Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 6

Vertrou jy Jehovah se manier van dinge doen?

Vertrou jy Jehovah se manier van dinge doen?

“Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, wat nooit onregverdig is nie, regverdig en reg is hy.” – DEUT. 32:4.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoekom sukkel baie mense om mense met gesag te vertrou? (b) Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

VANDAG sukkel baie mense om mense met gesag te vertrou. Hulle het gesien dat regerings en wette baie keer ryk en magtige mense bevoordeel, maar dat arm mense baie keer verwaarloos word. Dit is net soos die Bybel sê: “Die mens [heers] oor die mens . . . tot sy nadeel” (Pred. 8:9). En die gedrag van party godsdiensleiers is ook baie sleg. Dit het veroorsaak dat party mense vertroue in God verloor het. So wanneer ons die Bybel met iemand studeer, moet ons hom help om Jehovah te vertrou, sowel as die manne wat Hy aangestel het om die leiding in die organisasie te neem.

2 Maar dit is natuurlik nie net Bybelstudente wat moet leer om Jehovah en sy organisasie te vertrou nie. Selfs dié van ons wat al jare lank in die waarheid is, moet nooit vergeet dat Jehovah se manier van dinge doen, altyd die beste is nie. Soms sal ons vertroue in Jehovah en sy organisasie miskien getoets word. In hierdie artikel gaan ons na drie situasies kyk wat ’n toets van ons geloof kan wees: (1) Wanneer ons sekere Bybelverslae lees, (2) wanneer ons leiding van Jehovah se organisasie ontvang en (3) wanneer ons in die toekoms uitdagings ondervind.

VERTROU JEHOVAH – WANNEER JY DIE BYBEL LEES

3. Hoe kan ons vertroue in Jehovah getoets word wanneer ons sekere Bybelverslae lees?

 3 Wanneer ons God se Woord lees, wonder ons dalk hoekom Jehovah mense op ’n sekere manier behandel het en hoekom hy sekere besluite geneem het. Byvoorbeeld, in Numeri lees ons dat Jehovah gesê het dat ’n Israeliet doodgemaak moes word omdat hy op die Sabbat hout opgetel het. In tweede Samuel vind ons uit dat Jehovah honderde jare later vir koning Dawid vergewe het toe hy egbreuk en moord gepleeg het (Num. 15:32, 35; 2 Sam. 12:9, 13). Ons wonder dalk: ‘Hoekom het Jehovah Dawid se ernstige sondes vergewe, maar ’n ander man laat doodmaak vir iets wat nie so ernstig lyk nie?’ Om hierdie vraag te beantwoord, kom ons kyk na drie dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons die Bybel lees.

4. Hoe versterk Genesis 18:20, 21 en Deuteronomium 10:17 ons vertroue in Jehovah se besluite?

4Die Bybel gee nie altyd vir ons al die details nie. Byvoorbeeld, ons weet dat Dawid regtig berouvol was (Ps. 51:2-4). Maar watter soort persoon was die man wat die Sabbatswet gebreek het? Was hy spyt oor wat hy gedoen het? Was hy in die verlede ongehoorsaam aan Jehovah se wette? Het hy voorheen al waarskuwings geïgnoreer? Die Bybel sê nie. Maar ons kan seker wees dat Jehovah “nooit onregverdig is nie” (Deut. 32:4). Wanneer Jehovah besluite neem, het hy al die feite. Hy word nie beïnvloed deur wat ander sê, deur vooroordeel of deur enige iets anders wat veroorsaak dat mense verkeerde besluite neem nie. (Lees Genesis 18:20, 21; Deuteronomium 10:17.) Hoe meer ons oor Jehovah en sy standaarde leer, hoe meer vertroue sal ons in sy besluite hê. Al verstaan ons nie alles omtrent ’n sekere Bybelverslag nie, weet ons oorgenoeg oor ons God om seker te wees dat hy “regverdig in al sy weë” is. – Ps. 145:17.

5. Hoe beïnvloed onvolmaaktheid ons beskouing van wat reg en verkeerd is? (Sien ook die venster “ Onvolmaaktheid verdraai ons beskouing van wat reg en verkeerd is”.)

5Onvolmaaktheid verdraai ons beskouing van wat reg en verkeerd is. God het ons na sy beeld gemaak, en daarom wil ons graag hê dat mense regverdig behandel moet word (Gen. 1:26). Maar omdat ons onvolmaak is, kan ons die verkeerde beskouing hê, al dink ons dat ons al die feite het. Dink byvoorbeeld aan hoe kwaad Jona was toe Jehovah besluit het om genadig te wees teenoor die mense van Nineve (Jona 3:10–4:1). Maar dink aan wat toe later gebeur het. Meer as 120 000 berouvolle Nineviete was gered! Op die einde van die dag was dit Jona wat reggehelp moes word – nie Jehovah nie.

6. Hoekom hoef Jehovah nie aan ons te verduidelik hoekom hy ’n sekere besluit neem nie?

6Jehovah hoef nie sy besluite aan mense te verduidelik nie. Jehovah het wel in die verlede toegelaat dat sy knegte sê hoe hulle voel oor sekere besluite wat hy geneem het (Gen. 18:25; Jona 4:2, 3). En soms het hy verduidelik hoekom hy die besluit geneem het (Jona 4:10, 11). Maar Jehovah hoef nie sy besluite aan ons te verduidelik nie. As ons Skepper het hy nie ons toestemming nodig voordat of nadat hy iets doen nie. – Jes. 40:13, 14; 55:9.

VERTROU JEHOVAH – WANNEER JY LEIDING VAN SY ORGANISASIE ONTVANG

7. Wat kan dalk vir ons moeilik wees, en hoekom?

7 Ons het geen twyfel dat Jehovah altyd doen wat reg is nie. Maar dit kan soms vir ons moeilik wees om die manne te vertrou wat Jehovah aangestel het om die leiding te neem. Ons wonder dalk of dié wat ’n mate van gesag in Jehovah se organisasie het, regtig Jehovah se leiding volg. Miskien het party in Bybeltye ook daaroor gewonder. Dink weer aan die voorbeelde in  paragraaf drie. ’n Familielid van die man wat die Sabbatswet gebreek het, kon dalk gewonder het of Jehovah regtig vir Moses gesê het dat die man doodgemaak moes word. En nadat Uria se vrou egbreuk met Dawid gepleeg het, kon een van Uria se vriende dalk gedink het dat Dawid sy posisie as koning gebruik het om die straf vry te spring wat hy verdien het. Ons almal moet in gedagte hou dat Jehovah die manne vertrou wat hy aangestel het om die leiding te neem. So as ons nie hierdie manne vertrou nie, kan ons nie sê dat ons Jehovah vertrou nie.

8. Watter voorbeeld vind ons in Handelinge 16:4, 5, en hoe volg die Christengemeente daardie voorbeeld vandag?

8 Vandag lei Jehovah die aardse deel van sy organisasie deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45). Net soos die bestuursliggaam in die eerste eeu, hou hierdie slaaf toesig oor God se volk regoor die wêreld en gee hulle leiding aan gemeentelike ouermanne. (Lees Handelinge 16:4, 5.) Die ouermanne maak dan seker dat die riglyne van die getroue slaaf in die gemeentes toegepas word. Ons wys dat ons Jehovah se manier van dinge doen, vertrou deur die leiding te volg wat ons van die organisasie en die ouermanne ontvang.

9. Wanneer sal dit miskien moeilik wees om die ouermanne se besluite te ondersteun, en hoekom?

9 Soms sal dit dalk moeilik wees om die ouermanne se besluite te ondersteun. Byvoorbeeld, in onlangse jare was daar baie veranderinge in baie gemeentes en kringe. In party gevalle het die ouermanne verkondigers gevra om by ’n ander gemeente aan te sluit om beter gebruik te maak van die sitplekke wat in Koninkryksale beskikbaar is. As ons gevra word om by ’n nuwe gemeente aan te sluit, sal ons dit miskien moeilik vind om vriende en familie te verlaat. Sê Jehovah vir die ouermanne waar elke verkondiger moet gaan? Nee. En dit kan dit dalk moeilik maak om die ouermanne se besluit te ondersteun. Maar Jehovah vertrou die ouermanne om sulke besluite te neem, en ons moet hulle ook vertrou. *

10. Volgens Hebreërs 13:17, hoekom moet ons ons samewerking aan die ouermanne gee?

10 Hoekom moet ons ons samewerking aan die ouermanne gee en hulle besluite ondersteun, al hou ons nie veel van die besluit wat hulle geneem het nie? Want wanneer ons dit doen, sal ons die eenheid van God se volk beskerm (Ef. 4:2, 3). Wanneer almal in die gemeente die besluite van die liggaam van ouermanne ondersteun, sal die gemeente floreer. (Lees Hebreërs 13:17.) En nog belangriker, wanneer ons ons samewerking gee aan die manne wat Jehovah vertrou om vir ons te sorg, wys ons dat ons hom vertrou. – Hand. 20:28.

11. Hoe kan ons ons vertroue versterk in die leiding wat die ouermanne voorsien?

11 Ons kan ons vertroue in die ouermanne se leiding versterk deur in gedagte te hou dat hulle vir heilige gees bid voordat hulle sake bespreek wat die gemeente affekteer. Hulle bespreek ook gepaste Bybelbeginsels sowel as riglyne wat deur Jehovah se organisasie voorsien word. Hulle wil graag Jehovah se hart bly maak en op die beste manier moontlik vir sy volk sorg. Hierdie getroue manne weet dat God hulle verantwoordelik hou vir die manier waarop hulle hulle verantwoordelikhede nakom (1 Pet. 5:2, 3). Dink hieraan: In ’n wêreld wat verdeeld is as gevolg van ras, godsdiens en die politiek, is Jehovah se volk verenig in die aanbidding van die enigste ware God. Dit is net moontlik omdat Jehovah sy organisasie seën!

12. Wat moet ouermanne in ag neem wanneer hulle besluit of iemand berouvol is of nie?

12 Jehovah het vir die ouermanne die ernstige verantwoordelikheid gegee om die gemeente rein te hou. As ’n Christen ’n ernstige sonde pleeg, verwag Jehovah dat die ouermanne moet bepaal of daardie persoon in die gemeente kan bly of nie. Hulle moet byvoorbeeld bepaal of die persoon regtig jammer is oor wat hy gedoen het. Hy sê dalk dat hy jammer is, maar haat hy regtig wat hy gedoen het? Is hy vasbeslote om dit nie weer te doen nie? Was slegte assosiasie die oorsaak van sy sonde? As dit die geval is, is hy bereid om op te hou om met daardie vriende te assosieer? Die ouermanne bid tot Jehovah, hulle kyk na die feite en na wat die Bybel sê, en hulle probeer uitvind hoe die persoon voel oor wat hy gedoen het. Dan besluit hulle of hy in die gemeente kan bly of nie. In party gevalle sal hy uitgesit moet word. – 1 Kor. 5:11-13.

13. Waaroor sal ons miskien bekommerd wees as ’n vriend of ’n familielid uitgesit word?

13 Hoe kan ons vertroue in die ouermanne getoets word? As die persoon wat uitgesit is, nie ’n goeie vriend of ’n familielid is nie, sal dit dalk vir ons maklik wees om die ouermanne se besluit te aanvaar. Maar sê nou die persoon wat uitgesit is, is een van ons goeie vriende? Ons sal miskien wonder of die ouermanne al die feite in ag geneem het en of hulle regtig die besluit geneem het wat Jehovah sou geneem het. Wat kan ons help om die besluit te aanvaar?

14. Wat sal ons help om die ouermanne se besluit te aanvaar as iemand wat na aan ons is, uitgesit word?

14 Ons moet onthou dat Jehovah die uitsettingsreëling ingestel het en dat daardie reëling die gemeente beskerm en die sondaar kan help. As ’n onberouvolle sondaar toegelaat word om in die gemeente te bly, kan hy ’n slegte invloed op ander hê (Gal. 5:9). En hy besef dalk nie hoe ernstig sy sonde is nie, of dalk voel hy nie dat dit nodig is om sy denke en dade te verander om Jehovah se goedkeuring weer te kry nie (Pred. 8:11). Ons kan seker wees dat die ouermanne hulle verantwoordelikheid baie ernstig opneem wanneer hulle besluit of iemand uitgesit moet word of nie. Hulle besef dat hulle, net soos die regters in eertydse Israel, ‘vir Jehovah as regters optree, nie vir mense nie’. – 2 Kron. 19:6, 7.

BOU JOU VERTROUE IN JEHOVAH NOU OP

Wat sal ons help om die leiding te vertrou en te gehoorsaam wat ons gedurende die groot verdrukking ontvang? (Sien paragraaf 15)

15. Hoekom moet ons Jehovah se leiding nou meer as ooit tevore vertrou?

15 Omdat die einde van hierdie wêreld so naby is, moet ons Jehovah se manier van dinge doen, nou meer as ooit tevore vertrou. Hoekom? Gedurende die groot verdrukking sal ons miskien instruksies ontvang wat vreemd, onprakties of onlogies klink. Jehovah sal natuurlik nie persoonlik met ons praat nie. Hy sal heel moontlik vir ons instruksies gee deur middel van die manne wat hy aangestel het om die leiding te neem. Dit sal beslis nie die tyd wees om te twyfel en om te wonder of die leiding regtig van Jehovah af kom nie. Sal jou vertroue sterk genoeg wees wanneer daardie kritieke tyd aanbreek? Wel, hoe voel jy nou oor die instruksies wat jy van God se organisasie af kry? As jy die leiding vertrou wat ons vandag ontvang en as jy gehoorsaam is daaraan, dan sal jy heel moontlik dieselfde doen in die groot verdrukking. – Luk. 16:10.

16. Hoe kan ons vertroue in Jehovah se oordele in die nabye toekoms getoets word?

16 Ons moet ook mooi dink aan hoe ons sal reageer wanneer Jehovah mense aan die einde van hierdie goddelose wêreld oordeel. Op die oomblik hoop ons dat baie mense wat Jehovah nie dien nie, insluitende ons ongelowige familielede, Jehovah sal begin dien. Maar wanneer Armageddon kom, sal Jehovah, deur middel van Jesus, die finale besluit neem oor hulle toekoms (Matt. 25:31-33; 2 Tess. 1:7-9). Ons sal nie kan besluit wie Jehovah se genade sal ontvang en wie dit nie sal ontvang nie (Matt. 25:34, 41, 46). Sal ons Jehovah se oordele vertrou, of sal ons ophou om hom te dien omdat ons nie met sy oordele saamstem nie? Dit is duidelik dat ons ons vertroue in Jehovah nou moet versterk sodat ons hom in die toekoms ten volle sal vertrou.

17. Hoe sal Jehovah se oordele ons in die toekoms bevoordeel?

17 Dink net hoe ons in die nuwe wêreld sal voel wanneer ons sien wat die resultate is van Jehovah se oordele. Valse godsdiens sal iets van die verlede wees, sowel as die geldgierige kommersiële stelsel en die politieke stelsel wat mense dwarsdeur die geskiedenis so onderdruk het en soveel pyn en swaarkry veroorsaak het. Niemand sal meer siek word, oud word of doodgaan nie. Satan en die demone sal vir ’n duisend jaar opgesluit word. Al die slegte dinge wat hulle veroorsaak het, sal nie meer bestaan nie (Op. 20:2, 3). Dink net hoe dankbaar ons dan sal wees dat ons Jehovah se manier van dinge doen, vertrou het!

18. Watter lesse kan ons in Numeri 11:4-6 en 21:5 uit die Israeliete se voorbeeld leer?

18 Sal ons in die nuwe wêreld miskien uitdagings ondervind wat ons vertroue in Jehovah se manier van dinge doen, sal toets? Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het kort nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry is. Party van hulle het gekla omdat hulle verlang het na die lekker kos wat hulle daar geniet het, en hulle het geen waardering gehad vir die manna wat Jehovah voorsien het nie. (Lees Numeri 11:4-6; 21:5.) Sal so iets miskien met ons ná die groot verdrukking gebeur? Ons weet nie hoeveel werk dit sal wees om die aarde skoon te maak en dit geleidelik in ’n paradys te verander nie. Heel moontlik sal daar baie werk wees om te doen en sal die lewe aan die begin nie maklik wees nie. Sal ons dit dan waag om oor Jehovah se voorsienings te kla? Ons kan van een ding seker wees: Hoe meer ons Jehovah se voorsienings nou waardeer, hoe groter is die kanse dat ons dit dan sal waardeer.

19. Hoe sal jy die hoofgedagtes in hierdie artikel opsom?

19 Jehovah se manier van dinge doen, is altyd reg. Ons moet daarvan oortuig wees. Ons moet ook vertroue hê in die manne wat Jehovah vertrou om sy instruksies aan ons oor te dra. Ons moet altyd onthou wat Jehovah deur middel van sy profeet Jesaja gesê het: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.” – Jes. 30:15.

LIED 98 Die Skrif — Deur God geïnspireer

^ par. 5 Hierdie artikel sal ons help om ons vertroue te versterk in Jehovah en in die manne wat hy aangestel het om die leiding in sy organisasie te neem. Ons sal ook sien hoe sterk vertroue in Jehovah en in die manne wat hy aangestel het, ons nou help en hoe dit ons sal voorberei vir uitdagings in die toekoms.

^ par. 9 Soms, as gevolg van sekere omstandighede, sal ’n persoon of ’n gesin nie na ’n ander gemeente toe kan trek nie. Sien die “Vraebus” in Ons Koninkryksbediening van November 2002.