Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 9

Volg Jesus na deur ander te dien

Volg Jesus na deur ander te dien

“Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” – HAND. 20:35.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter goeie gesindheid sien ons onder Jehovah se knegte?

DIE Bybel het lank gelede voorspel dat God se volk “hulle gewillig [sou] aanbied” in Jehovah se diens terwyl hulle sy Seun se leiding volg (Ps. 110:3). Ons sien beslis hoe daardie profesie vandag waar word. Elke jaar spandeer Jehovah se ywerige knegte honderde miljoene ure in die predikingswerk. En hulle word nie betaal vir hierdie werk nie. Hulle maak ook tyd om hulle broers en susters fisies, emosioneel en geestelik te ondersteun. Ouermanne en bedieningsknegte berei dele vir die vergaderinge voor en doen herdersbesoeke, en dit neem baie van hulle tyd. Hoekom doen Jehovah se knegte al hierdie dinge? Hulle doen dit uit liefde – liefde vir Jehovah en liefde vir ander mense. – Matt. 22:37-39.

2. Volgens Romeine 15:1-3, watter goeie voorbeeld het Jesus gestel?

2 Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel deur ander se belange bo sy eie te stel. Ons doen ons bes om sy voorbeeld te volg. (Lees Romeine 15:1-3.) Almal wat hom navolg, sal seëninge ontvang. Jesus het gesê: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” – Hand. 20:35.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel gaan ons kyk na ’n paar van die opofferings wat Jesus gemaak het en na hoe ons sy voorbeeld kan volg. Ons sal ook bespreek hoe ons ons begeerte om ander te dien, kan versterk.

VOLG JESUS SE VOORBEELD

Hoe het Jesus gereageer toe ’n groot groep mense na hom toe gekom het toe hy moeg was? (Sien paragraaf 4)

4. Hoe het Jesus ander se belange bo sy eie gestel?

4Jesus het van homself gegee selfs toe hy moeg was. Dink aan wat gebeur het nadat Jesus op ’n berg, moontlik naby Kapernaum, dwarsdeur die nag gebid het. Toe ’n groot groep mense na hom toe gekom het, het hy vir die arm en die siek mense onder hulle baie jammer gevoel. Al was hy heel moontlik baie moeg, het hy hulle nie net genees nie, maar ook een van die motiverendste toesprake in die geskiedenis gegee – die Bergpredikasie. – Luk. 6:12-20.

Hoe kan ons Jesus se selfopofferende voorbeeld volg? (Sien paragraaf 5)

5. Hoe volg gesinshoofde Jesus se selfopofferende voorbeeld wanneer hulle moeg is?

5Hoe gesinshoofde Jesus se voorbeeld volg. Dink aan die volgende voorbeeld: Aan die einde van ’n lang dag kom ’n gesinshoof uitgeput by die huis aan. Al wil hy hulle Gesinsaanbidding daardie aand kanselleer, smeek hy Jehovah om vir hom die krag te gee om die studie te hou. Jehovah beantwoord sy gebed, en hy hou die studie soos gewoonlik. Daardie aand leer die kinders ’n belangrike les: Vir hulle ouers is geestelike dinge belangriker as enige iets anders.

6. Gee ’n voorbeeld van hoe Jesus sy tyd opgeoffer het om ander te help.

6Jesus was vrygewig met sy persoonlike tyd. Dink net hoe Jesus moes gevoel het toe hy gehoor het dat sy vriend Johannes die Doper se kop afgekap is. Hy moes baie hartseer gewees het. Die Bybel sê: “Toe Jesus [van Johannes se dood] hoor, het hy met ’n boot daarvandaan vertrek en na ’n afgeleë plek gegaan om alleen te wees” (Matt. 14:10-13). ’n Mens kan verstaan hoekom hy alleen sou wou wees. Baie van ons verkies om alleen te wees wanneer ons baie hartseer voel. Maar Jesus kon toe nie alleen wees nie. ’n Groot groep mense het by daardie afgeleë plek aangekom voordat hy daar aangekom het. Hoe het Jesus gereageer? Hy het gedink aan wat die mense nodig gehad het, en “hy het baie jammer vir hulle gevoel”. Hy kon sien dat hulle geestelike hulp en vertroosting nodig gehad het, en hy het dit vir hulle onmiddellik gegee. “En hy het hulle [nie net ’n paar dinge nie, maar] baie dinge begin leer.” – Mark. 6:31-34; Luk. 9:10, 11.

7-8. Gee ’n voorbeeld van hoe liefdevolle ouermanne Jesus se voorbeeld volg wanneer ’n broer of suster hulp nodig het.

7Hoe liefdevolle ouermanne Jesus navolg. Ons is baie dankbaar vir die werk wat ons selfopofferende ouermanne vir ons doen! Baie van daardie werk word agter die skerms gedoen. Byvoorbeeld, wanneer daar ’n mediese noodgeval is, kom help die lede van die Hospitaalskakelkomitee hulle broers en susters onmiddellik. Baie keer vind sulke noodgevalle in die middel van die nag plaas! Maar uit liefde stel hierdie liefdevolle ouermanne en hulle gesinne die belange van hulle broers en susters bo hulle eie.

8 Baie ouermanne help ook met die bou van Koninkryksale en ander fasiliteite, en ook met noodlenigingswerk. En dink aan al die tyd wat ouermanne daaraan spandeer om ons te onderrig, aan te moedig en te ondersteun. Al hierdie broers en hulle gesinne moet geprys word. Mag Jehovah hulle selfopofferende gees seën! Maar ouermanne moet natuurlik gebalanseerd wees. Hulle moenie soveel tyd aan teokratiese aktiwiteite spandeer dat hulle hulle gesin afskeep nie.

HOE OM ’N SELFOPOFFERENDE GEES TE ONTWIKKEL

9. Volgens Filippense 2:4, 5, watter gesindheid moet alle Christene ontwikkel?

9 Lees Filippense 2:4, 5. Al is ons nie almal ouermanne nie, moet ons almal leer om Jesus se selfopofferende voorbeeld te volg. Die Bybel sê dat hy “soos ’n slaaf geword” het (Fil. 2:7). Hoe kan ons sy voorbeeld volg? ’n Goeie slaaf sou na geleenthede soek om sy meester gelukkig te maak. As ’n slaaf van Jehovah en van jou broers wil jy natuurlik na maniere soek om hulle nog beter te kan dien. Die volgende voorstelle kan jou help om dit te doen.

10. Watter vrae kan ons onsself vra?

10Ondersoek jou gesindheid. Vra jouself vrae soos: ‘Is ek bereid om persoonlike opofferings te maak om ander te help? Byvoorbeeld, hoe reageer ek wanneer ek gevra word om vir ’n ouer broer in ’n ouetehuis te gaan kuier of om ’n ouer suster na die vergaderinge toe te neem? Bied ek aan om te help wanneer die byeenkomsterrein skoongemaak moet word of wanneer die Koninkryksaal in stand gehou moet word?’ Toe ons onsself aan Jehovah toegewy het, het ons belowe om alles te gebruik wat ons het om hom te dien. Dit maak sy hart bly wanneer ons onselfsugtig is en ons tyd, energie en materiële dinge gebruik om ander te help. Wat kan ons doen as ons besef dat ons moet verbeter?

11. Hoe kan gebed ons help om ’n selfopofferende gees te ontwikkel?

11Vra Jehovah om jou te help. Sê nou jy besef dat jy meer selfopofferend moet word, maar jy het geen begeerte om die nodige veranderinge te maak nie? Dan kan jy vir Jehovah vra om jou te help. Wees eerlik. Sê vir Jehovah hoe jy voel, en vra hom om vir jou “die begeerte en die krag [te gee] om op te tree”. – Fil. 2:13.

12. Hoe kan ’n jong, gedoopte broer die gemeente help?

12 As jy ’n jong, gedoopte broer is, kan jy vir Jehovah vra om vir jou die begeerte te gee om meer te doen om die broers en susters in jou gemeente te help. In baie lande is daar meer ouermanne as bedieningsknegte, en baie van die bedieningsknegte is middeljarig of selfs ouer. Hoe groter die organisasie word, hoe meer jong broers is daar nodig om na Jehovah se volk om te sien. As jy bereid is om enige iets te doen om jou broers te dien, sal jy gelukkig wees. Hoekom? Omdat jy Jehovah se hart sal bly maak, ’n goeie reputasie sal kry en die vreugde sal ondervind om ander te help.

Christene van Judea wat oor die Jordaanrivier na die stad Pella gevlug het. Die Christene wat vroeër in Pella aangekom het, deel kospakkies uit onder dié wat so pas daar aangekom het (Sien paragraaf 13)

13-14. Wat kan ons doen om ons broers en susters te help? (Sien prent op voorblad.)

13Wees oplettend en kyk wat jou broers nodig het. Die apostel Paulus het vir die Hebreërs gesê: “[Moenie] vergeet om goed te doen en om wat jy het, met ander te deel nie, want sulke offerandes maak God bly” (Heb. 13:16). Dit was baie goeie raad! Nie lank nadat die Christene in Judea hierdie brief ontvang het nie, moes hulle hulle huise, hulle besighede en hulle ongelowige familielede agterlaat en “na die berge begin vlug” (Matt. 24:16). Op daardie stadium het hulle natuurlik mekaar se hulp dringend nodig gehad. As hulle Paulus se raad toegepas het voordat hulle moes vlug, sou dit vir hulle makliker gewees het om by hulle nuwe lewe aan te pas.

14 Ons broers en susters sal nie vir ons altyd sê as hulle iets nodig het nie. Byvoorbeeld, as ’n broer sy vrou in die dood verloor, sal hy miskien vervoer nodig hê, of dalk sal hy hulp nodig hê om kos te maak of om huistakies te doen. Miskien sal hy niks sê nie omdat hy nie ’n las vir ander wil wees nie. Maar hy sal dit seker baie waardeer as ons vir hom kom help, selfs sonder dat hy ons vra. Ons moenie net aanneem dat iemand anders vir hom sal gaan help of dat hy altyd vir ons sal laat weet as hy iets nodig het nie. Vra jouself: ‘Watter hulp sou ek waardeer as ek in sy situasie was?’

15. Wat moet ons doen as ons ander wil help?

15Maak dit vir ander makliker om vir hulp te vra. Ons almal ken broers en susters wat altyd bereid is om ander te help. Hulle laat ons nooit voel asof ons ’n las is nie. Ons weet dat ons altyd op hulle kan staatmaak, en ons wil net soos hulle wees. Alan, ’n ouerman in sy 40’s, wil hê dat ander vry moet voel om hom vir hulp te vra. Alan sê: “Jesus was besig, maar mense van alle ouderdomme het van hom gehou, en hulle was nie bang om hom vir hulp te vra nie. Hulle het geweet dat hy regtig vir hulle omgee. Ek wil baie graag soos Jesus wees, en ek wil hê dat mense my moet sien as iemand wat maklik is om mee te praat en wat liefdevol is.”

16. Hoe kan Psalm 119:59, 60 ons help om Jesus se voorbeeld te volg?

16 Ons moenie mismoedig voel as ons nie Jesus volmaak kan navolg nie (Jak. 3:2). Iemand wat leer om ’n kunstenaar te word, kan nie ’n presiese weergawe maak van ’n professionele kunstenaar se skildery nie. Maar as die student uit sy foute leer en sy bes doen om te verbeter, sal hy aanhoudend vordering maak. Net so, as ons toepas wat ons in ons persoonlike Bybelstudie leer en aanhoudend probeer verbeter, sal ons Jesus se voorbeeld al hoe beter navolg. – Lees Psalm 119:59, 60.

’N SELFOPOFFERENDE GEES BRING SEËNINGE

Wanneer ouermanne Jesus se selfopofferende voorbeeld volg, stel hulle ’n goeie voorbeeld wat jongmense kan volg (Sien paragraaf 17) *

17-18. Watter seëninge sal ons en ander ontvang as ons Jesus se selfopofferende voorbeeld volg?

17 Ons selfopofferende gees kan aansteeklik wees. ’n Ouerman met die naam Tim sê: “’n Paar baie jong broers in ons gemeente is al as bedieningsknegte aangestel. Een van die dinge wat hulle gehelp het, was toe hulle sien hoe gewillig ander broers was om te help, en hulle wou soos daardie broers wees. Hierdie jong, selfopofferende broers help ons gemeente en ondersteun die ouermanne.”

18 Ons lewe in ’n selfsugtige wêreld. Maar Jehovah se knegte is heeltemal anders. Jesus se selfopofferende voorbeeld raak ons hart, en ons is vasbeslote om sy voorbeeld te volg. Ongelukkig kan ons nie Jesus se voetstappe volmaak volg nie, maar ons kan dit ‘noukeurig volg’ (1 Pet. 2:21). As ons ons bes doen om Jesus se selfopofferende voorbeeld te volg, sal ons gelukkig wees omdat ons Jehovah se hart bly maak.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

^ par. 5 Jesus het altyd ander se belange bo sy eie gestel. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons sy voorbeeld kan volg. Ons sal ook kyk na die seëninge wat ons sal ontvang as ons Jesus se selfopofferende voorbeeld volg.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Dan, ’n jong broer, sien hoe twee ouermanne sy pa in die hospitaal besoek. Die liefdevolle voorbeeld van die ouermanne beweeg Dan om na maniere te soek om ander in die gemeente te help. Ben, ’n ander jong broer, sien hoe Dan ’n ouer suster help. Dan se voorbeeld beweeg Ben om te help om die Koninkryksaal skoon te maak.