Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 8

Maak jou raad ander se “hart bly”?

Maak jou raad ander se “hart bly”?

“Olie en reukwerk maak die hart bly, so ook die vriendskap van iemand wat jou opregte raad gee.” – SPR. 27:9.

LIED 102 ‘Staan die swakkes by’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat het een broer geleer oor wat ’n mens moet doen voordat jy raad gee?

JARE gelede het twee ouermanne ’n suster besoek wat ’n ruk lank vergaderinge gemis het. Een van die ouermanne het vir haar ’n paar verse gelees wat wys hoe belangrik dit is om vergaderinge by te woon. Hy het gedink dat hulle besoek die suster aangemoedig het, maar toe hy en die ander ouerman op pad uit was, het die suster gesê: “Julle het geen idee waardeur ek gaan nie.” Die broers het vir haar raad gegee sonder om vir haar te vra oor haar probleme en omstandighede. En daarom het sy nie gevoel asof hulle raad vir haar gehelp het nie.

2 Die ouerman wat vir die suster die verse gelees het, sê: “Op daardie stadium het ek gedink dat die suster disrespekvol was. Maar toe ek daaroor dink, het ek besef dat ek al die regte verse gelees het, maar nie die regte vrae gevra het nie, soos: ‘Hoe gaan dit met jou?’ ‘Hoe kan ek jou help?’” Die ouerman het toe ’n baie waardevolle les geleer. Vandag is hy ’n baie goeie herder met baie meegevoel.

3. Wie in die gemeente sal dalk raad moet gee?

 3 As herders het ouermanne die verantwoordelikheid om raad te gee wanneer dit nodig is. Maar soms sal ander in die gemeente raad moet gee. Byvoorbeeld, ’n broer of suster sal miskien Bybelgebaseerde raad vir ’n vriend gee (Ps. 141:5; Spr. 25:12). Of ’n ouer suster sal miskien vir jonger vrouens raad gee oor die sake wat in Titus 2:3-5 genoem word. En ouers moet natuurlik ook vir hulle kinders raad gee en hulle dissiplineer. So alhoewel hierdie artikel veral vir ouermanne geskryf is, sal dit ons almal help om te sien hoe ons raad kan gee wat prakties en motiverend is en wat ‘die hart sal bly maak’. – Spr. 27:9.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel sal ons vier vrae bespreek oor hoe om raad te gee: (1) Wat moet ons motivering wees wanneer ons raad gee? (2) Is die raad regtig nodig? (3) Wie moet die raad gee? (4) Hoe kan ons raad gee wat die hart raak?

WAT MOET ONS MOTIVERING WEES WANNEER ONS RAAD GEE?

5. Hoe kan liefde ’n ouerman help om raad te gee wat die hart raak? (1 Korintiërs 13:4, 7)

5 Ouermanne is lief vir hulle broers en susters. Soms sal hulle daardie liefde wys deur vir iemand te waarsku voordat hy of sy ’n fout maak (Gal. 6:1). Maar voordat ’n ouerman met die persoon praat, sal hy miskien nadink oor party van die dinge wat die apostel Paulus oor liefde geskryf het: “Liefde is geduldig en goedhartig. . . . Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” (Lees 1 Korintiërs 13:4, 7.) As ’n ouerman oor hierdie Bybelverse nadink, sal dit hom help om seker te maak dat liefde sy motivering is wanneer hy vir ’n broer raad gee. As die een wat die raad kry, kan voel dat die ouerman vir hom omgee, sal dit vir hom makliker wees om die raad te aanvaar. – Rom. 12:10.

6. Watter goeie voorbeeld het die apostel Paulus gestel?

6 Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld gestel as ’n ouerman. Byvoorbeeld, toe die broers in Tessalonika raad nodig gehad het, het Paulus nie gehuiwer om dit vir hulle te gee nie. Maar in sy briewe aan hulle het Paulus hulle eers geprys vir hulle getroue werk, hulle liefdevolle dade en hulle volharding. Hy het ook hulle omstandighede in ag geneem en erken dat hulle lewe nie maklik was nie. En hy het hulle geprys omdat hulle ten spyte van vervolging, volhard (1 Tess. 1:3; 2 Tess. 1:4). Hy het selfs vir hulle gesê dat hulle ’n goeie voorbeeld vir ander Christene is (1 Tess. 1:8, 9). Dink net hoe bly hulle moes gewees het toe hulle hoor hoe Paulus hulle prys! Daar is geen twyfel dat Paulus baie lief was vir sy broers nie. Dit is hoekom hy vir die broers in Tessalonika raad kon gee wat hulle harte geraak het toe hy sy twee briewe aan hulle geskryf het. – 1 Tess. 4:1, 3-5, 11; 2 Tess. 3:11, 12.

7. Hoekom sal iemand miskien negatief op raad reageer?

7 Wat kan gebeur as ons nie op die regte manier raad gee nie? ’n Ervare ouerman sê: “Party reageer negatief op raad, nie omdat daar iets fout is met die raad nie, maar omdat dit nie op ’n liefdevolle manier gegee word nie.” Wat leer ons hieruit? Dit is makliker om raad te aanvaar wanneer raad uit liefde gegee word, maar dit is moeiliker om raad te aanvaar as iemand dit gee omdat hy geïrriteerd is.

IS DIE RAAD REGTIG NODIG?

8. Wat moet ’n ouerman homself vra wanneer hy besluit of hy iemand raad moet gee of nie?

8 ’n Ouerman moenie haastig wees om raad te gee nie. Hy moet homself eers vra: ‘Is dit regtig nodig om iets te sê? Is ek seker dat die persoon iets gedoen het wat die Bybel sê verkeerd is? Of is dit net iets wat ek nie persoonlik sou doen nie?’ Ouermanne sal beslis eers mooi wil dink voordat hulle raad gee (Spr. 29:20). As ’n ouerman nie seker is of hy vir iemand raad moet gee nie, kan hy vir ’n ander ouerman vra of dit wat die persoon gedoen het, volgens die Bybel verkeerd is en of hy vir die persoon raad moet gee of nie. – 2 Tim. 3:16, 17.

9. Wat leer ons by Paulus oor hoe om vir iemand raad te gee oor sy kleredrag en voorkoms? (1 Timoteus 2:9, 10)

9 Dink aan die volgende voorbeeld. Sê nou ’n ouerman is bekommerd oor ’n broer of ’n suster se kleredrag of voorkoms. Die ouerman kan homself vra: ‘Is daar ’n skriftuurlike rede om iets te sê?’ Omdat die ouerman nie sy persoonlike opinie op ander wil afdwing nie, sal hy miskien vir ’n ander ouerman of ’n verkondiger met baie ondervinding vir sy of haar opinie vra. Hulle kan miskien Paulus se raad oor Christene se kleredrag en voorkoms saam bespreek. (Lees 1 Timoteus 2:9, 10.) Paulus het ’n paar algemene beginsels voorsien en gesê dat ’n Christen se klere gepas en beskeie moet wees. Maar Paulus het nie ’n lys moets en moenies gegee nie. Hy het erken dat Christene kan dra wat hulle wil, volgens hulle smaak, solank dit nie met Bybelbeginsels bots nie. So om te bepaal of raad nodig is, moet ouermanne eers vasstel of die persoon se keuses gepas en beskeie is.

10. Wat moet ons in gedagte hou wanneer dit kom by ander se persoonlike keuses?

10 Ons moet besef dat twee Christene verskillende keuses kan maak wat albei aanvaarbaar is. Ons moenie ons eie standaarde van wat reg en verkeerd is, op ander Christene afdwing nie. – Rom. 14:10.

WIE MOET DIE RAAD GEE?

11-12. As dit nodig is om raad te gee, watter vrae moet ’n ouerman homself vra en hoekom?

11 As dit duidelik is dat raad gegee moet word, is die volgende vraag: Wie moet dit gee? As daar vir ’n getroude suster of ’n kind raad gegee moet word, sal ’n ouerman eers met die gesinshoof gaan praat, want die gesinshoof sal die saak miskien self wil hanteer. * Of dalk sal die gesinshoof daar wil wees wanneer die ouerman die raad gee. En soos ons in  paragraaf drie gesien het, sal dit soms beter wees dat ’n ouer suster vir ’n jonger suster raad gee.

12 Daar is nog iets wat ’n ouerman in gedagte moet hou. Hy kan homself vra: ‘Is ek die beste persoon om die raad te gee, of sal dit beter wees as die raad van iemand anders af kom?’ Byvoorbeeld, iemand wat met ’n lae selfbeeld sukkel, sal miskien beter reageer op raad van ’n ouerman wat dieselfde uitdaging gehad het. ’n Ouerman wat dieselfde ondervinding gehad het, sal heel moontlik meer meegevoel hê en die persoon se hart beter kan bereik. Maar alle ouermanne het die verantwoordelikheid om hulle broers en susters aan te moedig en te motiveer om die nodige veranderinge te maak sodat hulle kan doen wat die Bybel sê. Wat die belangrikste is, is dat die raad gegee word.

HOE KAN ONS RAAD GEE WAT DIE HART RAAK?

Hoekom moet ouermanne ‘gou wees om te hoor’? (Sien paragraaf 13-14)

13-14. Hoekom is dit belangrik dat ’n ouerman moet luister?

13Wees bereid om te luister. Voordat ’n ouerman raad gee, moet hy homself vra: ‘Wat weet ek omtrent my broer se omstandighede? Wat gaan in sy lewe aan? Het hy miskien probleme waarvan ek nie weet nie? Wat het hy die meeste nodig op die oomblik?’

14 Die beginsel in Jakobus 1:19 is beslis van toepassing op almal wat raad gee. Jakobus het geskryf: “Elkeen moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om kwaad te word.” ’n Ouerman dink dalk dat hy al die feite het, maar het hy regtig al die feite? Spreuke 18:13 herinner ons: “Iemand wat op ’n saak antwoord voordat hy die feite hoor, is dwaas en kom in die skande.” Dit is beter om die feite by die persoon self te kry. Dit beteken dat die ouerman moet luister voordat hy praat. Onthou die les wat die ouerman geleer het wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is. Voordat hy die inligting wat hy voorberei het, met die suster bespreek het, moes hy vir haar vrae gevra het soos: “Hoe gaan dit met jou?” “Hoe kan ek jou help?” As ouermanne die tyd neem om die feite te kry, sal hulle hulle broers en susters heel moontlik beter kan aanmoedig en kan help.

15. Hoe kan ouermanne die beginsel in Spreuke 27:23 toepas?

15Leer ken die skape. Soos ons aan die begin gesien het, moet ons meer doen as om net ’n paar verse te lees en om een of twee voorstelle te gee as ons raad wil gee wat iemand se hart raak. Ons broers en susters moet kan voel dat ons vir hulle omgee, dat ons hulle verstaan en dat ons hulle wil help. (Lees Spreuke 27:23.) Ouermanne moet hulle bes doen om sterk vriendskappe met hulle broers en susters op te bou.

Wat sal dit vir ouermanne makliker maak om raad te gee? (Sien paragraaf 16)

16. Wat sal ouermanne help om raad te gee wat die hart raak?

16 Ouermanne wil beslis nie vir hulle broers die indruk gee dat hulle net met hulle kom praat wanneer daar ’n probleem is nie. Hulle gesels eerder gereeld met hulle broers en susters en wys dat hulle daar is vir hulle, veral wanneer hulle broers deur ’n moeilike tyd gaan. ’n Ervare ouerman het gesê: “As jy dit doen, sal jy ’n goeie verhouding met jou broers opbou. Dan sal dit vir jou baie makliker wees om vir hulle raad te gee wanneer dit nodig is.” En die een wat die raad kry, sal dit baie makliker vind om te aanvaar.

Hoekom moet ’n ouerman geduldig en liefdevol wees wanneer hy raad gee? (Sien paragraaf 17)

17. Wanneer moet ’n ouerman veral geduldig en liefdevol wees?

17Wees geduldig en liefdevol. ’n Ouerman sal veral geduldig en liefdevol moet wees wanneer iemand nie sy Bybelgebaseerde raad aanvaar nie. ’n Ouerman moet sy bes doen om nie geïrriteerd te raak as sy raad nie onmiddellik aanvaar of toegepas word nie. Let op wat een profesie oor Jesus sê: “Hy sal nie ’n beskadigde riet afbreek of ’n lamppit wat dof brand, uitdoof nie” (Matt. 12:20). Hoe kan ’n ouerman Jesus se voorbeeld volg? ’n Ouerman kan Jehovah vra om die persoon wat die raad nodig het, te help verstaan hoekom die raad nodig is en hoekom hy dit moet toepas. Die broer wat die raad gekry het, het miskien tyd nodig om na te dink oor wat gesê is. As die ouerman geduldig en liefdevol is, sal dit vir die een wat die raad kry, makliker wees om te fokus op wat gesê word, eerder as op hoe dit gesê word. En die raad moet natuurlik altyd op God se Woord gebaseer wees.

18. (a) Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons vir iemand raad moet gee? (b) Wat bespreek die ouers in die foto wat met die venster gepaardgaan?

18Leer uit jou foute. Solank as wat ons onvolmaak is, sal ons nie die voorstelle in hierdie artikel volmaak kan toepas nie (Jak. 3:2). Ons sal foute maak, maar wanneer dit gebeur, moet ons probeer om daaruit te leer. As ons broers en susters kan voel dat ons hulle liefhet, sal dit vir hulle makliker wees om ons te vergewe as ons iets sê of doen wat hulle seermaak. – Sien ook die venster “ Wat ouers in gedagte moet hou”.

WAT HET ONS GELEER?

19. Hoe kan ons ons broers en susters se hart bly maak?

19 Soos ons gesien het, is dit nie altyd maklik om raad te gee wat die hart raak nie. Ons en die mense vir wie ons raad gee, is almal onvolmaak. Hou die beginsels in gedagte wat ons in hierdie artikel bespreek het. Maak seker dat liefde jou motivering is wanneer jy raad gee. En maak seker dat die raad regtig nodig is en dat jy die regte persoon is om die raad te gee. Vra eers vrae en luister mooi voordat jy die raad gee sodat jy kan verstaan waardeur die persoon gaan. Probeer om te verstaan hoe hy dinge sien. Wees liefdevol en bou sterk vriendskappe op met jou broers en susters. Hou die doelwit in gedagte: Ons wil nie net goeie raad gee nie, maar raad ‘wat die hart bly maak’. – Spr. 27:9.

LIED 103 Herders — Gawes in mense

^ par. 5 Dit is nie altyd maklik om raad te gee nie. Hoe kan ons raad gee op ’n manier wat ander sal aanmoedig en sal help? Hierdie artikel sal veral ouermanne help om raad te gee wat die hart raak.

^ par. 11 Sien die artikel “Die hoofskapreëling in die gemeente” in Die Wagtoring van Februarie 2021.