Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 10

Jy kan ‘die ou persoonlikheid uittrek’

Jy kan ‘die ou persoonlikheid uittrek’

“Trek die ou persoonlikheid met sy gebruike uit.” – KOL. 3:9.

LIED 29 Mag ons ons naam waardig bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe was jou lewe voordat jy die Bybel begin studeer het?

HOE was jou lewe voordat jy die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het? Baie van ons wil nie eers daaraan dink nie. Ons uitkyk op die lewe en ons persoonlikheid was heel moontlik gevorm deur hierdie wêreld se standaarde van wat reg en verkeerd is. As dit die geval was, dan het ons “geen hoop gehad nie en was [ons] sonder God in die wêreld” (Ef. 2:12). Maar ’n Bybelstudie het dit alles verander!

2. Wat het jy geleer toe jy die Bybel begin studeer het?

2 Toe jy die Bybel begin studeer het, het jy uitgevind dat jy ’n hemelse Vader het wat baie lief is vir jou. Jy het besef dat jy groot veranderinge in jou leefstyl, uitkyk en manier van dink sou moes maak as jy Jehovah gelukkig wou maak en deel van sy familie van aanbidders wou word. Jy sou moes leer om volgens sy hoë standaarde te lewe. – Ef. 5:3-5.

3. Volgens Kolossense 3:9, 10, wat wil Jehovah hê moet ons doen, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons Skepper en hemelse Vader, Jehovah, het die reg om te besluit hoe die lede van sy familie hulle moet gedra. En hy verwag dat ons ons bes moet doen om “die ou persoonlikheid met sy gebruike uit [te trek]” voordat ons gedoop word. * (Lees Kolossense 3:9, 10.) Hierdie artikel sal almal wat gedoop wil word, help om drie vrae te beantwoord: (1) Wat is “die ou persoonlikheid”? (2) Hoekom sê Jehovah dat ons dit moet uittrek? (3) Hoe kan ons dit doen? En hierdie artikel sal almal wat alreeds gedoop is, help om nie die ou persoonlikheid weer aan te trek nie.

WAT IS “DIE OU PERSOONLIKHEID”?

4. Hoe tree iemand op wat deur “die ou persoonlikheid” beheer word?

4 Iemand wat deur “die ou persoonlikheid” beheer word, dink gewoonlik en tree gewoonlik op ’n vleeslike manier op. Hy sal miskien gou kwaad word en selfsugtig, ondankbaar en trots wees. Hy geniet dit dalk om na pornografiese materiaal en onsedelike of gewelddadige films te kyk. Hy het natuurlik ook goeie eienskappe en hy voel miskien skuldig oor die slegte dinge wat hy sê en doen. Maar sy begeerte om sy denke en gedrag te verander, is nie sterk genoeg nie. – Gal. 5:19-21; 2 Tim. 3:2-5.

Wanneer ons van “die ou persoonlikheid” ontslae raak, word ons nie meer deur vleeslike gesindhede en gewoontes beheer nie (Sien paragraaf 5) *

5. Kan ons heeltemal ontslae raak van die ou persoonlikheid? Verduidelik. (Handelinge 3:19)

5 Omdat ons almal onvolmaak is, kan ons nie heeltemal ontslae raak van alle slegte gedagtes en begeertes nie. Soms sal ons iets sê of doen waaroor ons spyt is (Jer. 17:9; Jak. 3:2). Maar wanneer ons van die ou persoonlikheid ontslae raak, sal vleeslike gesindhede en gewoontes ons nie meer beheer nie. Ons persoonlikheid verander heeltemal. – Jes. 55:7; lees Handelinge 3:19.

6. Hoekom sê Jehovah dat ons ontslae moet raak van die verkeerde denke en slegte gewoontes wat met die ou persoonlikheid gepaardgaan?

6 Jehovah wil hê dat ons ontslae moet raak van verkeerde denke en slegte gewoontes omdat hy ons baie liefhet en omdat hy wil hê dat ons die lewe moet geniet (Jes. 48:17, 18). Hy weet dat dié wat ingee en deur hulle verkeerde begeertes gelei word, hulleself en ander om hulle seermaak. Dit maak hom seer wanneer hy sien dat ons onsself en ander seermaak.

7. Volgens Romeine 12:1, 2, watter keuse het ons?

7 Party van ons vriende en familielede sal ons miskien spot omdat ons probeer om veranderinge in ons persoonlikheid te maak (1 Pet. 4:3, 4). Hulle sal dalk sê dat ons die reg het om te doen wat ons wil en dat ons nie moet toelaat dat ander vir ons sê wat om te doen nie. Maar mense wat nie Jehovah se standaarde aanvaar nie, laat eintlik toe dat Satan en sy wêreld hulle vorm. (Lees Romeine 12:1, 2.) Ons almal het ’n keuse: Om ons ou persoonlikheid aan te hou, wat deur sonde en Satan se wêreld gevorm word, of om toe te laat dat Jehovah ons verander in die beste persoon wat ons nou kan wees. – Jes. 64:8.

HOE KAN JY DIE OU PERSOONLIKHEID ‘UITTREK’?

8. Hoe help Jehovah ons om verkeerde denke en slegte gewoontes te oorkom?

8 Jehovah weet dat dit tyd sal neem en dat ons ons sal moet inspan om verkeerde denke en slegte gewoontes te oorkom (Ps. 103:13, 14). Maar deur middel van sy Woord, sy gees en sy organisasie, gee Jehovah vir ons die wysheid, krag en ondersteuning wat ons nodig het om te verander. Jy het natuurlik al gesien hoe Jehovah jou gehelp het. Maar kom ons bespreek nou ’n paar praktiese dinge wat jy kan doen wat jou sal help om die ou persoonlikheid uit te trek en om tot doop te vorder.

9. Wat kan God se Woord jou help om te doen?

9Gebruik die Bybel om jouself deeglik te ondersoek. God se Woord is soos ’n spieël. Dit kan jou help om jou denke, dade en woorde te ondersoek (Jak. 1:22-25). Jou Bybelonderrigter en ander ervare Christene kan jou goeie raad gee. Byvoorbeeld, hulle kan die Bybel gebruik om jou te help om jou sterk punte en jou swakhede te identifiseer. Hulle kan vir jou wys hoe om Bybelgebaseerde inligting te vind wat goeie voorstelle gee oor hoe om slegte gewoontes te oorkom. En Jehovah is altyd daar om jou te help. Hy weet wat die beste manier is om jou te help en hy weet wat in jou hart is (Spr. 14:10; 15:11). So kom in die gewoonte om elke dag met hom te praat en sy Woord te studeer.

10. Wat het jy uit Elie se ondervinding geleer?

10Wees oortuig dat Jehovah se standaarde die beste is. Alles wat Jehovah vir ons vra om te doen, is goed vir ons. Almal wat volgens sy standaarde lewe, kry selfrespek, ’n doel in die lewe en ware geluk (Ps. 19:7-11). Maar almal wat Jehovah se standaarde ignoreer en die werke van die vlees beoefen, sal die slegte gevolge daarvan dra. Kyk wat ’n man met die naam Elie sê oor wat gebeur as ’n mens weier om volgens God se standaarde te lewe. Hy is deur ouers grootgemaak wat lief is vir Jehovah. Maar toe hy ’n tiener was, het hy by slegte vriende betrokke geraak. Hy het dwelms begin gebruik, ’n onsedelike lewe gelei en gesteel. Elie sê dat hy al hoe meer aggressief en gewelddadig geword het. Hy sê: “Ek het so te sê alles gedoen wat ek geleer is om as ’n Christen nie te doen nie.” Maar Elie het nie vergeet wat hy geleer het toe hy jonk was nie. Uiteindelik het hy die Bybel weer begin studeer. Hy het hard gewerk om ontslae te raak van sy slegte gewoontes, en hy is in 2000 gedoop. Hoe het dit hom gehelp om volgens Jehovah se standaarde te lewe? Elie sê: “Ek het nou gemoedsrus en ’n skoon gewete.” * Soos hierdie ondervinding vir ons wys, maak almal wat weier om Jehovah se standaarde te volg, hulleself net seer. Maar Jehovah is altyd bereid om hulle te help om te verander.

11. Noem ’n paar dinge wat Jehovah haat.

11Leer om te haat wat Jehovah haat (Ps. 97:10). Die Bybel sê dat Jehovah “oë vol hoogmoed, ’n tong wat leuens vertel en hande wat onskuldige mense doodmaak,” haat (Spr. 6:16, 17). Hy “haat [ook] mense wat gewelddadig en bedrieglik is” (Ps. 5:6). Jehovah haat hierdie dinge so baie dat hy al die goddelose mense in Noag se dag vernietig het omdat die aarde vol geweld was as gevolg van hulle (Gen. 6:13). Kyk na nog ’n voorbeeld. Deur middel van die profeet Maleagi het Jehovah gesê dat Hy mense haat wat op ’n bedrieglike en slinkse manier te werk gaan om van hulle huweliksmaat te skei. God aanvaar nie hulle aanbidding nie, en hy sal hulle oordeel. – Mal. 2:13-16; Heb. 13:4.

Om iets te doen wat Jehovah sê sleg is, moet vir ons net so walglik wees as om vrot kos te eet (Sien paragraaf 11-12)

12. Wat beteken dit om te “haat wat goddeloos is”?

12 Jehovah wil hê dat ons moet “haat wat goddeloos is” (Rom. 12:9). Haat is ’n baie sterk emosie. Ons haat byvoorbeeld dinge wat vir ons walglik is. Hoe sal jy byvoorbeeld voel as iemand vir jou vra om ’n bord vrot kos te eet? Net die gedagte daaraan sal jou miskien siek laat voel. Net so moet selfs die gedagte om iets te doen wat Jehovah sê sleg is, vir ons walglik wees.

13. Hoekom moet ons slegte gedagtes verwerp?

13Verwerp slegte gedagtes. Ons gedagtes beïnvloed ons dade. Dit is hoekom Jesus ons geleer het om gedagtes te verwerp wat kan veroorsaak dat ons ’n ernstige sonde pleeg (Matt. 5:21, 22, 28, 29). Ons wil ons hemelse Vader se hart beslis bly maak. So dit is baie belangrik dat ons slegte gedagtes onmiddellik verwerp!

14. Wat sê ons spraak oor ons, en watter vrae moet ons onsself vra?

14Beheer jou tong. Jesus het gesê: “Die dinge wat uit die mond uitkom, kom uit die hart” (Matt. 15:18). Ons spraak sê baie oor wie ons regtig is. So vra jouself die volgende vrae: ‘Weier ek om leuens te vertel, selfs al sal ek in die moeilikheid kom as ek die waarheid praat? As ’n getroude persoon, is ek versigtig om nie te flirt met iemand van die teenoorgestelde geslag nie? Vermy ek onsedelike spraak soos die pes? Reageer ek op ’n kalm manier as iemand my kwaad maak?’ Hierdie vrae sal jou help om selfondersoek te doen. Jou spraak kan met ’n hemp se knope vergelyk word. As jy die knope losmaak, sal dit jou help om die hemp makliker uit te trek. As jy jou bes doen om nie beledigende, oneerlike en onsedelike dinge te sê nie, sal dit vir jou makliker wees om die ou persoonlikheid uit te trek.

15. Wat beteken dit om ons ou persoonlikheid “aan die paal” te hang?

15Wees bereid om streng met jouself te wees. Die apostel Paulus het ’n kragtige illustrasie gebruik om vir ons te wys dat om ons leefstyl te verander, ’n ernstige saak is. Hy het geskryf dat ons ons ou persoonlikheid “aan die paal” moet hang (Rom. 6:6). Met ander woorde, ons wil Jesus se voorbeeld volg. Ons moet gesindhede en gewoontes wat Jehovah haat, doodmaak. Net as ons dit doen, kan ons ’n skoon gewete kry en die hoop hê om vir ewig te lewe (Joh. 17:3; 1 Pet. 3:21). Ons moet onthou dat Jehovah nie sy standaarde sal verander om ons te pas nie. Ons moet eerder verander en by sy standaarde aanpas. – Jes. 1:16-18; 55:9.

16. Hoekom moet jy vasbeslote wees om aan te hou om teen jou swakhede te stry?

16Hou aan om teen jou swakhede te stry. Selfs nadat jy gedoop is, sal jy moet aanhou om teen verkeerde begeertes te stry. Kyk na die voorbeeld van ’n man met die naam Maurício. Toe hy jonk was, het hy ’n homoseksuele leefstyl begin lei. Uiteindelik het hy Jehovah se Getuies ontmoet en die Bybel begin studeer. Nadat hy sy lewe verander het, is hy in 2002 gedoop. Selfs nadat hy Jehovah jare lank gedien het, het Maurício gesê: “Ek moet erken dat ek soms met verkeerde begeertes worstel.” Maar hy laat nie toe dat dit hom onderkry nie. Hy sê eerder: “Die wete dat ek Jehovah behaag omdat ek nie daardie begeertes bevredig nie, is ’n bron van bemoediging vir my.” *

17. Hoe het Nabiha se ondervinding jou aangemoedig?

17Vra Jehovah om jou te help, en vertrou op sy gees, nie op jou eie krag nie (Gal. 5:22; Fil. 4:6). Ons moet hard werk as ons die ou persoonlikheid wil uittrek en as ons seker wil maak dat ons dit nie weer aantrek nie. Kyk na die voorbeeld van ’n vrou met die naam Nabiha. Haar pa het haar verlaat toe sy maar net ses jaar oud was. Sy sê: “Dit . . . het my gevoelens baie seergemaak.” Terwyl sy grootgeword het, het sy baie aggressief geword. Sy het ’n dwelmhandelaar geword en is toe later gearresteer en vir ’n paar jaar tronk toe gestuur. Daar het sy Getuies ontmoet wat die tronk besoek het, en hulle het die Bybel met haar begin studeer. Nabiha het groot veranderinge begin maak. Sy sê: “Dit was maklik om party van my verdorwe gebruike te laat vaar . . . Maar dit was baie moeiliker om op te hou rook.” Nabiha het vir meer as ’n jaar gesukkel om van hierdie verslawing los te breek. Hoe het sy dit gedoen? Sy sê: “Bowenal het voortdurende gebed tot Jehovah my gehelp om met die gewoonte te breek.” Nou is sy oortuig dat as sy veranderinge kon maak om Jehovah gelukkig te maak, dan kan enige iemand dit doen! *

JY KAN VIR DOOP KWALIFISEER!

18. Volgens 1 Korintiërs 6:9-11, wat het baie van God se knegte al reggekry?

18 In die eerste eeu het party van die mans en vrouens wat Jehovah gekies het om saam met Jesus te regeer, baie slegte dinge gedoen voordat hulle Christene geword het. Party van hulle was byvoorbeeld egbrekers, homoseksuele en diewe. Maar met die hulp van God se heilige gees het hulle dit reggekry om hulle lewens te verander. (Lees 1 Korintiërs 6:9-11.) Vandag het die Bybel ook miljoene mense gehelp om hulle lewens te verander. * Hulle het dit reggekry om diepgewortelde slegte gewoontes te oorkom. Hulle voorbeeld wys dat jy ook veranderinge in jou persoonlikheid kan maak en slegte gewoontes kan oorkom sodat jy vir doop kan kwalifiseer.

19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Almal wat gedoop wil word, moenie net die ou persoonlikheid uittrek nie, maar hulle moet ook hard werk om die nuwe persoonlikheid aan te trek. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons dit kan doen en hoe ander ons kan help.

LIED 41 Hoor my gebed

^ par. 5 Voordat ons vir doop kan kwalifiseer, moet ons bereid wees om veranderinge in ons persoonlikheid te maak. Hierdie artikel sal verduidelik wat die ou persoonlikheid is, hoekom ons dit moet uittrek en hoe ons dit kan doen. In die volgende artikel sal ons sien hoe ons kan aanhou om die nuwe persoonlikheid aan te trek, selfs nadat ons gedoop is.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: ‘Om die ou persoonlikheid uit te trek’, beteken om ontslae te raak van gesindhede en begeertes waarvan Jehovah nie hou nie. Ons moet dit begin doen voordat ons gedoop word. – Ef. 4:22.

^ par. 10 Vir meer inligting, sien die artikel “Die Bybel verander lewens—‘Ek moes na Jehovah terugkeer’”, in Die Wagtoring van 1 April 2012.

^ par. 16 Vir meer inligting, sien die artikel “Die Bybel verander lewens—‘Hulle het my baie goed behandel’”, in Die Wagtoring van 1 Mei 2012.

^ par. 17 Vir meer inligting, sien die artikel “Die Bybel verander lewens—‘Ek het ’n jong vrou vol woede en aggressie geword’”, in Die Wagtoring van 1 Oktober 2012.

^ par. 18 Sien die venster “ Die Bybel verander lewens”.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Om ontslae te raak van slegte gesindhede en gewoontes, is soos om van ou klere ontslae te raak.