Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 49

Wat Levitikus ons leer oor hoe om ander te behandel

Wat Levitikus ons leer oor hoe om ander te behandel

“Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.” – LEV. 19:18.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat het ons in die vorige artikel bespreek, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

IN DIE vorige artikel het ons gesien hoe Levitikus hoofstuk 19 ons in ons daaglikse lewe kan help. Byvoorbeeld, in vers 3 het Jehovah vir die Israeliete gesê om hulle ouers te respekteer. Ons het gesien hoe ons daardie raad kan toepas deur vir ons ouers fisies, emosioneel en geestelik te sorg. In dieselfde vers het God sy volk herinner hoe belangrik dit is om die Sabbat te hou. Ons het geleer dat alhoewel ons nie meer onder die Sabbatswet is nie, ons nog steeds die beginsel agter daardie wet kan toepas deur gereeld tyd opsy te sit vir geestelike dinge. Deur dit te doen, sal ons wys dat ons ons bes probeer om heilig te wees soos Levitikus 19:2 en 1 Petrus 1:15 vir ons sê om te doen.

2 In hierdie artikel gaan ons nog verse uit Levitikus hoofstuk 19 bespreek. Wat kan hierdie hoofstuk ons leer oor hoe om persone wat fisiese beperkings het, met liefde te behandel, oor hoe ons eerlik kan wees wanneer ons besigheid doen en oor hoe ons liefde teenoor ander kan bewys? Ons wil heilig wees soos God heilig is, so kom ons kyk wat ons kan leer.

WEES LIEFDEVOL TEENOOR PERSONE WAT FISIESE BEPERKINGS HET

Wat sê Levitikus 19:14 oor hoe ons iemand moet behandel wat doof of blind is? (Sien paragraaf 3-5) *

3-4. Volgens Levitikus 19:14, hoe moes dowe en blinde mense behandel word?

3 Lees Levitikus 19:14. Jehovah het verwag dat sy volk liefdevol moes wees teenoor persone wat fisiese beperkings het. Byvoorbeeld, die Israeliete moes nie ’n dowe persoon vervloek nie. So ’n vloek kon dalk ’n dreigement of ’n belediging insluit. Wat ’n verskriklike ding om aan ’n dowe persoon te doen! Hy kon nie hoor wat van hom gesê word nie, so hy sou nie homself kon verdedig nie.

4 En in vers 14 leer ons dat God se knegte nie “iets voor ’n blinde persoon [moes] sit wat hom [kon] laat struikel nie”. Een boek sê oor mense wat fisiese beperkings het: “In die eertydse Midde-Ooste was mense geneig om hulle uit te buit en te mishandel.” Dalk sou iemand iets voor ’n blinde persoon sit om hom seer te maak of omdat hy gedink het dat dit snaaks sou wees. Hoe wreed! Deur middel van hierdie bevel het Jehovah sy volk gehelp om te sien dat hulle liefdevol moet wees teenoor persone wat fisiese beperkings het.

5. Hoe kan ons wys dat ons meegevoel het vir persone met fisiese beperkings?

5 Jesus het gewys dat hy meegevoel het vir persone met fisiese beperkings. Dink aan die boodskap wat hy vir Johannes die Doper gestuur het: “Die blindes kan nou sien, die kreupeles loop, die melaatses word genees, die dowes hoor [en] die dooies word opgewek.” Toe die mense Jesus se wonderwerke sien, “het hulle God . . . geloof” (Luk. 7:20-22; 18:43). Net soos Jesus, het Christene meegevoel vir persone wat fisiese beperkings het. So ons behandel sulke persone met liefde en ons is geduldig met hulle. Jehovah het natuurlik nie vir ons die vermoë gegee om wonderwerke te doen nie. Maar ons het die voorreg om vir persone wat fisies of geestelik blind is, van die goeie nuus te vertel oor ’n paradys waar almal volmaakte gesondheid en ’n goeie verhouding met God sal hê (Luk. 4:18). Hierdie goeie nuus motiveer baie mense nou al om God te loof.

WEES EERLIK WANNEER JY BESIGHEID DOEN

6. Hoe help Levitikus hoofstuk 19 ons om die Tien Gebooie beter te verstaan?

6 Party verse in Levitikus hoofstuk 19 gee meer inligting oor wat in die Tien Gebooie staan. Byvoorbeeld, die agtste gebod het net gesê: “Jy mag nie steel nie” (Eks. 20:15). Iemand kon dalk dink dat hy gehoorsaam was aan daardie gebod as hy niks gevat het wat nie aan hom behoort nie. Maar hy kon dalk op ander maniere gesteel het.

7. Hoe kon ’n handelaar dalk ongehoorsaam wees aan die agtste gebod?

7 ’n Handelaar was dalk trots op die feit dat hy nog nooit iets gevat het wat nie aan hom behoort nie. Maar was hy altyd eerlik wanneer hy besigheid doen? Jehovah het in Levitikus 19:35, 36 gesê: “Julle mag nie oneerlik wees wanneer julle lengtes, gewigte of hoeveelhede meet nie. Julle moet ’n akkurate weegskaal, akkurate gewigte, ’n akkurate droëmaat en ’n akkurate vloeistofmaat hê.” So as ’n handelaar nie akkurate weegskale of afmetings gebruik het nie sodat hy sy kliënte kon bedrieg, sou dit beteken dat hy van hulle steel. En ander verse in Levitikus hoofstuk 19 maak hierdie punt ook duidelik.

Volgens Levitikus 19:11-13, wat kan ’n Christen homself vra oor hoe hy besigheid doen? (Sien paragraaf 8-10) *

8. Hoe het die details in Levitikus 19:11-13 die Jode gehelp om die beginsel agter die agtste gebod toe te pas, en hoe kan dit ons help?

8 Lees Levitikus 19:11-13. Levitikus 19:11 begin met die woorde: “Julle mag nie steel nie.” In vers 13 word steel met oneerlike sakegebruike verbind. Dit sê: “Jy mag nie bedrog teenoor jou medemens pleeg nie.” So as iemand oneerlik is wanneer hy besigheid doen, is hy besig om te steel. Die agtste gebod het gesê dat dit verkeerd is om te steel, maar die details in Levitikus het die Jode gehelp om te verstaan hoe hulle die beginsel agter die wet kon toepas. Dit kan ons help as ons nadink oor hoe Jehovah voel oor iemand wat oneerlik is en wat steel. Ons kan onsself dalk vra: ‘Wanneer ek dink aan Levitikus 19:11-13, moet ek dalk veranderinge in my lewe maak, veral wanneer dit kom by my werksgewoontes en hoe ek besigheid doen?’

9. Watter beskerming het die wet in Levitikus 19:13 voorsien?

9 Daar is nog iets oor eerlikheid wat ’n Christen in gedagte moet hou as hy ’n besigheid het. Levitikus 19:13 sê: “Jy mag nie die loon van ’n gehuurde werker die hele nag tot die oggend toe terughou nie.” In Israel het die meeste mense op plase gewerk, en die werkers was teen die einde van elke werksdag betaal. As ’n werker nie teen die einde van die dag betaal was nie, sou hy dalk nie genoeg geld hê om vir sy gesin kos vir daardie dag te koop nie. Jehovah verduidelik: “Hy is arm en sy lewe hang van sy loon af.” – Deut. 24:14, 15; Matt. 20:8.

10. Wat kan ons uit Levitikus 19:13 leer?

10 Vandag word baie werkers een of twee keer ’n maand betaal, nie elke dag nie. Maar die beginsel in Levitikus 19:13 geld nog steeds vandag. Party werkgewers buit hulle werknemers uit deur hulle baie minder te betaal as wat hulle eintlik betaal moet word. Hulle weet dat hierdie werkers heel moontlik sal aanhou om vir hulle te werk, al word hulle min betaal omdat die werkers dalk geen ander keuse het nie. In ’n sekere sin hou hierdie werkgewers ‘die loon van ’n gehuurde werker terug’. ’n Christen moet seker maak dat hy sy werkers regverdig behandel. Kom ons kyk wat ons nog uit Levitikus hoofstuk 19 kan leer.

ONS MOET ANDER LIEFHÊ SOOS ONSSELF

11-12. Wat het Jesus beklemtoon deur Levitikus 19:17, 18 aan te haal?

11 God wil hê dat ons seker moet maak dat ons ander nie sleg behandel nie. Maar dit is nie al nie. Kom ons kyk na sy bevel in Levitikus 19:17, 18. (Lees.) Jehovah het gesê: “Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.” As ’n Christen God gelukkig wil maak, is dit belangrik dat hy sy medemens moet liefhê.

12 Jesus het gewys dat die gebod in Levitikus 19:18 baie belangrik is. ’n Fariseër het eenkeer vir Jesus gevra: “Wat is die grootste gebod in die Wet?” Jesus het gesê dat “die grootste en eerste gebod” is om Jehovah lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Toe het Jesus Levitikus 19:18 aangehaal en gesê: “Die tweede gebod, soortgelyk hieraan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Matt. 22:35-40). Daar is baie maniere om te wys dat ons ons naaste liefhet, maar kom ons kyk na ’n paar van hierdie maniere in Levitikus hoofstuk 19.

13. Hoe help die Bybelverslag van Josef ons om Levitikus 19:18 beter te verstaan?

13 Een manier om te wys dat ons ander liefhet, is deur die raad in Levitikus 19:18 toe te pas. Dit sê: “Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester . . . nie.” Die meeste van ons ken iemand wat – selfs jare lank – ’n wrok gekoester het teen ’n werksmaat, skoolmaat of ’n familielid! Onthou dat Josef se 10 halfbroers ’n wrok teen hom gekoester het, en dit het uiteindelik daartoe gelei dat hulle iets verskrikliks gedoen het (Gen. 37:2-8, 25-28). Maar Josef het hulle nie sleg behandel nie. Toe hy in ’n posisie was om hulle terug te betaal vir wat hulle aan hom gedoen het, was hy eerder genadig teenoor hulle. Josef het nie ’n wrok gekoester nie. Hy het eerder gedoen wat Levitikus 19:18 vir ons sê om te doen. – Gen. 50:19-21.

14. Wat wys dat ons nog steeds gehoorsaam moet wees aan die beginsels in Levitikus 19:18?

14 Josef stel ’n goeie voorbeeld vir Christene wat God gelukkig wil maak. Hy het nie sy broers terugbetaal vir wat hulle aan hom gedoen het nie, maar hy het hulle eerder vergewe. Dit is ook wat Jesus in die modelgebed vir ons gesê het om te doen toe hy gesê het dat ons die mense moet vergewe wat teen ons sondig (Matt. 6:9, 12). En die apostel Paulus het ook vir mede-Christene gesê: “Moenie self wraak neem nie, geliefde vriende” (Rom. 12:19). Hy het hulle ook aangemoedig: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe, selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla” (Kol. 3:13). Jehovah se beginsels verander nie. Ons moet nog steeds die beginsels agter die wet in Levitikus 19:18 toepas.

Net soos dit goed is om nie aan ’n wond te peuter nie, is dit ook goed om nie te tob oor hoe iemand ons emosioneel seergemaak het nie. Ons moet probeer om daarvan te vergeet (Sien paragraaf 15) *

15. Watter illustrasie help ons om te verstaan hoekom ons moet vergewe en vergeet?

15 Dink aan die volgende illustrasie. Seergemaakte gevoelens kan met ’n wond vergelyk word. Party wonde is ernstig, en ander nie so ernstig nie. Byvoorbeeld, wanneer ons ’n koevert oopmaak, sny die papier ons vinger dalk. Dit kan baie seer wees, maar dit sal gou gesond raak. Ná ’n dag of twee onthou ons dalk nie eers meer waar die snytjie was nie. Net so is party dinge wat ander aan ons doen, nie so ernstig nie. Byvoorbeeld, iets wat ’n vriend sê of doen, maak ons miskien seer, maar ons vergewe hom dalk maklik. Maar dalk doen iemand iets wat ernstiger is. Dit sal dan wees soos ’n ernstiger wond wat dalk sal vereis dat ’n mens dokter toe moet gaan om steke te kry en om die wond te verbind. As ons aanhou om daaraan te peuter, sal ons onsself net seermaak. Ongelukkig kan iemand wat dalk emosioneel diep seergemaak is, dalk iets soortgelyks doen. Hy dink dalk die hele tyd aan hoe ontsteld hy is en hoe baie die ander persoon hom seergemaak het. Iemand wat ’n wrok koester, maak homself net seer. Dit is baie beter om die raad in Levitikus 19:18 toe te pas!

16. Volgens Levitikus 19:33, 34, hoe wou Jehovah hê moes die Israeliete die uitlanders behandel, en wat kan ons daaruit leer?

16 Toe Jehovah vir die Israeliete gesê het om hulle medemens lief te hê, het hy nie net van persone van dieselfde ras of nasionaliteit gepraat nie. Hy het ook vir hulle gesê om die uitlanders wat onder hulle bly, lief te hê. Kyk na sy duidelike opdrag in Levitikus 19:33, 34. (Lees.) Die uitlander moes soos “’n mede-Israeliet” behandel word, en die Israeliete moes “hom liefhê” soos hulleself. Byvoorbeeld, die Wet het gesê dat die Israeliete die uitlanders en die armes moes toelaat om van die oesoorblyfsels bymekaar te maak (Lev. 19:9, 10). Die beginsel om uitlanders lief te hê, geld vandag ook vir Christene (Luk. 10:30-37). Hoe so? Daar is miljoene immigrante, en moontlik bly party van hulle naby jou. Dit is belangrik dat ons hierdie manne, vroue en kinders met waardigheid en respek behandel.

’N BELANGRIKE WERK WAT NIE IN LEVITIKUS HOOFSTUK 19 GENOEM WORD NIE

17-18. (a) Wat moedig Levitikus 19:2 en 1 Petrus 1:15 ons aan om te doen? (b) Watter belangrike werk het die apostel Petrus ons aangemoedig om te doen?

17 Levitikus 19:2 en 1 Petrus 1:15 moedig God se volk aan om heilig te wees. Baie ander verse in Levitikus hoofstuk 19 kan ons help om te sien wat ons moet doen om Jehovah se goedkeuring te kry. Ons het ’n paar verse bespreek wat net ’n paar dinge identifiseer wat ons moet doen en wat ons nie moet doen nie. * Die Christelike Griekse Geskrifte wys dat Jehovah nog steeds wil hê dat ons hierdie beginsels in ons lewe moet toepas. Maar die apostel Petrus het iets bygevoeg.

18 Ons bly dalk besig met verskillende geestelike aktiwiteite, en ons doen dalk goeie dinge vir ander. Maar Petrus het Christene veral aangemoedig om een belangrike ding te doen. Voordat Petrus ons aangemoedig het om heilig te word in al ons gedrag, het hy gesê: “Berei dus julle verstande voor vir bedrywigheid” (1 Pet. 1:13, 15). Wat het hierdie bedrywigheid ingesluit? Petrus het gesê dat Christus se gesalfde broers “‘die wonderlike eienskappe oral bekend sou maak’ van die Een wat [hulle] geroep het” (1 Pet. 2:9). En vandag het alle Christene die voorreg om hierdie belangrike werk te doen, wat meer mense help as enige ander werk. Dit is ’n spesiale voorreg vir God se heilige volk om gereeld en ywerig deel te neem aan die predikingswerk! (Mark. 13:10). Wanneer ons ons bes doen om die beginsels in Levitikus hoofstuk 19 toe te pas, wys ons dat ons ons God en ons naaste liefhet. En ons wys dat ons ‘heilig wil word’ in al ons gedrag.

LIED 111 Ons redes tot vreugde

^ par. 5 Christene is nie onder die Wet van Moses nie, maar die Wet noem baie dinge wat ons moet doen of nie moet doen nie. As ons meer hieroor leer, kan dit ons help om liefde aan ander te bewys en om God gelukkig te maak. Hierdie artikel sal ons help om te sien hoe ons die lesse in Levitikus hoofstuk 19 in ons lewe kan toepas.

^ par. 17 In hierdie en die vorige artikel het ons nie die verse bespreek wat handel oor partydigheid, laster, die inneem van bloed sowel as die beoefening van spiritisme, waarsêery en seksuele onsedelikheid nie. – Lev. 19:15, 16, 26-29, 31. – Sien “Vrae van lesers” in hierdie nommer.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Getuie help ’n dowe broer om met ’n dokter te kommunikeer.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat ’n verfbesigheid het, betaal sy werknemer.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster kan maklik van ’n klein snytjie vergeet. Maar sal sy dieselfde doen met ’n ernstiger wond?