs al kry jy nie die resultate wat jy graag wou gehad het nie. – 1 Kor. 15:58.

7. Wat leer ons uit wat die apostel Paulus oor sy bediening gesê het?

7 Die apostel Paulus was ’n uitstekende sendeling, wat nuwe gemeentes in baie stede gevorm het. Maar toe party mense Paulus gekritiseer het en gesê het dat hy nie ’n goeie onderrigter is nie, het hy homself nie verdedig deur te praat oor hoeveel mense hy gehelp het om Christene te word nie. Hy het eerder gepraat oor die werk wat hy gedoen het. Hy het verwys na die mense wat hom probeer verkleineer het en gesê: “Ek het meer werk as hulle gedoen” (2 Kor. 11:23). Soos Paulus, moet ons onthou dat wat vir Jehovah belangrik is, is dat ons ons beste gee en volhard.

8. Wat moet ons in gedagte hou wanneer dit kom by ons bediening?

8 Ons bediening maak Jehovah se hart bly. Eenkeer het Jesus 70 dissipels uitgestuur om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, en toe hulle teruggekom het, was hulle vol vreugde. Hoekom? Hulle het gesê: “Selfs die demone gehoorsaam ons wanneer ons u naam gebruik.” Maar Jesus het hulle reggehelp en gesê: “Tog moet julle nie bly wees dat die geeste julle gehoorsaam nie, maar wees bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is” (Luk. 10:17-20). Jesus het geweet dat hulle nie altyd sulke wonderlike ondervindinge in die bediening sou hê nie. Om die waarheid te sê, ons weet nie eers hoeveel van die mense met wie die dissipels gepraat het, uiteindelik Christene geword het nie. Die dissipels se vreugde moes nie afhang van die resultate van hulle bediening nie. Hulle moes eerder vreugdevol wees omdat hulle geweet het dat hulle harde werk Jehovah se hart bly maak.

9. Volgens Galasiërs 6:7-9, wat sal ons kry as ons in ons bediening volhard?

9 As ons in ons bediening volhard, sal ons ewige lewe kry. Wanneer ons ons bes doen om die goeie nuus te verkondig en mense te leer, saai ons “met die oog op die gees” deur toe te laat dat God se heilige gees vryelik in ons lewe werk. Solank ons nie “ophou” of “moeg word” nie, sal Jehovah vir ons die ewige lewe gee, maak nie saak of ons iemand help om tot doop te vorder of nie. – Lees Galasiërs 6:7-9.

WATTER REALISTIESE VERWAGTINGE MOET ONS HÊ

10. Wat bepaal of mense na ons boodskap gaan luister of nie?

10 Mense se hartstoestand bepaal of hulle na ons boodskap sal luister of nie. Dit is wat Jesus in sy illustrasie van die saaier verduidelik het. Die saaier het saad gesaai op verskillende soorte grond, maar net die plante wat op die een soort grond gegroei het, het vrug gedra (Luk. 8:5-8). Jesus het gesê dat die verskillende soorte grond verskillende hartstoestande voorstel van mense wat op verskillende maniere reageer wanneer hulle “die woord van God” hoor (Luk. 8:11-15). Soos die saaier, kan ons nie bepaal watter resultate ons in ons bediening gaan kry nie, want die resultate hang af van die hartstoestand van die mense wat na ons luister. Ons verantwoordelikheid is om aan te hou om die goeie saad van die Koninkryksboodskap te saai. Die apostel Paulus het gesê: “Elkeen sal sy eie beloning ontvang volgens sy eie werk”, nie volgens die resultate van sy werk nie. – 1 Kor. 3:8.

Al het Noag jare lank getrou gepreek, het niemand behalwe sy familie saam met hom in die ark ingegaan nie. Maar Noag was suksesvol omdat hy aan God gehoorsaam was! (Sien paragraaf 11)

11. Hoekom kan ons sê dat Noag se bediening suksesvol was? (Sien prent op voorblad.)

11 Dwarsdeur die geskiedenis het knegte van Jehovah vir mense gepreek wat nie in hulle boodskap belanggestel het nie. Byvoorbeeld, Noag was baie jare lank “’n prediker van regverdigheid” (2 Pet. 2:5). Noag het natuurlik gehoop dat mense na hom sou luister, maar Jehovah het nie gesê dat dit sou gebeur nie. Toe God Noag die opdrag gegee het om die ark te bou, het hy net gesê: “Jy moet in die ark ingaan saam met jou seuns, jou vrou en jou seuns se vrouens” (Gen. 6:18). En toe God vir Noag gesê het hoe groot hy die ark moes maak, het Noag dalk besef dat daar nie baie mense sou wees wat na hom sou luister nie omdat daar nie so baie plek in die ark sou wees nie (Gen. 6:15). Op die ou end was daar nie ’n enkele persoon wat op Noag se boodskap gereageer het nie (Gen. 7:7). Het Jehovah gedink dat Noag misluk het? Glad nie! In God se oë was Noag se bediening suksesvol omdat hy getrou gedoen het wat Jehovah hom gevra het om te doen. – Gen. 6:22.

12. Hoe het die profeet Jeremia vreugde gevind in sy bediening, al het mense nie na hom geluister nie en al het party hom teëgestaan?

12 Die profeet Jeremia het ook jare lank gepreek, al het mense nie na hom geluister nie en al het party hom teëgestaan. Hy het so mismoedig geword omdat teenstanders hom “beledig en bespot” het dat hy sy toewysing wou opgee (Jer. 20:8, 9). Maar Jeremia het nie opgegee nie! Wat het hom gehelp om sy negatiewe gedagtes te oorkom en om vreugde te vind in sy bediening? Hy het op twee belangrike dinge gefokus. Eerstens het hy gefokus op die feit dat God se boodskap vir die volk “’n toekoms en ’n hoop” gegee het (Jer. 29:11). En tweedens het hy gefokus op die feit dat Jehovah hom persoonlik uitgekies het om sy boodskap aan die volk oor te dra (Jer. 15:16). Ons boodskap gee ook vir mense hoop in ’n hopelose wêreld, en Jehovah het ons persoonlik uitgekies om sy Getuies te wees. Wanneer ons op hierdie twee belangrike dinge fokus, kan ons vreugdevol wees, maak nie saak hoe mense op ons boodskap reageer nie.

13. Wat leer ons uit Jesus se illustrasie in Markus 4:26-29?

13 Geestelike groei vind geleidelik plaas. Dit is wat Jesus vir ons geleer het in sy illustrasie van die saaier wat slaap. (Lees Markus 4:26-29.) Nadat die saaier die saadjies gesaai het, het dit geleidelik gegroei, en die saaier het geen beheer daaroor gehad nie. Jy sal moontlik vir ’n lank tyd nie resultate in jou bediening sien nie omdat die groei geleidelik plaasvind. Net soos ’n plaasboer sy plante nie vinniger kan laat groei nie, kan ons nie ons Bybelstudente dwing om vinniger geestelike vordering te maak nie. So moenie mismoedig word of opgee as hulle langer vat om vordering te maak as wat jy verwag het nie. Net soos plaasboere geduld nodig het, het ons ook geduld nodig wanneer ons dissipels maak. – Jak. 5:7, 8.

14. Gee ’n voorbeeld wat wys dat dit dalk lank sal vat voordat ons resultate in ons bediening sien.

14 In party gebiede sal dit dalk jare vat voordat ons resultate in ons bediening sien. Kyk na die ondervinding van twee vleeslike susters, Gladys en Ruby Allen, wat as gewone pioniers gedien het en in 1959 aangewys is om te dien in ’n dorp in die Kanadese provinsie Quebec. * Omdat die mense daar bang was vir wat hulle bure en die priesters sou sê en doen, het hulle nie met die Getuies gepraat nie. Gladys sê: “Ons [het] twee jaar lank agt uur per dag van deur tot deur gegaan sonder dat enigiemand vir ons die deur oopgemaak het! Die mense het bloot na die deur toe gekom en die blindings afgetrek. Maar ons het nie moed opgegee nie.” Stadig maar seker het die mense se gesindheid verander en het hulle na die Getuies begin luister. Daar is nou drie gemeentes in daardie dorp. – Jes. 60:22.

15. Wat leer 1 Korintiërs 3:6, 7 ons oor die dissipelmaakwerk?

15 Ons almal moet saam werk om ’n dissipel te maak. Die hele gemeente moet saam werk om iemand te help om tot doop te vorder. (Lees 1 Korintiërs 3:6, 7.) Byvoorbeeld, sê nou ’n broer gee ’n pamflet of ’n tydskrif vir ’n belangstellende. Die broer besef dat hy nie sal kan teruggaan op die tyd wat die belangstellende pas nie, en daarom vra hy ’n ander verkondiger om die herbesoek te doen. Daardie verkondiger begin dan ’n Bybelstudie met die belangstellende. Hy nooi verskillende broers en susters om saam met hom na die studie toe te gaan, en elkeen van hulle moedig die Bybelstudent aan. Elke broer of suster wat die student ontmoet, sal help om die saadjie van die waarheid nat te gooi. Daarom, net soos Jesus gesê het, kan die een wat saai en die een wat oes, saam bly wees wanneer die Bybelstudent gedoop word. – Joh. 4:35-38.

16. Hoekom kan jy vreugde vind in jou bediening, al het jy gesondheidsprobleme of al het jy min krag?

16 Sê nou jy kan nie so baie in die bediening doen nie omdat jy gesondheidsprobleme het of omdat jy min krag het? Jy kan nog steeds vreugde vind in wat jy wel in die bediening kan doen. Dink aan wat gebeur het toe koning Dawid en sy manne hulle families en besittings van die Amalekiete gered het. Tweehonderd van die manne was te moeg om te veg, en daarom het hulle by die bagasie agtergebly. Maar nadat Dawid en sy manne die geveg gewen het, het Dawid gesê dat alles wat hulle by die Amalekiete afgevat het, gelyk onder al die manne verdeel moes word (1 Sam. 30:21-25). Hierdie verslag leer ons iets oor die dissipelmaakwerk. Almal wat hulle bes doen in die bediening, kan ewe bly wees oor elkeen wat gered word en gehelp word om sy reis te begin op die pad wat na die lewe lei.

17. Waarvoor moet ons vir Jehovah dankie sê?

17 Ons moet vir Jehovah dankie sê vir sy liefde en vir die manier waarop hy ons diens aan hom beskou. Hy weet dat ons nie kan bepaal watter resultate ons in die bediening kry nie. Hy fokus eerder op ons harde werk en ons liefde, en hy beloon ons daarvoor. Hy leer ons ook hoe om vreugde te vind in die rol wat ons speel in die groot insamelingswerk (Joh. 14:12). Ons kan seker wees dat ons God se goedkeuring sal geniet solank ons nie opgee nie!

LIED 67 Preek getrou

^ par. 5 Ons is baie bly wanneer mense ’n Bybelstudie aanvaar. Maar ons is teleurgesteld as hulle die goeie nuus nie aanvaar nie. Maar sê nou ’n Bybelstudent wat jy probeer help, maak nie vordering nie? Of wat as jy nie enige iemand al gehelp het om tot doop te vorder nie? Beteken dit dat jou bediening ’n mislukking is? In hierdie artikel sal ons sien wat ’n mens se bediening suksesvol maak en hoe ons vreugdevol kan bly, of mense na ons luister of nie.

^ par. 3 Sien die 2005 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl. 205-211.

^ par. 14 Sien Gladys Allen se lewensverhaal “Ek sou niks verander nie!” in Die Wagtoring van 1 September 2002.