Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

Leer by Jesus se jonger broer

Leer by Jesus se jonger broer

“Jakobus, ’n slaaf van God en van die Here Jesus Christus.” – JAK. 1:1.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe sal jy Jakobus se familie beskryf?

 JAKOBUS was Jesus se broer, en hulle het in ’n familie grootgeword wat geestelik sterk was. * Jakobus se ouers, Josef en Maria, was baie lief vir Jehovah, en hulle het hulle bes gedoen om hom te dien. En Jakobus het nog ’n seëning ontvang – sy ouer broer het die beloofde Messias geword. Wat ’n groot voorreg om deel te kon wees van daardie familie!

Terwyl Jakobus saam met Jesus grootgeword het, het hy hom baie goed leer ken (Sien paragraaf 2)

2. Watter redes het Jakobus gehad om op te kyk na sy ouer broer?

2 Jakobus het baie redes gehad om op te kyk na sy ouer broer (Matt. 13:55). Byvoorbeeld, toe Jesus 12 jaar oud was, het hy die Skrif so goed geken dat hy die geleerde ouermanne in Jerusalem verstom het (Luk. 2:46, 47). Jakobus het ook dalk saam met Jesus as ’n timmerman gewerk. As dit die geval was, sou hy sy broer baie goed leer ken het. Nathan H. Knorr het baie keer gesê: “Jy leer baie oor ’n persoon wanneer jy saam met hom werk.” * Jakobus kon ook nie anders as om te sien hoe Jesus “al hoe wyser en groter” word en dat hy “geliefd by God en mense” was nie (Luk. 2:52). So, ’n mens sou dink dat Jakobus een van Jesus se eerste dissipels sou geword het. Maar dit is nie wat gebeur het nie.

3. Hoe het Jakobus gereageer toe Jesus met sy bediening begin het?

3 Jakobus het nie gedurende Jesus se aardse bediening een van sy dissipels geword nie (Joh. 7:3-5). Om die waarheid te sê, Jakobus was moontlik een van die familielede wat gedink het dat Jesus “van sy kop af geraak” het (Mark. 3:21). En die Bybel sê nie dat Jakobus saam met sy ma, Maria, was toe Jesus aan die folterpaal gesterf het nie. – Joh. 19:25-27.

4. Watter lesse gaan ons bespreek?

4 Later het Jakobus geloof in Jesus gestel en ’n gerespekteerde ouerman in die Christengemeente geword. In hierdie artikel sal ons twee lesse bespreek wat ons by Jakobus kan leer: (1) Hoekom ons nederig moet bly en (2) hoe ons goeie onderrigters kan word.

BLY NEDERIG SOOS JAKOBUS

Toe Jesus aan Jakobus verskyn het, het Jakobus hom nederig as die Messias aanvaar en ’n getroue dissipel van Christus geword (Sien paragraaf 5-7)

5. Hoe het Jakobus gereageer nadat Jesus opgewek is en aan hom verskyn het?

5 Wanneer het Jakobus ’n lojale volgeling van Jesus geword? Wel, nadat Jesus uit die dood opgewek is, “het hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels” (1 Kor. 15:7). Dit was ’n keerpunt in Jakobus se lewe. Hy was saam met die apostels in ’n bokamer in Jerusalem toe hulle gewag het om die heilige gees te ontvang (Hand. 1:13, 14). Later het Jakobus die voorreg gehad om as ’n lid van die bestuursliggaam in die eerste eeu te dien (Hand. 15:6, 13-22; Gal. 2:9). En die een of ander tyd voor 62 HJ is hy geïnspireer om ’n brief aan gesalfde Christene te skryf. Vandag help daardie brief ons almal, of ons nou die hemelse of die aardse hoop het (Jak. 1:1). Volgens die eerste-eeuse geskiedskrywer Josefus het die Joodse hoëpriester Ananias, die seun van Annas, Jakobus laat doodmaak. Jakobus het getrou aan Jehovah gebly totdat hy sy aardse loopbaan voltooi het.

6. Hoe was Jakobus anders as die godsdiensleiers van sy dag?

6 Jakobus was nederig. Hoekom kan ons dit sê? Kyk na hoe anders Jakobus was as die godsdiensleiers van sy dag. Toe Jakobus duidelike bewyse gesien het dat Jesus die Seun van God is, het hy dit nederig aanvaar. Maar die hoofpriesters in Jerusalem het nie. Byvoorbeeld, hulle kon nie stry teen die feit dat Jesus Lasarus uit die dood opgewek het nie. Maar in plaas daarvan om Jesus te aanvaar as Jehovah se verteenwoordiger, het hulle probeer om Jesus sowel as Lasarus dood te maak (Joh. 11:53; 12:9-11). En toe Jesus later uit die dood opgewek is, het hulle dit vir mense probeer wegsteek (Matt. 28:11-15). Omdat daardie godsdiensleiers trots was, het hulle nie die Messias aanvaar nie.

7. Hoekom moet ons nie trots word nie?

7 Die les: Moenie trots word nie en wees bereid om deur Jehovah geleer te word. Net soos ’n siekte ’n mens se slagare kan laat verhard en kan veroorsaak dat die hart nie reg werk nie, kan trots ons figuurlike hart laat verhard en veroorsaak dat ons nie gehoorsaam is aan Jehovah se leiding nie. Die Fariseërs het toegelaat dat hulle hart so hard word dat hulle nie die duidelike bewyse aanvaar het dat Jesus God se gees gehad het en dat hy Sy Seun was nie (Joh. 12:37-40). Hulle trots was baie gevaarlik, want dit het gekeer dat hulle die ewige lewe kry (Matt. 23:13, 33). Dit is baie belangrik dat ons aanhou om toe te laat dat God se Woord en gees ons persoonlikheid vorm en ons denke en besluite beïnvloed! (Jak. 3:17). Omdat Jakobus nederig was, het hy toegelaat dat Jehovah hom leer. En as gevolg van sy nederigheid het hy ’n goeie onderrigter geword.

WEES ’N GOEIE ONDERRIGTER SOOS JAKOBUS

8. Wat sal ons help om goeie onderrigters te word?

8 Jakobus was nie hooggeleerd nie. Die godsdiensleiers van sy dag het seker dieselfde beskouing van hom gehad as wat hulle van Petrus en Johannes gehad het. Hulle het hulle as “ongeleerde en gewone mense” beskou (Hand. 4:13). Maar Jakobus het ’n baie goeie onderrigter geword. Die Bybelboek wat sy naam dra, gee ons baie duidelike bewyse hiervan. Soos Jakobus, het ons miskien nie baie skoolopleiding gehad nie. Maar met die hulp van Jehovah se heilige gees en met die praktiese opleiding van sy organisasie kan ons ook leer om goeie onderrigters te wees. Kom ons bespreek die voorbeeld wat Jakobus as ’n onderrigter gestel het en kyk na die lesse wat ons kan leer.

9. Hoe sal jy Jakobus se onderrigting beskryf?

9 Jakobus het nie groot woorde gebruik nie en hy het dinge op ’n maklike manier verduidelik. En daarom het sy gehoor geweet wat hulle moes doen en hoe hulle dit moes doen. Dink byvoorbeeld aan hoe eenvoudig hy aan Christene verduidelik het dat hulle ongeregtigheid moet verduur sonder om bitter te word. Hy het geskryf: “Ons noem dié wat volhard het, gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie liefdevol en genadig is” (Jak. 5:11). Let op dat Jakobus God se Woord gebruik het om ander te onderrig. Hy het die Skrif gebruik om sy gehoor te help om te sien dat Jehovah altyd dié beloon wat, soos Job, lojaal aan hom is. Jakobus het vir hulle daardie les geleer deur eenvoudige woorde en logika te gebruik. Op hierdie manier het hy die aandag, nie op homself gevestig nie, maar op Jehovah.

10. Wat is een manier hoe ons Jakobus kan navolg wanneer ons ander onderrig?

10 Die les: Hou jou boodskap eenvoudig en gebruik God se Woord. Ons moenie ander probeer beïndruk met hoeveel ons weet nie, maar ons moet hulle probeer beïndruk met hoeveel Jehovah weet en hoeveel hy vir hulle omgee (Rom. 11:33). Ons kan dit doen deur alles wat ons vir ander leer, op die Bybel te baseer. Byvoorbeeld, ons moenie vir ons Bybelstudente sê wat ons sou doen as ons in hulle situasie was nie. Ons moet hulle eerder help om oor Bybelvoorbeelde na te dink, en ons moet hulle help om te sien hoe Jehovah dink en voel. Dan sal hulle wil toepas wat hulle leer omdat hulle Jehovah gelukkig wil maak, en nie omdat hulle ons gelukkig wil maak nie.

11. Waarmee het party Christene in Jakobus se dag gesukkel, en watter raad het hy vir hulle gegee? (Jakobus 5:13-15).

11 Jakobus was realisties. In Jakobus se brief sien ons duidelik dat hy geweet het waarmee sy broers en susters gesukkel het, en hy het vir hulle duidelike raad gegee oor wat hulle moes doen. Byvoorbeeld, party Christene het gesukkel om raad onmiddellik toe te pas (Jak. 1:22). Ander het ryk broers en susters voorgetrek (Jak. 2:1-3). En ander het gesukkel om hulle tong te beheer (Jak. 3:8-10). Daardie Christene het ernstige probleme gehad, maar Jakobus het nie met hulle tou opgegooi nie. Op ’n liefdevolle manier het hy vir hulle reguit raad gegee, en hy het almal wat geestelik gesukkel het, aangemoedig om na die ouermanne toe te gaan om hulp te kry. – Lees Jakobus 5:13-15.

12. Hoe kan ons positief bly wanneer ons ons Bybelstudente help?

12 Die les: Wees realisties, maar bly positief. Baie mense saam met wie ons die Bybel studeer, sukkel dalk om die raad daarin toe te pas (Jak. 4:1-4). Dit sal dalk vir hulle tyd neem om van slegte gewoontes ontslae te raak en om Christelike eienskappe aan te leer. Soos Jakobus, moet ons moedig wees en vir ons studente sê waarop hulle moet verbeter. Ons moet ook positief wees en vertrou dat Jehovah nederige mense na hom toe sal trek en dat hy vir hulle die krag sal gee om die nodige veranderinge in hulle lewe te maak. – Jak. 4:10.

13. Volgens Jakobus 3:2 en die voetnoot, wat het Jakobus besef?

13 Jakobus het die regte beskouing van homself gehad. Jakobus het nie gedink dat sy agtergrond of sy voorregte hom spesiaal gemaak het nie of dat dit hom beter as sy broers en susters gemaak het nie. Hy het na ander Christene verwys as “my geliefde broers” (Jak. 1:16, 19; 2:5). Hy wou nie vir ander die indruk gee dat hy volmaak is nie. Toe hy gesê het: “Ons almal maak dikwels foute”, het hy homself ingesluit. – Lees Jakobus 3:2 en die voetnoot.

14. Hoekom moet ons bereid wees om ons foute te erken?

14 Die les: Onthou dat ons almal sondaars is. Ons moenie dink dat ons beter as ons Bybelstudente is nie. Hoekom nie? As ons ons student die indruk gee dat ons nooit foute maak nie, sal hy miskien dink dat hy nooit sal kan doen wat God van hom verwag nie. Maar wanneer ons erken dat dit nie altyd vir ons maklik was om te doen wat die Bybel sê nie en wanneer ons verduidelik hoe Jehovah ons gehelp het om ons uitdagings te oorkom, sal dit ons student help om te sien dat hy Jehovah ook kan dien.

Jakobus se illustrasies was eenvoudig en duidelik (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoe sou jy Jakobus se illustrasies beskryf? (Jakobus 3:2-6, 10-12)

15 Jakobus het illustrasies gebruik wat die hart raak. Alhoewel die heilige gees hom gehelp het, het hy natuurlik baie geleer oor hoe om ’n goeie onderrigter te wees deur die illustrasies te studeer wat sy ouer broer, Jesus, gebruik het. Die illustrasies wat Jakobus in sy brief gebruik het, is eenvoudig, en die lesse daarin is duidelik. – Lees Jakobus 3:2-6, 10-12.

16. Hoekom moet ons goeie illustrasies gebruik?

16 Die les: Gebruik goeie illustrasies. Wanneer jy gepaste illustrasies gebruik, word die luisteraars se ore in oë verander. Jy skilder prentjies in mense se verstande. Hierdie prentjies help jou gehoor om belangrike Bybelwaarhede te onthou. Jesus was ’n meester wanneer dit kom by die gebruik van goeie illustrasies, en sy broer Jakobus het sy voorbeeld nagevolg. Kom ons kyk na een van Jakobus se illustrasies en na hoekom dit so goed werk.

17. Hoekom is die illustrasie in Jakobus 1:22-25 ’n goeie illustrasie?

17 Lees Jakobus 1:22-25. Hoekom was Jakobus se illustrasie van die spieël ’n goeie illustrasie? Die punt wat Jakobus wou oordra, was baie duidelik: As jy wil hê dat God se Woord jou moet help, moet jy dit nie net lees nie; jy moet doen wat dit sê. Jakobus het ’n illustrasie gekies wat sy gehoor maklik kon verstaan – die voorbeeld van ’n man wat in ’n spieël kyk. Wat was die les? As iemand in ’n spieël kyk en sien dat iets fout is, sal dit nie baie slim wees as hy niks doen om dit reg te maak nie. Net so, as ’n mens God se Woord lees en sien dat hy iets omtrent sy persoonlikheid moet verander, sal dit nie baie slim wees as hy niks daaromtrent doen nie.

18. Watter drie dinge moet ons doen wanneer ons ’n illustrasie kies?

18 Wanneer ons ’n illustrasie kies, kan ons Jakobus se voorbeeld navolg deur die volgende drie dinge te doen: (1) Maak seker die illustrasie pas by die punt wat jy bespreek. (2) Gebruik ’n illustrasie wat jou gehoor maklik sal verstaan. (3) Maak seker dat die punt van die illustrasie duidelik is. As jy sukkel om aan gepaste illustrasies te dink, kan jy onder die onderhofie “Illustrations” in die Watch Tower Publications Index gaan soek. Daar sal jy baie illustrasies vind wat jy kan gebruik. Onthou, net soos ’n mikrofoon klanke harder maak, maak illustrasies die punt wat ons wil oordra, duideliker. Daarom moet jy net illustrasies gebruik wat die hoofgedagtes beklemtoon. En hou in gedagte, die belangrikste rede hoekom ons as onderrigters wil verbeter, is nie om die aandag op onsself te vestig nie, maar om soveel mense as moontlik te help om deel te word van Jehovah se gelukkige familie.

19. Hoe kan ons wys dat ons ons broers en susters waardeer?

19 Ons het nie die voorreg gehad om saam met ’n volmaakte ouer broer groot te word nie, maar ons het die voorreg om Jehovah te dien saam met al ons broers en susters. Ons kan wys dat ons hulle liefhet deur tyd saam met hulle te spandeer, deur by hulle te leer en deur lojaal saam met hulle aan die predikings- en onderrigtingswerk deel te neem. Wanneer ons hard probeer om Jakobus se onderrigtingsmetodes, gesindheid en gedrag na te volg, verheerlik ons Jehovah en help ons opregte mense om nader aan hulle liefdevolle hemelse Vader te kom.

LIED 114 Wees geduldig

^ Jakobus het in dieselfde huis as Jesus grootgeword. Jakobus het die volmaakte Seun van God beter geken as die meeste mense van daardie tyd. In hierdie artikel gaan ons kyk na wat ons kan leer by Jesus se jonger broer wat ’n pilaar in die Christengemeente in die eerste eeu geword het. Ons gaan ook kyk na wat ons kan leer uit die dinge wat hy geskryf het.

^ In hierdie artikel sal ons na Jakobus verwys as Jesus se broer. Hy was eintlik Jesus se halfbroer en blykbaar die een wat die Bybelboek geskryf het wat sy naam dra.

^ Nathan H. Knorr was ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het sy aardse loopbaan in 1977 voltooi.

^ BESKRYWING VAN PRENT: Jakobus het die voorbeeld van ’n vuurtjie gebruik om te wys hoe gevaarlik dit kan wees as ons ons tong misbruik. Dit was ’n goeie illustrasie omdat dit maklik verstaanbaar was.