Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 48

“Julle moet heilig wees”

“Julle moet heilig wees”

“Word ook heilig in al julle gedrag.” – 1 PET. 1:15.

LIED 34 Ek sal lojaal bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter raad het die apostel Petrus aan Christene gegee, en hoekom kan sy raad dalk onmoontlik lyk om toe te pas?

DIE raad wat die apostel Petrus aan gesalfde Christene in die eerste eeu gegee het, kan ons almal help, of ons nou die hemelse of die aardse hoop het. Petrus het geskryf: “Word ook heilig in al julle gedrag, soos die Heilige wat julle geroep het, want daar is geskryf: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Pet. 1:15, 16). Hierdie woorde leer ons dat ons Jehovah, die beste voorbeeld van heiligheid, kan navolg. Ons kan heilig wees, en ons gedrag moet heilig wees. Dit klink dalk onmoontlik omdat ons onvolmaak is. Petrus het self ’n hele paar foute gemaak, maar sy voorbeeld wys vir ons dat ons wel ‘heilig kan word’.

2. Watter vrae gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel gaan ons die volgende vrae bespreek: Wat is heiligheid? Wat leer die Bybel ons oor Jehovah se heiligheid? Hoe kan ons heilig word? En wat is die verband tussen heiligheid en ons verhouding met Jehovah?

WAT IS HEILIGHEID?

3. Hoe beskou baie mense heiligheid, maar waar kan hulle uitvind wat heiligheid regtig is?

3 Wanneer baie mense dink aan iemand wat heilig is, dink hulle aan iemand wat mislik is, godsdienstige klere dra en heeltyd ernstig lyk. Maar dit is nie waar nie. Jehovah, wat heilig is, word beskryf as “die gelukkige God” (1 Tim. 1:11). Almal wat hom aanbid, word “gelukkig” genoem (Ps. 144:15). Jesus het mense veroordeel wat spesiale klere dra en goeie dade doen net om deur mense gesien te word (Matt. 6:1; Mark. 12:38). Maar as gevolg van wat die Bybel sê, weet ware Christene wat dit regtig beteken om heilig te wees. Ons is oortuig dat ons heilige en liefdevolle God ons nooit sal vra om iets te doen wat ons nie kan doen nie. So wanneer Jehovah vir ons sê: “Julle moet heilig wees,” weet ons dat dit vir ons moontlik is. Maar voordat ons heilig kan word, moet ons eers verstaan wat heiligheid is.

4. Wat beteken die woorde “heilig” en “heiligheid”?

4 Wat is heiligheid? In die Bybel verwys die woorde “heilig” en “heiligheid” na iets wat in ’n sedelike en godsdienstige sin rein of skoon is. En dit kan ook verwys na iets wat opsygesit is vir God se diens. So ons sal heilig wees as ons sedelik rein is, as ons Jehovah op ’n aanvaarbare manier aanbid en as ons ’n sterk persoonlike verhouding met hom het. Net die gedagte dat ons ’n persoonlike verhouding met ons heilige God kan hê, is genoeg om ons asem weg te slaan, veral as ons dink aan wat die Bybel oor Jehovah se heiligheid sê.

“HEILIG, HEILIG, HEILIG IS JEHOVAH”

5. Wat leer getroue engele ons oor Jehovah?

5 Jehovah is in elke opsig heeltemal rein en skoon. Dit is hoekom serafs – engele wat naby Jehovah se troon is – die volgende oor Jehovah gesê het: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërmagte” (Jes. 6:3). En die engele moet natuurlik ook heilig wees om ’n sterk verhouding met hulle heilige God te hê – en hulle is beslis heilig. Om die waarheid te sê, ’n plek op die aarde kon heilig word as ’n engel daar gestaan het. Dit is wat gebeur het toe Moses by die brandende doringbos was. – Eks. 3:2-5; Jos. 5:15.

Die goue plaat op die tulband van die hoëpriester met die woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” daarop gegraveer (Sien paragraaf 6-7)

6-7. (a) Volgens Eksodus 15:1, 11, hoe het Moses God se heiligheid beklemtoon? (b) Wat het die Israeliete aan God se heiligheid herinner? (Sien prent op voorblad.)

6 Nadat Moses die Israeliete deur die Rooisee gelei het, het hy beklemtoon hoe heilig hulle God, Jehovah, is. (Lees Eksodus 15:1, 11.) Die gedrag van die mense wat die gode van Egipte aanbid het, was allesbehalwe heilig. Dieselfde kan gesê word van die mense wat die gode van Kanaän aanbid het. Hulle aanbidding het kinderofferandes en walglike seksuele gebruike ingesluit (Lev. 18:3, 4, 21-24; Deut. 18:9, 10). Maar Jehovah sal nooit sy aanbidders vra om iets te doen wat hulle sal verlaag nie. Hy is die heiligste persoon in die heelal. Die goue plaat op die tulband van die hoëpriester het die Israeliete hieraan herinner. Die woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” was op daardie plaat gegraveer. – Eks. 28:36-38.

7 Die woorde op daardie plaat sou almal wat dit sien, verseker dat Jehovah heilig is. Maar wat as ’n Israeliet nie die plaat kon sien omdat hy nie na die hoëpriester toe kon gaan nie? Sou hy ooit hierdie belangrike boodskap kry? Ja! Al die Israeliete het daardie boodskap gehoor toe die Wet vir die manne, vrouens en kinders gelees is (Deut. 31:9-12). As jy daar was, sou jy die woorde gehoor het: “Ek is Jehovah julle God, en julle moet . . . heilig wees, want ek is heilig.” “Julle moet vir my heilig wees, want ek, Jehovah, is heilig.” – Lev. 11:44, 45; 20:7, 26.

8. Wat leer ons uit Levitikus 19:2 en 1 Petrus 1:14-16?

8 Kom ons fokus op ’n gedeelte van Levitikus 19:2, wat vir al die Israeliete gelees is. Jehovah het vir Moses gesê: “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: ‘Julle moet heilig wees, want ek, Jehovah julle God, is heilig.’” Petrus het dalk daardie vers aangehaal toe hy Christene aangemoedig het om ‘heilig te word’. (Lees 1 Petrus 1:14-16.) Ons is natuurlik nie onder die Wet van Moses nie. Maar wat Petrus geskryf het, bevestig dat Jehovah heilig is en dat dié wat hom liefhet, hard moet probeer om heilig te wees, of hulle nou die hemelse of die aardse hoop het. – 1 Pet. 1:4; 2 Pet. 3:13.

“WORD . . . HEILIG IN AL JULLE GEDRAG”

9. Hoe sal ’n bespreking van Levitikus hoofstuk 19 ons help?

9 Omdat ons ons heilige God gelukkig wil maak, wil ons graag leer hoe ons heilig kan word. En Jehovah sê vir ons wat ons moet doen om heilig te word. Byvoorbeeld, in Levitikus hoofstuk 19 gee hy vir ons uitstekende raad oor hoe ons dit kan doen. Marcus Kalisch, ’n kenner van die Hebreeuse taal en kultuur, het geskryf: “Hierdie hoofstuk is dalk in sekere opsigte die belangrikste hoofstuk en die hoofstuk met die grootste verskeidenheid onderwerpe in die boek Levitikus en dalk selfs in die eerste vyf boeke van die Bybel.” Hou in gedagte dat Levitikus hoofstuk 19 met die woorde begin: “Julle moet heilig wees.” So kom ons kyk na ’n paar verse in hierdie hoofstuk wat vir ons waardevolle raad gee oor hoe ons in sekere aspekte van ons daaglikse lewe heilig kan wees.

Wat moet die opdrag in Levitikus 19:3 Christene motiveer om te doen? (Sien paragraaf 10-12) *

10-11. Wat sê Levitikus 19:3 moet ons doen, en hoekom is dit belangrik?

10 Nadat Jehovah vir die Israeliete gesê het dat hulle heilig moet wees, het hy gesê: “Elkeen van julle moet sy ma en sy pa respekteer Ek is Jehovah julle God.” – Lev. 19:2, 3.

11 Dit is duidelik dat dit belangrik is dat ons gehoorsaam moet wees aan God se bevel om ons ouers te eer. Dink aan wat Jesus gesê het toe ’n man eenkeer vir hom gevra het: “Watter goeie dinge moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Een van die dinge wat Jesus gesê het hy moet doen, is om sy pa en sy ma te eer (Matt. 19:16-19). En Jesus het die Fariseërs en die skrifgeleerdes veroordeel omdat hulle slinkse planne gemaak het sodat hulle nie vir hulle ouers hoef te sorg nie. Deur dit te doen, het hulle “die woord van God . . . kragteloos gemaak” (Matt. 15:3-6). “Die woord van God” sluit die vyfde van die Tien Gebooie in, sowel as wat ons in Levitikus 19:3 lees (Eks. 20:12). En hou in gedagte: Die opdrag in Levitikus 19:3 om jou ma en pa te respekteer, kom net ná die opdrag: “Julle moet heilig wees, want ek, Jehovah julle God, is heilig.”

12. Hoe kan ons gehoorsaam wees aan die opdrag in Levitikus 19:3?

12 Omdat Jehovah vir ons die opdrag gegee het om ons ouers te eer, kan ons onsself vra: ‘Hoe doen ek in hierdie opsig?’ As jy dink dat jy in die verlede te min gedoen het, kan jy nou besluit om beter te doen in die toekoms. Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan jou bes doen om van nou af meer vir en saam met jou ouers te doen. Dalk kan jy reël om meer tyd met hulle te spandeer. Of miskien kan jy aanbied om meer te doen om hulle materieel, geestelik of emosioneel te ondersteun. Dan sal jy gehoorsaam wees aan die opdrag in Levitikus 19:3.

13. (a) Watter ander opdrag vind ons in Levitikus 19:3? (b) Hoe kan ons Jesus se voorbeeld in Lukas 4:16-18 navolg?

13 Levitikus 19:3 leer ons nog iets oor hoe om heilig te wees. Dit bevat die opdrag om die Sabbat te hou. Christene is nie onder die Wet nie, en daarom hoef ons nie die Sabbat te hou nie. Maar ons kan nog steeds baie leer uit hoe die Israeliete die Sabbat gehou het en hoe dit hulle gehelp het. Hulle kon nie hulle gewone werk op die Sabbat doen nie. Dit was ’n tyd om aandag te gee aan geestelike dinge. * Dit is hoekom Jesus elke Sabbat na die sinagoge in sy tuisdorp gegaan het en uit God se Woord gelees het (Eks. 31:12-15; lees Lukas 4:16-18.) God se opdrag in Levitikus 19:3 om die Sabbat te hou, moet ons motiveer om tyd te maak vir geestelike dinge. Voel jy dat jy meer kan doen in hierdie opsig? As jy gereeld tyd opsysit om op geestelike dinge te fokus, sal jy ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah opbou, wat noodsaaklik is as jy heilig wil word.

VERSTERK JOU VERHOUDING MET JEHOVAH

14. Watter belangrike waarheid word regdeur Levitikus hoofstuk 19 beklemtoon?

14 Levitikus hoofstuk 19 beklemtoon herhaaldelik ’n belangrike waarheid wat ons kan help om heilig te bly. Vers 4 sluit af met die woorde: “Ek is Jehovah julle God.” Hierdie woorde word 16 keer in hierdie hoofstuk gevind. Dit laat ons dink aan die eerste gebod: “Ek is Jehovah julle God … Jy mag geen ander gode buiten my hê nie” (Eks. 20:2, 3). Elke Christen wat heilig wil word, moet seker maak dat niks of niemand tussen hom en sy God kom nie. En omdat ons Jehovah se naam dra, is ons vasbeslote om niks te doen wat oneer op sy heilige naam sal bring nie. – Lev. 19:12; Jes. 57:15.

15. Wat moet die verse in Levitikus hoofstuk 19 oor diereoffers ons motiveer om te doen?

15 Die Israeliete het gewys dat hulle Jehovah as hulle God aanvaar deur al sy wette te gehoorsaam. Levitikus 18:4 sê: “Julle moet my regterlike bevele uitvoer, en julle moet my wetsbepalings onderhou en volg. Ek is Jehovah julle God.” In hoofstuk 19 vind ons party van daardie “wetsbepalings” waaraan die Israeliete gehoorsaam moes wees. Byvoorbeeld, vers 5-8, 21, 22 praat oor diereoffers. Wanneer hulle daardie offers geoffer het, moes hulle seker maak dat hulle niks “ontheilig wat vir Jehovah heilig is” nie. Daardie verse moet ons begeerte versterk om Jehovah gelukkig te maak en om vir hom aanvaarbare lofoffers te bring, net soos Hebreërs 13:15 ons aanmoedig om te doen.

16. Watter opdrag in Levitikus hoofstuk 19 herinner ons aan die feit dat God se aanbidders anders moet wees as die res van die wêreld?

16 As ons heilig wil word, moet ons bereid wees om anders te wees as mense wat God nie aanbid nie. Dit is nie altyd maklik nie. Soms sal skoolmaats, werksmaats, ongelowige familielede en ander dalk druk op ons plaas om dinge te doen wat ’n negatiewe uitwerking op ons aanbidding kan hê. Wanneer dit gebeur, moet ons ’n belangrike besluit maak. Wat kan ons help om die regte besluit te maak? Dink aan die volgende opdrag in Levitikus 19:19: “Jy mag nie ’n kleed dra van materiaal wat van ’n kombinasie van twee soorte garing gemaak is nie.” Daardie wet het die Israeliete gehelp om anders te wees as die nasies om hulle. Vandag is dit nie vir Christene verkeerd om klere te dra wat uit gemengde materiaal bestaan nie, soos byvoorbeeld ’n mengsel van katoen en poliëster of van wol en rayon nie. Maar dit is vir ons verkeerd om soos mense te wees wat Jehovah nie aanbid nie en wie se gedrag in stryd is met Bybelleringe, selfs al is sulke mense ons skoolmaats, werksmaats of familielede. Ons is natuurlik lief vir ons familielede en vir ander mense ook. Maar ons is bereid om anders te wees sodat ons Jehovah kan gehoorsaam. En dit is baie belangrik, want heiligheid sluit in dat ons opsygesit is vir God se diens. – 2 Kor. 6:14-16; 1 Pet. 4:3, 4.

Watter les moes die Israeliete uit Levitikus 19:23-25 geleer het, en watter les leer jy daaruit? (Sien paragraaf 17-18) *

17-18. Watter waardevolle les kan ons uit Levitikus 19:23-25 leer?

17 Die woorde “ek is Jehovah julle God” moes die Israeliete gemotiveer het om hulle verhouding met Jehovah eerste in hulle lewe te stel. Hoe kon hulle dit doen? In Levitikus 19:23-25 vind ons een manier hoe hulle dit kon doen. (Lees.) Dink aan wat hierdie woorde vir die Israeliete sou beteken het nadat hulle in die Beloofde Land ingegaan het. As ’n man ’n vrugteboom geplant het, kon hy drie jaar lank nie die vrugte daarvan eet nie. In die vierde jaar moes hy die vrugte daarvan opsysit om by God se tabernakel of God se tempel gebruik te word. Die eienaar kon die vrugte eers vanaf die vyfde jaar eet. Hierdie wet moes die Israeliete gehelp het om te besef dat hulle nie hulle belange eerste moes stel nie. Hulle moes vertrou dat Jehovah vir hulle sou sorg, en hulle moes sy aanbidding eerste in hulle lewe stel. Hy sou seker maak dat hulle genoeg het om te eet. En God het hulle aangemoedig om vrygewig te wees wanneer hulle bydraes maak by die plek waar hy aanbid word.

18 Die wet wat in Levitikus 19:23-25 gevind word, laat ons dink aan Jesus se woorde in die Bergpredikasie. Hy het gesê: “Hou op om bekommerd te wees oor . . . wat julle sal eet of oor wat julle sal drink . . . Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” Net soos God vir die voëls sorg, sal hy ook vir ons sorg (Matt. 6:25, 26, 32). Ons vertrou op Jehovah om vir ons te sorg. Ons gee ook “geskenke aan die armes”. En ons dra by wat ons kan om gemeentelike onkostes te help dek. Jehovah sien ons vrygewigheid raak en hy sal ons beloon daarvoor (Matt. 6:2-4). Wanneer ons vrygewig is, wys ons dat ons die lesse verstaan wat ons uit Levitikus 19:23-25 leer.

19. Hoe het die bespreking van hierdie deel van Levitikus jou gehelp?

19 Die paar verse wat ons in Levitikus hoofstuk 19 bespreek het, het ons gehelp om te sien hoe ons soos ons heilige God kan wees. Deur hom na te volg, probeer ons ons bes ‘om heilig te word in al ons gedrag’ (1 Pet. 1:15). Baie mense wat Jehovah nie dien nie, het al die goeie gedrag van God se volk raakgesien, en dit het party van hulle beweeg om Jehovah te verheerlik (1 Pet. 2:12). Maar daar is nog baie lesse wat ons uit Levitikus hoofstuk 19 kan leer. Die volgende artikel sal nog verse in hierdie hoofstuk bespreek, en dit sal ons help om te sien hoe ons in ander aspekte van ons lewe ‘heilig kan word’, net soos Petrus ons aangemoedig het om te doen.

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’

^ par. 5 Ons is baie lief vir Jehovah en ons wil sy hart bly maak. Jehovah is heilig en hy verwag dat sy aanbidders heilig moet wees. Is dit regtig vir onvolmaakte mense moontlik? Ja, dit is. Die apostel Petrus se raad aan Christene en Jehovah se instruksies aan die Israeliete sal ons help om te sien hoe ons in elke aspek van ons lewe heilig kan wees.

^ par. 13 Vir ’n bespreking van die Sabbat en die lesse wat ons daaruit kan leer, sien die artikel “‘Daar is ’n vasgestelde tyd’ vir werk en rus” in Die Wagtoring van Desember 2019.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Volwasse seun spandeer tyd saam met sy ouers. Hy en sy gesin gaan kuier vir hulle, en hy doen sy bes om in kontak met hulle te bly.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Israelitiese man kyk na die vrugte aan die bome wat hy geplant het.